Tuesday, December 31, 2019

Maleficent: Mistress of Evil - 6/10

Maleficent: Mistress of Evil is dalk so klein bietjie beter as die vorige een maar voel tog soos meer van dieselfde. Dit is egter nie 'n slegte fliek vir almal saam nie, en ons het dit geniet om die oujaar by 'n redelike besige en raserige Muizenberg af te sluit. Saam met Bella en Anrich en Franko en Michelle op die (baie groot, gemaklike) bank. 


Sunday, December 29, 2019

Spider in the Web - 4/10

Ten spyte van Spider in the Web se rolverdeling, potensiaal en tema, stel die film teleur. Dit maak nie alles sin of saak nie. Mens assosieer nie met die karakters nie, en gee nie regtig vir hulle noodlot om nie. Hou eerder verby. Saam met Bella by Muizenberg Surfer's Corner, Nr 122


Wednesday, December 25, 2019

The Goldfinch - 7/10

The Goldfinch is 'n baie stadige, lang kunsfliekie, meesal oor rou (of die afwesigheid daarvan), verdedigingsmeganismes, kuns, antieke meubels en suurlemoene (wat mens kry as jy dit die minste verwag). Hierdie is beslis bedoel vir die geharde connoisseur met deursettingsvermoe". Die vertolkings is raak, vanpas, nie oordrewe nie, met 'n indrukwekkende rolverdeling - nie die bekendheid of status van die akteurs nie, maar eerder die akkurate pas van verskillende ouderdomme (daar is meer as een tydlyn). Saam met Bella op die Bank.



Tuesday, December 24, 2019

The Two Popes - 8/10

The Two Popes is onverwags 'n uitstaande film. En gepraat van karakter ekonomie, die twee veterane, beide volkome akteurs, lewer steeds kragtoer vertolkings. Die humor element maak dan ook beide menslik en binne bereikbare identifisering. Die milieu is getrou (en 'n stel!), en die feit dat dit 'n verhoogstuk is/was, skaad glad nie enige deel nie. Die perfekte Ou Kersaand film, Saam met Bella op die Bank.
   

Monday, December 23, 2019

Code 8 - 4/10

Code 8 is maar 'n papperige fliekie ten spyte van sy potensiaal. Dit eindig taamlik stomp en onbevredigend, en dit voel ook of daar net te veel gate in die lyn is. Saam met Bella en Anrich op die Bank.


Sunday, December 22, 2019

The Last Princess - 7/10

The Last Princess is 'n hartroerende, sensitiewe, tragiese vertel van wat magsug vermag. 'n Kunsfliek-stadige tempo, met uitgerekte, kleurryke kameraskote en tonele. Beslis net vir die kieskeurige fliekganger bedoel. O, en wees gereed vir onderskifte, selfs ook tussen Japanees en Koreaans. Saam met Bella op die Bank.


Saturday, December 21, 2019

The Aeronauts - 6/10

The Aeronauts hommel stadig - wel, seker  soos 'n lugballon - en het my by tye laat dink die twee bemanningslede het dae en weke daar bo spandeer nie 90 minute nie. Dit is wel 'n belangrike gebeurtenis, maar die lyn is maar dun vir 'n hele fliek. Wel oortuigende grafika, met die vroulike hoofrol dalk ietwat buite die geskiedkundige era se aanvaarde gedrag, Saam met Bella op die Bank.


Star Wars: Episode IX - The Rise of Skywalker - 7/10

Star Wars: Episode IX - The Rise of Skywalker is standaard vermaak met genoeg tong-in-die-kies dialoog en oomblikke om dit perfekte vakansie ontspannings materiaal te maak. Kyk net as jy 'n Star Wars aanhanger is. Saam met Bella en Franko by die tjiepfliek


Thursday, December 19, 2019

Joker - 7/10

Joker pas nie regtig in enige genre nie maar voel die meeste soos 'n kunsfliek. Dit is donker, swaar en by tye pynlik om te kyk, veral die uitgerekte lagbuie. Dit is egter wel hiper-realisties, met uitstaande vertolkings, beslis Oscar-materiaal. Dit is ook dan nie vermaaklik nie, en eerder 'n kragtoer van filmteater vermoe". Moet nie superheld manewales hier verwag nie. Saam met Bella op die Bank.
  

