Wednesday, December 30, 2009

I Want Someone to Eat Cheese With - 2/10


Aag flip, nee, nog 'n moewie met 'n indrukwekkende titel wat regtig maar baie flou is. Gelukkig is dit darem nie 'n disfunksionele spul soos in Running with Scissors nie. Dit het seker een grappie in wat snaaks genoeg is om te glimlag, maar dis dan ook dit. Dis net 'n eentonige, flou, een-direksionele dialoog van lee observasies en nikseggende kommentaar. Nee wat, vermy eerder. Saam met Bella en Hester op die Bank. Jammer, Hes, jy wou 'n laaste moewie kyk voor jy terug London toe is, en toe is hierdie een so flou.

Tuesday, December 29, 2009

Genova - 4/10



Wel, selfs ou Colin kan nie hierdie fliek lig tot wat dit bedoel was om te wees nie. Alhoewel die karakters almal voortreflik vertolk word, voel die film uiteindelik leeg en kaal. Daar is 'n stadige spanningslyn, amper onvoelbaar, wat tot niks uitloop nie. Die film probeer ook nie die verwagting skep van 'n skerp lyn nie, maar dit was tog die gevoel wat die voorprent voorgehou het. Saam met Bella op die (see)bank.

Monday, December 28, 2009

The Ramen Girl - 5/10


Redelik gemiddelde tjiekfliek met 'n ietwat stadige lyn en minder aksie. Dit hoort dan seker ook so om die Japanese kultuur te beklemtoon. Dit is darem kykbaar, maar hier en daar kan mens dalk wel bietjie verveeld raak. Saam met Bella op die (see)bank.

Sunday, December 27, 2009

The Boat that Rocked - 7/10


Britse komedie op sy stukke. Lekker storie, snaakse dialoog, uitstekende vertolkings, mooi meisies, perfekte milieu en op Mamma Mia! na, een van die beste klankbane wat daar is. Hoogs aan te beveel as jy so optellertjie nodig het. Dit sal vir enige aand werk. Saam met Bella op die (see)bank.

Saturday, December 26, 2009

Funny People (2009) - 5/10


Hierdie is nie dieselfde as Jamie Uys se Funny People (1977) nie. Dit het 'n paar baie snaakse stukke, maar vrek baie vloek, egter soos verwag van stand-up komedie. Dit is nie Sandler se beste fliek nie. Click is waarskynlik die beste een so ver. Die fliek is heeltemal te lank, en meng twee stories wat nie regtig werk nie. Saam met Bella op die (see)bank.

Shorts - 7/10


Baie verfrissende kinderfliek wat ook sommer 'n gesonde dosis sosiale kommentaar lewer tesame met 'n lewenslessie of twee. Kort en interessant genoeg vir die hele familie saam. Het nogals 'n interessante tydlyn benadering, en daar is heelwat snaakse stukke. Saam met die familie op die (see)bank.

Friday, December 25, 2009

State of Play - 5/10


Gemiddelde fliek in die sameswerings genre met 'n ietwat ongeloofwaardige finale. Beide Affleck en Crowe speel nie te sleg nie, maar ten spyte daarvan verveel die fliek tog 'n bietjie. Kyk gerus as daar nie iets anders op die rak is nie en jy nie veel aksie verwag nie. Saam met Bella op die (see)bank.

Wednesday, December 23, 2009

Enemy at the Gates - 7/10


Enemy at the Gates is al baie lank op my lysie van flieks wat ek nog graag wou sien. Saam met moewies soos Memento en Down Periscope. Ou Jude is een van my gunsteling akteurs, en alhoewel hy dalk bietjie saggies voorkom vir 'n oorlog fliek, werk hy tog in hierdie een. 'n hardebaard akteur sou dalk beter gewerk het. Die fliek het egter 'n goeie spanningslyn. Die sleg van oorlog en mense wat oorlog maak is maar 'n fokuspunt, maar trek nie die aandag van die hooflyn af nie. Kyk gerus, maar wees maar reg vir oorlog. Saam met Bella op die (see)bank.

Tuesday, December 22, 2009

Running with Scissors - 3/10


Nee wat, dit is een van daai destruktiewe disfunksionele familie dramas oor mense met allerhande vreemde fieme. Vermy dalk eerder tensy jy wil sien hoeveel probleme ander mense het. Ek het al soortgelryke flieks gesien maar hierdie een werk net nie. Dis nogals jammer, want die titel klink vrek fensie. Saam met Bella op die (see)bank.

