Wednesday, December 18, 2013

Spud 2 The Madness Continues - 5/10

Spud 2 The Madness Continues is redlike kyk vermaak, met tipiese hoe"rskool seuns grappe. Moet nie te veel verwag nie, en moet beslis nie 'n professionele klankbaan verwag nie - die agtergrond musiek is gans te hard en die dialoog by tye onhoorbaar. Saam met Bella op die bank.


Return to Nim's Island - 4/10

Ietwat onder gemiddelde vroeer laerskool materiaal. Saam met die familie op die bank. 

Sunday, December 15, 2013

White House Down - 5/10

White House Down is lekker, gewone breinlose vermaak vir 'n Vrydagaand. Die film verwag nie baie van die kyker nie, net geduld dat die redlike lang onderonsie tot 'n gemaklike, verwagte, Hollywoodse, resultaat draai. Dit is dalk daai aks bokant die gemiddeld, maar regverdig nie 'n vol ses in my opinie nie. Saam met die familie op die bank. 

Tuesday, December 10, 2013

Da Vinci's Daemons, Seisoen 1 - 6/10

Da Vinci's Daemons lyk heel skaflik. Net jammer hulle bou nie op The Borgias voort nie. Die vertolkings is heelwat meer Amerikaans as Italiaans, en ou Leo word as 'n rockster uitgebeeld. Sal die reeks klaar kyk, deels omdat dit net 'n paar episodes is. Saam met Bella op die bank. 

Saturday, December 7, 2013

Fast and Furious 5 Fast Five - 6/10

Fast Five is soos sy naganger, Fast and Furious 6, lekker breinlose aksie vermaak. Vinnige motors, langbeen skoonhede, baie skop-skiet en escapism, min storie. Saam met die familie op die bank. 

Elementary, Seisoen 1 - 7/10

Elementary is die Amerikaanse weergawe van die uber koel Sherlock (Brits) reeks. Dit is heel kykbaar, en lyk of daar 'n lyn kan ontwikkel wat oor die episodes strek. Nou eers by die tweede episode van reeks 1. So paar episodes verder dink ek dat hierdie van die lekkerder TV wodunits is. Saam met Bella op die bank.  

Monday, December 2, 2013

Once Upon a Time in Wonderland, Seisoen 1 - 5/10

Once Upon a Time in Wonderland begin eintlik met 'n baie flou premier. Getrou aan die hoof reeks, Once Upon a Time, meng dit bekende sprokie verhale, en in hierdie Episode 1 geval, die bekende stories rondom Alice en Alladin. Die akteurs is flou en onbekend, met min kinkel en aksie wat die aandag trek en hou. Sal kyk hoe ver ons met die reeks kom.... Saam met Bella op die bank. 

Arbitrage - 6/10

Arbitrage is 'n heel aanvaarbare drama, redelik goed vertolk en seker realisties. Die einde voel so ietwat stomp, maar laat heelwat aan die kyker oor vir interpretasie. Vir 'n meer denkende kyk, nie op 'n Vrydagaand nie. Saam met Bella op die bank.


Turbo - 5/10

Turbo is beslis kortvolk materiaal, en het nie regtig dubbelvlak humor nie. Die vroeer laerskool manne sal dit meer geniet. Saam met die familie op die bank.

The Smurfs 2 - 6/10

The Smurfs 2 is lekker ligte familie vermaak, heel kykbaar vir die oueres onder ons, as gevolg van dubbelvlak verwysings... en daar is heelwat goeies van hulle. Saam met die familie op die bank. 

The Internship - 4/10

The Internship is uiters pynlik om te kyk, veral as gevolg van Mnr Vaughn. Wat egter interessant is, is die Google agtergrond.  Moet vir geen ander rede dit kyk nie. Saam met Bella op die bank.

Red Tails - 6/10

Aanvanklik lyk Red Tails of dit heeltyd die politieke of transformasie tema gaan speel. Die film het egter meer hart as dit, en laat mens soms met 'n paar geldige gedagtes agter. Die aksie is lekker, die grafika heel aanvaarbaar, en die storie darem nie heeltemal te veel ver-Hollywoods nie. Seker een van die mooier film plakate wat ek al gesien het. Saam met die gesin op die bank. 

Lovelace - 5/10

Lovelace is 'n redelike drama, gebaseer op ware feite. Anders as wat dit aanvanklik lyk, handel die film uitsluitlik oor Lovelace, oftewel, Linda Boreman (nie seker of dit 'n beter of slegter van as Lovelace is nie...). In elk geval, dit was seker tragies hoe haar lewe verloop het in so kort tyd, en hoe lank sy daarna gesukkel het om die beeld af te skud, maar tog ietwat simplisties en vervelig vir 'n vollengte film. Saam met Bella op die bank. 