Monday, December 16, 2019

Jumanji: The Next Level - 6/10

Jumanji: The Next Level is meer van die selfde maar steeds aangename ontspanning. Dit is regte Saterdagmiddag (of vakansiedag) springmielie materiaal. Saam met Bella en Anrich en Franko by die tjiepfliek. Dit bly egter hartseer om te sien hoe die sentrum gelydelik agteruitgaan.  

Sunday, December 15, 2019

Judy - 8/10

Judy bly mens by oor die tragiese lewe van 'n ikoon. Mens maak altyd die aanname roem kom maklik en is altyd 'n keuse. En nooit ten konste van al die ander keuses wat ons gewones as vanselfsprekend aanvaar nie. Hierdie is dan ook 'n kragvertoning vir die hoofrol en as sy nie die Oscar kry nie, ja wel. Dit gese^, die film het 'n sterk rolverdeling met uitstaande vertolkings regdeur. Ek dink hierdie is meer Judy as Judy self. Maar beslis nie vir die wye mark bedoel nie. Hollywood eet mense op en spoeg nie eers bene uit nie. Saam met Bella op die bank.     

Saturday, December 14, 2019

6 Underground - 5/10

6 Underground is 'n redelike, maar oordadige in vele opsigte, aksie fliekie. Soos te verwagte met Ryan Reynolds is daar 'n ongehoorde aantal f-bomme. Wees dus gewaarsku. 'n Alternatiewe verteltrantstyl vir die soort film. Vinige tempo, asemrowende plekke, mooi mense, vinnige karre. Saam met Bella en Franko en Anrich op die Bank.


Tuesday, December 10, 2019

Anna - 6/10

Anna is heel kykbaar en 'n aks meer stylvol as die gewone spioenasie materiaal. Verskeie knope en draaie in die lyn, so mens moet redelik kophou. Saam met Bella op die Bank.


Monday, December 9, 2019

Ad Astra - 6/10

Ad Astra kon ten minste 30 minute korter gewees het sonder enige impak op die lyn. Lang, stadige tonele wat bye tye uitmergelend is. Die terugdraai tydlyn pas dan ook nie by die soontoe-gaan tydlyn nie, en die film eindig dan ook net te abrupt. Redelike vetolkings, uitstekende grafika en 'n dwingende interpretasie van nabye toekoms tegnologie. Saam met Bella en Anrich op die Bank.


Sunday, December 8, 2019

The Report - 7/10

The Report bevestig weereens die mensdom se vindingrykheid agv van hebsug en magsug. Die fliek is waarskynlik akkuraat en ek vermoed die bereik van al die korrupsie en wandade is in werklikheid nog erger. 'n Onverwagte kliniese kyk na Amerikaanse politiek en Homeland Security met sterk vertolkings. Saam met Bella op die Bank.

Yesterday - 5/10

Het Yesterday tweedehans gesien terwyl Franko en Michelle dit op die Bank gekyk het. Nie sleg nie, maar sal dit nie 'n tweede keer kyk nie. 


Catherine the Great, Minireeks - 5/10

Catherine the Great lyk belowend, maar dalk kon hulle dit meer getrou aan die kultuur en taal gemaak het. Saam met Bella op die Bank. Het net die eerste 15 minute gekyk, sal dalk die res later kyk. Hmm, nee wat.  


Saturday, December 7, 2019

Sometimes Always Never - ?/10

Wel, Bella sal die punt moet toeken, en die beskrywing moet gee, ek het alles gemis in 'n diepe sluimer. Nie oor die fliek se kwaliteite nie, ek was net flou. 




Thursday, December 5, 2019

For All Mankind, Seisoen 1 - 5/10

For All Mankind is soortgelyk aan The Man in the High Castle, net met 'n verslae Amerikaanse nasie. Dit lyk interessant sal nog so episode of wat kyk. Saam met Bella en Anrich op die Bank. Het besluit om nie die tyd te spandeer nie, veral nie na The Astronaut Wives Club nie. Dit voel ook net te neerdrukkend. 



