Tuesday, December 14, 2010

Centurion - 2/10

Wel, Centurion het goed gelyk in die voorprent en op die DVD kassie, maar is maar baie swak. Dit is seker goed gemaak in terme van die effekte en choreografie, maar is so grafies dat dit regtig nie kykbaar is nie. Tarantino doen dit so, maar op 'n donker-komiese manier. Hier is dit nie die geval nie, en dit lyk asof dit die enigste doelwit van die fliek is, om te wys op hoeveel verskillende maniere mens iemand noodlottige kopbeserings in een hou kan toedoen. Beslis nie aan te beveel nie. Saam met Bella op die bank. 

WAR, INC. - 6/10

WAR, INC. is nie hoofstroom nie, en het ook nie baie geld gemaak nie, inteendeel 'n verlies dink ek. Dit is dalk wel nie omdat dit 'n swak fliek is nie, maar eerder baie sterk uitsprake maak teen die Amerikaanse regering, op 'n tong-in-die-kies manier. Die Cusack-kroos speel saam in die fliekie, met Joan ietwat oordrewe en geforseerd. Nogals veras deur Duff se spel.... Heel awaregse komedie, met redelik vloek, so moenie dit vir skoonma voorhou nie, tensy sy self 'n militaris is.... En dan is daar natuurlik 'n ou gunsteling, Marissa. Saam met Bella op die bank. 

Saturday, December 11, 2010

The Girl who Kicked the Hornet's Nest - 7/10

Wat 'n lekker finale om te kyk in die Trilogie, The Girl .... Moet se^ die Swede maak nie slegte dramas nie, en dan is die fliek gelukkig met onderskrifte sodat mens die Sweedse tong kan probeer volg. Hei, takt en wat nog. Lekker Vrydag of Saterdagaand kykstof. Saam met Bella op die bank. 

Salt - 6/10

Salt is nie te slegte aksie nie, maar raak ietwat dik vir 'n daalder na die einde toe. Dalk wou hulle so tong in die kies wees... In elk geval is die Mata Hari, of Femme Fatale, 'n redelike gatskop girltjie, wat mens die fliek tog enduit laat kyk. Hulle verwys in die fliek ook na Jolie as Mata Hari op een plek.... Lekker Vrydagaand vermaak. Saam met Bella op die bank, al het sy dit voorheen gesien. 

Tuesday, December 7, 2010

Leaves of Grass - 5/10

Vreemde storie oor twee broers, beide eintlik baie slim, maar baie uiteenlopend. Hierdie voel amper soos 'n Coen-broers fliekie, maar is nie. Nie noodwendig ligte vermaak nie, eerder donkerder humor. Saam met Bella op die bank.

Killers - 4/10

Killers is sub-gemiddelde vermaak met 'n paar snaakse tonele, maar op die ou einde nie so snaaks of goed nie. Ek is nie 'n AK fe^n nie, bygese^. Saam met Bella op die bank. Hierdie is 'n skop-skiet-en-donder tjiekfliek....Moet se^ ou Magnum met sy snor was 'n hoogtepunt...hy lyk (en klink) nog heel goed vir 'n '45 baba.

Social Network - 6/10

Enige ou wat seker Facebook, of enige ander sosiale media gebruik, moet seker maar The Social Network kyk. Dit is 'n redelik meganistiese weergawe, met ietwat oormatige dramatisering in terme van die meisies, seks en narkotika. Soos ek vir Bella se^, dis is of glad nie so gewees nie, en net bygevoeg om die fliek darem bietjie meer interessant te maak as om na verf te kyk wat droogword, of dit was baie erger as wat in die fliek uitgebeeld word. Nog steeds nie te slegte kykie nie. Saam met Bella in die Brooklyn Nouveau teater, na 'n brekvis by Spiros (of is die Spigas?). 

The Girl who Played with Fire - 6/10

The Girl who Played with Fire is die tweede in 'n reeks van drie films (The Girl with the Dragon Tattoo, The Girl Who Kicked the Hornet's Nest). Dit is heel kykbare spanning, en dalk daardie aks bo die gewone gemiddeld, veral oor die Sweedse inslag. Het toevallig met 'n paar Swede gesels oor die films, maar dit lyk nie asof dit 'n groot impak daar gemaak het nie. Saam met Bella op die bank.

