Tuesday, April 30, 2019

Glass - 7/10

Glass is die laaste in die trilogie en maak seker daar is afronding, afsluiting en posisionering vir opvolg films. Dit eindig beslis anders as die tipiese Hollywood styl. Ten minste meer aksie en 'n vinniger tempo as Unbreakable en miner spannend/gru as Split. Ek sou reken die beste in die reeks en dan ook nie heeltemal hoofstroom materiaal nie. Saam met Bella en Franko en Anrich op die Bank.

Sunday, April 28, 2019

Final Portrait - 6/10

Final Portrait is tergelyketyd lig maar ook swaar. Dit het awaregse humor by tye wat mens laat gryns en nie soseer lag nie. Hierdie is ware kunsfliek en as sulks ekonomies - karakters, milieu en dialoog. Die rolverdeling speel hier dan ook 'n groot rol. Om te skep is nie maklik nie. Vir die kieskeurige kunsfliekganger bedoel. Saam met Bella op die bank. 


Saturday, April 27, 2019

Man Up - 7/10

Man Up is 'n onverwagte vermaaklike film. Dit bly mens nogals by, veral die volharding van die twee hoof karakters om 'n hopelose situasie te maak werk. Skerp humor, heelwat onder die belt, met eerlike dialoog. Dit is absoluut die rolverdeling en vertolkings wat die fliek laat slaag. Beslis goeie Saterdagaand vermaak en 'n voorbeeld vir die genre. Saan met Bella op die Bank.

Friday, April 26, 2019

Split - 6/10

Split is 'n redelike spannings griller sonder bloed en binnegoed. Die vertolking is 'n kragtoer, en sou sekerlik baie saai sonder die betrokke rolverdeling gewees het. Saam met Belle en Anrich op die bank.

Thursday, April 25, 2019

Avengers: Endgame - 7/10

Avengers: Endgame is 'n cliche einde vir hierdie magtige reeks van films in die Marvel Heelal van superhelde. Dit is meganisties met die verwagte en onverwagte offerhandes. Dit bly egter groot pret en vermaak om dit te kyk. Saam met Anrich en Franko en Bella in 3D by die Kolonnade Ster Kinekor premiere. 



Sunday, April 21, 2019

The Professor and the Madman - 6/10

The Professor and the Madman bevat eintlik 3 lyne, die woordeboek, die universiteit en die malman, maar dan eerder die behandeling van kranksin destyds. Die film laai te veel hooi op die vurk. Dit bly kykbaar - veral oor die monumentale taak wat die klein spannetjie aandurf, al vat dit op die ou einde 10 keer langer om tot 'n punt te kom. Kyk beslis as jy in woorde belangstel. Die rolverdeling werk goed, die periode getrou weergege. Ek dink net nie die bewaarders was sulke vriendelike en deegsame manne nie... Saam met Bella op die bank.

    

Saturday, April 20, 2019

Welcome to Marwen - 9/10

Welcome to Marwen is die sagte vertelling van iemand se stryd ter oorlewing na 'n vernietigende, sinlose daad. Die rolverdeling en sterk vertolkings - serkerlik Steve Carrell se beste ooit - onderstreep net die multi-dimensionaliteit van die film. Die milieu, stelinkleding, kostuumwerk en karakters vorm 'n sinkrone uitbeelding van 'n gebroke innerlike in 'n eksterne we^reld. Hierdie is kunsfliek op sy beste, en dan daarby ook 'n tjiekfliekie. Beslis 'n juweel en as bonus is die poppe tonele sensueel, sterk en verleidend, die kuns indrukwekkend. Saam met Bella op die bank. 

Friday, April 19, 2019

The Wife - 7/10

The Wife is 'n realistiese kykie na die lewe. Dit stel dan ook sterk kontrasterende innerlike, sowel as uiterlike gedrag in 'n ooglopende gesonde huwelik bloot. Selfs die ooglopende gesonde en ongesonde stand voel op plekke verwarrend en misleidend, een oomblik sag en teer en dan skielik andersom. Wolf in skaapsklere en dan skaap in wolfsklere! Maar, ja, die vroulike kant was erg geboelie oor tyd, oorheers en onderdruk deur die manlike ego. Mens kan nie verhoudings objektief of subjektief beoordeel nie, selfs al is mens een van die partye in die verhouding! Hierdie uitbeelding bevestig dit. O, en sy het die man vermoor, ja! Beslis vir geharde kunsfliekgangers bedoel. Saam met Bella op die Bank.