Sunday, December 1, 2019

His Dark Materials, Seisoen 1 - 5 /10

Die loodsepisode van His Dark Materials laat mens nie voel om tyd en energie aan die karakters se noodlot te bestee nie. Laat maar eerder oorstaan. Saam met Bella en Anrich op die Bank. 


Saturday, November 30, 2019

Once Upon a Time ... in Hollywood - 6/10

Once Upon a Time ... in Hollywood het, soos te verwagte, 'n sterbelaaide rolverdeling, met dienooreenkomstige gehalte vertolkings. Dit is 'n fliek binne 'n fliek binne die Westerse Mekka. Aweregse humor op 'n vreemde tema met 'n nog meer vreemde draai op die eintlike gebeure. Mens kan se^ die ware gebeure is as milieu vir die film gebruik met 'n alternatiewe uitkoms. Verwag stadige tonele met heelwat visuele en droe humor fokus. Beslis vir Tarantino slawe. Saam Bella op die Bank.


Friday, November 29, 2019

Father of Invention - 4/10

Die grootste probleem met Father of Invention is waarskynlik die misleidende titel. Die fliek is nie te sleg nie, maar handel eerder oor 'n pa wat met sy verlede en hede stoei as oor uitvindings en kie.  Saam met Bella op die bank.
 


Saturday, November 23, 2019

Official Secrets - 6/10

Official Secrets bevestig net weereens dat selfs met Eerste Wereld lande, en dalk nog meer so, goewermente die gepeupel paai met leuns en onwaarhede om enige iets te bereik wat binne of buite landsbelang mag val. En waarskynlik meer waar persoonlike belange beskerm word eerder as die belange van die meerderheid. Die film is beslis nie sensasioneel nie met 'n wies-wie rolverdeling. En dan boonop met 'n Suid Afrikaanse regiseur aan die helm. 'n Sterk politieke drama in tipiese Britse onderspeelde styl. Saam met Bella op die bank.


Thursday, November 21, 2019

Gemini Man - 3/10

Gemini Man stel baie teleur. Die film neem homself heeltemal te ernstig op, en mens raak ietwat naar van ou Will se erge aanval van narsisme. Dit is wel tot 'n mate vermaaklik en ons het as gesinnetjie dit almal saam op die Bank gekyk. 


Sunday, November 17, 2019

Sanditon, Seisoen 1 - 6/10

Sanditon is heel kykbaar sal dit nog 'n kans gee. Dit is nou wel nie Downton Abbey nie, dalk meer in die stal van The Paradise. Saam met Bella op die Bank.


Saturday, November 16, 2019

The Mandalorian, Seisoen 1 - 9/10

The Mandalorian begin baie goed. Ek geniet veral die droe" humor. Die grafika is uitstaande. Die reeksie raak net beter met Baba Yoda wat waarskynlik die mees oulikste in film geskiedenis ooit is. Ek reken 20% mene wat die reeks kyk is Star Wars aanhangers, die res kyk dit net vir Baba Yoda. Saam met Anrich en Bella op die Bank.


Friday, November 15, 2019

Angel Has Fallen - 5/10

Angel Has Fallen is 'n aks beter as die verwagte Hollywood masjien uitset. Dit is wel gelaai met Amerikaanse sentiment, maar kyk heel gangbaar. Die rolverdeling werk redelik. Saam met Bella en Anrich op die bank.


Saturday, November 9, 2019

Holiday in the Wild - 3/10

Holiday in the Wild is redelike pap tjiekfliek materiaal, en is meer vermaaklik as gevolg van die milieu oe" verblindery. Saam met Bella op die Bank.

Tuesday, November 5, 2019

Watchmen, Seisoen 1 - 4/10

Watchmen is nie ons tipe stapel nie. Net die eerste 15 minute gekyk. Saam met Bella op die Bank.


Saturday, November 2, 2019

Trackers, Minireeks - 9/10

Trackers begin goed en lyk oortuigend. Dele is in Afrikaans, maar dit is grotendeels in Engels. Die tonele skep 'n sterk gevoel van realisme. Die storielyn is interessant en spannend. Beslis 'n ordentelike Suid Afrikaanse produksie wat met intternasionale materiaal met gemak kan meeding. Die rolverdeling kom regstellend voor, maar die akteurs is meesal sterk en gepas, en is volgens die boek korrek. Saam met Bella op die Bank.

