Monday, August 24, 2015

Pitch Perfect 2 - 6/10

Ek het heeltemal iets anders verwag. Pitch Perfect 2 is nogals die moeite werd, met baie indrukwekkende acapelle stukke, veral die Duitse Das Sound Machine (die motor advertensie snit is uber koel). Ek sal nou graag Nommer 1 wil sien. Het dit gekyk terwyl ek saam met Anrich Lego op die vloer gespeel het. Bella het ook weer saam gekyk.

Minority Report, Seisoen 1 - 5/10

Hierdie as TV reeks het sekerlik potensiaal, veral met die nuwer tegnologie wat hulle kan vertoon. Sal dit nog 'n episode of wat kans gee, die debuut episode was redelik. Saam met Bella op die bank.


She's Funny That Way - 4/10

She's Funny That Way is een van daai flieks met 'n indrukwekkende rolverdeling, maar nie die nodige styl, plot of dialoog om dit te red nie. Hierdie is dan 'n flouerige poging tot 'n namaaksel van 'n tipiese Woody Allen komedie, nogals boonop in New York self. Selfs die ou groot appel speel nie 'n bydraende rol nie. Daar is nogals snaakse tonele, en Owen slaag tot 'n mate om sy rol te laat werk, maar die res laat hom in die steek. Kyk gerus, dit is nie so power nie. Saam met Bella op die bank.

Saturday, August 22, 2015

What If - 6/10

What If voel anders as meeste fliekies in hierdie genre, daarom 'n beter as gemiddeld. Dit is Kanadees, lig, en het 'n paar baie snaakse tonele. Ek vermoed hierdie is 'n meer tjiekfliek een as wat die deursnit manlike fliekganger sal kan hanteer. Saam met Bella op die bank.

Wednesday, August 19, 2015

Proof, Seisoen 1 - 6/10

Proof lyk glad nie sleg nie, dit het 'n rustige pas en 'n rtedelike styvolle gevoel. Sal ten minste nog 2 episodes kyk, maar aan die ander kant is daar net 10 in die reeks, Saam met Bella op die bank.

Monday, August 17, 2015

The Age of Adaline - 8/10

Bittersoet tjiekfliekie, maar dan ook 'n ligte wetenskapfiksie tjiekfliekie. Soos Bella ook reken, 'n kwaliteit voorbeeld vir 'n slag. Age of Adeline het 'n klassieke gevoel in 'n hedendagse milieu. Dit neig na die Veertigers, my gunsteling era, maar speel nie regtig in daardie tyd af nie. Dit het ook 'n onderspeelde gevoel, wat versterk word deur die derdepersoonsverteller. Kyk gerus op 'n rustiger aand, moet nie tempo of aksie verwag nie, en dan het dit boonop 'n stroopsoet einde. Nogals 'n verassende rolverdeling vir ou Harrison Ford. Saam met Bella op die bank.

  


Mission: Impossible - Rogue Nation - 8/10

Dit is min dat 'n opvolg fliek so goed kan wees, maar hierdie uitgawe van Mission Impossible is werklik sappige vermaak. Dit kyk lekker, met die perfekte balans tussen die verwagte elemente van so film. Saam met Franko by die nuwe-ou Zambezi Mall teaters, terwyl Bella en Anrich Suzi se fliek gekyk het. 

While We're Young - 4/10

Ek het iets anders verwag, maar While We're Young was nie so sleg nie. Dit maak nogals redelike raak sosiale kommentaar, maar daar is heelwat komiese situasies wat nog snaakser kon wees om die harde werklikheid van sosiale verhoudings te versag. Meeste sosiale floppe is maar 'n gevolg van gretigheid, in verskeie soorte opsigte. Alhoewel ek dit as tjiekfliek klassifiseer is dit dalk nie 100% een nie. Redelike vertolkings, maar die jong paartjie kon beter gekies gewees het. Die fliek is nie bevonk genoeg nie. Saam met Bella op die bank.



Age of Ice - 2/10

So paar komiese tonele, maar wat ernstig bedoel was, red hierdie fliek van 'n gewisse 0 of 1. Ek is nou redelik op vir sulke swak ou fliekies in ons arsenaal, so kort na hierdie een het ek Bella 'n reinigings stap geneem... Hopelik is die die laaste regtige flou fliek. Saam met Bella en Anrich op die bank.

Thursday, August 13, 2015

The Hunger Games: Mockingjay - Part 1 - 5/10

Hulle het nogals die tema van die fliek met The Hunger Games: Mockingjay - Part 1, heelwat verander. Dit is nie meer Hunger Games nie. Die fliek kyk heel goed, en het, soos verwag, 'n baie stomp einde. Kyk self en besluit,

Hot Pursuit - 5/10

Hot Pursuit is regtig baie lig, met 'n paar baie snaakse tonele. Mens sou dit as 'n tjiek-aksie-fliek kon klassifiseer. Redelike breinlose vermaak vir 'n pap Vrydagaand. Saam met Bella op die bank.


Pixels - 8/10

Miskien gee ek Pixels so hoe" punt omdat dit al die regte Tagtiger snare pluk, maar dit bly 'n baie kreatiewe mengsel van animasie en gewone film. Ek het al daardie games by die kafee om die hoek gespeel, Asteroids, en die res. Ek het glad nie geweet wat om te verwag met die fliek nie, het niks vooraf gesien of gelees nie. Wat 'n verassing. Saam met Bella, Anrich, Franko en Dianie by The Grove Mall.

Monday, August 3, 2015

Suite Française - 9/10

Suite Française is vir 'n slag 'n ordentlike tjiekfliek. Dit is sensitief, sag soos wat 'n Tweede Wereldoordlog milieu kan wees, puik vertolkings en perfekte pas. Die wreedheid van oorlog word sagter uitgebeeld, maar dan met 'n skerp herinnering aan die wisselvalligheid van optrede. Die groot liefde is dan ook oor 'n ontmoontlike brug, wat nie steur aan gemeenskap of mag nie, en wat dan ook optredes sonder skynbare rede laat vloei. Die film het 'n einde, nou ja, Frans & kuns gemeng behoort jou 'n idee te gee. Dan besef mens dit alles is gebaseer op 'n ware verhaal, wat dis soveel meer merkwaardig maak. En nog meer tragies as wat mens kan dink. Ai. Die liefde oorwin. Alles. Ek dink hierdie film in 'n ordentlike teater met 'n gepaste ete daarna sal 'n besliste wenner wees. Saam met Bella op die bank.

Saturday, August 1, 2015

Alles Wat Mal Is - 6/10

Alles wat Mal Is is 'n redelike fliekie met die nodige humor en oormatige aanslag op die gewone mens se daaglikse roetine. Eindig heel gepas. Kyk gerus, dis nie so sleg vir 'n Afrikaanse film nie. Saam met Bella op die bank.