Sunday, March 31, 2019

At Eternity's Gate - 3/10

At Eternity's Gate is net te intens en wroegend. Dit pla ook te veel dat 'n 63-jarige, al lyk hy 45, die rol van 'n 45-jarige vertolk. Die klankbaan is beslis tekenend van die dreigende kranksin. Kon nie die fliek klaar kyk nie. O, en die kantellende kamera tegniek dryf my na waansin - dit is 'n mode wat asseblief tog net moet uitsterf! G'n mens kan so fliek nie. Al het ek taamlike stukke deur Loving Vincent gesluimer, is dit beslis velde beter as hierdie poging - met die Rocket Science vervaardiger en al! Saam met Bella op die bank.    

Saturday, March 30, 2019

The Highwaymen - 6/10

The Highwaymen is een van ou Kevin se (min) beter flieks. Dit is egter lank en stadig en uitgerek, soos te verwagte. Dit bly een van die tragiese gunstelinge, en dalk so oor die era waarin dit plaasgevind het. Die rolverdeling is goed, die periode gepas uitgedruk. Net jammer ek het hier en daar weggedryf... Saam met Bella op die bank.


How to Train Your Dragon: The Hidden World - 5/10

How to Train Your Dragon: The Hidden World is beslis kortvolk materiaal. Nou dat ons manne groot is, kan ek nie meer deur hierdie sit nie. Ons het dit saam met Anrich begin kyk, hy het na sowat 30 minute die aftog geblaas. Ek en Bella het die res, op die bank, huppelkyk klaar gemaak. Dit lyk dan ook of hierdie die laaste uitgawe in die film reeks gaan wees. 


Friday, March 29, 2019

King of Thieves - 6/10

King of Thieves probeer tyd laat stil staan - die manne is oud en kwesbaar - maar hulle het steeds tienerdrange en drome, net meer versag en gemodereer deur wysheid (wel ek is nie oortuig nie) en, tyd. Wat wel waar is, is dat hierdie op ware feite gebaseer is, en dat ouderdom nie 'n verskoning is of mag wees nie. Ligte, stadiger vermaak met 'n sterk maar gryse rolverdeling. Saam met Bella op die Bank.
  

Wednesday, March 27, 2019

Kodachrome - 7/10

Kodachrome se titel laat my in nostalgie verval - as jy in die sewentigers gebore was, het jy met film kameras groot geword en mooi besluit wanneer jy daardie kenmerke knoppie druk wat daardie kenmerkende klank maak. Eintlik is Kodachrome net 'n bysaak in hierdie fliekie, waar film en die einde van 'n era net as metafoor gebruik word vir verhoudings en die onafwendbaarheid van oudword en doodgaan. 'n Verassing is die gebruik van 35mm film vir die maak van die fliek, dit wil se^ geen rekenaargrafika verbeterings nie. Sterk rolverdeling, getroue en eerlike vertolkings, en nie 'n slegte roadtrip (padrit?) fliek nie. Beslis meer gemik op die film connoisseur mark. Saam met Bella op die bank.


Ben: We're all so frightened by time, the way it moves on and the way things disappear. That's why we're photographers. We're preservationists by nature. We take pictures to stop time, to commit moments to eternity. Human nature made tangible.

Sunday, March 24, 2019

Madame - 7/10

Madame is lig, maar ook pynlik realisties. Dit is heerlik met 'n skreeuende misverstand, en dan eg Europees aan die einde. Die milieu en rolverdeling en vertolkings kon nie beter nie. 'n Ware vervanging van tipiese Woody Allen films sonder die irritasies. Kyk die fliek. Saam met Bella op die bank.


