Sunday, May 22, 2011

The Next Three Days - 7/10

Ek is nie 'n verskriklike groot Crowe fe^n nie, maar in The Next Three Days is sy vertolking van die hoofrol baie geloofwaardig en heel goed. Die fliek het 'n stadige spanningslyn wat opbou en voor jy jouself kry, is jy net so gespanne as die karakters. Nogals 'n onderskatte fliekie sou ek reken. Kyk gerus op enige aand van die week. Saam met Bella op die bank. 

Wednesday, May 18, 2011

The Tourist - 6/10

The Tourist is visueel 'n pragtige fliek, en met 'n redelike storielyn en verassende einde. Die hoofrolle is goed vertolk, maar dit is die styl wat mens op die ou einde bybly, en dan natuurlik die ander hoofrol, Venisie. Ai, darem maar 'n mooi ou plekkie op die planeet. Saam met die hele familie en ouma op die bank. 

The King's Speech - 10/10

Wel, dit gebeur baie min, maar hierdie, ten spyte van die Oscar-gezoem, is beslis 'n 10 werd. As mens slegs die tema vergelyk met iets soos Amazing Grace s'n, is dit ongelooflik dat mens so 'n aangrypende vertolking kan doen van iets so eenvoudig, en basies die kyker op die nippertjie van sy stoel hou, regdeur. Die vertolkings is eenvoudig net 'n orde bokant die res. Absoluut briljant. En ek was baie moeg, het eers hierdie 10uur die aand, voor ek die Lionman moes gaan ry, gekyk. Dit sal seker nie aanklank by almal vind nie, maar as jy enigsins van kunsflieks hou is hierdie een wat die term kunsfliek definieer. Uitstekend. Saam met Bella op die bank. 

Secretariat - 5/10

Redelike Disney fliekie, met 'n lessie in, en kykbaar vir die hele familie. Die vertolkings is maar onder gemiddeld, maar die perde verleidelik mooi. Saam met die familie en ouma op die bank. 

Amazing Grace - 5/10

Die fliek het baie potensiaal, maar word swakkerig vertolk deur die hoofspeler, en is maar baie vervelig met tye. Ek het lekker stukkies geslaap in hierdie een. Seker 'n beter Sondagaand keuse. Saam met Bella op die bank.

Law Abiding Citizen - 3/10

Ek raak nou dik vir hierdie tipe flieks. Een of ander slegte ding gebeur met 'n ou, en dan raak hy soos Superman,  Mentalist, McGyver, Spiderman, Leverage se span en Hulk in een, en doen ongelooflike goed. Aag nee wat. Saam met Bella op die bank. 

Séraphine - 6/10

Baie swaar, wroegende fliek, beslis nie ligte vermaak nie, met 'n tragiese einde. Beslis net as jy baie sterk voel, maar dan ook selfs nie eers nie. Goed vertolk en verfilm, maar dalk net te swaar vir my palet deesdae. Saam met Bella op die bank.

Little Fockers - 4/10

Nie so snaaks vir my as die vorige weergawes nie, maar het tog 'n snaakse oomblik of wat. Saam met Bella op die bank.

Gulliver's Travels - 6/10

Wel, ek is beslis nie 'n Jack Black aanhanger nie, maar as mens daarby verby kyk is Gulliver's Travels nie te slegte familie vermaak nie. Die spesiale effekte is uitstekend, en die toneel waar Gulliver die omgekeerde van die gewone ervaar is skreeusnaaks. Amanda Peet bly maar 'n groot gunsteling, al is sy nie die beste aktrise nie... Op die koop toe ook 'n skeutjie sosiale kommentaar. Saam met Bella op die bank.

Due Date - 4/10

Hmmm, ek is nie 'n roadie aanhanger nie, behalwe Thelma and Louise.... Hierdie een het sy snaakse oomblikke, maar dit was dalk te onder die belt vir my. Saam met Bella op die bank.

Het hierdie weer raakgeloop op DSTV terwyl ons (vir Anrich se tafeltennis by Maritzburg College) by Rawdons in Midlands was (19 Julie 2019),  maar na sowat 30 minute die aftog geblaas, dit net nie die moeite en tyd werd nie. 

RED - 6/10

Aag wat, RED is sommer lekker ligte Vrydagaand materiaal. Ligte storie, goeie rol verdeling, lekker humor, en draaksteek met ernstige spaai flieks. Kyk gerus as jy wil ontspan. Dit is dalk daai ietwat bo die gewone. Saam met Bella op die bank.