Liefling - 7/10

Liefling is die eerste lekker Afrikaanse prent in 'n hele ruk, en nogals 'n musiekblyspel cum liefdesverhaal daarby! Het dit baie geniet, veral as gevolg van die hoe" skoot nostalgie. Saam met die hele familie in die teater.

Thursday, November 18, 2010

Letters to Juliet - 5/10

Letters to Juliet is maar 'n baie ligte tjiekfliekie vol cliches, maar ten minste met 'n verleidende Italie... Saam met Bella en ma Lenie. 

Sunday, November 14, 2010

The Girl with the Dragon Tattoo - 6/10

The Girl with the Dragon Tattoo is 'n gewone wietditgedoen (whodunit), maar tog ietwat meer stylvol, grotendeels agv die Sweedse aanslag. Dit het een of twee redelik ontstellende tonele, maar die res is redelik kykbaar. Dit is 'n langer fliek en beweeg ietwat stadiger as wat mens sou verwag. Dit is nie heeltemal hoofstroom vermaak nie, maar tog toeganklik. Ek sou nie dit nie as 'n spanningsriller beskou nie, eerder 'n drama met elemente van spanning. Dit is tog daardie aks bo-gemiddeld, die Sweedse landskap en omgewing was net te bekoorlik. Saam met Bella op die bank. 

Monday, November 8, 2010

Defendor - 7/10

Defendor lyk baie interessant, dalk so bietjie donker. Dit is egter maar op die ou einde 'n lekker ou lovestorie, en tog heelwat tragies. Dit is ook waarskynlik Woody se beste fliek ooit. Daar is 'n paar tragies-snaakse tonele, wat die eerlikheid van Defendor se aksies soveel te meer laat uitstaan. Hierdie is nie die gewone superheromoewie nie - Defendor is so gebore en so gelaatstaan, nie deur 'n gogga gepik of met bomenslike kragte gebore nie. Moenie 'n aksievolle fliek verwag nie, eerder 'n rustige pas fliekie. Die rolle word almal goed vertolk, met Woody wat waarskynlik die Oscargode gaan beindruk. Aan te beveel vir meer ernstige, denkende fliekgangers. Saam met Bella op die bank.

Saturday, November 6, 2010

Agora - 6/10

Ek hou baie van periode dramas, veral in die vroee" tye, soos waar Agora afspeel. Skynbaar gegrond op feite, en handel oor Hypatia, 'n sterk vrou in daardie tyd. Die fliek het sterk godsdienstige ondertone, en dis moeilik om te besluit wat hul uiteindelike siening is oor godsdiens. Die akteurs voe; so ietwat plastiekerig hier en daar, maar andersins is dit relatief effens bogemiddeld. Het so oomblik of wat, waar die fliek dalk so bietjie lank voel. Enige aand van die week sal geskik wees. Saam met Bella op die bank.

Leverage (Seisoen 1-5) - 6/10

Leverage is heel verfrissend, en gelukkig het dit relatief kort reekse. Dit is baie lig, en lekker vir weeksaande. Ons trek nou al by seisoen 4, maar kon nie die laaste 5 episodes van reeks 3 in die hande kry nie.  Die laaste reeks was maar baie flou met die derde laaste episode heel goed, en dan die laaste episode met 'n baie sinvolle kragtoer grand finale. Saam met Bella op die bank.

The Informers - 0/10

Wel, The Informers het beloof om puik vermaak te wees as mens na die lys van akteurs en aktrises kyk. Dit is egter so swak, dat selfs nie die rolverdeling, sekstonele of "mooi" mense dit red nie. Daar is een vlietende oomblik van diepte ("As niemand my wys wat reg en verkeerd is nie, hoe sal ek ooit weet?"). Miskien werk dit vir ander, maar dit was 'n groot teleurstelling. Saam met Bella op die bank.

Jonah Hex - 5/10

Jonah Hex is 'n moderne Western wat in strokiesprentstyl vertoon word. Dit is heel kykbaar, maar tog op die ou einde redelik gemiddeld. Dalk is vyf te laag en ses net te veel... Kyk gerus op 'n lui Vrydagaand, dalk nie genoeg skop vir 'n Saterdagaand nie. Saam met Bella op die bank.

