Thursday, December 24, 2015

Pawn Sacrifice - 5/10

Pawn Sacrifice is sekerlik beide korrek en uitstekend in alle opsigte, milieu, kostuums, vertolkings, feite en styl, maar voel op die ou einde soos 'n lee" dokumenter. Dit is interessant, maar faal om mens vasgenael te hou, om die groot opgewondenheid tydens die laaste wereld toernooi te herskep en mens deel daarvan te maak. Een ding is seker, daar is 'n baie fyn lyn tussen genialiteit en kranksinnigheid. Saam met Bella op die bank.

Tuesday, December 22, 2015

Focus - 5/10

Focus is baie lig, met 'n paar interessante kinkels, maar wat dalk ietwat te voorspelbaar is. Ek dink nie hierdie is Will se beste nog nie, en daar is dalk so bietjie onontginde potensiaal. Dit is darem heel kykbaar. Saam met Bella op die bank.
  


Testament of Youth - 7/10

Testament of Youth is 'n redelike swaar tjiekfliek drama gedurende die Eerste Wereld Oorlog, Dit herinner sterk aan Bright Star, maar met 'n baie ander milieu. Mens kan dit dan ook as 'n kunsfilm tjiekfliek beskou. Dit beweeg stadig, gepas vir die tyd en styl. Vertolkings, kostuums en kamerawerk is uitstekend. Dit is maar 'n hartseer verhaal, gegrond op werklike gebeure, en bevestig dat oorlog op alles fronte iets is om te vermy. Saam met Bella op die bank.

Trevor Noah, Pay back the Funny - 6/10

Pay back the Funny is nie op die grond-rond-rol-en-lag-materiaal nie, maar is skerp, snaaks en aktueel. Trevor kan 'n gehoor 80 minute besig hou, wat opsigself al 'n moeilike taak is. Sy politiek grappies is snaaks, maar tot 'n mate onrusbarend, veral omdat dit so akkuraat is, en eintlik maar elke dag se pyne uitwys. Dalk help dit nie dat ons hierdie net na die finansies minister komedie-sage gekyk het nie.... Saam met die familie op die bank
.


Friday, December 18, 2015

Schuks! Pay Back the Money! - 1/10

As dit nie vir die een enkele ordentlike grap in die fliek was nie, sou dit 'n 0 gewees het. Ek is 'n redelike Schuster aanhanger, maar hierdie is sy swakste ooit. Dis baie jammer. Saam met Bella en Anrich op die bank.

Mr. Holmes - 7/10

Anders as die ander Sherlock reekse en flieks, is hierdie 'n baie stadige film oor die einde van sy lewe. Dit is uitstekend vervaardig met uitstaande vertolkings en 'n gepaste (droomverlore mooi) milieu. Hierdie is nie vermaak nie, eerder 'n diep drama wat maar die pyne van oudword baie realisties, maar tog sag, stel. Kyk gerus as jy 'n properse kunsfliek interpretasie van die bekende Mnr Holmes wil sien. Saam met Bella op die bank.


Agent X, Seisoen 1 - 4/10

Aag net wat, met nogals heelwat bekende gesigte in die bedryf faal hierdie oukie baie sleg met die openings episode. Dalk moet hulle by The Man from U.N.C.L.E gaan kers opsteek. Ek verstaan die reeks is reeds gekanselleer, maar salk dalk nog een episode kyk. As die reeks net so stylvol was as die reeks se omslag grafika... Het net nog 'n episode of wat kon uithou, die laaste een deur geblits met met die afstandbeheer. Saam met Bella op die bank.

The Ridiculous 6 - 4/10

Dis jammer, hierdie western-komedie tema het nogals heelwat potensiaal, maar ongelukkig het Adam sy hand oorspeel. Dit het heelwat snaakse tonele, toilet humor, sowel as onder die belt. Die fliek is dalk net 'n aks te lank ook. Saam met Bella op die bank.

Tuesday, December 15, 2015

The Wrong Mans, Seisoen 1 - 5/10

The Wrong Mans begin eintlik te stadig vir 'n 30 minute komedie...maar tel spoed op aan die einde van die loods episode. Sal dit nog 'n kans of wat gee. Dit kom op sterk aanbeveling van die Minnies. Saam met Bella op die bank.