Friday, November 1, 2019

The Current War: Director's Cut - 6/10

Ten spyte van die rolverdeling en tema, faal The Current War: Director's Cut ongelukkig. Die formaat van die film werk net nie vir die tipe tema nie. Dit is grotendeels aan die regiseur se bydrae te danke vermoed ek. Verspeelde potensiaal om in die woordspeling te bly. Saam met Bella op die bank.
 

The Hateful Eight - 6/10

The Hateful Eight begin met redelik min pulp geweld, maar eindig dan redelik grusaam en soos te verwagte vir die vervaardiger van die film, baie bloederig. Ten minste is die lyn interessant en geloofwaardig en behou mens se aandag met die kinkels en monoloe". Gepaste rolverdeling en oksimoroon as milieu - wie maak 'n Western op 'n sneeustel? Aweregse humor uit die boonste laaie. Oppad terug van Nanjing op die Hong Kong been.

Sunday, October 27, 2019

The White Crow - 8/10

The White Crow is nogals spannend vir 'n ballet film. Dit is wel duidelik Meneer Nureyef was nie die mees taktvolste kunstenaar nie, seker soos te verwagte. Hy was wel talentvol en geirriteerd en ongeduldig met minder as perfek en arrogant teenoor ander. Die film is wel uitstekend vervaardig en bevestig die minimalistiese bestaan van lewe in Rusland en ballet dansers met 'n ewe minimalistiese atmosfeer of ambiance. Beslis vir kunsfliekaanhangers en balletliefhebbers bedoel. Oppad na Nanjing op die Hong Kong been. Bella het dit reeds op haar eie gekyk. 

Sunshine - 4/10

Sunshine is nie te slegte materiaal as jy 'n vasgevangde gehoor het nie. Dit voel wel na 'n ouer film (2007), en nie oor die grafika tegnologie nie, maar eerder die hantering van die tema en die sielkundige lyn. Verval ietwat in 'n sensasie sessie, en dan neem die film homself te ernstig op. Oppad na Nanjing op die Hong Kong been.


Saturday, October 19, 2019

The Laundromat - 4/10

Het beslis The Laundromat gekyk, maar was seker ek het dit reeds geresenseer (Het dit Oktober 2019 gesien, dis nou al 10 Desember 2019). Dit was maar swakkerig, en om dieselfde akteur te gebruik om verskillende karakters uit te beeld is nie so geslaagd nie. Die tweede verteller se geforseerde aksent werk eenvoudig glad nie en irriteer ononderbroke. Die film beeld wel 'n belangrike gebeurtenis uit. Saam met Bella op die Bank.


Sunday, October 13, 2019

Susters - 6/10

Susters is baie ligte materiaal, en beslis 'n tjiekfliek. Dit is nie oormaatig sentimenteel nie, en die lyn maak sin. Saam met Bella op die Bank, danksy ShowMax.




Saturday, October 12, 2019

Fat Man and Little Boy - 6/10

Fat Man and Little Boy is ietwat flouerig na mens Manhattan gesien het. Dit kyk meer na die morele kwessie as die psigiese en wetenskaplike kant van so 'n vermoe". Ek het ongelukkig heelwat tonele gemis, was net te slaperig. Saam met Bella op die bank.

Saturday, October 5, 2019

The Reluctant Fundamentalist - 5/10

The Reluctant Fundamentalist beweeg regtig stadig. Dit is ook 'n lang film, dus voel mens die pas. Uitgerekte kamera skote van gevoel en staar en 'n amper herhalende verteltrant. Dit is wel noukeurig vervaardig met heelwat aandag aan die kulturele en emosionele dimensies. Alhoewel die klankbaan kultuur akkuraat is, is daar pynlike tone wat uitgerek en uitermate beklemtoon word. Die vroulike hoofrol verdeling is onrustig en onstuimig, dit haal nie die verlangde effek nie. Die film se mark is ook waarskynlik beperk en is beslis op die geharde kunskring mark gerig - iets wat ek seker is die outeur, draaiboekskrywer, regiseur en vervaardiger nie wou gehad het nie. Swaarder materiaal vir 'n nugtere aand. Saam met Bella op die bank.


