Tuesday, February 26, 2013

Dredd - 5/10

Dredd skep 'n redelike cliché toekoms deur kilometer hoë hoëdigtheidskomplekse in 'n vervalle landskap te plaas. Die fliekie fokus op een toring, met tawwe een-stop wetstoepassers wat mense links en regs teregstel. Die lyn is redelik eenvoudig. Gruwels word kwistig gebruik om daarvoor te probeer opmaak. Mens kan seker sê die film is ten minste getrou aan sy genre. Dredd self probeer soos Batman praat, heel irriterend. Wat wel goed is, is die tegnologie wat terloops gewys word. Moet enige spesiale mag makker se hart laat tjoklits pomp. Op die vlug van Johannesburg na Munich, SA 264.

Sunday, February 24, 2013

Albert Nobbs - 7/10

Albert Nobbs is 'n hartseer ou storietjie met uitstekende vertolkings. Die film was bo verwagting ligter as wat die kassie voorgee... maar dit bly steeds 'n ietwat swaarder tema. 'n Perfekte Sondagaand film. Moet se daar is ook 'n lekker onverwagte opbouende tensie regdeur die fliek. Gaan hulle, of gaan hulle nie weet nie? Saam met Bella op die bank.

Wolwedans in die Skemer - 6/10

Wolwedans in die Skemer is nog 'n baie kykbare Afrikaanse fliek in 'n aangename string van sulkes die afgelope jaar of wat. Redelike spanningslyn, goeie vertolkings, mooi milieu en wolwe.... Saam met Bella op die bank. 

Frankenweenie - 7/10

Frankenweenie is Tim Burton op sy beste. Van die mees interessante raam-stop animasie films ooit. Sal vreeslik graag die regte stelle wil sien. Baie goeie stemwerk, met een stem keuse wat baie vreemd is... Die verhaaltjie is die oorspronklike op sy stroopsoetste. Getrou aan die genre. Anrich reken dit is 'n 10 werd. Saam met die familie op die bank.

Sunday, February 17, 2013

Stilte - 6/10

Stilte spreek 'n tema aan wat waarskynlik meer en meer in Afrikaanse flieks gaan voorkom. Pragtige natuur fotografie, redelike spel, hier en daar dalk bietjie geforseerd, maar tog heel kykbaar. Saam met Bella op die bank. 

Saturday, February 16, 2013

3,2,1... Frankie Go Boom - 5/10

3,2,1... Frankie Go Boom is 'n redelike snaakse awaregse komedie. Heelwat snaakse situasies, maar wees gewaarsku, redelik vloek en ongemaklike grappe... Moenie saam met ouma kyk nie. Uitstekende vertolking van Ron Perlman, en ook verassende rolverdeling. Saam met Bella op die bank. 

Gabe the Cupid Dog - 4/10

Gabe the Cupid Dog is 'n baie klein begroting fliekie, wat as dit dalk met Hollywood begrotings en akteurs gemaak was, dalk nogals oulik gewees het. Die konsep is heel goed, maar dit lyk absoluut na 'n amateur poging. Saam met die familie op die bank. 

Sunday, February 10, 2013

Anna Karenina - 8/10

Anna Karenina is in alle opsigte 'n oordryf, maar wel gepas. Dit is oordadig, oorboord, ryk, romanties, visueel, oorstelp, behep, verlief en hatig. Dit draai mens visueel en ouditief, net soos lawwe verliefde paartjies, in 'n milieu wat nog meer so is. Beslis nie toeganklik vir wye gehore nie. Uitstekende toneelspel, met veral die klerke toneel wat treffend herhaal word. Kyk as jy rojaal en vrygewig voel. Saam met Bella in Brooklyn Nouveau, vir ons sestiende huweliksherdenking, na 'n ligte aandete by Brooklyn Tribeca, waar ons al ons geregte gedeel het. Die film was baie gepas, maar dalk nie die tema nie.... ;-)

The Five-Year Engagement - 6/10

The Five-Year Engagement is regte romkom, en staan so ietwat bo gemiddeld in sy klas. Hele paar baie snaakse tonele, kyk veral die ekstra materiaal vir ten minste twee skreeusnaakse tonele. Lekker Vrydag of Saterdagaand materiaal. Saam met Bella op die bank.

The Seven of Daran: Battle of Pareo Rock - 5/10

The Seven of Daran: Battle of Pareo Rock is interessant in die dat hulle Pretoria en stukke van Namibie gebruik het vir die verfilming. Verder maar vir die jongklomp bedoel, so middel laerskool sou ek reken. Saam met die familie op die bank.

The Watch - 4/10

The Watch is redelik snaaks, maar eintlik maar bietjie flou. Stiller was altyd vrek snaaks, maar deesdae werk sy gewone staar-gesig nie meer so goed as altyd nie. Paul is in die selfde klas, maar heelwat snaakser. Saam met Bella op die bank.