Saturday, August 26, 2017

The Exception - 7/10

The Exception is 'n soet liefdesverhaal, met 1940 as milieu. Gelukkig is die gru en grou van oorlog redelik beperk tot enkele tonele. Die rolverdeling is puik, met die oubaas Keiser 'n regte sports. 'n Boodskap van hoop en verandering en menslikheid. Kyk gerus, 'n mooi en lekker fliekie, nie te swaar nie. Saam met Bella op die bank.

Baywatch (2017) - 4/10

Baywatch is redelik onder-die-belt, met heelwat snaakse tonele. Beslis breinlose vermaaak, maar met baie snaakse dialoog, wat veral met die fliek self spot. Dit is nie 'n fyn spot nie, grof. Kyk op eie risiko. Verwag 'n oorvloed van borsies en boudjies, almal net-net beklee met op en oopgetrekte baaikostuums. Saam bet Bella op die bank.


The Tick, Seisoen 1 - 5/10

The Tick is nogals snaaks, maar lyk baie soos hedendaagse, generiese superheld reekse. Die oorvloed van Netflix en Amazon reekse het meesal 'n donker, stegierige New York milieu. Dit is 'n kort seisoen, en die episodes is net 30 minute. Sal nog 'n episode of wat kyk. Saam met Bella en Anrich op die bank, maar ek dink nie Anrich gaan die reeks volg nie.


Monday, August 21, 2017

Taboo, Seisoen 1 - 7/10

Taboo is stilisties uitstekend, met donder, broeiende vertolkings en nog meer onheilspellende karakters. Met ons eerste probeerslag het ons binne minute tou opgegooi, maar vanaand se vasbyt het betaal. Sal dit verder kyk. Saam met Bella op die bank.
  

13 Reasons Why, Seisoen 1 - 6/10

Alhoewel 13 Reasons Why 'n meer tragiese gebeurtenis omvat, volg dit 'n interessante konsep vir tiener-reekse. Die vertolkings is dinamies, oortuigend en gepas. Dit is 'n korterige, enkel-seisoen reeks so sal dit waarskynlik klaar kyk. Saam met Bella op die bank. 

Sunday, August 20, 2017

Colossal - 6/10

Dit is baie moeilik om Colossal in 'n genre te plaas, my beste poging is tjiekfliek met wetenskapfiksie as karakter. Die fliek kyk makliker, alhoewel dit eintlik maar baie sterk metafories, en dalk dan meer abstrak-emosioneel is. Nie bedoel vir die hoofstroom manlike kyker nie. Die twee reuse is op die ou einde blote manifesterings van die abstrakte emosionele toestand, aksies en re-aksies, en die gesukkel om dit te kan uitdruk in woorde en konkrete goeters. Die reuse verskaf gedaante aan die morsige binnekant, met al sy bagasie. Tot 'n mate herinner dit aan Eternal Sunshine of the Spotless Mind maar is beslis nie so goed nie. Saam met Bella op die bank.





Marvel's The Defenders, Seisoen 1 - 6/10

Die Marvel's The Defenders loodsepisode skep nie juis 'n swanger verwagting nie, so hopelik versnel die pas met die volgende paar aangesien daar net agt is. Dit lyk beter as die individuele reekse. Donkerder ondertone met redelik baie dialoog. Saam met Bella en Anrich op die bank.  

Sunday, August 13, 2017

How to Be a Latin Lover - 4/10

How to Be a Latin Lover bewys dat humor oor die kultuurgrense heen nie altyd vertaal nie. Daar is egter heelwat snaakse tonele, veral die swembad-skoenpolitoer een. Baie ligte komedie, met oppervlakkige vertolkings. Saam met Bella op die bank.

Saturday, August 12, 2017

The Circle - 5/10

The Circle is bietjie lig in die broek vir so gewigtige tema. Die vertolkings ook dan verassend gemiddeld. Nog steeds interessant, en darem kykbaar, net-net. Saam met Bella op die bank.

Wednesday, August 9, 2017

The Food Guide to Love - 5/10

The Food Guide to Love is baie ligte vermaak, beslis vir die dames, maar tog kykbaar. Gepaste vertolkings, dalk nie die beste in die klas nie. Omtrent so twee minute in is daar regtig 'n snaakse toneel. In die bed... Saam met Bella op die bank.

Guardians of the Galaxy Vol. 2 - 7/10

Guardians of the Galaxy Vol. 2 is vars ruimtefiksie. Dit het humor, blink ruimteskepe, genoeg aksie en nimlike karakters. En dan "I am Groot". Laasgenoemde wil mens huistoe vat ek groot maak. Die beste tipe fliek vir 'n Vrydagaand. Die storielyn is geloofwaardig en interessant. Saam met die familie op die bank.

Sunday, August 6, 2017

A Monster Calls - 8/10

A Monster Calls is 'n tranetrekker par excellence. Vertolkings uit die boonste rakke met grafika wat die emosies uitbeeld. 'n Gevoelvolle vertelling van die moeilikste emosies. Saam met Bella op die bank, en Anrich op die mat terwyl hy Lego bou.

The Zookeeper's Wife - 7/10

The Zookeeper's Wife herinner dat hierdie donker tye in die moderne geskiedenis nog lank in die samelewing se gedagtegang gaan bly. Die absolute wreedheid en harteloosheid van gebeure en mense ontstel mens elke keer. Nie 'n ligte drama nie, maar tog met hoop as sentrale tema. Die kyk werd, raak vertolkings. Saam met Bella op die bank. Anrich het stukke saam gekyk, maar eerder op sy Lego gefokus. 
  

The Edge of Seventeen - 6/10

The Edge of Seventeen is een van die beter genre voorbeelde, met redelike vertolkings. Amerikaanse tiener (en ouer) angst op sy beste Hollywood voetjie. Ou Woody is aanvaarbaar as byspeler, op sy gewone trant. Saam met Bella op die bank.

Saturday, August 5, 2017

The Mummy (2017) - 4/10

The Mummy (2017) is heel kykbaar as breinlose Vrydagaand pap-na-die-tawwe-week, springmielie vermaak. Ten minste is dit lagwekkend hier-en-daar, en dan ook onverwags 'n zombie film. Op eie risiko. Saam met Anrich em Bella op die bank.