Thursday, July 30, 2015

Far from the Madding Crowd 2015 - 8/10

Far from the Madding Crowd is 'n stadige, behoorlike tjiekfliek met regte 'n tjiek spanningslyn. Die aangewese verlorene is so onbeholpe in sy emosionele reaksie, dit dryf die meeste tjieks teen die dak uit. En dan, die einde wat almal van hulle nie voor kon wag nie. Kyk gerus, die milieu is om van te droom, die era verlore, die helde en here pynlik manierlik. Saam met Bella op die bank.

Die Spook van Uniondale - 7/10

Sjoe, die Karoo is mooi as hy groen is. Die filmpie het nogals 'n verassende slot. Ek dink dit eindig dan ook heelwat anders as wat die meeste wat die staaltjie ken, verwag het. Kyk gerus, dit is heel goed vervaardig met redelike vertolkings. Saam met Bella en Anrich op die bank.


Insurgent - 6/10

Ek het meer van Detergent, aag ek bedoel, Divergent gehou. Hierdie een is so ietwat futloos hier-en-daar. Nog steeds beter om te kyk as van die ander goed op die rak. Saam met Bella op die bank, die manne het nie juis belang gestel nie. 


Sunday, July 19, 2015

The Messengers, Seisoen 1 - 5/10

The Messengers herinner sterk aan destydse Touched by an Angel, maar is beslis nie dieselfde tipe reeks nie, oftewel, nie na aanleiding van die eerste episode nie. Sal dit nog so kans of wat gee, al herinner dit ook aan Under The Dome, wat na die tweede seisoen in 'n flou sepie ontaard het... Op SA204 begin kyk. 

Ek het net die eerste 90% gesien, na die laaste 10% besluit om hierdie maar eerder te los.

Killjoys, Seisoen 1 - 3/10

Hmm, nee ek dink nie so nie, Killjoys lyk net te gewoon. Die eerste episode skep nie die nodige spanning om verder te kyk nie. Op SA204 begin kyk.

Cinderella 2015 - 7/10

Hierdie nuwe weergawe van Cinderella is baie gepas vervaardig en voel amper soos outydse animasie. Die film is baie kykbaar, ek het dit nogals geniet, selfs op die simpel klein skermpie op die vliegtuig. Goeie vertolkings, regdeur, behalwe die twee simpel stief susters, nogals irritered... Tussen JFK en ORT op SA204.

Avengers: Age of Ultron - 7/10

Lekker, in Avengers: Age of Ultron is dit Avengers teen Reddington! Wat 'n aangename verassing, met aanhalings presies soos my gunsteling superspioen. Ongelukkig kon ek nie klaar kyk nie, maar ek vermoed dit is in elk geval op die punt waar die lyn uitrafel in een lang finale geveg tussen robotjies en superhelde. Op SA203 oppad van Johannesburg na Boston. Het dit saam met die familie op die bank klaar gekyk 18 Sep 2015. 


Chappie - 7/10

Chappie het nogals swakkerige resensensies ontlok, swak terugvoer vanuit verskeie oorde. Maar ek het dit meer geniet as District 9. Dit voel minder grim, veral met Die Antwoord se Yolandi se oenskynlike naiewe aanslag. Mens kry amper die boewe eerder jammer as enige iemand anders. Maar vrek, hulle beeld Transvalers as double-keb, geweer-mal, khaki-twee-kleur buffels uit... Op SA203 van ORT na JFK. 

The Astronaut Wives Club, Minireeks - 7/10

The Astronaut Wives Club is nog 'n periode drama in van die interessanter Amerikaanse geskiedenis. Alhoewel minder tegnies as Manhattan is dit steeds baie kykbaar, selfs vir 'n ingenieur. Saam met Bella op die bank.