Sunday, October 17, 2010

Youth in Revolt - 7/10

Youth in Revolt is nog 'n flieke wat ek alleen gekyk het, maar wat Bella reeds gesien het. Terwyl sy in Bangkok was op die bank. Mnr Cera is 'n gunsteling, veral na Juno. Terug na die fliek, dit is regtig die moeite werd - 'n alternatiewe kykie na grootword. Daar is so 2 of 3 tonele wat regtig snaaks is. Die lyn bly kykbaar, en die toneelspel eerlik. Kyk gerus as jy lus is vir iets ligters. 

Saturday, October 16, 2010

Broken Embraces - 6/10

Broken Embraces is een van Almodovar se meer kykbare flieks. Wees by voorbaat gewaarsku, dis 'n fliek met onderskrifte. Nogals 'n lekker fliekie om te kyk, en as mens in ag neem Mev Cruz is 'n '74 model, is sy heel aanvaarbare vermaak, veral in hierdie fliek. Eenvoudige storie op 'n tipiese Europese manier vertel. Kyk gerus as jy van kunsflieks hou. Alleen op die bank, Bella in Bangkok, maar sy het dit reeds gesien. 

Monday, October 11, 2010

The Mentalist (S1-S3) - 7/10

The Mentalist lyk ook belowend - sodra Lie to Me klaar is sal ons hierdie verder kyk. Het al die eerste episode so rukkie terug begin kyk. Het dit baie geniet, kan nie vir Seisoen 4 wag nie...

Repo Men - 5/10

Die fliek het heelwat potensiaal, maar die grafiese tonele laat dit 'n vlak of twee daal. Goeie rol-vertolkings in die algemeen, en genre in ag geneem, maar heelwat te bloederig vir my smaak. Tog 'n interessante alternatief op die cliche futuristiese pogings wat mens gewoonlik verwag. Beslis nie Sondagaand vermaak nie. Saam met Bella op die bank.

Hot Tub Time Machine - 2/10

Wel, meesal die woord f*k met baie min dialoog tussen-in. 'n Baie swak, maar dalk tog hier-en-daar-snaaks kykie na die teruggryp na mens se jeug. In hierdie geval dalk nie vrywillig nie....Ek vermoed die begroting was nie so klein nie, maar hulle was ook nie seker wat om daarmee te doen nie. Nie eers die kaal borste of twee help die film aan nie. As jy moet, beslis op 'n Vrydagaand as jy beneweld is van die week se werk en dalk al 'n paar versnaperinge sterk is. Saam met Bella op die bank. 

A Serious Man - 6/10

A Serious Man is dalk die Coen broers se beste nog, wel ten minste volgens my smaak en die eentonige karakters van No Country for Old Men. Moet se^ dat Kind se vertolking as ondersteunende rol uitstekend is. Nie ligte vermaak nie, maar tog donker-komies. Ook nie springmielie tipe vermaak nie, dus eerder vir 'n Sondagaand. Saam met Bella op die bank. 

The Last Station - 6/10

'n Ligter kykie na die man van War and Peace-faam, maar op die koop toe ook sommer heel goeie onderig in sy lewe. Met so vrou sou ek ook waarskynlik War and Peace kon uitdraai....Maar op 'n meer ernstige noot, dit raak tog na die einde toe so ietwat tragies, veral as mens besef die skerp gedagtes gaan binnekort die tydelile met ewige verwissel. Al die rolle word redelik goed vertolk, met dalk so ietsie van 'n oordrewenheid hier-en-daar. Egter steeds aan te beveel vir 'n lekker Sondagaand. Saam met Bella op die bank.

Marmaduke - 6/10

Ah, darem 'n heelwat ligter fliekie vir 'n slag! Marmaduke is goeie familie vermaak, wat die kinders beslis sal geniet. Saam met die hele familie op die bank.

Peacock - 6/10

Sjoe, nog 'n swaar fliek, met baie goeie vertolkings. Dit is ook vir daardie minder ligte geleenthede soos 'n Sondagaand bedoel. Saam met Bella op die bank. 

Mother and Child - 6/10

Mother and Child is 'n swarerige drama oor besluite en gevolge. Dit is beslis nie ligte vermaak nie, en mens moet dalk eerder sterk voel as jy hierdie aanpak. Ek kon dit redelik volg op 'n klein skermpie, oppad terug van Munich na SA gesien op die vliegtuig. Die akteurs doen hulle werkies redelik goed. 