The Man in the High Castle, Seisoen 1 - 8/10

Ek kan nie glo dat hierdie nie al lankal gemaak is nie, dalk het ek dit net gemis?! Hoe sou dinge gelyk het as Hitler wel die tweede wereld oorlog gewen het? Die boek is al laaaankal geskryf. Dit lyk baie belowend, alhoewel so ietwat aan die donker kant. Ek moet ook se^ dat die kwaliteit van die periode styl uitstaande is. Sal beslis verder kyk. Saam met Bella op die bank.

Pan - 6/10

Pan het 'n vars nuwe lyn aan een van die gewildste kinder fantasie verhale verleen. Dit neig nogals na eskapism, maar is beslis kykbaar en laat mens uitsien na die opvolg...veral om te weet wat dan nou fout gaan tussen Pan en Hook. Hierdie film het dit dan ook reggekry om beide en Anrich en Franko voor die kassie te hou. Kyk gerus as jy lus het vir heilsame aksie vermaak. En ek wens ek kon sulke indiaan tente kry! Saam met die familie op die bank.

Sunday, December 13, 2015

The Transporter Refueled - 5/10

Dis nou wel nie met Statham nie, maar as mens dit as 'n nuwe reeks beskou is hierdie baie kykbaar, vinnige karre, mooi meisies en mooi plekke. Lekker ligte skop-en-skiet aksie vermaak vir 'n Vrydag of Saterdagaand. Saam met Bella en Franko op die bank.



Saturday, December 12, 2015

5 to 7 - 5/10

5 to 7 is 'n rustige, redelik stadige tempo tjiekfliekie met 'n taamlik onverwagse einde. Ten minste gebruik hulle 'n regte Franse aktrise vir die vroulike hoofrol. Dit het 'n baie sterk Allen gevoel, maar eintlik net in die eerste helfte of so, veral wanneer die ouers op die toneel verskyn. Kyk gerus, maar moet nie aksie (!) verwag nie, eerder baie meer dialoog. Saam met Bella op die bank.


Fantastic Four 2015 - 5/10

Ek moet se^, vir 'n fliek wat verduidelik hoe die ouens hulle superkragte gekry het, is hierdie 'n baie goeie poging. Dit laat my sterk dink aan Eric Bana se eerste Hulk. Ek kan presies verstaan waarom dit op Hollywoodskaal nie suksesvol was nie, want daar is te min oordrewe en opgeblase tonele. Ek sal dit aanbeveel vir die strokiesprentslaaf wat iets meer as net skop-skiet-en-vlieg soek. Saam met die familie op die bank.   

Absolutely Anything - 6/10

Absolutely Anything is nogals 'n baie snaakse fliek, maar wees gewaarsku 'n toneel of wat onder die belt... Mnr Pegg bly maar 'n gunsteling vir komedie. Kyk hierdie gerus as jy bietjie lag nodig het. Mens kan dit dan ook as wetenskapfiksie komedie beskou. Herinner ook sterk aan Bruce Almighty. Die brak en ruimtewese-tonele is nogals goed gedoen... Biscuits!...veral omdat dit die stemwerk van Robin Williams en John Cleese gebruik. Dis ook baie jammer om te se^ dat Kate nie blyk om soos rooiwyn goed te verouder nie. Ai. Saam met Bella op die bank.

Blindspot, Seisoen 1 - 6/10

Blindspot lyk redelik, maar is seker dan amper soos John Doe, een van die heel eerste reekse wat ons begin kyk het. Ek is nie seker die lyn kan lang of veelvoudige reekse onderhou nie, maar 'n kort reeks kan dalk net heel kykbaar bly. Sal hierdie een nog 'n episode of wat kans gee.

Tuesday, December 1, 2015

Vacation - 4/10

Kyk, hierdie is beslis nie familie materiaal nie, oftewel, nie vir laerskool of vroeg hoe"rskool nie. Dit is erg onder die belt, met tipiese toilet humor. Maar, vrek, is daar 'n klompie tonele wat my laat snak het na my asem van die lag, soveel dat ek nie deur die lagtrane kon sien nie. As jy braaf en sterk voel. Saam met Bella op die bank.


The Hitman: Agent 47 - 6/10

Sjoe, Hitman is een aaneenlopende sekwens van aksie, toertjies, karre, ontmoontlike situasies en komkommerkoel karakters. Dit is het 'n sterk rekenaar speletjie gevoel, maar die fliek werk tog. Saam met Bella en Franko op die bank. Probeer dalk op 'n Vrydag of Saterdagaand. 