Monday, December 21, 2009

Book of Love - 5/10


Book of Love is nie 'n te slegte drama nie, maar soos Bella reken, is dit minimalisties. Tog kykbaar en sonder veel aksie. Dit sal werk as 'n Sondagaand opsie. Mens gaan nou nie juis aan die storielyn herkou of dit veel onthou nie - dit skep nie noemenswaardige indrukke nie. Saam met Bella op die (see)bank by Winkelspruit.

Thursday, December 17, 2009

The Secret Lives of Second Wives - 3/10



The Secret Lives of Second Wives is 'n fliekie wat net op televisie vrygestel is. Dit is darem net-net kykbaar maar tog heelwat dooierig. Dit lyk amper soos een van hierdie nuwe feel-good flieks, met die verskil dat daar nie geloof begetrek word nie. Dit probeer wel een of ander morele les uitbeeld. Moet nie dit van die DVD rak afhaal nie - vat liewers iets anders. Saam met Bella op die bank.

Tuesday, December 15, 2009

I Hate Valentine's Day - 4/10



I Hate Valentine's Day is dan seker 'n tjiekfliek. Dit probeer volg op die onverwagte, weghol sukses van My Big Fat Greek Wedding, maar hou beslis nie by nie. Nie te sleg om te kyk nie, maar dit is maar stadig en die storie baie eenvoudig. Nee wat, hou maar eerder verby vir iets met meer oempa, komedie of iets dergliks. Saam met Bella op die bank.

Monday, December 14, 2009

The Burning Plain - 6/10


Nog 'n Charlizie fliekie, maar darem nie so erg soos Monster nie. The Burning Plain is nie 'n tjiekfliek nie, maar is darem 'n liefdesverhaal. Dis ook meer 'n drama, maar tog kykbaar. Moet egter nie 'n hoe" energie fliek verwag nie. Dit is eerder stadig en maak van 'n baie kort einde gebruik, wat dalk nie so geslaagd is nie. Die fliek is seker darem beter as gemiddeld. Moet dit nie as Vrydagaand vermaak beskou nie - eerder 'n Sondagaand opsie. Saam met Bella op rekenaar.  

Sunday, December 6, 2009

Bao hu lu de mi mi (The Secret of the Magic Gourd) - 5/10


The Secret of the Magic Gourd lyk my is eintlik 'n Singapoerse kinderfliek met die titel 'Bao hu lu de mi mi'. Ek het nou wel nie kans gekry om die hele fliekie deur te kyk nie, maar dit lyk darem goed vir die kortvolk. Die visuele kwaliteit van die fliek is nogals elegant-skoon en die bamboeswoud is pragtig in sy eenvoud. Saam met Bella op die bank, nadat die kortvolk dit gekyk het.

District 9 - 8/10



Ek het met groot afwagting hierdie een saam met Bella by die DVD winkel geboek. District 9 speel in SA af, en maak van al die geskiedenis gebruik vir 'n bepaalde effek. Aag vrek, daar kom dit toe nie vanaand in soos beplan nie, nou is dit vir more aand geboek.

Die fliek is vir my te eerlik as wetenskapfiksie vermaak. Die direkte verband met pre-94 SA is ook net te sterk. Dit is wel 'n teksboek geval van hoe mens vernuwing doen in 'n redelik uitgetrapte genre. Tegnies is dit puik, alhoewel dobberende kamera skote glad nie met my vestibuler saam werk nie. Gelukkig word dit al minder teen die einde soos wat die storie van dokumentere styl wissel na gewone teatrale styl. Wikus se vrou kon beter speel, maar Wikus is eerlik in sy vertolking. Vir 'n slag is die SA Engels korrek in 'n internasionale film. Mens moet ook verkieslik nie eers springmielies eet as jy hierdie een kyk nie, al probeer hulle so bietjie pulp fiksie naboots. Saam met Bella op die bank, wat na so paar minute die aftog geblaas het.



Friday, December 4, 2009

Four Christmases (Anywhere but Home) - 5/10



Four Christmases, ook bekend as Anywhere but Home, is 'n Kersfliekie, soortgelyk aan The Holiday en Love Actually. Dit val egter nie heeltemal in dieselfde genre as laasgenoemde twee nie. Dit is nie die beste fliek van die jaar nie, en is maar vol van die gewone cliches. Wat dit so effens van die res onderskei is die goeie humor tydberekenings. Die grappe ken mens al, maar vrek, daar is 'n paar goeie interpretasies wat my lekker laat lag het. Dit is perfek as Vrydagaand "ont-werk" middel. Ek was redelik baie moeg teen die tyd dat ons begin kyk het, maar het nie aan die slaap geraak nie - dit was te snaaks. Saam met Bella op die bank.