Saturday, December 30, 2017

Jumanji: Welcome to the Jungle - 8/10

Jumanji: Welcome to the Jungle is een van die beste voorbeelde van die genre. Dit kyk lekkerlag lekker, met gesoute akteurs wat absoluut die fliek maak. Genoeg snaakse tonele, baie snaakse dialoog, net die regte mengsel fisiese humor. Waarskynlik Jack Black se beste vertoning ooit, al hou ek nie van hom nie. Die balans van hierdie fliekie is net reg. Saam met Anrich en Bella by Zambezi Mall. O, en dan was daar 'n redelike haelstorm, soveel so, hulle het die fliek gestop want mens kon niks hoor nie. Franko is in Mosselbaai, kuier by Michelle. 
  

The Deep Blue Sea - 5/10

The Deep Blue Sea is pynlik stadig, met pynliker stadige kamera skote, stadige dialoog, inteendeel niks vir die eerste tien minute nie. Sou dalk in 'n kunsfliekteater werk, maar nie op die bank nie. Die film poog om emosionele innnerlikes bloot te stel, maar dalk faal die akteurs om dit suksesvol voort te bring. Dit is wel 'n goeie rolverdeling. Het na so derde van die fliek moed opgegee. Saam met Bella op die bank.
  

The Man with the Iron Heart - 6/10

The Man with the Iron Heart is rondom dieselfde gebeurtenis as Anthropoid, behalwe dat dit eerder aan die begin van die fliek meer van Reinhard Heydrich vertel as die tweeman span wat uiteindelik suksesvol was in hul sluipmoord aanval op hom. Net soos Anthropoid, is hierdie weergawe ontstellend grim, veral om Hitler se vergeldings aksies - die slagting van  Lidice word telkemale in flitse herhaal. Dit bly 'n goeie fliek, mens leer tog iets van die Geskiedenis. Saam met Bella op die bank.


Brad's Status - 6/10

Brad's Status is 'n onverwagse Hollywood fliekie. Dit is stadig, met komiese elemente, en meesal 'n innerlike drama rondom 'n gewone middeljare krisis. En glad nie soos die Hollywood cliche voorskryf nie, is daar nie uitspattige vergrypings of bostuklose motors - of meisies - nie. Nee, selfs die einde breek met getroue Hollywood tradisie, tot groot verbasing, veral met die slottoneel. Die vertolkings is beter as gewoon, met 'n raak rolverdeling. Waarskynlik Mnr Stiller se beste vertolking vir 'n drama nog. Saam met Bella op die bank. Anrich het so kwartpad opgegee. 

Wednesday, December 27, 2017

Whisky Galore - 7/10

Daar is min fliekies soos Whisky Galore, 'n ligte, prettige kykie na 'n klein gemeenskappie wat eintlik maar onbewus is van al die groot gebeure rondom hulle. Die eilandjie lyk soos 'n stukkie hemel op aarde. Ek moet hier gaan bly. Die storie is eenvoudig, die karakters - en akteurs - onpretensieus. Beslis die kyk werd. Saam met Ma Elsa en Anrich en Bella op die bank. O, en wanneer is dit Whiskey of Whisky? Die Skotte drink whisky en die Iere whiskey, sowel as die Amerikaners. 


Bull, Seisoen 1 - 7/10

Bull se eerste episode is nie erg indrukwekkend nie, maar omdat elke episode 'n saak is, en die intriges minder lyk, veral die wat oor verskillende episodes strek, sal ons hierdie nog 'n paar kyke kans gee. Herinner sterk aan 'n kombinasie van The Mentalist en Lie to Me. Saam met Bella op die bank. 

The Good Doctor, Seisoen 1 - 6/10

The Good Doctor lyk nie te sleg nie, maar dit voel net te sentimenteel, en ruik na te veel poersoonlike intriges. Die eerste episode is redelik, maar mens voel nie om die tyd belegging te maak nie. Sal eerder los, saam met Bella op die bank.