James Bond Spectre - 6/10

Aag, mens moet James Bond kyk, al bly die reseppie dieselfde vir die 24ste maal. Hierdie een het asemrowende milieu's, van Mexiko, tot Rome en Tunisie. Nie te sleg nie, heel kykbaar met 'n fokus op spanning en nie soseer fisiese toertjies nie. Die karre, meisies en plekke is die moeite werd. Saam met Bella en Franko by Zambezi Mall, Capitol Cinemas


Magic Mike XXL - 0/10

Dit is min dat ek en Bella 'n fliek stop na die eerste 10 minute, en dan 'n paar weke later weer probeer verder kyk en dan weer na 10 minute stop. Kan ek meer se^.


Sunday, November 29, 2015

The Little Prince - 10/10

The Little Prince is een van daardie rare juwele, daar is nie baie sulke films nie. Hierdie is uitstaande animasie kuns, van tema, verhaal en grafika tot karaketers, stemwerk en vertolkings en musiek. Dit sal aanklank vind tot 'n wye ouderdomsgroep, maar wees gewaarsku, baie diep temas oor die samelewing, betekenis en die lewe. Die animasie sal kleiner kinders vermaak, maar ek vermoed daar is 'n middelmark wat die animasie nie gaan geniet nie, en nog nie die lewenslesse en filosofie gaan waardeer nie. Wat egter opvol is die tempo, sagte vertolkings en gemoedsvolle grafika. Eintlik is dit nie grafika nie, maar kuns, veral die verbeeldingsvlugte met die nimlike jakkalsie. Kyk gerus, baie sterk aanbeveel. O, en luister die musiek aan die einde van die film, tydens krediete, baie gepas. Saam met Bella en Anrich op die bank.  

Monday, November 23, 2015

Ant-Man - 6/10

Ant-Man is lekker lig, met minder donker ondertone as meeste van die ander superheld films. Dit is nogals snaaks, veral die toneel met Thomas... Inteendeel, die hele toneel in die kinderkamer is vreksnaaks. Hierdie fliek het die hele familie op die bank vasgenael gehou vir 'n slag. 

Saturday, November 21, 2015

Trainwreck - 4/10

Trainwreck is 'n langerige, uitgerekte pynlike anti-tjiekfliek. Te veel vuilpraat en vloek, 'n baie slegte meisie, maar redelike snaaks tonele hier en daar, Dalk is ek net nie 'n Amy Schumer fen nie. Beslis op eie risiko, en moet nie Sondagskool materiaal verwag nie. Saam met Bella op die bank.

Thursday, November 19, 2015

The Man from U.N.C.L.E. - 9/10

Kyk, daar is nie 'n koeler spioen as agent Solo nie. Selfs nie 007 kom by sy styl uit nie. Hierdie film drup van styl, kostuumwerk, stel, karre (sug), dames, milieu, en wat nog. Die film gebruik 'n erg geykte tema, maar teen 'n vinnige pas sonder enige deel wat oormatig uitegrek word. Selfs die jaagtog deur Oos-Berlyn is stylvol. Hierdie is een van die bestes in die genre, beslis 'n absolute gunsteling. Redelik onbekende akteurs, behalwe natuurlik vir ou Hugh, maar steeds gepaste vertolkings. Saam met Bella op die bank.

Supergirl, Seisoen 1 - 5/10

Supergirl het so bietjie 'n flouerige begin gehad, maar lyk of dit dalk kan verbeter. Sal dit nog 'n episode of wat gee. Het so paar episodes gekyk tot mid seisoen breek. Het hier maar opgehou, dit raak nie beter nie... Saam met Bella op die bank.


Tuesday, November 17, 2015

French Toast - 6/10

Baie ligte Afrikaanse tjiekfliekie, maar met 'n lekker stukkie regte Parys daarin (nog voor die slegte aanvalle geskiet en gekyk). Heel kykbaar, beslis beter as van die ander ligte fliekies. Saam met Bella op die bank.

Animal Planet - Mutant Planet, Seisoen 1 - 6/10

Ons planeet bly tog 'n wonder met die mees interessante gediertetjies en goggas wat mens moontlik kan verbeel. Hierdie is nou wel nie 'n Sir Attenborough dokumenter nie, maar steeds goed vervaardig en kykbaar. Saam met Anrich op die bank.

Terminator Genisys - 6/10

Daar is net een ding beter as liewe ou Arnie as Terminator, en dit is liewe ou Arnie as Terminator met 'n poging tot humor! Lekker kykaksie saam met die manne, het dit baie geniet. Hierdie is dalk die beste uitgawe in die reeks tot dusver. Saam met die familie op die bank.