Friday, October 4, 2019

Driven - 6/10

Driven bevestig agter elke sukses of ikoon  le^ daar maar 'n paar swak keuses, geraamtes en lyke. Kyk beslis hierdie as jy Back to the Futture mal was, maar moet geen verwysings, selfs tydens die end krediete, verwag nie. Stadige pas, ietwat oorspeelde vertolkings. Saam met Bella op die Bank.
 

Wednesday, October 2, 2019

Lymelife - 6/10

Lymelife hou mens vir een of ander rede geinteresserd.  Dit beweeg stadig en by tye wil mens die jong laaitie 'n oorveeg gee om hom aan die gang te kry. Ek het stukke gemis, het dit met een oog en een oor in Seaview Notes gastehuis gekyk, terwyl ek op 'n werkuitstappie was in die Port Elizabeth omgewing. Die rolverdeling werk en die vertolkings voel eerlik en opreg. Op my eiste. Op 'n ander noot. Barnacles is hoogs aan te bevele, grotendeels agv sy ligging en vriendelike eienaars. Beslis 'n onontdekte juweeltjie.  



Sunday, September 29, 2019

Astronaut - 5/10

Astronaut is 'n gemiddelde ligte drama met 'n aks sentiment bygemeng. Dit is Sondagaand materiaal met 'n dosis goed-voel daarby, veral oor oudword. Saam met Bella op die Bank.

Friday, September 27, 2019

Fast & Furious Presents: Hobbs & Shaw - 5/10

Fast & Furious Presents: Hobbs & Shaw is nie Fast & Furious nie, eerder 'n splinterfilm wat eintlik niks met die oorspronklike franchise te doen het nie. Dit is regte Vrydagaand Hollywood stapel, breinlose springmielies. Kyk as jy wil ontspan. Saam met Bella en Anrich op die Bank.



Thursday, September 26, 2019

Downton Abbey (Die fliek) - 10/10

Kyk, as jy Downton Abbey die reeks enigsins gevolg en geniet het, is die fliek, Downton Abbey, 'n absolute noodsaaklikheid, met die bonus dat dit waarskynlik die beste episode ooit is. Dit is miskien dalk 'n skare trooster, maar kyk liplekker. Die ou moeilike tante is op haar stukke, met die beste se^ding ooit: I do not argue, I only explain! Kyk beslis ook op die groot doek, die klere en kleure bly asemrowend. Saam met Bella by die tjeepfliek premie^re waarvoor ons beide in kostuum was.



Tuesday, September 24, 2019

Ophelia - 8/10

Ek is seker ou Willem Wikkelspies sou Ophelia se storie dieselfde vertel het as hierdie splinter film van Hamlet. Die rolverdeling is sterk en gepas, die milieu en periode voel so eg soos 'n Engelse roos met ryke kleure, klere en stelinkleding. Die verhaal is net kompleks genoeg om oortuigend te wees, met die verwagte tragedie elemente. Besliste conniosseur materiaal uit die boonste rakke. Saam met Bella op die Bank.
 

Monday, September 23, 2019

Louis & Luca - Mission to the Moon - 6/10

Alhoewel Louis & Luca - Mission to the Moon vriesraam animasie (stop motion) is, is dit alles behalwe kindermateriaal. Ongelukkig bewys dit ook dat humor en komedie nie kultuur agnosties is nie. Wat waarskynlik skreeusnaaks vir 'n Noorwee"r is, voel ietwat ongemaklik vir 'n Suid Afrikaner en vice versa. Daar is egter 'n oormaat van sosialse, ekonomiese, internasionale politiek, burokrasie en wetenskaplike (veral pseudo wetenskap) kommentaar sonder blik of bloos. Die draak (of heilige koetjies) word amper dood gesteek hierso. Die fliekie kyk nie baie maklik nie, moet dus nog die tweede helfte klaarmaak. Saam met Bella op die Bank, Franko en Anrich het redelike gou die aftog geblaas.