Monday, August 31, 2009

Wag the Dog - 6/10


Wag the Dog is 'n ouer fliek wat ons video winkel besluit het om nou eers aan te koop. Dit is redelik tydloos (1997) en voel nog steeds vars. De Niro en Hoffman bly maar goeie akteurs. Die film is lekker kykbaar, en goeie medisyne vir 'n Sondagaand. Saam met Bella op die bank. Dit is beslis nie net gemiddelde vermaak nie.

The Spirit - 6/10


Na Sin City, is ek 'n redelike Frank Miller aanhanger. The Spirit stel nie teleur nie. Dit is heelwat ligter as Sin City, wat nogals donker en heelwat meer geweldadig is. Die dialoog in Spirit is baie goed, en veral ou Scarlett, as Silken Floss, speel iets anders as die seksie meisie, alhoewel sy nogals oulik lyk in die rol ook. Sy bly maar 'n gunsteling. Moet se^ die storieverteller kan by tye so ietwat irriterend wees, en die tweede helfte van die film is beter as die eerste deel. Die klone ("we was..") is uitstekend en nogals snaaks met tye. Saam met Bella op die bank. Vir meer avontuurlistige fliekgangers bedoel, wat iets anders as Tarantino soek vir pulp alternatiewe... Kyk ook gerus die onderhoud met Miller in die ekstra dele - baie interessant...

Saturday, August 22, 2009

The Transporter II - 5/10


Wel ons het van nommer I en III gehou, met I vir my beter as III. Ek hoop dus II stel nie teleur nie...Dit het ook toe nie. Is regtig kykbare aksie, met koel truuks. Lekker Vrydagaand medisyne. Saam met Bella op die bank. Ons ete saam met die Van Pletzens is gekanselleer agv Anrich se ongeval met die deur by Chamberlains.

Friday, August 21, 2009

Perfect 10 - 3/10

Perfect 10 kry ek glad nerens opgespoor op 'n site nie. Dit was op etv tydens my besoek aan die EO Kamp by Polokwane (Pietersburg) laasweek. Dit is nie heeltemal onkykbaar nie, maar het een of ander bleeksiel as hoofkarakter wat dink die son skyn uit sy alie. Dit is egter dalk beter om hierdie op die ou einde te ignoreer.

The Wrestler - 8/10

Veral na Sin City, kyk ek met ander oe" na Mnr Rourke....The Wrestler is 'n moeilike film om te kyk, maar uitstekend. Die karakterontwikkeling is so goed as wat mens dit kan kry, en Randy is so geloofwaardig dat mens dit nie anders kan voorstel nie. Die fliek spreek uiteindelik verskeie diep temas aan, maar veral eksistensialisme. Randy se^ ook dan op 'n stadium in die fliek: Dit is veiliger vir hom in die arena, wat maar erg lyk, as die lewe buite die arena - daar kry mens op ander vlakke seer, eerder as fisies. Randy bestuur sy beserings soos hy al jare doen, maar weet nie regtig hoe om emosies te bestuur nie. Die fliek is regte arthouse, en glad nie toeganklik vir die ou wat breinlose vermaak soek nie. Stoei fanatici mag dit dalk toeganklik vind, maar sal dan waarskynlik eerder na die tegniese aspekte van stoei kyk. Hierdie is beslis nie ligte vermaak nie. Marissa Tomei speel dan ook 'n verassende rol, die een van 'n ontkleedanser. Soos in Before the devil knows you're dead, is sy glad nie skaam om van haar kleertjies ontslae te raak en meer as net lyf te wys nie. Vir 'n girl van 45 het sy 'n lyf wat baie twintigjariges sal laat skaamkry. Ek het die fliek nouwel nie ontspannend gevind nie, en ook nie die regte ding vir 'n Vrydagaand nie, maar dit steeds geniet omdat dit so goed is. Saam met Bella op die bank.

Wednesday, August 19, 2009

The Hangover - 7/10


The Hangover is sekerlik die beste in die genre van ramparty flieks wat ek nog gesien het. Die film het 'n baie interessante storielyn, en die karakters word met oortuiging vertolk, alhoewel met die nodige skep van oordrewenheid. Die arme manne bevind hulle self in pynlike situasies na die party. Dit is beslis snaaks, en daar is vele situasies, nie net 'n paar floues nie. Hulle vloek redelik baie in fliek. In Polokwane (Savannah mall) in die teater, tydens 'n veldoefening van die werk. Weereens alleen. Daar is ook redelik van die situasies wat mens lank na die tyd bybly, en opnuut voor laat lag. Kyk gerus, veral as jy 'n ramparty beplan of gaan bywoon...