Grown Ups 2 - 6/10

Grown Ups 2 is dalk nie beter as die eerste nie, en het geen spesifieke storielyn nie, maar bevat heelwat snaakse tonele. Dit is op die ou einde maar seker heel flou, maar as jy lus is vir 'n bietjie lag, veral laat laerskool fisisie humor, dan sal hierdie werk... Saam met die familie op die bank, en soms op die vloer. 

Monday, November 4, 2013

Planes - 5/10

Planes is lekker ligte kortvolk materiaal, dalk eerder vroeg en middel laerskool as laat laerskool. Geykte verhaaltjie, perfekte animasie en 'n tipiese einde. Saam met die familie op die bank.

She's out of my League - 4/10


Verwag maar so bietjie onder die belt humor in She's out of my League, maar ten minste is dit effektief, met een grond-kruip-van-die-lag toneel. Ek sal dit eerder vir iets anders ruil op die rak, maar as jy regtig niks kan kry nie, en wil lag.... Saam met Bella op die bank.


Man of Steel - 6/10

Man of Steel stel ietwat teleur. Dit maak egter heelwat op in visuele gevoel, veral in die eerste helfte. Te min Superman en te veel wetenskapfiksie, soos tereg deur mede kykers opgemerk. Hulle kon die laaaaaaang, vervelige gevegstonele heelwat korter gemaak het, met meer humor (sien die swaar vragmotor truuk), Superman aksie, en selfs bietjie meer romanse. Ten minste werk die akteur baie goed, en selfs Lois. Saam met die familie op die bank.

The Art of Getting By - 6/10

The Art of Getting By is 'n heel aanvaarbare fliekie, en kan gerus deur laat laerskool volk gekyk word vir 'n lewenslessie of twee, oppad na die groter dinge van hoe"rskool. Beslis 'n tjiekfliek. Saam met Bella op die bank. 

Sunday, October 13, 2013

The Lone Ranger - 7/10

The Lone Ranger is lekker ligte vermaak. Dit sou nog beter gewees het as hulle dalk so drie van die bietjie donkerder tonele ligter gemaak het, tipies soos die laaste toneel waar die Ranger op die dak van die trein met Silver gallop. Ou Johnny bly maar 'n gunsteling, en sy Tonto werk vir my. En dan, die milieu en musiek werk puik. Saam met die familie op die bank. Haai-hou, Silver!

Sunday, October 6, 2013

Welcome to the Sticks, Bienvenue chez les Ch'tis - 6/10

Welcome to the sticks, Frans met Engelse onderskrifte... Regte Franse komedie, baie toeganklik en lekker lig. Net jammer ons onderskrifte het nie so lekker gewerk nie, was so paar skote of wat agter... Moes nogals mooi kophou om nie die humor te mis nie. Saam met Bella op die bank.

Dawn of the Dragon Slayer - 5/10

Dawn of the Dragon Slayer is 'n gemiddelde draak fliekie, spesifiek vanuit die skoner geslag se oogpunt, dit wil se^, 'n tjiekfliekie. Nogtans kykbaar, selfs toeganklik vir die kortvolk, maar dan dalk meer vir die meisies. Saam met Bella, en die twee manne gedeeltelik, op die bank. 

Seven Psychopaths - 0/10

Seven Psychopaths val helemal buite my smaak. Niks verder om te se^ nie, behalwe dat ons net verder as halfpad besluit het om op te hou kyk, iets wat ek en Bella baie, baie lanklaas gedoen het met 'n fliek. Saam met Bella op die bank.

Sunday, September 29, 2013

Under the Dome - 7/10

Under the Dome begin sommer al spannend. Dit lyk baie belowend, hoop net die reeks maak sinvol klaar op die einde. 

This is 40 - 5/10

This is 40 het heelwat komiese oomblikke, heelwat darem bo en onder die belt. Ietwat te veel oordrewe in sekere opsigte. Beslis nie vir die kortvolk bedoel nie, met nogals baie vloek. Kyk op eie risiko, baie gepas vir 'n Vrydagaand. Saam met Bella op die bank. 

Agents of S.H.I.E.L.D. - 6/10

Lekkerrrrr, 'n Marvel reeks vir 'n slag. Agents of S.H.I.E.L.D. lyk baie koel, die eerste episode sal ons verder laat kyk. Lekker dosis humor daarby. 

The Spiderwick Chronicles - 5/10

The Spiderwick Chronicles is 'n gemiddelde fantiese fliekie, dalk bietjie rof vir middel laerskool kinnertjies. As daar niks beters is om te doen nie. Saam met Ouma Lenie in Bloemfontein op DSTV, vir die lang naweek, terwyl daar geen water in die stad was nie... 