Sunday, September 19, 2010

Sex in the City 2 - 5/10

Ek het meer van die eerste fliek gehou, maar hierdie is nie te sleg nie. Dit is so bietjie lank. Ek het dit op die vliegtuig oppad na Greding gesien. Dit is 'n redelike tjiekfliek en ietwat toeganklik vir die manne, maar nie eintlik aan te beveel vir hulle nie.... 

Monday, September 13, 2010

The IT Crowd - 6/10

Na net een episode het ek en Bella besluit hierdie is 'n baie goeie reeks om te kyk na 'n gunsteling Better Off Ted wat ongelukkig klaar is ;-(. Britse humor op sy beste met maltrap karakters en lekker lag. Saam met Bella op die bank.

Flash Gordon - 4/10

By gebrek aan enige reekse soos Lie to Me het ek en Bella maar Flash Gordon begin kyk. Die eerste twee episodes was so flou ons het ophou kyk, maar soos ek se^, by gebrek aan iets beters het ons weer probeer. Die storie tel darem hier teen episode 4 so bietjie op. Ons het egter beide 'n ou verwag wat soos 'n bliksemstraal kan hardloop, maar nee, hierdie gaan oor wurmgate en parallelle heelalle. Saam met Bella op die bank. 

The Hurt Locker - 5/10

Mens kan seker jouself nie 'n ernstige flieker noem as jy nie ten minste die onlangse top Oscar flieks gekyk het nie. Alhoewel The Hurt Locker 'n teksboek geval is van tegniese verfilming, amper dokumenter, is die fliek erg meganisties, en glad nie vermaaklik nie. En ook nie vermaaklik in die ernstige sin van die woord nie. Ek dink dit skep 'n redelik realistiese visuele ervaring, maar is sonder hart. As dit dan moet, kyk eerder op 'n Sondagaand of 'n weeksaand, beslis nie Vrydag of Saterdagaand vermaak nie. Saam met Bella op die bank.

The Back-up Plan - 4/10

Nie te sleg nie, maar beslis 'n absolute tjiekfliek voorbeeld. Ek is ook glad nie 'n J-Lo aanhanger nie.... Ek vermoed manne moet dalk eerder nie erken hulle het hierdie gekyk nie...veral nie alleen nie....hulle mag dalk net toegang tot die braaivleisvuur verbied word. Saam met Bella op die bank.

Saturday, September 11, 2010

The Cat in the Hat - 6/10

The Cat in the Hat is 'n Dr Seuss fliekie wat ek aanvanklik lank terug nie klaar gekyk het nie. Dit het ietwat simpel gelyk. Wel, nadat ek die kinderboekie nou die aand vir die kinders gelees het, het ons Fanus-hulle se DVD geleen en dit gekyk. Ek was heel verras deur die kleurvolle, verfrissende dorpie, en die perfekte mense. Moet se^ ek het nogal die fliekie geniet, maar dit is beslis kleiner-kindertjie vermaak. Die dubbel-vlak humor slaan net-net hier en daar deur, maar nie so goed soos ander meesterstukke op hierdie gebied nie (Shrek byvoorbeeld). Saam met die hele familie op die bank.

Monday, September 6, 2010

Love Hurts - 3/10

Drie is waarskynlik te veel vir Love Hurts, 'n ligte romantiese komedie. Ek vermoed iemand soos die stamelende Hugh Grant sou beter as Richard E Grant gedoen het... Aag nee wat, die rolle was swak vertolk, die klankbaan swak gedoen, die kostuumwerk power, en die storie swak geinterpreteer. Vermy dalk eerder, tensy jou wyfie erge tjiekfliekonthouding het....;-) Saam met Bella op die bank. 

Saturday, September 4, 2010

The Men Who Stare at Goats - 7/10

The Men Who State at Goats is aweregse komedie op sy beste. Ou George pas perfek in hierdie rol, eintlik dan seker ook al die akteurs. Daar 'n genoeg stukke wat mens laat skater. Die lyn is heel verfrissend. Lekker DVD materiaal vir 'n Vrydagaand. Dit is beslis ook aan te beveel vir enige iemand wat in die militere omgewing werksaam is.... Saam met Bella op die bank. 

