Saturday, January 26, 2013

The Killing, Seisoen 1-2 - 7/10

The Killing is verslawend. Mens wil net die einde sien om te weet wat gebeur het. Sou graag die oorspronklike Deense weergawe met onderskrifte wou sien. Baie geloofwaardige karakters, goeie vertolkings en irriterende persoonlikhede en al. Een van die beste eindes ooit vir 'n reeks. Saam met Bella op die punt van die bank.

The Flowers of War - 8/10

The Flowers of War herinner mens maar net weer aan die grusaamheid van oorlog. Die film is goed gemaak, baie geloofwaardig en visueel treffend. Hartseer verhaal met baie drome wat aan skerwe le^. Kyk gerus as jy sterk van konstitusie voel die aand. Beslis nie vir 'n Vrydagaand nie. Ek dink ook hierdie is dan 'n oorlogfilm wat toeganklik vir die dames is. Saam met Bella op die bank.

Flypaper - 5/10

Flypaper is nie 'n te slegte poging vir 'n bankroof komedie nie. So hier en daar iets irriterend, andersins sou dit 'n gemaklike 6 kon kry. Te veel vloek vang my nogals deesdae. Vir 'n slag 'n geloofwaardige rolverdeling. Eerste DVD op nuwe Sony TV wat die versekering betaal het na die inbraak terwyl ons in Londen was. Saam met Bella op die bank. 

The Vow - 5/10

The Vow is 'n bittersoet tjiekfliekie met 'n manlike hoofrol wat se naak agterstewe die wereld se vrouens aan die gons, lus, jil en bibber het. Die manlike hoofrol beheer, praat oor sy emosies, soos die Super Emosie Man! Mens kan amper se^ die vroulike interpretasie van 'n strokies superheld. Hierdie tjiekfliek is dan so goed in sy genre dat meesal tjieks dit geniet, en gades met oopmonde na die emosie beheer kragtoertjies staar. So bietjie te veel vir my, maar nou ja ;-) Dus, op eie risiko vir die manne wat nie van Nataniel hou nie. Saam met die familie en Ouma op haar DSTV toe ons Lisa na Londen 2012 afgehaal het. 

The Campaign - 6/10

The Campaign is 'n uitspattige oordryf (of dalk nie?) van Amerikaanse politiek. Moet se^ die eerste van die Amerikaanse politieke flieks wat ek nogals regtig geniet het, en baie snaaks gevind het. Neem kennis, dit is baie oordrewe so dit kan baie raak vir party na 'n ruk. Op vlug SA 237 terug van London na SA net na die Desember 2012 vakansie in Londen. 

Cafe - 4/10

Cafe lyk soos daai tipiese Amerikaanse kunskring flieks, bou dan op tot 'n goeie hoogtepunt, en laat mens helemal in die donker met 'n baie swak verbeeldingsvlug as einde. Niks maak ook dan meer sin nie. Dis jammer, want die akteurs, milieu en lyn het redelik potensiaal. Op vlug SA 237 terug van London na SA net na die Desember 2012 vakansie in Londen. 

The Expendables II - 6/10

Glad nie te slegte skop-skiet-en-donder parodie nie. Veral Chuck se verskyning geniet. Hy kon dalk net 'n minder bekende, nuwe Chuck grappie oor homself as die ratelslang een vertel het. Wees gewaarsku, baie plastiek-bloedspat tonele, maar baie daarvan tong in die kies. Saam met Hester, Corné en Bella op die bank in London. Het die fliekie vir £4.49 van iTunes afgelaai, HD weergawe binne so 30 minute.

Safe - 3/10

Wel, Safe is ongelukkig nog 'n fliek in 'n string van slegte flieks wat ek nou die afgelope ruk gesien het. Gewoonlik is Statham-flieks bietjie beter. Hoeveel skietgevegte kan mens nou deursit? Vermy dalk eerder. Saam met Bella op die bank. 