Thursday, April 18, 2019

12 Strong - 6/10

12 Strong is skiet, skiet, en baie skiet. Ek is onseker hoe akkuraat en realisties die slag was in terme van intensiteit, maar al is dit 50% so, is dit nog steeds grim gebeure, maar ook bewonderingswaardig. Goeie vertolkings, nie te oordrewe nie. O, en net as jy van oorlog flieks hou. Saam met Bella op die bank. 

Escape Room - 3/10

Escape Room probeer begin met 'n oortuigende, ontmoontlike ontsnappingstoneel. Die' was nog redelik - die inleidende tonele daarna laat mens binne minute twyfel of jy wel die tyd belegging wil maak - nee wat, lyk amateuragtig. Saam met Bella op die bank.

Sunday, April 14, 2019

Een Echte Vermeer (A Real Vermeer) - 7/10

Een Echte Vermeer is in Hollands met Engelse onderskrifte. Ek noem dit as 'n Eie Taal fliek, want mens kan dit maklik volg. Net hier en daar is die onderskrifte werklik nodig. Sterk vertolkings, milieu en periode wat ek graag self sou wou meemaak. Hier en daar dalk skokkende tonele, maar kykbaar en ten minste leer mens iets. Beslis net bedoel vir kunsfliekliefhebbers. Saam met Bella op die bank.

 

Saturday, April 13, 2019

Kursk - 8/10

Kursk kon baie maklik 'n gewone, vloekerige, cliche gewees het. Hierdie weergawe is egter sensitief, ontstellend en waarskynlik getrou. Die paniek onder die bemanning is so tasbaar, die afskuwelike burokrasie en onvanpaste politiekery onuitstaanbaar. Mens weet dit eindig tragies, maar die onblusbare menslike gees gaan nog lank bly spook. Saam met Bella op die bank.


Unbreakable - 5/10

Unbreakable is nogals pynlik stadig. Ons kyk dit as voorbereiding van 'n trilogie, maar hopelik is Nr 2 darem so bietjie meer aksie-belaaid. Saam met Bella en Anrich op die bank.



Friday, April 12, 2019

The Upside - 6/10

The Upside is ligte drama gebaseer op ware gebeure. Dit is komies met 'n bietjie hart. Sal werk vir enige aand, en dit is nie familie onvriendelik nie. Die rolverdeling laat dit werk, goeie basis stapel. Saam met Bella op die Bank.


Sunday, April 7, 2019

Mary Poppins Returns - 7/10

Mary Poppins Returns is pure fliek onskuld, met die perfekte rolvereling. Die naamrol is beide akademies en prakties sekerlik een van die beste karakter vertolkings ooit. Uitnemende familie vermaak, die slag met moderne fliek tegnologie, maar steeds getrou aan die oorspronkilike idioom. Saam met Bella op die Bank.

Friday, April 5, 2019

Colette - 6/10

Colette is beslis vir die kunsfliekmark bedoel. Sterk, gepaste rolverdeling, maar ek sou dit dalk in Frans met onderskrifte verkies het. Die interpretasie vol 'n aks te modern, maar dan was Colette heelwat voor haar tyd. Ek sou bitter graag in daardie Parys wou wees, dit lyk net so romanties. Saam met Bella op die Bank.


Thursday, April 4, 2019

Hanna, Reeks - 6/10

Hanna is 'n reeks waarvan ons die film weergawe in 2011 gesien het. Die eerste episode is bietjie stadig, dalk tel die res op. Dit is 'n korter reeksie, sal dit nog kans gee. Die eerste seisoen was redelik, maar ons het sommer vinnig besluit om nie die tweede seisoen te kyk nie (Julie 2020). Dit is met te veel nuwe karakters waarin mens nie tyd wil bele^ nie, en sonder die manlike hoofrol van die eerste seisoen. Saam met Bella op die bank.