Sunday, September 27, 2015

I'll See You in My Dreams - 5/10

Moet nie te veel van I'll See You in My Dreams verwag nie, dit is 'n baie rustige tempo filmpie, met onderspeelde, maar tog gepaste, vertolkings, wat oudword in 'n ietwat ander lig stel. Dit laat dit nie so erg lyk nie... Kyk gerus as jy baie rustig voel en nie lus het vir aksie nie. Saam met Bella op die bank.

San Andreas - 6/10

Kyk, San Andreas is hiper onrealisties in verskeie opsigte. Dit verskaf egter heelwat pret as 'n gesinsfliek, en is een van die min flieks wat daarin slaag om ons hele familie op die bank te hou... 

Friday, September 25, 2015

Seun - 7/10

Seun is puik vervaardig en wys dat die Suid Afrikaanse (Afrikaanse) film industrie kwaliteit kan lewer. Wees dubbel gewaarsku, baie swaar tema, met vreeslik baie wroeg en wroeg en wroeg. Uitstekende voorbeeld wanneer kuns prioriteit bo vermaak geniet. Moet ook nie verwag dat dit enigsins die bosoorlog tema aanspreek nie, nee, eerder emosies by die huis. O, en beslis nie Vrydagaand vermaak nie. Saam met Bella op die bank.  

Hollywood in my Huis - 6/10

Hollywood in my Huis is redelik vir die genre, maar dalk eerder 'n tjiekfliek as familie vermaak. Anrich het dit nie lank gemaak nie. Baie ligte vermaak. Saam met Bella op die bank.

Thursday, September 24, 2015

Listen Up Philip - 1/10

Ek het die eerste 10 minute van Listen Up Philip hard probeer om nie te slaap nie, die volgende 10 minute heerlik gesluimer, en toe besluit hierdie is regtig net tydmors. Dit is 'n swak Hollywood kunsfliek poging, met 'n nog swakker keuse vir derdepersoons stemkunstenaar, selfs as dit as parodie bedoel was. Werklik op eie risiko, saam met Bella op die bank.


Monday, September 21, 2015

Beautiful Creatures - 4/10

Beautiful Creatures is maar 'n flou poging, ten spyte van die redelike rolverdeling en vertolkings. Wat dit in die steek laat is die swak lyn en na-aap van die Twilight trilogie (nie dat ek hulle gekyk het nie). Vermy dalk eerder, veral omdat dit lyk of die opvolg films nie die rol gaan haal nie.

Sunday, September 20, 2015

Entourage - 5/10

Ek is seker dit gaan erger in lala-land as wat Entourage uitbeeld. Die fliek is redelik, met 'n komiese element. Wees gewaarsku, taalgebruik en ander. Daar is heelwat kameerolle en baie skerp film verwysings. Mal oor die karre, veral die een op die film se plakaat. Saam met Bella op die bank. 


Page Eight - 6/10

Ek en Bella het hierdie trilogie heeltemal in die verkeerde volgorde gesien, eers Turks and Caicos (2), toe Salting the Battlefield (3), en toe Page Eight (1). Ai. Dit sou dalk beter gekyk het in die korrekte volgorde. Desnieteenstaande heel verteerbare Briste spioenasie drama met redelike rolverdeling. Ek het die meeste van die tweede een gehou, wat dan ook die meer komplekse lyn het. Saam met Bella op die bank. 


Salting the Battlefield - 6/10

Laaste van 'n trilogie Briste spioenasie dramas. Het dit ongelukkig in die verkeerde volgorde gesien. Nie te sleg nie, wel beter as wat 'n Amerikaanse eweknie sou wees. Saam met Bella op die bank.

HairBrained - 5/10

HairBrained is 'n Hollywood poging tot nie-hoofstroom kunsflieks. Dit slaag gedeeltelik, want van die vertolkings is te bewus "anders". Dit bevat darem redelike komiese elemente, so die fliek is tog kykbaar. Dit het seker ook 'n lewenslessie of twee. Saam met Bella op die bank.


Mad Max: Fury Road - 4/10

Kyk, visueel gewys is Mad Max: Fury Road uitstekend. Dit stel egter teleur in terme van lyn en effek. Hierdie film lyk dan ook soos een of ander verbeeldingsvlug met 'n mengsel van elemente wat nie heeltemal pas nie. Dit is beslis in 'n ander trant as die oorspronklike Mad Max reeks. Ek weet nie, van die elemente is selfs lagwekkend, veral die kitaarman... Op die vliegtuig terug van Munich na Johannesburg.


Thursday, September 17, 2015

Sin City: A Dame to Kill For - 8/10

Genre gewys is Sin City: A Dame to Kill For sekerlik een van die bestes. Die elemente werk net alles saam, die donker, monochrome beelde, aweregse humor, amper donker, sensuele silhoeëtte, Ek hou dan ook meer van hierdie een as die vorige Sin City. Die vertel tegniek skakel van karakter na karakter wat die film meer dimensies gee. Puik vertolkings en rolverdeling. Het dit op die vliegtuig terug van Munich na Johannesburg gekyk. 

The Knick, Seisoen 1 - 7/10

Die aantal kwaliteit periode drama reekse raak net te veel om te kyk. Hierdie een, waarvan ek nog net episode 1 gekyk het, lyk baie belowend. Sal beslis verder kyk, weet net nie wanneer nie... Alleen eers in Greding, tydens 'n werk trippie

Tuesday, September 15, 2015

The World According to Garp - 6/10

Mens moet nogal sterk voel oor sosiale kommentaar, want hierdie film val vreemd op die oog vanuit 'n vermaak perspektief. Ek sou nie dit as vermaak klassifiseer nie. Wat wel al meer vir my tragies raak is dat ons al minder van Robin se materiaal gaan sien. Ons kyk juis stadig en snoep aan The Crazy Ones. Die film is dan ook nogals tragies, met hier en daar komiese elemente. Kyk gerus, maar nie ligte materiaal nie. Saam met Bella op die bank.


Madame Bovary - 6/10

Wel, weereens 'n puik periode drama, maar ongelukkig werk die vroulike hoofrol vertolking nie. Die res van die vertolkings is gepas en goed. Nogals 'n treurige verhaaltjjie, regte tjiekfliekland. Saam met Bella op die bank.


Masters of Sex, Seisoen 1 - 7/10

Master's of Sex klink so bietjie erger as wat dit is, maar het tog so kinkel of twee wat seker sou kon aanstoot gee vir 'n sekere gehoor. Ek hou baie van periode dramas, en hierdie een is getrou aan die era. Die openingstoneeltjie van elke episode is nogals interessant... Kyk gerus as jy meer oopkop voel oor reekse. Die vertolkings is baie goed en uitbeeldings alles gepas. Saam met Bella op die bank.


Pitch Perfect - 5/10

Pitch Perfect is goed, maar ek het meer van die tweede een gehou. Soos die Step Up flieks kan ek moeilik verklaar waarom ek van hierdie hou, dit werk net vir my lekker. Lig, ontspanne, humor, en stemkunsies. Saam met Bella en Anrich voor die TV terwyl ons lekker Lego bou.