The Great Gatsby (2013) - 6/10

The Great Gatsby is 'n visuele weergawe van die boek. Oordadig, ryk kleure en uitspattige, mal partytjies. Die boek is beslis beter, maar die film doen nie sleg nie. Die 1974 fliek was baie goed, maar ook met tekortkomings. Dalk maak die 2013 weergawe op vir die ietwat rustiger uitbeelding in 1974. Kyk beslis albei, maar lees eers die boek. Leonardo doen baie goed as 'n moderne Gatsby, met ou Toby Spiderman as 'n redelike arm buurman. Saam met Bella op die bank. 

Fast and Furious 6 - 6/10

Fast and Furious 6 is heelwat beter as nommer 3 wat ek gesien het. Lekker aksie, vinnig en klaar. Kyk gerus saam met laat laerskool laaities. Baie gepas vir 'n springmielie Vrydagaand. Nommer 7 lyk baie lekker met Jason Statham as die skurk, vir 'n slag... Saam met die familie op die bank. 

World Without End - 6/10

World Without End is 'n lekker periode stuk, gedurende die eerste konings van Engeland. Nie te dramaties nie, redelike vertolkings en 'n kykbare storielyn. Wat dit ook lekker maak is dat daar net 8 episodes is, met 'n sinvolle einde, dalk so klein bietjie stroperig. Saam met Bella op die bank. 

Chasing Mavericks - 7/10

Chasing Mavericks is 'n heel verassende fliekie. Glad nie te Hollywoods nie, met 'n baie gepaste lessie daarby. Dit is ideaal om saam met laat laerskool laaities te kyk. Saam met die familie op die bank, alhoewel Franko nie die eerste stuk wou kyk nie...

To Kill a Mocking Bird (1962) - 6/10

To Kill a Mocking Bird is beslis die moeite werd om te kyk, maar nie as jy moeg voel nie... Volgens Bella is die boek stukke beter, en verval die film ietwat in aktuele sake van die tyd - ons praat van die vroee" sestigs hier. Baie goed gemaak, met stewige vertolkings. Saam met Bella op die bank. 

Saturday, September 14, 2013

The Impossible - 8/10

The Impossible is beslis die moeite werd om te kyk, dit is nie stroperig nie, nie te Hollywoods nie, en baie geloofwaardig. Saam met Bella op die bank.  

Sunday, September 8, 2013

Knife Fight - 6/10

Knife Fight voel net soos 'n dokumenter. Die spel verras nogals, en die storielyn is heel kykbaar. Ek vermoed dis in elk geval baie erger as wat hulle probeer uitbeeld, veral in die Amerikaanse politiek. Saam met Bella op die bank.

Thursday, September 5, 2013

The Hobbit: An Unexpected Journey - 6/10

The Hobbit: An Unexpected Journey is vir my meer kykbaar as die Lord of the Rings trilogie. Die grafika is uitnemend, en dit gevegstonele korter en meer verteerbaar as die verskriklike lang uitgerekte weergawes in the Rings reeks. Saam met die familie op die bank, maar Anrich het minder daarvan gehou. 

Promised Land - 5/10

Promised Land is redelik gemiddelde aktivis materiaal, dalk net daai aks te veel verhollywoods. Kyk gerus op 'n Sondagaand. Saam met Bella op die bank. 

Now You See Me - 7/10

Now You See Me is 'n lekker Saterdagaand fliek, baie vermaaklik, nie swaar nie, en nie lig nie. Die akteurs pas perfek in hul onderskeie rolle. Saam met Bella and Anrich by die Woodlands Mall teaters

Side Effects - 6/10

Side Effects het heelwat potensiaal, veral as tipiese Hitchkock materiaal, maar faal ongelukkig so ietwat. Goeie rolverdeling, baie goeie tema, maar kort net daardie finale slag. Ligte riller-drama. Saam met Bella op die bank. 

Oblivion - 7/10

Oblivion het seker heelwat logiese, storie en ander foute, maar dit is heel kykbaar. Dit het nie te veel skop-skiet-en-donder nie, genoeg van 'n storielyn en 'n heel aanvaarbare futuristiese aanslag. Kyk as jy nie 'n diep fliek verwag nie. Saam met Bella op die bank. 

Sunday, September 1, 2013

Robot & Frank - 7/10

Sensitiewe, maar ietwat ligter kykie na oudword en die gevolge daarvan, veral dementia. Robot and Frank is nie regtig so futuristies nie, alhoewel dit so op die oog af kan lyk. Ek vermoed ons is al verder. In elk geval, die fliek werk heel goed, kyk selfs op 'n naweekaand. Saam met Bella op die bank. 

