Sunday, March 26, 2017

Travelers, Seisoen 1 - 6/10

Travelers het nogals 'n interessante loodsepisode, so sal nog beslis verder kyk. 'n Nuwe benadering op tyd-toeriste. Saam met Bella op die bank. Het ophou kyk, spoed verloor kort na die eerste episode. 

Goliath, Seisoen 1 - 6/10

Goliath lyk belowend, en is 'n kort reeks. Rolverdeling werk goed, sal dit nog 'n episode of wat kans gee. So regte buiteperd tema, moet iemand nie op sy baadjie takseer nie. Saam met Bella op die bank.


Sneaky Pete, Seisoen 1 - 5/10

Sneaky Pete lyk glad nie sleg nie, maar voel net te gewoon om tyd aan te spandeer as daar beter, ander opsies is. Dit voel te alledaags. Gaan vir eers nie hierdie reeks volg nie. Saam met Bella op die bank.


Monday, March 20, 2017

Finding Altamira - 6/10

Finding Altamira is 'n heel kykbare fliekie, rustig en mens leer darem seker so iets. Die milieu sal mense baie oud laat word... Passievolle vertolkings, wat anders verwag mens van Spanje? Saam met Bella op die bank. Anrich het begin kyk maar moed opgegee. 

Iron Fist, Seisoen 1 - 2/10

Iron Fist, nee wat, flou makou, hou verby. Die loodsepisode is so vervelig mens hoop op 'n afspraak by die tandarts. Heeltemal te veel onderspeeld, swak vertolkings en 'n powere hoofrol verdeling. Saam met Bella en Anrich op die bank, alhoewel Anrich na 10 minute geloop het, en ons met die vorentoe-rol knoppie gekyk het. 


Saturday, March 18, 2017

War & Peace, Minireeks - 6/10

War & Peace is sappige periode drama materiaal. Goed vervaardig, nie sepierig nie, en 'n lekker kort reeks, nie uitgerek nie. Saam met Bella op die bank.

Why Him - 4/10

Why Him is vol cliches, maar daar is 'n paar regtig snaakse tonele. Wees gewaarsku, onder die belt, binne die belt, bo die belt, buite die belt en in die belt grappe. En dan baie vloek, moet nie saam met ouma kyk nie. Saam met Bella op die bank.
  

Assassin's Creed - 5/10

Assassin's Creed is nie die beste fliek ooit nie, maar beslis vermaak. Dit is een van die beter rekenaarspeletjie-word-'n-fliek genre voorbeelde. Dit het 'n redelike tempo en haak nie te lank vas op die gewone cliche's nie. Daar sal op 'n opvolg wees, want alhoewel dit 'n bevredigende einde het, is dit oop gelaat vir verdere werk. Saam met Bella, Franko en Anrich op die bank. 
  

Saturday, March 11, 2017

Equals - 6/10

Equals is amper 'n moderne Romeo en Juliette. Die film skep 'n emosionele - eerder as fisiese - post apokaliptiese toekoms waar die gevoelslewe van die mensdom totaal verwoes is. Die fliek is stadig, maar die sterk kliniese milieu met robot mense is op 'n sekere vlak tog vermaaklik. Nie swaar of ligte materiaal nie, so tussen-in. Gepaste vertolkings en goed vervaardig. Saam met Bella op die bank.  

Maigret's Dead Man - 5/10

Maigret's Dead Man is redelike stapel wiet-dit-gedoen materiaal. Mens kan nie anders as om te verwag Bean gaan enige oomblik iets swaapagtigs aanvang nie.... In elk geval is hy nie instaat tot 'n erntige gesig, of eintlik enige ernstige vertolkings nie. Nie dat hy sleg doen nie, mens wil net die heeltyd begin lag vir hom, veral as hy ernstig en gewyd probeer voorkom.... Hierdie is deel van 'n reeks - maar van net twee episodes - wat te lank vir 'n episode en te kort vir 'n fliek is, so dan is dit seker 'n fleeks? Saam met Bella op die bank.


Sunday, March 5, 2017

Fantastic Beasts and Where to Find Them - 7/10

Fantastic Beasts and Where to Find Them is baie ligter en meer kykbaar as die Potter reeks. Dit is prettig, en vol grappies. "Natuurlike" grafika werk, met so klein bietjie te veel rondom die swart wolk ding. Ek was bietjie moeg en wil eintlik weer die fliek kyk, dit sal die moeite werd wees. Eddie Redmayne is seker een van die beste akteurs op die kring tans. Sy bereik is verstommend. Saam met Bella en Anrich en Franko op die bank. 

Saturday, March 4, 2017

Planet Earth II, Seisoen 1 - 12/10

Planet Earth II is die beste natuurprogram ooit. Die beeldmateriaal is eenvoudig verstommend. Ek wonder net wie gaan Sir David se skoene enigsins kan volstaan? Saam met Anrich op die bank.


The Day After Tomorrow - 5/10

The Day After Tomorrow is tipiese Hollywood sentiment. Net die Amerikaners kan 'n natuur gebeurtenis en mense-ramp so dramaties laat lyk. 'n Tweede kyk, maar die slag saam met Anrich en Bella, het dit al reeds jare terug gesien. Almal lyk so jonk in die fliek...

Born to Be Blue - 7/10

Kyk, die man het probleme gehad... Born to be Blue is nogals baie goed vir 'n ware verhaal verwerking. Die musiek is sensueel mooi, die vertolkings briljant. Swaarder materiaal, maar tog baie kykbaar. Mens voel nie jy het jou tyd gemors aan die einde van die fliek nie. Saam met Bella op die bank.

Doctor Strange - 6/10

Doctor Strange is, wel, vreemd. Ek het iets heeltemals anders verwag, dalk oor die verwarring tussen DC Comics en Marvel het ek eers later besef. Die fliek kyk nogals heel lekker, maar is nie die beste materiaal nie. Lekker Vrydagaand materiaal. Saam met Bella en Franko en Anrich op die bank.

Our Kind of Traitor - 6/10

Our Kind of Traitor het die perfekte rolverdeling, maar iets het net nie vir my gewerk nie. Dalk was ek te moeg, maar het op die ou einde meer geslaap en nie die einde gekyk nie. Die milieu is goed, die storielyn redelik, maar dit het my nie aangegryp en vasgenael gehou nie. Bella het deurgedruk. 

Santa Clarita Diet, Seisoen 1 - 4/10

Santa Clarita Diet het seker baie komiese potensiaal, maar ek is net nie lus vir 'n zombie storie nie. Saam met Bella op die bank. Sy het nog so bietjie meer van die eerste episode gekyk, maar ook opgegee. 

Legion, Seisoen 1 - 6/10

Legion is so deurmekaar soos katkots in 'n tuimeldroe"r. Die eerste seisoen het net 8 episodes en na die eerste 3 voel mens die ding het nog nie aan die gang gekom nie. Binnekort sal iets moet gebeur, want ons posisioneer nog hier die hele tyd. Foeitog, die man kry baie swaar. Dit is wel baie indrukwekkend vervaardig, baie gepaste stelinkleding, rolverdeling en karakter vertolkings. Saam met Bella en Anrich op die bank, Franko kry nie byt nie.