Tuesday, July 29, 2014

Step Up All In 3D - 5/10

Step Up All In moet mens in 3D kyk. Dit laat die tone klap, krul en wikkel. Ek het meer van die vorige een gehou, maar hierdie is steeds goed om te kyk. Saam met Bella en Franko in die Kolonnade 3D teater.

The Catherine Tate Show, Seisoen 1 - 5/10

Kyk, die vrou is goed. Van die vignettes is skreeusnaaks. Ek hou nogals daarvan dat die selfde karakters gebruik word in opeenvolgende tonele. Lekker komiese verligting tussen al die ernstige reekse... Saam met Bella op die bank. 

The Legend of Sarila - 4/10

Soos ek vermoed het, is The Legend of Sarila Kanadees vervaardig. Beslis kortvolk materiaal, Anrich het dit baie geniet. Sagte eskimo storietjie. Mens kan dit darem deurkyk. Baie swak grafika. Saam met die familie op die bank. 

Albatross - 7/10

Albatross is 'n regte verhoudingsfliekie, baie Brits, eerder as Hollywoods. Die omgewing is altyd pragtig, en dra tot die gevoel en lyn by. Kyk gerus vir 'n meer eerlike fliekie. Saam Bella op die bank.


The Son of God - 6/10

The Son of God vertel maar 'n storie wat steeds moeilik is om te kyk, ten minste die kruisiging en voorafgaande gebeure. Dit is redelik goed vervaardig, maar die rolle is op grond van mooi mense gekies, eerder as goeie akteurs. Saam met Bella en Anrich (nie alles gekyk nie, kon nie) op die bank.

Unstoppable - 6/10

Ek het 'n stuk van Unstoppable op die Veerboot tussen Dar Es Salaam en Zanzibar gesien. Wou dit aanvanklik nie kyk nie, maar die stukkie op die boot het gemaak dat ek dit wel ten volle gekyk het. Redelike spanningslyn, beter interpretasie van 'n ware verhaal, maak hierdie tog die moeite werd vir 'n Vrydagaand. Saam met Bella, Franko en Anrich op die bank.

Transcendence - 6/10

Transcendence gee 'n oormatig emosionele kykie na logiese items. Kunsmatige intelligensie is goed en so aan, maar die fliek oor-veremosionaliseer dit, veral omdat Depp die verkeerde rol vertolk. Dit moes eerder Bettany gewees het as die mal Frankensteinagtige navorser. Iemand anders kon Bettany se rol vertolk. Die vroulike hoofrol is goed gekies. Kyk egter steeds gerus, nog steeds interessant. Moet se^ die zombie tema wat gebruik word is seker 'n oordrewe weerspieeling van Facebook verslaafdes, maar ek was nie mal daaroor nie. Saam met Bella op die bank. 

Heaven is for Real - 5/10

Ek is nie heeltemal seker wat om van Heaven is for Real te dink nie. Dit voel vir my of die film dalk bietjie meer kon doen. Dit is dalk eerder 'n oulike fliek, as een wat mens laat dink oor die vanselfsprekende vraag. Saam met Bella op die bank.

Captain America: The Winter Soldier - 6/10

Captain America: The Winter Soldier is redelik goed, maar ek het steeds meer van die vorige uitgawe gehou. Lekker aksie, maar dit raak maar baie fantasties op plekke. Redelike koel Black Widow...pleks maak hulle maar van haar 'n fliek. Saam met die familie op die bank.

The Americans, Seisoen 1 - 7/10

Lekker, nog 'n spioenasie reeks! The Americans is baie getrou aan die era vervaardig, nie oormatig gekompliseerd of opgeblase nie, net gewone interpretasie van hoe dit moontlik kon wees. Die sluipersel tema werk baie goed en skep 'n gesonde spanningslyn. Sal hierdie beslis verder kyk. Saam met Bella op die bank.

Maleficent - 7/10

Maleficent is 'n oorspronklike kykie na 'n ou verhaal, met uitsonderlike grafika, goeie spel deur die vroulike hoofrol, en net lekker pret. Dis boonop familie vriendelik, en kan jy glo, ook tienerseun vriendelik! Saam met die hele familie in die Kolonnade teater, nie in 3D nie, 2D.



Sunday, July 20, 2014

Noah - 7/10

Noah is eerder 'n kunsfliek wat na aanleiding van 'n manuskrip vervaardig is, as wat dit histories of op die Bybel gebaseer is. Die vertolkings, veral die van Noag se vrou, is uitstaande. Die film het 'n minimalistiese gevoel, glad nie 'n oormatige Hollywood cliche nie. Kyk gerus, maar wees gewaarsku, hierdie is nie noodwendig bedoel vir wat baie dalk dit misverstaan het nie... Saam met Bella op die bank.

Friday, July 4, 2014

Faan se Trein - 10/10

Daar is min sulke flieks, ook toevallig dat die paar beste flieks ooit die afgelope ruk in my boekie almal Afrikaans was...dalk is ek so ietwat subjektief....maar Faan se Trein is beslis daar bo met die beste wat Hollywood en die off-circuit kunsfliek toneel bied. Hierdie juweeltjie speel met mens se lagspiere terwyl die trane daaroor rol. Presies soos die milieu dit wil he^, die dorre Karoolandskap met groot druppels ree"n. Die hoofrol kon nie beter vertolk word nie, beslis die Oscar werd. Ek sou dalk net twee klein veranderings aan die rolverdeling maak, Marius Weyers is net te flambojant om 'n kleindorpie predikant te kan speel, en Chanelle de Jager se Annie se dialoog net te modern. Ai. Kyk beslis, maar wees gewaarsku, oopkoptaal en sonder inhibisies. Saam met Bella op die bank.

The Flash, Seisoen 1 - 7/10

The Flash is elektries, dit beloof om 'n tonekrullekker reeks te wees. Die verskyning van Arrow in die eerste episode was baie koel. Net jammer ons moet tot Oktober wag vir die res van die reeks. Dem. Saam met Anrich en Bella op die bank. 

The Thirteenth Tale - 6/10

The Thirteenth Tale is redelik, maar dalk ietwat sinloos. Die vertolkings is goed - dit pas by die rolverdeling, maar die gevoel van futieliteit net te veel. Die stel, milieu is egter baie goed. Saam met Bella op die bank.


Reign, Seisoen 1 - 6/10

Ja, wel, Reign is soos om jou oupa se '54 Ford bakkie met elektrieseaandrywing toe te rus. Die vertolkings, klankbaan en kostuumwerk pas glad nie by die era wat uitgebeeld word nie. Maar, ten spyte van dit als, is Reign tog kykbaar, die intriges is redelik onderspeeld, geloofwaardig, en die geskiedenis steeds interessant. Kyk gerus, maar wees gewaarsku, hierdie is meer pop kultuur as tydvak korrek. O, en die mense wat hulle uitbeeld was beslis nie almal sulke mooi mense nie... Saam met Bella op die bank. 

Agent 2000: Die Laksman - 5/10

Agent 2000: Die Laksman is lekker ligte, Afrikaanse familie vermaak. Dit is dalk meer geskik vir die groter laerskool klas, maar steeds heel goed om saam te kyk. Saam met Bella en Franko op die bank.