Gran Torino - 8/10

Gran Torino het lank op ons lysie gebly, nogals bly dit op die ou einde gekyk. Die karakterontwikkeling is baie ryk, en soos verwag, het die film 'n meer tragiese einde. Ou Clint kan nog, en dit is moeilik om te dink dit dat hy al 83 is! Kyk gerus, maar moenie ligte materiaal verwag nie, alhoewel daar heelwat humor, van die donkerder soort, ook is. Saam met Bella op die bank. 

Friday, August 2, 2013

The Wolverine 3D - 5/10

Ek sou nie reken The Wolverine is die beste strokiesheld fliek tot dusver nie. Ek het baie van die Japenese tema gehou, maar die verval in 'n nabootsing van Ironman is jammer. Ek sou ook eerder die 2D weergawe verkies, 3D dra nie regtig hier by nie. Saam met Franko in die Kolonnade Ster Kinekor teaters. 

Sunday, July 28, 2013

One Flew Over the Cuckoo's Nest - 8/10

One Flew Over the Cuckoo's Nest is 'n 1975 model wat verskeie moderne flieks op hul neus sal laat kyk. Dit is beslis nie ligte vermaak nie, maar die fliek het tog 'n ligte aura.... oor verskeie redes. Dit eindig hartseer, tragies, maar laat mens nie met 'n bitter smaak in die mond nie. Kyk gerus, veral as jy dink jou probleme is groter as ander s'n. Hierdie is 'n krag vertoning vir ou Jack, sekerlik een van die films wat hom op die kaart gesit het. Saam met Bella op die bank. 

Sunday, July 21, 2013

Hawking - 6/10

Hawking is 'n tipiese TV fliek, maar tog kykbaar. Dit is net jammer hulle stop so vroeg in sy lewe, en vat dit nie verder nie. Die onderhoud met die ontdekkers van die groot knal ruis is ietwat irriterend en word nie behoorlik gebruik nie. Kyk gerus as jy in toegepaste Wiskunde, kosmologie of Fisika belangstel. Saam met Bella op die bank, en op die nuwe 55" Samsung TV.

Saturday, July 20, 2013

Chloe - 5/10

Chloe is 'n oormatig gestilleerde verhoudings drama, amper soos 'n sestigs byekorf haarstyl. Dit is kykbaar, maar ietwat vervelig. Dit lyk ook of dit ietwat eroties gemik is, wat nie werk nie, ten spyte van die rolverdeling. Kyk as daar nie iets anders op die rak is nie. Saam met Bella op die bank.

Friday, July 19, 2013

Stoker - 7/10

Stoker is 'n puik drama, riller, sou ek amper se^. Dit is uitstekend vervaardig met puik vertolkings. Op 'n stadium besef mens die plot, wat dit soveel meer spannend en geloofwaardig maak. Mooi klavier musiek, en 'n droomhuis. Saam met Bella op die bank. 

Jack the Giant Slayer - 4/10

Jack the Giant Slayer is te lig vir volwasse kykers, en ietwat te donker vir die jonger span. Dit het heeltemal te veel geveg sekwense vir 'n fantasie fliek. Puik effekte, maar dan is dit ook waar dit bly, veral met 'n redelike vaal prinses en held. Ek het egter gehoop die reus, of in hierdie geval, reuse, is so ietwat minder lelik. Saam met die familie op die bank. 

Escape from Planet Earth - 6/10

Escape from Planet Earth het nogals lekker ligte humor, en is perfek vir die jongspan. Dit herinner sterk aan Paul, die volwasse weergawe... Saam met die familie op die bank. 



Oz the Great and Powerful - 6/10

Oz the Great and Powerful het 'n baie skerp openings sekwens. Lekker ligte weergawe van die immer bekende verhaal. Saam met die familie op die bank. 

Star Trek Into Darkness - 5/10

Star Trek into Darkness is nie regtig meer Star Trek nie. Dit is nou skop-skiet-en-donder soos al die ander cliches. Toegegee, daar is nog 'n paar Trekkie dinge, maar nie genoeg om aan die oorspronklike getrou te wees nie. As 'n gewone aksie fliek is dit sekerlik vermaak, veral met goeie grafieka effekte. Wat wel die fliek so aks lig bo ander is die absoluut geloofwaardige protagonis, Khan, meesterlik vertolk deur 'n gunsteling akteur, Cumberbatch. Saam met Franko en Bella in die teater, Menlyn

Saturday, July 6, 2013

Adoration - 4/10

Adoration probeer, en is seker, 'n baie intelligente kyk na die verwerking van 'n tragiese gebeurtenis in 'n seun se lewe. Die fliek praat heeltemal te veel, en het heeltemal te veel komplekse emosies vir my fliek gestelletjie. Dit sal regtig vir 'n uitgelese groepie van waarde wees. Saam met Bella op die bank.