Monday, August 30, 2010

Nanny McPhee and the Big Bang - 6/10

Wel, Nanny McPhee, met die klein C en die groot P is regte kortvolk, fantasie materiaal. Dit is baie goed uitgevoer, heel kykbaar vir grootmense ook, en tog snaaks. Saam met die hele familie op die bank. Dit is dan ook die eerste Blu-ray DVD wat ons op die nuwe Sony BDP-S370 gekyk het.

The A-Team (2010) - 7/10

Wel, as mens die TV reeks gevolg het gedurende die vroee" tagtigs, is hierdie 'n moet. Met 'n onmiskenbare tema klankbaan, en min-of-meer dieselfde karakters is dit 'n lekker fliekie om te kyk. Net jammer ou Mr T is nie so bad-ass as in die TV reeks nie....en dan ook sonder sy hele reeks nekbehangsels. Maar ten spyte daarvan is die res piekfyn. Lekker aksie, met 'n paar baie goeie en snaakse dele. Me Biel voeg ook goeie waarde toe tot die algemene poging.  Saam met Bella op die bank.


Sunday, August 22, 2010

Taking Woodstock - 5/10

Taking Woodstock begin vir my goed, maar rafel dan tog so bietjie uit. Wel, mens kan dan seker maar se^ die film trek 'n parallel met die hippie-era, goeie begin....In elk geval, daar is twee rolle wat baie goed vertolk word, die deur die geld-behepte ma en kruis-kleder cum sekuriteitswag. Die grafiese uitbeelding van 'n hoograak in die ou VW kombitjie was ook verfrissend. Die fliek is heel kykbaar, en lekker rustig vir enige aand van die week. Dit voel tog so bietjie meganisties. Onthou net, daar is hippies in, so verwag iets wat jy dalk nie saam met skoonma wil kyk nie... Saam met Bella op die bank.

Step Up 3D - 6/10

Step Up 3D gaan kyk mens beslis nie vir die storielyn nie, uitsluitlik vir die danstonele. Daar is 'n paar ongelooflike sekwensies, waar die limiete van die menslike liggaam goed getoets word. Die musiek is goed, maar kon beter gewees het. Die 3D effekte pas goed by die dans, mens moet net nogals mooi kyk om al die nuanses van beweging raak te sien. Saam met die familie by  Zambezi Mall.

Saturday, August 21, 2010

Cheri - 6/10

Cheri is glad nie so sleg as wat sommige kritici dit afmaak nie. Mooi tonele, mooi tydperk kostuums, en, ja, Michelle raak ook oud. Dalk nie die regte fliek vir 'n Vrydagaand nie, maar die meisies sal daarvan hou, dis maar 'n lekker ou liefdesverhaaltjie. Die spel is goed, en gepas vir die tipe film. Saam met Bella op die bank. 

Monday, August 16, 2010

Clash of the Titans - 5/10

Nee wat, Clash of the Titans is ietwat sielloos. Selfs Percy en sy makkers doen beter as hierdie fliek. Dit was 'n meganistiese uitvoering van die bekende tema, met seker een van die swakste Ralph Fiennes vertolkings ooit. Aag nee wat, vermy dalk eerder, selfs nie eers die grafika is iets om oor huis toe te skryf nie.... Saam met Bella op die bank. Het weer die film saam met Franko en Bella gekyk (Aug 2014, eerste keer was Aug 2010), die slag dit nogals anders ervaar... 

Nine - 7/10

Sjoe, Nine is 'n absolute viering van die vroulike vorm, en op die koop toe, ook Italie. Baie ryk beelde, met skote wat bloot net daar is vir die skoonheid daarvan. Ek het meer van Chicago gehou, maar hierdie een het 'n hele paar goeie tonele. Net aan te beveel as jy van musiekflieke hou. Ek is glad nie 'n musiekfliekaanhanger nie, maar daar is 'n paar wat uitstaan. Hierdie een is heelkykbaar, maar my gunstelinge bly Chicago en Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat. Saam met Bella op die bank.

Friday, August 13, 2010

A Single Man - 7/10

Colin het dit reggekry om sy stamelende self in 'n A Single Man af te skud. Mens kan ook sien dat 'n mode bewuste die fliek gemaak het, stilisties is dit puik, maar tog ietwat sielloos. Die karakterontwikkeling kon beter gewees het. Dit is Me Moore egter wat uitstaan in haar ondersteunende rol. Wees gewaarsku, geniet hierdie op 'n rustige Sondagaand. Ek het egter amper 'n slag of wat aan die slaap geraak, maar ek was darem baie moeg... Saam met Bella op die bank.