Saturday, March 23, 2019

The Disaster Artist - 6/10

The Disaster Artist is beslis connioseur materiaal, nie vir die ligte fliekganger bedoel nie. Dit is 'n fliek oor 'n fliek wat gemaak word, deur 'n effens verwaande. Maar, dan is dit gebaseer op ware gebeure met parallel film snitte aan die einde wat die akkuraatheid van die vertolkings ten toon stel. Die humor is gebaseer op die absurdheid van situasies, dus nie skreeusnaaks nie, eerder tragies. Die twee Franco stemme raak net te veel, hulle intonasies is te dreunend dieselfde, eentonig aanmekaar. Die vertolkings is egter raak en gepas, dalk so bietjie oorspeeld aan die hoofrol se kant. Net vir volbloed kunskring gangers bedoel. Dit is nogals indrukwekkend vir iemand in Lala-land om so onder die Wikipedia radar te kan beweeg.... Saam met Bella op die Bank.


Friday, March 22, 2019

Stan & Ollie - 6/10

Stan & Ollie is 'n sagte, deernisvolle kykie na twee karakters wat sekerlik Amerikaanse slapstick eiehandig gedefinieer het. Die name Laurel en Hardy het in verskillende tale sinoniem geraak met grappies, hegte vriendskappe (veral waar twee manlike vriende lank en kort is of baie verskillend lyk), poetsbakkery en sommer net onnutsheid. Die fliek steek 'n paar grap-juweeltjies weg in die gewone dialoog wat mens van die twee narre sou verwag. Die fliek fokus nogals op hulle benadering en dat hulle eintlik heel anders is as die hals-oor-kop, rowwe, fisiese humor karakture waarmee hulle geassosieer word. Dis eintlik 'n sterk teenstelling, hulle is broos, emosionele siele, kwesbaar. Hierdie film is beslis nie hoofstroom materiaal soos die tweemanskap se mannewales nie, vir die onderskeidende fliekganger bedoel. Die rolverdeling kon nie beter nie, en die periode en milieu getrou uitgebeeld. Saam met Bella op die Bank.




Thursday, March 21, 2019

Grisse, Seisoen 1 - 3/10

Grisse lyk belowend, maar as die loodsepisode so stadig beweeg gaan die res maar ook wees. Dit is rondom interessante geskiedenis, maar voel net te amateuragtig. Gaan nie die tyd spandeer nie, het die eerste episode so driekwart gekyk. Saam met Bella op die bank.

Holmes & Watson - 2/10

Holmes & Watson lyk of dit baie snaaks kan wees, veral aan die begin, maar verval dan in taamlike flou grappe. Die onder die belt grappe raak dan ook minder snaaks en net ongemaklik. Dis jammer dat met hierdie tema en sterk rolverdeling tyd en geld en potensiaal so gemors word. Het sowat die helfte gekyk en toe moed opgegee. Saam met Bella op die bank. Anrich het na sowat 30 minute moed opgegee, Franko heelwat gouer.


Wednesday, March 20, 2019

Spider-Man: Into the Spider-Verse - 7/10

Spider-Man: Into the Spider-Verse is onverwags vars. Die animasie voel by tye eerder werklik, en mens vergeet eintelik gou in die film dat dit animasie is. Die flikie bly vermaaklik en voel geensins lank of uitgerek nie. Heelwat beter as die laaste mens weergawe van die spinnekopmanne, Saam met Bella en Anrich op die Bank.


Sunday, March 17, 2019

Aquaman - 5/10

Aquaman is maar gemiddelde (onder en bo! water supersterk helde) mateiaal. Die grafika is soos te verwagte die film se enigste sterkpunt. Die storielyn is vol cliche's met 'm tipiese Hollywood verloop. Nie te sleg as Vrydagaand vermaak nie. Saam met Bella en Anrich en Franko op die Bank.