Tuesday, August 18, 2009

G.I. Joe: The Rise of Cobra - 6/10


Die slagspreuk op G.I. Joe: The Rise of Cobra se plakaat is: Evil never looked so good, en is hulle reg...Sjoe, die twee hoofaktrises doen dit gestand. Die fliek is beslis nie 'n Gadget Bond nie, maar het baie meer koel apparaatjies en truuks as die laaste drie Bond films saam. Dit is baie vinnige kop-dronk aksie, en heel kykbaar, maar beslis net in die teater - dit sal effek verloor, selfs op 'n 40" skerm. Ek het dit geniet, dit hou mens meesal op die punt van jou stoel. Het hierdie in Polokwane se Savannah mall gesien tydens die EO Kamp wat ek bygewoon het. Ongelukkig alleen. Sienna was nogals heel koel in die fliek, alhoewel dan een van die Evil girls...

Sunday, August 16, 2009

Balls Out: Gary the Tennis Coach - 3/10


Balls Out: Gary the Tennis Coach was maar ietwat teleurstellend - veral na The Interview. Dit was maar heelwat onder die belt, maar darem snaaks hier en daar. Ek dink dit was net te oordrewe om sin te maak as 'n alternatiewe kunsfliek. Daar is baie pynlik ongemaklike tonele, wat mens so kriewel gee. Dit probeer dan ook te veel genres aan te spreek - inspirasie, komedie, slap-stick, ...., te veel om die fliek regtig rigting te gee. Saam met Bella op die bank. Nie regtig aan te bevele nie.

Jesse Stone - 5/10


So wraggies waar! Magnum speel nog in flieks! Hierdie lyk soos een van daardie reeks flieks. Ou M speel 'n hardebaard polisieman, wat regtig niks k*k van niemand vat nie, en dinge doen soos sy hy dink hy moet. Dis een van daai flieks waar mens dink, ek sou hier so of sus gemaak het, en dan doen hy dit - die voor die hand liggendes, wat die res van die flieks gewoonlik nie doen nie, want dit sal nie verkoop nie....Heel kykbaar. Hierdie ook saam met Bella op die bed op Kiara Lodge, Clarens, se DSTV.

Fool's Gold - 5/10


Wel, nog 'n fliek waarin die meeste dames floutes kry by die aansig van ou Matt se borskas. Die storie is darem beter as die meeste van hierdie tipe flieks en heel kykbaar. Dit is egter maar heel voorspelbaar op die ou einde. Saam met Bella op die bank, of eerder die bed....hierdie slag op Kiara Lodge se DSTV kanaal, naby Clarens, lekker laat in die aand. Net jammer dit was 'n baie klein skermpie.

Tuesday, August 11, 2009

Hors de prix (Priceless) - 6/10


Ek het Priceless baie geniet. Dit is seker 'n gemiddelde Franse film, maar die feit dat hulle dit Frans gehou het, met onderskrifte, lig dit vir my daardie aks uit. Ek is 'n groot aanhanger van Audrey Tatou, veral na aanleiding van Le fabuleux destin d'Amélie Poulain (Amelie). Hierdie een is nie so goed soos Amelie nie, maar vertel tog die bittersoet liefdesverhaal van 'n dood gewone ou. Die fliek het 'n paar pynlik-ongemaklike stituasies, alles deel van die komiese inslag. Aan te beveel as ligte vermaak vir die ietwat meer onderskeidende fliekganger. Saam met Bella op die bank.

Boetie gaan border toe - 5/10


Jawel, hierdie is ook die tweede keer dat ek Boetie gaan border toe sien. Die eerste slag was in die Astra teater op Pietersburg destyds in 1984. Ek was in 'n rype Standerd IV.... Ek moet se^ dat ek die fliek destyds baie geniet het, en vermoed ook dat daar 'n stuk aan die einde afgesny is met die oorsit op DVD. Ou Janie du Plessis is steeds vir my 'n mooi girl, met spiky hare en al. Die storielyn val egter so bietjie rond, en mens voel ietwat verward in van die tonele. Maar dan is dit ook seker hoe dit in die Army was destyds. Mens moet hierdie maar weer 'n slag sien, want dit lewer op die ou einde baie skerp kommentaar. Saam met Bella op die bank.

