Sunday, December 7, 2014

Scorpion, Seisoen 1 - 4/10


Ek weet nie, maar siende dat die slimste ou in die wereld, of ten minste die een met die hoogste IK, hierdie self vervaardig het, het hy gedink dat hy beter as almal weet as dit by TV reekse kom? Maar 'n verflouing van Leverage en verskeie ander reekse. Nee wat, vermy dalk eerder. En wat my verder laat wonder is dat O'Brien eerder in die regte lewe soos die uber-nerd in die rolverdeling lyk, as die hoofkarakter... Saam met Bella op die bank. 


Saturday, December 6, 2014

The Other Woman - 4/10

Het The Other Woman op SA 7241 (Eintlik Swiss Air) oppad na Zurich gekyk. Baie clicherig, onder-die-belt by tye, maar tog met stukke wat my laat stik het van die lag op die beknopte vliegtuig. 



Boyhood - 6/10

Wel, as een van die elemente van 'n kunsfliek die vermoee" is om alledaagse lewe op 'n aangrypende, interessante of alternatiewe wyse uit te beeld, kry Boyhood redelik baie daarvan reg, deur 12 werklike jare van verloop in 3 ure te verpak. Die progressie van ouderdom, en alles wat daarmee saamgaan, maak hierdie fliek redelik uniek. Die natuurlike gevoel van  karakterontwikkeling skep heeltemal 'n ander dimensie, iets wat dalk nie voorheen moontlik was nie. Baie geduld, dissipline en vasberadenheid het hier betaal. Kyk gerus, maar wees gewaarsku, gewone lewens en probleme, op gewone tydskale en intensie uitgedruk. Die fliek was so lank, moes dit in twee paaiemente kyk! Saam met Bella op die bank, maal twee. 


Predestination - 6/10

In Predestination moet mens beter kophou as 'n dronk weeluis. Die film het baie stylvolle periode voorstellings as gevolg van die tydreise, met 'n taamlike verstrengelde tydlyn. Op die ou einde kom alles neer tot jy is jou Oupa, ook beter bekend as die hoender en eier geval. Vir laasgenoemde is die maklike antwoord, die hoender was 'n hen, en nie 'n haan nie... Nie seker of dit help nie. Kyk gerus, lekker Saterdagaand materiaal. Wees vars om alles te volg, dus te kompleks vir 'n pap Vrydagaand. Saam met Bella op die bank.

Manhattan, Seisoen 1 - 7/10

Manhattan het met 'n slag begin. Kyk net na die titelprent, Baie stylvolle periode drama, met een vreemde floute. Die klankbaan van die eerste episode was so raserig en onsamehangend ek het amper besluit om nie die res te kyk nie uit protes... Geen warmbloedige ingenieur of wetenskaplike kan bekostig om hierdie te mis nie. Saam met Bella op die bank. 

Lucy - 4/10

Aag nee wat! Lucy is nogals 'n groot teleurstelling. Dit staan duidelik uit, hierdie is pretensieuse, gekunstelde, kuns wetenskap fiksie, Die slottoneel is so 'n abrupte einde ek wou sommer. Die gebruik van beelde wat skynbaar alleswetenheid moet uitbeeld, wat nie regtig tot fliek bydrae nie, tesame met 'n baie vreemde tempo, amper staccato rukke-en-stote - amper meer 'n visuele gestotter sou mens kon se^, maak hierdie maar min lekker om te kyk. 'n Mors van geld, energie en tyd. Vermorste potensiaal. Ai. Saam met Bella op die bank.


Dawn of the Planet of the Apes - 7/10

Dit gebeur nie baie dat 'n opvolg beter as die eerste uitgawe is nie, maar Dawn of the Planet of the Apes het my nogals laat kyk, Goeie grafika, redelike geloofwaardige lyn, en gepaste vertolkings. Franko wou nie kyk nie, so met Bella en Anrich op die bank. 

The Hundred-Foot Journey - 7/10

The Hundred-Foot Journey is verfilm in 'n utopiese klein Franse dorpie. Dit is dalk so ietwat pretensieus, maar ek sal Lasse Hallström dit vergewe. Die kos proe hemels in mens se verbeelding, jou vimgers jeuk om te gaan kook as jy hierdie kyk. Hongerpyne slaan toe. Geure speel deur jou gedagtes, teksture proe werklik. Goeie vertolking - in eg Frans - van Madame Mirren. Kyk gerus, maar moet nie kyk as jy honger is nie. Saam met Bella op die bank.


And So It Goes - 5/10

Wat 'n reseppie volg And So It Goes nie! 'n Gerehabiliteerde seun wat 9 maande in die tronk moet gaan sit (vir iets waarvoor hy nie regtig skuldig is nie), wat 'n dogtertjie het, waarvan die ma nog erg aan Heroiene verslaaf is, 'n klein kompleksie van gesinne, waarvan een 'n polisieman is, en dan die buurvrou wat op 65 nog baie hups is, en 'n sangloopbaan begin het. Waar kan ek stop. O, en die groot herehuis op 'n Landgoed wat Zuma sal laat jaloers voel, en dan verkoop moet word, aan 'n jong gesin met 4 kinders en 'n pa wat vir $150m gekoop is deur een of ander sokkerklub. Ten spyte van dit alles kyk die fliek redelik maklik, is nie te swaar nie, boonop nog met clicherige vertolkings. Mooi musiek en 'n vintage cabriolet Mercedes verlei my dan om hierdie tjiekfliekie klaar te kyk. Saam met Bella op die bank.

Herculus - 4/10

Herculus se nuwe uitgawe kon soveel beter gewees het met die toegang tot tegnologie. Dit is maar verwater tot gewone Hollywood pulp. Dit is seker nie te sleg vir 'n Vrydagaand nie, en gepas vir 'n twee-ton gorilla sonder breins... Saam met die familie op die bank.


Planes 2: Fire & Rescue - 5/10

Planes 2: Fire & Rescue is maar net nog van dieselfde. Die storielyn kort so bietjie, dit het nie regtig 'n dubbelvlak humor lyn of so nie. Die jonger volk sal dit egter baie geniet. Saam met die familie op die bank..