Tuesday, December 26, 2017

The Marvelous Mrs. Maisel, Seisoen 1 - 7/10

The Marvelous Mrs. Maisel is 'n kort reeksie, periode getrou, en nogals pretterig. Dit bevat baie praat, baie vinnig...wees gewaarsku...mens moet mooi oplet om al die humor te onderskep. Die hoofkarakter is beslis nie op haar bek geval nie. Saam met Bella op die bank.


Dunkirk - 8/10

Sjoe, Dunkirk is een van daai flieks wat mens nogals bybly. Sterk karakter en dialoog ekonomie, maar met baie wat uitgebeeld word... Die grimmigheid van oorlog word hier baie sterk vertoon, maar nie met die gewone bloed-en-maag tonele nie, eerder met onderspeelde onderstrominge en stemmings. Buitengewone vertolkings, buitengewone kamerawerk, eentonige, grim kleurskakerings, 'n film voorbeeld. Saam met Bella op die bank, Franko het dit saamgekyk en verstaan, Anrich kon nie die depressiewiteit, sinloosheid en redeloosheid verdra nie. Hy het so kwartpad gekyk,   

Godless, Minireeks - 8/10

Nou hier het mens 'n periode drama met 'n oortuigende premis en beslis karakters, en akteurs, wat hulle werk goed doen. Godless is 'n droe" Western met skop en skiet en rowwe manne (en vrouens). Iets anders vir 'n slag. Saam met Bella op die bank.

Knightfall, Seisoen 1 - 4/10

Ek en Bella is groot bokke vir 'n sappige periode drama, maar soos APB, voldoen Knightfall nie aan die basiese vereistes nie. Die premis is daar, maar die karakters lyk oppervlakkig en aansitterig. Die vertolkings is nie oortuigend nie... Kon nie eers deur die eerste episode kom nie..... Saam met Bella op die bank.


APB, Seisoen 1 - 5/10

Die kuns met reekse soos APB is nie 'n sterbelaaide of bekende rolverdeling nie, maar ten minste 'n oortuigende premis, en dan 'n paar karakters waarvan mens hou of mee identifiseer. APB het ongelukkig nie karakters of akteurs waarin mens tyd wil bele nie. Kon beswaarlik die eerste episode deurkyk. Saam met Bella op die bank.

Victoria and Abdul - 6/10

Victoria and Abdul laat mens wonder hoeveel kreatiewe interpretasie op die ware gebeure geneem is. Die gebeure is redelik geloofwaardig, en daar is sekerlik 'n mate van oordrywing, maar mens kan jouself net indink hoe die stywe bo-lip Britte hierdie petalje probeer hanteer het. Uitstekende vertolkings, soos te verwagte met die rolverdeling. Redelik ligte materiaal, maar beslis nie vir 'n Vrydagaand gepas nie. Saam met Bella op die bank.

Sunday, December 10, 2017

Marvel's RunAways, Seisoen 1 - 4/10

Marvel's RunAways voel heeltemal te veel soos 'n sepie. Mens vind nie aanklank by enige van die karakters of akteurs nie. Dit begin ook maar bietjie flouerig. Kon net 2 episodes maak. Saam met Bella op die bank.

The Dark Tower - 6/10

The Dark Tower speel goed teen sleg af, maar as 'n innerlike oorlog, as 'n alternatiewe werklikheid metafoor. Dit kyk nie sleg nie, maar die fliekie is gou vergete. Redelike rolverdeling en vertolkings. Saam met die familie op die bank.


Kingsman: The Golden Circle - 7/10

Kingsman: The Golden Circle is nogals verasend beter as die eerste een. Dit bly net vreemd dat hulle so erg fokus op 'n spesifieke vloekwoord. O, en wees voorbereid op die baie kort, maar impakvolle biologielessie... 'n Paar baie koel toele, meer humor en netjiese strepiespakke. Saam met die familie op die bank. Beide Franko en Anrich het dit reeds in die teater ook gesien.