Sunday, August 9, 2009

Role Models - 6/10


Wel, die ou van Role Models het baie goed gedoen in The Promotion, so toe probeer ons maar hierdie een wat op die oog af redelik gemiddeld lyk. Vrek, die fliek val buite die genres wat ek ken! Dit is inspirerend, jackass-agtig, Hollywoods, komedie,... wat nog !? Dit is beslis vermaaklik, maar dalk 'n bietjie vreemd vir die gewone, gemaklike fliekganger. Seann is beslis 'n goeie akteur want hy pas met gemak in ietwat ernstiger rolle in, en dan soos hierdie. Daar is 'n paar vrek snaakse tonele, en hierdie een van daai flieks wat jou gaan bybly - of dit nou op 'n goeie of slegte manier is, is 'n ope vraag. Aan te bevele, maar met ietwat van 'n huiwering. Saam met Bella op die bank. O, en die verduidelik oor hoekom die meeste mans so behep is met die borste van vroue is seker nie te ver van die waarheid nie - daar is 'n oormag!

Saturday, August 8, 2009

Transporter - 5/10


Transporter III was heel aanvaarbaar, so nou probeer ons maar die eerste twee. Nommer een is vir my effens beter as III, met 'n bietjie meer storie. Die aanslag van Luc Besson is duidelik in hierdie films, maar ek moet se^ die aksie tonele lyk net te gestileers en gekorigrafeerd - veral die skop en slaan tonele. Dit is waar III beter vaar. Goeie Vrydagaand vermaak. Saam met Bella op die bank.

The Shaggy Dog - 6/10


The Shaggy Dog het ek al voorheen gesien saam met my twee laaities, maar kan om die dood nie onthou wanneer nie. Dit was wel op DVD op die bank onthou ek vaagweg. Die storie kan ek redelik goed onthou. Ek moet se dat daar 'n paar regtige snaakse tonele is, en beide Tim the Tooltime Man, oftewel, Buzz Lightyear, en Ironman, oftewel Robert, pas goed in hul rolle. Die tong-uithang toneel is baie snaaks, en beide die laaities en Isabel het dit baie geniet. Goeie familie vermaak, bo-gemiddeld, sou ek reken. Saam met die hele familie op die bank die slag.

Invincible - 5/10


Invincible is maar 'n redelike standaard inspirasie-tipe feel-goodie fliekie. Dit is darem gebaseer op 'n ware verhaal met uittreksels aan die einde van die werklike mense. Ek is nie juis 'n sport-kyker nie, en ook nie 'n Amerikaanse Rugby aanhanger nie. Die sport kry egter so amper sy eie karakter in die fliek. Die karakter ontwikkeling is nie te sterk nie, maar hulle probeer darem so bietjie. Dit is 'n Disney fliek, so dit is heeltemal mak genoeg vir die familie. Saam met Bella op die bank.

Thursday, August 6, 2009

Astérix aux jeux olympiques (Asterix at the Olympic Games) - 7/10

Eenvoudig die beste slapstick wat ek nog gesien het, verskuil, as 'n groot bonus, in 'n Asterix en Obelix! Gerard is puik as ou Obelix - ek sal nooit weer 'n film met hom in, kan kyk sonder om aan hom in hierdie rol te dink nie. Die storie word vars aangebied, met goeie humor, fisies en ander, wat dit lekker maklike familie vermaak maak. Prinses Irina is vrek mooi - sy is Italiaans. Dis egter jammer hulle het die fliek nie in Italiaans gehou met onderskrifte nie - ek sou dit dan eerder 8/10 gee. Alain Delon is ook puik as 'n self-behepte, narcistiese, snoeshaan Julius Ceasar, met Brutus 'n onbeholpe as seun. Dit is die perfkete anti-werk-week dosis op 'n Vrydagaand. Saam met die familie op die bank.


Tuesday, August 4, 2009

Wild Child - 5/10


Wild Child is nie 'n te slegte opsie vir 'n Vrydagaand of so nie. Dit is seker eerder gemik op die laat laerskool mark. Dit is vir my baie dieselfde as 17 Again, en dalk selfs ietwat beter. Saam met Bella op die bank.

