Sunday, October 25, 2009

Night at the Museum: Battle of the Smithsonian - 6/10



Hierdie opvolg is regtig die moeite werd, en die kinders sal dit saam geniet, veral vroee" laerskool laaities.

Sunshine Cleaning - 6/10



Ons het toevallig twee films op dieselfde aand met Amy Adams in gekyk. In beide was sy uitsonderlik, alhoewel sy nog nie 'n gunsteling aktrise is nie. In Night at the Museum: Battle of the Smithsonian is sy regtig goed as Amelia Earhart. In hierdie fliek speel sy weer 'n taai koekie, maar die keer met 'n heeltemal ander gemoedstemming. Sunshine is dalk hier en daar so bietjie stadig, maar steeds 'n goeie opsie. Dit is die probeerslae van die mense wat mens maar raak in die film, en dan ook die mislukkings. Dit is dalk so klein bietjie sentimenteel, maar seker dan toepaslik. Alan Arkin bly ook 'n redelike goeie akteur. Hy verleen aanvanklik 'n stabiliserende rol, wat dan skielik ook in vrot vis verander, en dan weer terugskakel (die klein stukkie sentiment). Wat dalk so bietjie onrealisties is, is die manier wat die mense deur al die dinges vasbyt en aanbeur.... Goeie film, dalk nie heeltemal kuns nie, maar ook nie net mainstream nie. Saam met Bella op die bank.

Saturday, October 24, 2009

Die Fälscher (The Counterfeiters) - 7/10



Die Fälscher is 'n baie goeie oorlog film, met 'n ander tipe storie as wat mens gewoonlik sou verwag. Die hoofkarakter het net eenvoudig 'n gesig wat mens laat dink aan slegte tronke, erge skelms, en baie swaarkry. Die grimmigheid van oorlog is darem in 'n verwerkbare vorm aangebied, maar tog steeds ontstellend. Dit help dat mens dit as 'n terugflits kyk, dit maak die verwagtings so bietjie meer gedemp (dat iemand nou nie halfpad in die fliek sal doodgaan nie). Dit wys ook dat nie alle Duitsers dieselfde wou doen aan die Jode nie. Saam met Bella op die bank.

Sunday, October 18, 2009

Dragonball Evolution - 4/10



Hierdie gee heeltemal weg dat ek te oud raak vir hierdie tipe flieks. Dragonball Evolution is net nie my koppie koffie nie. Die spesiale effekte is nie snaaks nie, en die storie maar dun. Op rekenaar terwyl ek in Arniston was vir werk.

Jersey Girl - 4/10



Jawel, 'n ietwat voorspelbare fliekie, met nie te veel om die lyf nie. Dit tel seker as 'n tjiekfliek. Dit is erg Hollywoods, sentimenteel en resepie gedrewe. Aan te beveel vir 'n breinlose Vrydagaand op DVD. Op rekenaar terwyl ek in Waenhuiskrans was vir werk.

Sunday, October 11, 2009

Angels and Demons - 6/10



Hierdie opvolg op The Da Vinci Code is vir my effens beter as die voorganger. Op die ou einde is dit maar net 'n ietwat meer intelligente skattejag-tipe fliek met die Katolieke hoofkwartiere as milieu. Daar is nie juis sprake van karakterontikkeling nie, en vir een of ander rede het ek reeds met die heel eerste toneel met ou Ewan in, geweet hy is die opperskurk in die verhaal. Die fliek is 'n lekker Vrydagaand opsie. Saam met Bella op die bank.

Thursday, October 8, 2009

Bedtime Stories - 6/10



Hierdie so sowaar 'n baie goeie familie fliekie. Dit is lekker lig om te kyk en mens geniet dit baie saam met die kinders. Dit het ook nie dooie, vervelige stukke nie. Saam met die familie op die bank.

Sunday, October 4, 2009

The Great Gatsby - 6/10



The Great Gatsby met 'n redelik enigmatiese Robert Redford (1974) is wel aan te beveel. Ek moet egter erken dat ek die film heelwat meer sou gegee het, as hulle iemand anders as die floskoppie Mia Farrow gebruik het. Iemand wat dalk meer soos Lois Chiles, wat die rol van Jordan vertolk het, is. Ek het die boek gelees, en voel dat hulle met die film dit nie 'n onreg aandoen nie. Gatsby se huis is asemrowend - vir die tydperk - en die partytjies dalk nog losser was wat mens die voorgestel het. Saam met Bella of die bank.

Saturday, October 3, 2009

White Coats (Intern Academy) - 4/10


White Coats (Intern Academy) is nie te sleg om te kyk, al gee ek dit 4/10. Dit is hiper ligte vermaak en sal waarskynlik meer geniet word deur mediese studente. Dit is 'n beter Kanadese komedie. Saam met Bella op die Bank.

Friday, October 2, 2009

Changeling - 7/10


Changeling is 'n swaarder drama gebaseer op werklike gebeure. Clint Eastwood as regiseur het 'n redelike sagte benadering, maar ek voel van die tonele, veral waar die jong kinders betrokke is, kon hy nog meer impliseer wat gebeur, en nie noodwendig wys nie. Angelina speel so effens oordrewe, maar is tog goed. Dalk nie Oscar materiaal nie. Sy trek egter vreeslik mooi aan in die fliek. Die tydperk is ook baie mooi herhaal in die fliek. Een van my vrese word baie goed in hierdie fliek uitgebeeld - dat mens sonder rede in 'n gestig gegooi word tussen malles en dan regtig mal word.... Nie heeltemal Vrydagaand vermaak nie, maar dit is so goed dat dit nie regtig pla nie. Saam met Bella op DVD.

Thursday, October 1, 2009

Race to Witch Mountain - 4/10


Race to Witch Mountain is 'n Disney fliekie met sekerlik die mees irriterende klankbaan ooit. Hulle kon darem wraggies ten minste twee verskillende "backtracks" gebruik en nie net een nie....My 6 en 9 jariges het die fliek baie gelaaik.....Saam met die familie op die bank.

All's Faire in Love - 5/10


All's Faire in Love is 'n baie onbekende fliek met nog meer onbekende karakters, behalwe vir Christina Ricci. Dit is egter heel kykbaar. Die milieu is tot 'n mate verfrissend, maar die storielyn seker nie. Agv die milieu, is die storie, wat reeds lig is, nog meer tong in die kies. Vir 'n naweeksaand as jy regtig in 'n goeie bui is. Saam met Bella op die bank. Groter kinders, meesal dogters sal die fliek baie geniet.

Get Smart's Bruce and Lloyd Out of Control - 4/10


Aag nou ja, mens moes seker verwag dat hierdie twee 'n splinterfliekie sou maak. Moet se^ dat die Hymie skreeusnaaks is - die akteur wat dit doen is perfek. Net jammer daar is so min van hom in hierdie fliek. Aag wat, lekker Vrydagaandbreinlosevermaak. Dit is mak genoeg vir 9-jarige seuns ook. Saam met die hele familie op die bank.