Monday, May 28, 2018

Sweetbitter, Seisoen 1 - 4/10

Sweetbitter begin nogals stadig vir 'n reeks met die eerste episode. Sal dalk nog een kyk om te besluit. Nee wat, net 'n gesuip en geen werklike gebeure of lyn nie. Saam met Bella op die bank.


Sunday, May 27, 2018

The Bachelors - 7/10

The Bachelors is meer drama as komedie, met eerlike vertolkings en 'n sterk rolverdeling. Daar is 'n mate van oordrewe emosies, maar dan is dit moeilik om innerlike struwelinge, seer en swaarkry anders uit te beeld. Op die ou einde is die landloop afrigter se raad eintlik bedoel vir die droewige pa, en dan seker ook goeie lewensraad in die algemeen, al was dit nie so bedoel nie. Die einde is ietwat abrupt met 'n ontknoping wat nie sal teleurstel nie, en dat dit genadiglik nie uitgerek word nie. Kyk gerus, maar dalk nie op 'n Vrydagaand nie. Saam met Bella op die bank.


The Broken Key - 0/10

The Broken Key is sekerlik een van die mees amateuragtigste flieks ooit. Sowat 15 minute is al wat mens kon uithou. Beslis nie aan te bevele nie. Saam met Bella op die bank. 

Friday, May 25, 2018

Amadeus - 8/10

Amadeus, in die regiseur formaat is nogals 'n lang affe^re, maar steeds die moeite werd. Baie musiek, en dan die tragiese draai van sy roem en glorie. Een van die grootstes. Saam met Bella op die bank. 


Deadpool 2 - 7/10

Deadpool 2 is nie beter of slegter as die eerste uitgawe nie, maar beslis anders, en dalk nog so bietjie snaakser. Kyk beslis as jy van die eerste een gehou het, maar beslis nie, as jy nie van die eerste een gehou het nie. Saam met Anrich en Franko by Zambezi Mall



Saturday, May 19, 2018

The Con is On - 0/10

Aag nee wat! watter vermorsing van akteurs, milieu en potensiaal. Hierdie is een groot gevloek en gesuip sonder doel. Kon net sowat die eerste derde uitstaan. Saam met Bella op die bank.

The Terror, Minireeks - 6/10

The Terror begin nogals sonder veel intrige en gryp mens nie juis spesifiek aan nie, maar dit voel luuks vervaardig met uitstaande kostuumwerk en vertolkings. Mens weet die uitkoms, so nou is die vraag hoe kom mens tot by daardie punt. Net sowat tien episodes, sal dit dalk klaar kyk. Ek hou van die Britse manier van maritieme eksplorasie, vol bravade en bolip vasbyt. En dan is daar die metaforiese monster wat seker meer as die helfte afgemaai het.... Saam met Bella op die bank.

Siren, Seisoen 1 - 0/10

Siren lyk baie power, swak rolverdeling, vreemde gevoel, nee wat, na 5 minute dit gelos. Saam met Bella op die bank.

3%, Seisoen 1 - 1/10

3% lyk of dit na sensasie soek en probeer saai, en dan is dit beslis 'n lae-koste produksie. Nee wat, het net die eerste 10 minute kon maak. Saam met Bella op die bank.


Genius, Seisoen 2 (Picasso) - 6/10

Anders as met Seisoen 1 wat oor Einstein handel, voel hierdie een so bietjie flouer, maar dan leer mens baie van die geskiedenis en oor Picasso. Ek is nou nie seker hoe akkuraat die reeks is nie, maar dit moes 'n opwindende tyd (en lewe) gewees het. Saam met Bella op die bank.


Anon - 6/10

Anon is 'n baie ekonomiese toekomsvisie. Alles is maar verbeeldingloos en grys, wat die tema ondersteun en bevestig. Ek voel hulle kon so bietjie meer gedoen het met die tema, maar soos dit is, is dit reeds ontstellend hoe naby ons aan so samelewing is. Die denkende wetenskapfiksiekyker opsie. Sterk rolverdeling. Saam met Bella op die bank. 

Monday, May 14, 2018

Mistress America - 1/10

Mistress America lyk baie belowend maar verval vinnig in 'n koptollende, dreunende, irriterende dialoog. Dalk het ek net hierdie tipe film ontgrooi, maar kon net sowat 10 minute uithou. Dis jammer, want die rolverdeling is nie te sleg nie. Saam met Bella op die bank.



Peter Rabbit - 7/10

Peter Rabbit is heerlike kortvolk materiaal, maar steeds kykbaar vir ander. Dit is prettig, met uitstekende grafika. Gepaste rolverdeling, ook vir die stemwerk. Kyk gerus, sit terug en geniet die skerp dialoog. Saam met Bella en Anrich op die bank.

  

Friday, May 11, 2018

Astérix: Le domaine des dieux - 6/10

Astérix: Le domaine des dieux is heel kykbaar al is dit 'n fliekie vir die jongeres. Die kommentaar op sogenaamde vooruitgang en ontwikkeling is steeds van toepassing op ons moderne probleme. Dis waarskynlik hoekom mens die fliek kan kyk. Ek het ook nogals die uitbeeldings van hebsug geniet. Saam met Bella en Anrich op die bank.

Monday, May 7, 2018

Hostiles - 7/10

Hostiles is 'n Western met 'n redelik ooglopende emosionele tema. Raak vertolkings, maar ek (en dus ons) moes dit in twee paaiemente kyk. Die eerste moelike emosionele tonele was net te swaar vir 'n Vrydagaand. Soos Bella opmerk, die fliek handel eintlik oor wie nou eintlik die vyandiges (hostiles) is... dit is nie noodwendig so duidelik nie, ten minste 4 tot 5 groepe ding mee om hierdie titel.... Saam met Bella op die bank.

The Woman in White, Seisoen 1 - 3/10

The Woman in White begin maar bra power, met 'n swak rolverdeling, maar uitstekende milieu. Die karakters kom net nie tot reg nie, en die hooftemarol (die vrou in wit), is irriterend en swak vertolk. Die manlike hoofrol is aanvaarbaar, maar red ongelukkig nie die reeks nie. Ons kon nie verby die eerste episode halfpad kom nie. Saam met Bella op die bank.


Sunday, May 6, 2018

Red Sparrow - 6/10

Red Sparrow is onverwags ongepas vir 'n Sondagaand, maar dit ten spyt, nie 'n slegte spioen fliek nie. Hulle kon dalk beter gedoen het deur wel Russe as akteurs te gebruik het, maar dan is die rolverdeling nie so sleg nie. Die Amerikaanse akteurs sit 'n meriete poging in. Dit voel of mens darem ook iets leer tussendeur die kyk. Saam met Bella op die bank.