Standby - 5/10

Standby is 'n baie ligte, Europese tjiekfliekie. Dit is heel aangenaam om te kyk, moet net nie te veel verwag nie, en ook nie oordadige Hollywoodstyl nie. Saam met Bella op die bank.

The Last Kingdom, Seisoen 1 - 7/10

The Last Kingdom val nou wel nie in die kategorie van Vikings nie, maar is steeds 'n goeie reeks om te kyk. Dit wys die Dene in 'n minder koherente en effektiewe oorlog masjien, dalk so ietwat meer menslik. Kyk gerus, hierdie geskiedenis is tog fasinerend. Saam met Bella op die bank.

Sunday, October 11, 2015

Tomorrowland - 6/10

Tomorrowland is 'n ligte wetenskapfiksie fliekie vir die hele familie. Die toekomsvisie materiaal is aangenaam en verfrissend anders. Moet nie te veel aksie of diepte verwag nie, eerder heilsame vermaak. Dit is mos 'n Disney fliekie. Brad Bird se kreatiewe hand is duidelik sigbaar, wie kan dan nou die nimlike Edna Mode se uiters skerp kommentaar ooit vergeet. Saam met die familie op die bank.


Sunday, September 27, 2015

I'll See You in My Dreams - 5/10

Moet nie te veel van I'll See You in My Dreams verwag nie, dit is 'n baie rustige tempo filmpie, met onderspeelde, maar tog gepaste, vertolkings, wat oudword in 'n ietwat ander lig stel. Dit laat dit nie so erg lyk nie... Kyk gerus as jy baie rustig voel en nie lus het vir aksie nie. Saam met Bella op die bank.

San Andreas - 6/10

Kyk, San Andreas is hiper onrealisties in verskeie opsigte. Dit verskaf egter heelwat pret as 'n gesinsfliek, en is een van die min flieks wat daarin slaag om ons hele familie op die bank te hou... 

Friday, September 25, 2015

Seun - 7/10

Seun is puik vervaardig en wys dat die Suid Afrikaanse (Afrikaanse) film industrie kwaliteit kan lewer. Wees dubbel gewaarsku, baie swaar tema, met vreeslik baie wroeg en wroeg en wroeg. Uitstekende voorbeeld wanneer kuns prioriteit bo vermaak geniet. Moet ook nie verwag dat dit enigsins die bosoorlog tema aanspreek nie, nee, eerder emosies by die huis. O, en beslis nie Vrydagaand vermaak nie. Saam met Bella op die bank.  

Hollywood in my Huis - 6/10

Hollywood in my Huis is redelik vir die genre, maar dalk eerder 'n tjiekfliek as familie vermaak. Anrich het dit nie lank gemaak nie. Baie ligte vermaak. Saam met Bella op die bank.

Thursday, September 24, 2015

Listen Up Philip - 1/10

Ek het die eerste 10 minute van Listen Up Philip hard probeer om nie te slaap nie, die volgende 10 minute heerlik gesluimer, en toe besluit hierdie is regtig net tydmors. Dit is 'n swak Hollywood kunsfliek poging, met 'n nog swakker keuse vir derdepersoons stemkunstenaar, selfs as dit as parodie bedoel was. Werklik op eie risiko, saam met Bella op die bank.


Monday, September 21, 2015

Beautiful Creatures - 4/10

Beautiful Creatures is maar 'n flou poging, ten spyte van die redelike rolverdeling en vertolkings. Wat dit in die steek laat is die swak lyn en na-aap van die Twilight trilogie (nie dat ek hulle gekyk het nie). Vermy dalk eerder, veral omdat dit lyk of die opvolg films nie die rol gaan haal nie.

Sunday, September 20, 2015

Entourage - 5/10

Ek is seker dit gaan erger in lala-land as wat Entourage uitbeeld. Die fliek is redelik, met 'n komiese element. Wees gewaarsku, taalgebruik en ander. Daar is heelwat kameerolle en baie skerp film verwysings. Mal oor die karre, veral die een op die film se plakaat. Saam met Bella op die bank. 


Page Eight - 6/10

Ek en Bella het hierdie trilogie heeltemal in die verkeerde volgorde gesien, eers Turks and Caicos (2), toe Salting the Battlefield (3), en toe Page Eight (1). Ai. Dit sou dalk beter gekyk het in die korrekte volgorde. Desnieteenstaande heel verteerbare Briste spioenasie drama met redelike rolverdeling. Ek het die meeste van die tweede een gehou, wat dan ook die meer komplekse lyn het. Saam met Bella op die bank. 