Jonathan Strange & Mr Norrell, Seisoen 1 - 7/10

Ek het nou maar net 'n swak vir periode stukke, dus is Jonathan Strange & Mr Norrell 'n sappige reeksie, aangesien dit boonop oor die kulkunste handel. Dit is 'n minder donker reeks as Penny Dreadful, met so subtiele tong-in-die-kies gevoel. Sal beslis verder kyk as dit aanhou soos episode 1 weggespring het. Het dit op 'n vlug tussen JFK en ORT begin kyk, SA204.

Aag nee wat, het na episode 3 opgegee, het te donker geraak. Nog 'n Penny. 


Sunday, July 12, 2015

Inside Out 3D - 8/10

Inside Out 3D is uitstekend, veral as mens 'n boek soos Your Brain at Work gelees het. Ek dink van die komplekse brein funksies soos abstrakte denke gaan ietwat verlore op die jongspan, maar dan is daar genoeg animasie pret vir hulle ook. Hierdie fliekie is 'n moet kyk vir alle ouderdomme, 6 tot 106.
Saam met Anrich by Kolonnade in 3D.


Woman in Gold - 6/10

Woman in Gold is gebaseer op ware gebeure, dus is dit nie vreemd dat dit bietjie stadig beweeg nie. Mens verwag so half die uitkoms, anders sou hulle nie die moeite van 'n fliek maak aangegaan het nie. Nog steeds iets wat mens kan kyk, moet net nie te veel aksie en spanning verwag nie. Goeie vertolkings. Saam met Bella op die bank.

Humans, Seisoen 1 - 7/10

Humans laat mens nogals 'n kriewel in die rug kry. Die drempel van gemak met outomate, daardie amper-menslike optrede, dit alles laat mens lont ruik. Ons is nou eers by episode 2, so nog nie seker waarnatoe die lyn opbou nie, maar opbou is dit besig... Saam met Bella op die bank.


The Second Best Exotic Marigold Hotel - 7/10

The Second Best Exotic Marigold Hotel is 'n baie goeie opvolg vir die eerste, maar kort die nuwigheid daarvan ook. Mens geniet steeds die karakters, met goedvoel storie materiaal. Saam met Bella op die bank.

American Sniper - 7/10

American Sniper is baie goed gemaak, beslis nie vermaak nie, met 'n toneel of wat, wat taamlik ontstellend is. Nie aan te beveel as jy nie van oorlog flieks hou nie, baie skiet en realistiese tonele. Saam met Franko op die bank, Bella wou nie kyk nie.


The Crazy Ones, Seisoen 1 - 6/0

The Crazy Ones lyk taamlik belowend vir kort komiese onderbreking, maar dit is jammer dat die reeks sonder Mr Williams sal moet aangaan. Tipiese platform vir sy talent. Saam met Bella op die bank.


Plastic - 6/10

Plastic is ietwat amateuragtig, maar met 'n beter tweede helfte. Die rolverdeling kon ook beter gewees het. Tipies van Britse films in hierdie genre is maar baie vloek. Ai, dit oorheers te veel en is duidelik van 'n ernstige gebrek aan kreatiwiteit. Wat nog onrus veroorsaak is die gemak waarmee kredietkaarte gebuik kan word, en dat dit op werklike gebeure gebaseer is... Saam met Bella op die bank. 


Danny Collins - 5/10

Danny Collins is 'n tipiese Hollywood kunsfliek poging. Dit poog diepte maar met Hollywood sentiment en vertolkings van akteurs wat dit maar net nie kan regkry om buite hulle cliche karakters te kan beweeg nie. Redelik gemiddelde uitkomste. Daar is egter een ligpunt vir hierdie fliekie, en dit is die term "Busywork". Sal dit altyd met 'n glimlag gebruik in gewone omstandighede... Saam met Bella op die bank.

Mr. Robot, Seisoen 1 - 6/10

Mr. Robot is waarskynklik die beste kuberkraker reeks in omloop, maar beslis nie sonder gebreke as vermaak of waarskuwing nie. Dit is uiteindelik 'n bietjie donker as reeks. Sal nog besluit of ons hierdie verder gaan volg. Het tot by episode 3 gekom en besluit om maar eerder op te gee. Saam met Bella op die bank.