Saturday, March 16, 2019

The Man Who Killed Hitler and Then The Bigfoot - 5/10

The Man Who Killed Hitler and Then The Bigfoot laat mens wonder oor die genre waarvoor dit mik. Ten minste kom mens gou agter hoe die twee tydlyne in mekaar steek. Op die ou einde is die lang, komplekse titel 'n metafoor vir die ou oorlogveteraan se saai bestaan in 'n plattelandse Amerikaanse dorpie - wat op die oogaf idillies lyk. Die titel verwys dan ook na sy interne en eksterne struwelinge tydens hierdie saai oorlewingstryd. Sy verwerking van die oorlog gebeure lei tot 'n ligte drankprobleem (interne probleem), en hy kan dan ook die eerste eksterne struweling met gemak in sy guns draai. Maar dan raak 'n eksterne monster 'n metafoor vir die oorlog en Bigfoot 'n magiese interne monster. Beide hierdie monsters is oortreffende trap voorbeelde, wat hy dan ook oorwin. Alles klink wonderlik, maar die film bereik nie die glans van die titel en die rolverdeling nie. Saam met Bella op die Bank.


Friday, March 15, 2019

Wild Target - 5/10

Wild Target is 'n baie ligte fliekie soveel so dat dit meer na die tjiekfliek klas leun. Die rolverdeling is nogals sterbelaaid, met 'n mate van oordrewe vertolkings. Dit is 'n komedie, maar nie skreeusnaaks nie. Sou baie goed op 'n Sondagaand ook kon werk. Die vroulike hoofrol vertolking is nogals liplekker verleidend. Saam met Bella op die Bank.



Wednesday, March 13, 2019

Captain Marvel - 8/10

Captain Marvel is 'n tonekrul lekker superheld fliekie. Dit verklaar heelwat van ander karakters en die superheld heelal. Sentimentele verwysings na die tagtigers, insluitende musiek en vermaak. Glad nie lang uitgerekte gevegstonele nie, eerder kort en vol humoristiese oomblikke. As daar nou een superheld film is wat tjiekfliek vriendelik is, is dit hierdie een. Saam met Franko en Anrich by Zambezi Mall

  

Saturday, March 9, 2019

I Hate Kids - 1/10

I Hate Kids is 'n tipiese lae begroting, Amerikaanse Hollywood reseppie, met erge cliches. Ag nee wat, moes moed opgee na sowat 10 minutes. Saam met Bella op die Bank.

Replicas - 0/10

Replicas is erg amateurgagtig en oppervlakkig, soveel so dat ons nie eers 10 minute kon maak nie. Ai. Saam met Bella op die Bank.

Friday, March 8, 2019

Agatha and the Truth of Murder - 6/10

Agatha and the Truth of Murder het 'n sterk Dowton Abbey en Cluedo gevoel, met 'n sterk rolverdeling en milieu. Hierdie interpretasie van hoekom sy moontlik vir 10 dae vermis was tydens haar egskeiding, is 'n vermaaklike, lekkerkyk opsie. Die perfekte Sondagaand tjiekfliek. Saam met Bella op die Bank.

Sunday, March 3, 2019

Green Book - 8/10

Vir 'n slag is daar darem 'n Oscar-bekroonde fliek wat lekker kyk. Green Book hanteer op 'n sensitiewe - maar seker ook onsensitiewe manier - beide kante van rasisme, maar met 'n humoristiese invalshoek. Die film hanteer dan ook eerder bevooroordeeldheid as rasisme, Dit is die perfekte Sondagaand materiaal, mens voel sommer (amper) lus vir die week (of nie!?). Saam met Bella op die bank.
   

Saturday, March 2, 2019

Mortal Engines - 5/10

Mortal Engines is redelike kyk materiaal. Dit het 'n baie kreatiewe milieu maar met die gewone cliche lyn. Ek het groot stukke geslaap, dit kon my nie wakker hou nie. Saam met Bella en Anrich en Franko op die bank.



Friday, March 1, 2019

Slaughterhouse Rulez - 6/10

Slaughterhouse Rulez is nogals 'n snaakse grilfliekie, tipies in die Britse styl, nie Hollywoods nie. Skerp gespot met die gewone ril-cliches. Gepaste Vrydagaand ontspanning. Die rolverdeling is nogals sterk en gepas, met net genoeg oorspeelde vertolkings. Saam met Bella op die Bank.