Salting the Battlefield - 6/10

Laaste van 'n trilogie Briste spioenasie dramas. Het dit ongelukkig in die verkeerde volgorde gesien. Nie te sleg nie, wel beter as wat 'n Amerikaanse eweknie sou wees. Saam met Bella op die bank.

HairBrained - 5/10

HairBrained is 'n Hollywood poging tot nie-hoofstroom kunsflieks. Dit slaag gedeeltelik, want van die vertolkings is te bewus "anders". Dit bevat darem redelike komiese elemente, so die fliek is tog kykbaar. Dit het seker ook 'n lewenslessie of twee. Saam met Bella op die bank.


Mad Max: Fury Road - 4/10

Kyk, visueel gewys is Mad Max: Fury Road uitstekend. Dit stel egter teleur in terme van lyn en effek. Hierdie film lyk dan ook soos een of ander verbeeldingsvlug met 'n mengsel van elemente wat nie heeltemal pas nie. Dit is beslis in 'n ander trant as die oorspronklike Mad Max reeks. Ek weet nie, van die elemente is selfs lagwekkend, veral die kitaarman... Op die vliegtuig terug van Munich na Johannesburg.


Thursday, September 17, 2015

Sin City: A Dame to Kill For - 8/10

Genre gewys is Sin City: A Dame to Kill For sekerlik een van die bestes. Die elemente werk net alles saam, die donker, monochrome beelde, aweregse humor, amper donker, sensuele silhoeëtte, Ek hou dan ook meer van hierdie een as die vorige Sin City. Die vertel tegniek skakel van karakter na karakter wat die film meer dimensies gee. Puik vertolkings en rolverdeling. Het dit op die vliegtuig terug van Munich na Johannesburg gekyk. 

The Knick, Seisoen 1 - 7/10

Die aantal kwaliteit periode drama reekse raak net te veel om te kyk. Hierdie een, waarvan ek nog net episode 1 gekyk het, lyk baie belowend. Sal beslis verder kyk, weet net nie wanneer nie... Alleen eers in Greding, tydens 'n werk trippie

Tuesday, September 15, 2015

The World According to Garp - 6/10

Mens moet nogal sterk voel oor sosiale kommentaar, want hierdie film val vreemd op die oog vanuit 'n vermaak perspektief. Ek sou nie dit as vermaak klassifiseer nie. Wat wel al meer vir my tragies raak is dat ons al minder van Robin se materiaal gaan sien. Ons kyk juis stadig en snoep aan The Crazy Ones. Die film is dan ook nogals tragies, met hier en daar komiese elemente. Kyk gerus, maar nie ligte materiaal nie. Saam met Bella op die bank.


Madame Bovary - 6/10

Wel, weereens 'n puik periode drama, maar ongelukkig werk die vroulike hoofrol vertolking nie. Die res van die vertolkings is gepas en goed. Nogals 'n treurige verhaaltjjie, regte tjiekfliekland. Saam met Bella op die bank.


Masters of Sex, Seisoen 1 - 7/10

Master's of Sex klink so bietjie erger as wat dit is, maar het tog so kinkel of twee wat seker sou kon aanstoot gee vir 'n sekere gehoor. Ek hou baie van periode dramas, en hierdie een is getrou aan die era. Die openingstoneeltjie van elke episode is nogals interessant... Kyk gerus as jy meer oopkop voel oor reekse. Die vertolkings is baie goed en uitbeeldings alles gepas. Saam met Bella op die bank.


Pitch Perfect - 5/10

Pitch Perfect is goed, maar ek het meer van die tweede een gehou. Soos die Step Up flieks kan ek moeilik verklaar waarom ek van hierdie hou, dit werk net vir my lekker. Lig, ontspanne, humor, en stemkunsies. Saam met Bella en Anrich voor die TV terwyl ons lekker Lego bou.



Monday, August 24, 2015

Pitch Perfect 2 - 6/10

Ek het heeltemal iets anders verwag. Pitch Perfect 2 is nogals die moeite werd, met baie indrukwekkende acapelle stukke, veral die Duitse Das Sound Machine (die motor advertensie snit is uber koel). Ek sal nou graag Nommer 1 wil sien. Het dit gekyk terwyl ek saam met Anrich Lego op die vloer gespeel het. Bella het ook weer saam gekyk.

Minority Report, Seisoen 1 - 5/10

Hierdie as TV reeks het sekerlik potensiaal, veral met die nuwer tegnologie wat hulle kan vertoon. Sal dit nog 'n episode of wat kans gee, die debuut episode was redelik. Saam met Bella op die bank.