Sunday, March 29, 2015

Maps to the Stars - 6/10

Maps to the Stars is beslis nie vermaak nie, eerder Hollywood se outobiografie. Die leegheid van so blink lewe, waar geld nie te kort skiet nie, skok aanvanklik, maar dan besef mens dat dit waarskynlik erger gaan in werklikheid. Die film is goed vervaardig met realistiese, oppervlakkige, gepaste vertolkings. Die einde is dan ook nie die tipiese Hollywood einde nie. Kyk net as jy 'n wyer flieksmaak het. Saam met Bella op die bank.

Saturday, March 28, 2015

The Judge - 5/10

The Judge is baie kykbaar, net jammer van die baie vloek. Die humor element. deur middel van kwinkslae help die kykbaarheid aan. Die fliek voel nogals lank. Maar verwag maar die cliche sentimentaliteit, tipies van hierdie soort Hollywood genre. Saam met Bella op die bank.

The Red Tent - 7/10

The Red Tent is nogals 'n vars kykie na Jakob en sy doen en late. Die milieu en vertolkings is gepas en die outeursvryheid doen nie afbreek aan die Bybelverhaal nie. Miniatuur reeks met net 2 langer episodes. Enigste dik vir 'n daalder deel is dat die vier vroue van Jakob so in harmonie saam leef! Saam met Bella op die bank.

Sunday, March 22, 2015

Paddington (2014) - 6/10

Oulike fliekweergawe van die gewilde beertjie, regte laerskool materiaal, maar tog kykbaar vir die ouers, veral as mens van London hou. Baie kreatief en lig. Saam met Bella op die bank. 

Ballade vir 'n Enkeling - 8/10

Ballade vir 'n Enkeling is beslis nie 'n familie fliekie nie. Nog al heelwat mense het verwag dat dit gaan wees, sekerlik gebaseer op die destydse TV reeks. Hierdie film is beslis op wereld standaard vervaardig, en kan meeding met menige ander Franse en Hollywood pogings. Die draaiboek is 'n baie sinvolle verwerking van die TV reeks en hou mens nogals vasgenael. Dit het dan ook 'n voordeel bo ander buitelandse flieks met al die verwysings na bekende Suid Afrikaanse handelsmerke, plekke en gebeure. Die Engelse onderskrifte is gepas en net so kreatief as wat die Afrikaans gebruik word. Die vertolkings is eerlik en die dialoog draai nie doekies om nie. Ek hou ook baie van die Maboneng distrik wat gebruik is vir die "moderne" milieu. Saam met Bella in die gewone Brooklyn teater met die lekker nie bree" sitplekke en 'n vinnige etetjie by Phat Panda, Glenfair. Franko was by Simeon vir 'n verjaardag party, en Anrich op die Junior Ranger kamp, Sondela.


Saturday, March 21, 2015

Interstellar - 8/10

Interstellar is nogals 'n laaang fliek met 'n redelike aanloop. Genre gesproke is dit sekerlik een van die beter opsies beskikbaar. Dit raak hier en daar ietwat melodramaties, maar nie so oordoend soos in Gravity nie. Dit het nogals 'n paar gespanne oomblikke, maar is beslis kykbaar vir die hele familie. Dit verras met die amper totale afwesigheid van gekruide taal, geweld en minder familie vriendelike tonele. Tegnies en grafies hiper-realisties, Stel die vlak vir visualisering van swart gate en ander multi-dimensionele probleme. Rolverdelings baie goed, maar ek is nie 100% oortuig Matthew is die beste keuse gewees nie. Saam met Franko en Bella op die bank, Anrich was weg op Junior Rangers kamp, Sondela

Monday, March 16, 2015

Into the Woods - 6/10

Into the Woods is (onverwags!) 'n musical. Alles werk behalwe die oormatige hoe", lang uitgerekte, skril note. Redelik interessante vermenging van 'n klomp sprokies. Die kinders het probeer, maar soos Anrich tereg opmerk, "They put the Music back into the Musical..." Saam met Anrich en Bella op die bank. Franko kon net nie. 

Exodus: Gods and Kings - 7/10

Exodus: Gods and Kings is nogals nader aan die Bybelse verhaal as my gevoel oor Noah. Die epiese verhaal van Moses voel dan ook epies lank, maar is tog baie kykbaar. Ek dink die lang gevoel is 'n direkte gevolg van die feit dat mens die verhale en gebeure reeds goed ken. Die grafika, stel, milieu en kostuumwerk is alles puik, so ook die vertolkings. Ek het tog so 'n huiwering oor Mnr Bale se vertolking, ek dink hy het dit dalk 'n aks te Hollywoods (a la Batman) aangepak. Kyk gerus saam met die familie. Saam met Bella op die bank.

Sunday, March 8, 2015

The Hobbit: The Battle of the Five Armies - 5/10

The Hobbit: The Battle of the Five Armies bestaan eintlik net uit een kort oploop tot 'n lang, uitgerekte gevegstoneel. Die grafika, rolverdeling, kostuums en milieu is van die beste wat mens sekerlik kan kry, maar die film skiet te kort. Dit is egter 'n lang kyk... Nie te sleg as Vrydagaand of Saterdagaand springmielie vermaak nie. Ek moes seker die titel beter gelees het, as ek gedink het dit gaan meer storie as geveg en oorlog wees. Saam met die familie op die bank.

Saturday, March 7, 2015

Horrible Bosses 2 - 2/10

Horrible Bosses 2 is soos sy voorganger heelwat onder belt, en sal weereens 'n geharde matroos laat bloos. Daar is die slag net so twee of drie baie snaakse tonele, waarvan die stort en die wegjaag een deur die hek by verre die beste is. Die plot is maar flou, en dit voel nie asof dit die slag oor base handel nie... Kyk as daar niks anders is om te kyk nie, vermy dalk eerder. Eintlik spyt ek het my tyd met hierdie gemors. Saam met Bella op die bank.

Monday, March 2, 2015

Penguins of Madagascar - 6/10

Lekker ligte kortvolk materiaal, geskik vir die hele familie. Nogals 'n paar snaakse dele, met dan die verwagte tweede helfte wat superhelderig voel. Heelwat visuele en auditiewe kwinkslae en verwysings wat die moeite werd is om na die tyd na te gaan. Saam met die familie op die bank.