New Hope - 2/10

New Hope is een van daai feel-good flieks met 'n Christelike inslag. Niks verkeerd met die fliek nie, dis net baie lank, stadig, met dodelike vervelige tonele. Duidelik op 'n baie lae begroting, waarskynlik met aspirant of amateur akteurs. Mens gebruik maar die vinnig speel knoppie ook so nou en dan. Saam met Bella op die bank. 

Your Sister's Sister - 4/10

Your Sister's Sister moet jy dalk eerder vermy. Een van daai praat flieks in 'n ekonomiese milieu. Vloek baie, is redelik skurf, vir 'n tjiekfliek, en die storie maar aan die floukant. Hier en daar darem 'n snaakse situasie om die saaiheid te onderbreek. Vanaf iTunes UK gedownload vir 4 Pond by die Bouwers terwyl daar vir Desember 2012 vakansie. Almal op die bank met makkers wat langs die pad verdwyn het. 

Wednesday, January 23, 2013

The Odd Life of Timothy Green - 7/10

The Odd Life of Timothy Green is 'n bittersoet sprokiesverhaal in die hedendaagse lewe. Dit is gevoelvol en toeganklik vir 'n wye gehoor, insluitend laat laerskool. Dit is die moeite werd, veral wanneer jy dalk bietjie blou voel, en is perfek vir 'n Sondagaand. Op die vlug SA 236 oppad na Londen vir Desember vakansie saam met die familie. Ek het ongelukkig die laaste stukkie gemis omdat ons beginland het, maar Bella het vir my die res vertel. Kyk gerus.

The Bourne Legacy - 4/10

Wat is teleurstelling is Bourne Legacy! Dit is 'n generiese fliekie met 'n aks potensiaal en verwysings na Jason Bourne. Ai. Op vlug SA 236 oppad na London vir Desember 2012 vakansie. 

Skyfall - 8/10

Ek is 'n baie groot Bond fe^n, en het Skyfall dus baie geniet. Ek is seker dit is een van die beste Bond prente die afeglope dekade of twee. Hou baie van die storielyn, en ook die fokus op storie eerder as ander goeters. Party puriste kan dalk kla oor die afwesigheid van toestelle, dames en motors, maar dan maak hulle baie op met die verskyning van 'n vorige Bond mobiel... Saam met Franko in die Kolonade teater terwyl Bella en Anrich iets anders gekyk het.

Haywire - 5/10

Laaste fliek voor vertrek vir die groot London vakansie! Haywire is redelike aksie, met 'n tawwe girl. Sal nou nie ver ry om hierdie een uit te neem nie. Saam met Bella op die bank. 

Friends with Kids - 6/10

Friends with Kids is ietwat bokant gemiddeld, maar dit is eers in die tweede helfte van die film wat dit beter raak. Hele paar waarhede wat hulle aanraak, maar dalk tog ietwat oordrewe hier en daar. Saam met Bella op die bank. Sonder die kinders. 

Total Recall - 6/10

Ek is glad nie 'n Farrell fe^n nie, maar hierdie poging is tog beter as die oue. Ek sou net eerder Kate nie as die skurk wou sien nie... maar dan maak sy 'n oulike skurk. Selfs die dame met die drie borste kom voor, maar minder modern as verwag. Lekker aksie vir 'n Vrydagaand. Saam met Bella op die bank.

The Dark Knight Rises - 8/10

Hierdie uitgawe van Batman is beslis in dieselfde liga as die vorige een, en dalk so ietwat minder donker met die afwesigheid van Joker. Het dit geniet, en 'n moet as jy van die vlermuisman hou. Saam met Bella op die bank.

Arthur Christmas - 7/10

Arthur Christmas is 'n lekker familie fliekie. Dit het 'n gepaste boodskap wat pas by Kersfees, 'n oulike inleidingsekwens, en humor wat die oueres ook kan verdra. Saam met die familie op die bank. 

Wednesday, January 9, 2013

The Help - 7/10

The Help is dalk te lank gerek, wat ongelukkig die waarde van die film ondermyn. Anders is die rolspel uitstekend en die era baie getrou nageboots. Sensitiewe tema veral vir SA. As mens verby die eerste helfte kom, kry die fliek ook meer siel. Saam met Bella op die bank.