Monday, August 3, 2009

The News Movie (aka The Onion Movie) - 3/10


The News Movie is eintlik maar dodelik vervelig, met hier-en-daar 'n snaaks genoeg toneeltjie vir 'n laggie of twee. Redelik breindood, met so bietjie minder respek vir heilige koeie, maar dan ook nie regtig eintlik nie. Saam met Bella op die bank. Beter om dit maar 'n mis te
gee.

Saturday, August 1, 2009

Van der Merwe PI - 6/10


Nou ja, hierdie is ook 'n punt wat ek gee gegrond op die eerste keer toe ek die fliek in 1988 gesien het. Dis so SA as wat jy kan kry en Anneline Kriel lyk asof sy uit die 80's ontsnap het. Saam met die familie op die bank die slag. Aag wat, ons het lekker gelag, veral vir die short fuze.

El Laberinto Del Fauno (Pan's Labyrinth) - 8/10


Sjoe, vir 'n Spaanse fliek is hierdie een werklik uitstaande. Dit is 'n volwasse sprokie wat twee werelde so meng dat die bisarre sprokie wereld baie meer vriendelik lyk as die harde, koue werklikheid van oorlog. Dit is dan die Capitano, oftewel die weermag kaptein, wat uitstaan as die monster in die verhaal. Die res van die karakters is mak teen sy koue, gevoelose handelings. Die fliek het 'n paar ernstige onstellende tonele, en dan ook aan die regte wereld kant, nie in die sprokie kant nie...Die sprokie monsters is puik, en mens het nog nie sulke skeppings gesien nie. Die fliek hou mens op die punt van jou stoel deurentyd, en al die akteurs is uitstaande. Die fliek het 'n vars benadering, anders as die gewone pulp wat Hollywood aan mens voorle. Dit is hoogs aan te bevele. Ten spyte van die ontstellende paar tonele, is die fliek aangenaam om te kyk, en mens kan nog lekker baie daaroor dink ook. Saam met Bella op die bank. As jy hierdie wil kyk by die huis maak seker jy skakel die ligte af, het 'n 40 duim of groter skerm, en iets om aan te knaag.

Crossing Over - 8/10


Crossing Over is 'n regte art-house fliekie vir my - dit handel baie realisties oor 'n paar lyne in die regte wereld wat dan op die ou einde tot 'n sameloop kom, maar ook nie tot 'n enkele een nie. Die fliek raak mens tog, veral omdat dit nie net fokus op een demografie nie, maar die wyer spektrum aanspreek. Dit raak ook 'n interessante kwessie aan wanneer die Australiaanse paartjie baie verskillende benaderings gebruik tot hul pogings om groenkaarte te kry. Op die ou einde is dit nie so duidelik watter een van die twee werklik verkeerd gehandel het nie. Die een het egter so paar "lykies" langs die pad gelos, en die ander een nie....Hierdie fliek is ook vir die effens meer gesoute kunsfliek ondersteuner bedoel, maar is toeganklik vir iemand wat daarvan hou om te dink oor flieks. Die rolle wat almal puik gespeel, en Mnr Ford doen baie goed hier. Dit is egter die dogter wat haar alternatiewe kyk op die lewe in die klas probeer voordra wat werklik goed speel. Vir die eerste keer in 'n laaaang ruk wat ek in die teater, en dan ook saam met my groot fliek tjommie, Guillaume, gaan fliek het. Hoogs aan te beveel.

Pushing Tin - 5/10


Elke ou wat te doen het met lugverkeer goeters moet Pushing Tin kyk - dit is nou wel 'n ligte romantiese drama, maar tog interessant. Dit is ook waarskynlik die film wat veroorsaak het dat ou Billy Bob vasgehaak het aan Angelina - sy speel so bietjie van 'n minder stylvolle rolletjie, en verlei vir arme John Cusack. Hy is ietwat praatsiek in die fliek. Die fliek is baie kykbaar, veral vir 'n 2000 oesjaar. Dit is nou nie die best fliek van die jaar gewees nie, en voel seker so klein bietjie beter as die streng gemiddelde punt wat ek gegee het. Kyk gerus as jy lus is vir iets anders as nuwe Hollywood. Saam met Bella op die bank.