The Movember Man - 6/10

The November Man is nie te slegte spioenasie aksie nie, maar dan ook nie noodwendig anders of uniek nie. Dit het 'n redelike spanningslyn en geloofwaardige gebeure omdat dit aan aktuele sake gekoppel is. Saam met Bella op die bank.


Thursday, July 9, 2015

Paul Blart: Mall Cop 2 - 6/10

Paul Blart: Mall Cop 2 is redelik gemiddelde komedie, maar met 'n nogals snaakse tweede helfte. Daar is 'n Superman duik wat enige brawe man sal laat huil. Saam met Anrich en Bella op die bank, Franko is weg op die Sabie landloop kamp.

San Andreas Quake - 4/10

San Andreas Quake is 'n lae-koste fliekie, maar tog kykbaar op 'n manier. Die seekoei toneel is nogals snaaks agv die lae-koste grafika en interpretasie... Besluit maar, maar ek stel eerder iets anders voor. Saam met Anrich en Bella op die bank.

Wednesday, July 8, 2015

Fifty Shades of Grey - 5/10

Fifty Shades of Grey is redelik goed vervaardig, maar die twee hoofrol vertolkings pas nie lekker by mekaar nie. Die vroulike hoofrol werk, maar nie die manlike een nie. Die karakter is net te lig en sagmoedig - nie iemand wat op so jong ouderdom soveel bereik het in terme van rykdom nie. Die film kom ook glad nie as eroties oor nie (woordspeling?) Dit het wel 'n gevoel van luuks en stylvol, wat dit dan red van 'n ondergemiddelde poging. Dit is seker skokkend vir tannie Sarie van Poggenpoelville, maar is nie so erg nie, mens kan dit darem kyk. Saam met Bella op die bank.

Monday, July 6, 2015

Enlightened, Seisoen 1, Episode 1 - 4/10

Het die eerste episode van Enlightened gekyk, maar kon nie aan beweeg na die res nie. Voel net nie na vermaak nie. Saam met Bella op die bank.

Sunday, July 5, 2015

Strikdas - 5/10

Strikdas is baie lig met 'n soeterige storietjie. Dit gebruik weereens die milieu as karakter en trekpleister. Meer en meer Afrikaanse flieks val in hierdie slaggat, en laat dan die plot agter. Saam met Bella op die bank.




Jurassic World 3D - 6/10

Jurassic World maak dalk nie so groot indruk as wat Jurassic Park terug in die Negentigs gemaak het nie, toe die grafika nuut was, en alles baie groot en sterk was nie, maar is tog op 'n sekere vlak steeds goed. Die verskil is alles lyk so "normaal", wat beklemtoon hoe ver die tegnologie gevorder het. Ek het dit geniet saam met die twee manne in 3D by Kolonnade.  

Stretch - 1/10

Jip, moes seker Stretch al in die eerste vyf minute gestop het. Ietwat van 'n tydmors. Daar was so een of twee hiper snaakse tonele, maar die res maar saai en vervelig. Beslis op eie risiko. Saam met Bella op die bank.

Home - 7/10

Home is nogals 'n kreatiewe animasie fliekie met 'n vars nuwe Engelse dialek... Uitstekende grafika, goeie rolverdeling en blink nuwe film fisika. Saam met die familie op die bank, ja, selfs Franko.

Friday, July 3, 2015

Turks & Caicos - 5/10

Turks & Caicos is dalk so bietjie te kompleks vir 'n Vrydagaand. Nie te slegte Britse fliek nie, maar mens moet redelik kophou. Redelik indrukwekkende rolverdeling vir 'n televisie film. Saam met Bella op die bank.

Paper Planes - 5/10

Paper Planes is 'n gemiddelde familie fliekie, met die verwagte, cliche-sentimentele voel-goed dosis, Saam met Anrich en Bella op die bank.