Inception - 10/10

Daar is nie baie flieks soos Inception nie. Net soos Gamer, en The Matrix, speel dit meesal in 'n alternatiewe realiteit af. Wat Inception nogals anders maak is dat nie werklik op tegnologie staatmaak om die alternatiewe realiteit te skep nie. Wel, mens sou seker kon se^ die stoffies wat hulle so mildelik binneaars toedien is nuwe tegnologie... In elk geval, die spesiale effekte is goed verweef met die storie, en dit het lanklaas met my gebeur dat 'n film my so in intrek in 'n ander realiteit in, dat ek my eie vir eers vergeet. Dit is ook 'n redelike lang trek, die fliek is goed oor 2 ure. Ek het dit baie geniet, en dit bevestig ook ou Leo as 'n akteur uitgeknip vir hierdie tipe van rolle. Wat baie uitstaan in die film, is die ryk beelde, veral die hotel, met fantastiese vegtonele, en die Chinese fort. Die bussie wat van die brug af val, skep 'n lyn van gebeure wat vereis dat mens kophou soos 'n dronk weeluis.... Saam met Bella in die teater. Hierna het ons 'n lekker etetjie gehad by La Madeleine, perfek vir 'n goeie aand uit. 

Monday, August 9, 2010

Serious Moonlight - 1/10

Vrek, dit was nie 'n goeie fliekaand met Serious Moonlight nie... Toegegee, ek was baie moeg, maar so 10 minute se kyk en daar is ek lekker in droomland. So derde in die fliek in was die vreemde geskreeu van Mnr Hutton so erg dat ek die aftog geblaas het, en behoorlik verder gaan slaap het. Bella het darem klaar gekyk, maar ook gereken dit was een van die swakstes nog. Beslis op eie risiko. O, ja, dit was op die bank, maar gelukkig slaap hy baie lekker.

Gamer - 6/10

Gamer is 'n interessante, alternatiewe weergawe van The Matrix. Die is 'n hoe energie kykie na 'n grimmige toekoms, maar wel nie ontmoontlik nie. Ek dink net die manne sal hierdie een kan kyk. Dit is baie goed gemaak met nuwe kamera tegnologie en truuks. Gelukkig is die film kort, want dit oorlaai nogals visueel en met klank. Alleen op die bank.

The Wolfman - 6/10

Ek sou The Wolfman 7 gegee het as die nie vir die bakleirige einde, en te veel nabyskote van mensvleis was nie. As hulle so bietjie meer aan die verbeelding oorgelaat het by die arme slagoffers sou ek dit waarskynlik 'n 8 gegee het. Verder is die tonele baie goed visueel uitgevoer, en hulle slaag daarin om 'n goeie spanningslyn te onderhou. Die akteurs is almal knap. Nie aan te beveel as jy alleen by die huis is nie....Alleen op die bank.

Shrek Forever After 3D - 10/10

Sjoe, dis min dat die vierde opvolg 'n reeks die beste van almal is. Shrek Forever After is uitstekend. Die storie werk op al die ouderdomsvlakke, die grafika is ongelooflik, dis snaaks, leer 'n lewensles of twee, en net eenvoudig lekker om te kyk. Die 3D effekte is die beste nog, wat kan mens se, ek het die fliek baie geniet. Saam met die hele familie in die nuwe inkopsiesentrum, Zambezi Mall. Teen R25 per 3D kaartjie is dit 'n goeie kyk, klank egter nie so goed as Kolonnade s'n nie, maar die skerm is wel beter.

Hachiko (Hachi: A Dog's Tale) - 5/10

Hachiko is 'n ware verhaal wat ietwat meganisties raak, so hier in die helfte rond. Hondeliefhebbers sal beslis daarby aanklank vind. Goed uitgevoer, maar ietwat vervelig. Saam met Bella op die bank.

Tuesday, July 20, 2010

Schuks Tshabalala's Survival Guide to South Africa - 4/10

Aag nou ja, mens moet hierdie ook kyk net om die sukkelende SA filmindustrie aan die gang te hou. Geen bekendstelling en beskrywing is nodig nie. Daar is wel drie poetse (slang, sokkerspan, taxi lyk) wat my lank sal bybly. Moet se^ die vermommings en personas was nogals goed gedoen...Saam met die familie op die bank.