Gabe the Cupid Dog is 'n baie klein begroting fliekie, wat as dit dalk met Hollywood begrotings en akteurs gemaak was, dalk nogals oulik gewees het. Die konsep is heel goed, maar dit lyk absoluut na 'n amateur poging. Saam met die familie op die bank.
Saturday, February 16, 2013
Sunday, February 10, 2013
Anna Karenina - 8/10
Anna Karenina is in alle opsigte 'n oordryf, maar wel gepas. Dit is oordadig, oorboord, ryk, romanties, visueel, oorstelp, behep, verlief en hatig. Dit draai mens visueel en ouditief, net soos lawwe verliefde paartjies, in 'n milieu wat nog meer so is. Beslis nie toeganklik vir wye gehore nie. Uitstekende toneelspel, met veral die klerke toneel wat treffend herhaal word. Kyk as jy rojaal en vrygewig voel. Saam met Bella in Brooklyn Nouveau, vir ons sestiende huweliksherdenking, na 'n ligte aandete by Brooklyn Tribeca, waar ons al ons geregte gedeel het. Die film was baie gepas, maar dalk nie die tema nie.... ;-)
The Five-Year Engagement - 6/10
The Five-Year Engagement is regte romkom, en staan so ietwat bo gemiddeld in sy klas. Hele paar baie snaakse tonele, kyk veral die ekstra materiaal vir ten minste twee skreeusnaakse tonele. Lekker Vrydag of Saterdagaand materiaal. Saam met Bella op die bank.
The Seven of Daran: Battle of Pareo Rock - 5/10
The Seven of Daran: Battle of Pareo Rock is interessant in die dat hulle Pretoria en stukke van Namibie gebruik het vir die verfilming. Verder maar vir die jongklomp bedoel, so middel laerskool sou ek reken. Saam met die familie op die bank.
Saturday, January 26, 2013
The Killing, Seisoen 1-2 - 7/10
The Killing is verslawend. Mens wil net die einde sien om te weet wat gebeur het. Sou graag die oorspronklike Deense weergawe met onderskrifte wou sien. Baie geloofwaardige karakters, goeie vertolkings en irriterende persoonlikhede en al. Een van die beste eindes ooit vir 'n reeks. Saam met Bella op die punt van die bank.
The Flowers of War - 8/10
The Flowers of War herinner mens maar net weer aan die grusaamheid van oorlog. Die film is goed gemaak, baie geloofwaardig en visueel treffend. Hartseer verhaal met baie drome wat aan skerwe le^. Kyk gerus as jy sterk van konstitusie voel die aand. Beslis nie vir 'n Vrydagaand nie. Ek dink ook hierdie is dan 'n oorlogfilm wat toeganklik vir die dames is. Saam met Bella op die bank.
Flypaper - 5/10
Flypaper is nie 'n te slegte poging vir 'n bankroof komedie nie. So hier en daar iets irriterend, andersins sou dit 'n gemaklike 6 kon kry. Te veel vloek vang my nogals deesdae. Vir 'n slag 'n geloofwaardige rolverdeling. Eerste DVD op nuwe Sony TV wat die versekering betaal het na die inbraak terwyl ons in Londen was. Saam met Bella op die bank.
The Vow - 5/10
The Vow is 'n bittersoet tjiekfliekie met 'n manlike hoofrol wat se naak agterstewe die wereld se vrouens aan die gons, lus, jil en bibber het. Die manlike hoofrol beheer, praat oor sy emosies, soos die Super Emosie Man! Mens kan amper se^ die vroulike interpretasie van 'n strokies superheld. Hierdie tjiekfliek is dan so goed in sy genre dat meesal tjieks dit geniet, en gades met oopmonde na die emosie beheer kragtoertjies staar. So bietjie te veel vir my, maar nou ja ;-) Dus, op eie risiko vir die manne wat nie van Nataniel hou nie. Saam met die familie en Ouma op haar DSTV toe ons Lisa na Londen 2012 afgehaal het.
The Campaign - 6/10
The Campaign is 'n uitspattige oordryf (of dalk nie?) van Amerikaanse politiek. Moet se^ die eerste van die Amerikaanse politieke flieks wat ek nogals regtig geniet het, en baie snaaks gevind het. Neem kennis, dit is baie oordrewe so dit kan baie raak vir party na 'n ruk. Op vlug SA 237 terug van London na SA net na die Desember 2012 vakansie in Londen.
Cafe - 4/10
Cafe lyk soos daai tipiese Amerikaanse kunskring flieks, bou dan op tot 'n goeie hoogtepunt, en laat mens helemal in die donker met 'n baie swak verbeeldingsvlug as einde. Niks maak ook dan meer sin nie. Dis jammer, want die akteurs, milieu en lyn het redelik potensiaal. Op vlug SA 237 terug van London na SA net na die Desember 2012 vakansie in Londen.
The Expendables II - 6/10
Glad nie te slegte skop-skiet-en-donder parodie nie. Veral Chuck se verskyning geniet. Hy kon dalk net 'n minder bekende, nuwe Chuck grappie oor homself as die ratelslang een vertel het. Wees gewaarsku, baie plastiek-bloedspat tonele, maar baie daarvan tong in die kies. Saam met Hester, Corné en Bella op die bank in London. Het die fliekie vir £4.49 van iTunes afgelaai, HD weergawe binne so 30 minute.
New Hope - 2/10
New Hope is een van daai feel-good flieks met 'n Christelike inslag. Niks verkeerd met die fliek nie, dis net baie lank, stadig, met dodelike vervelige tonele. Duidelik op 'n baie lae begroting, waarskynlik met aspirant of amateur akteurs. Mens gebruik maar die vinnig speel knoppie ook so nou en dan. Saam met Bella op die bank.
Your Sister's Sister - 4/10
Your Sister's Sister moet jy dalk eerder vermy. Een van daai praat flieks in 'n ekonomiese milieu. Vloek baie, is redelik skurf, vir 'n tjiekfliek, en die storie maar aan die floukant. Hier en daar darem 'n snaakse situasie om die saaiheid te onderbreek. Vanaf iTunes UK gedownload vir 4 Pond by die Bouwers terwyl daar vir Desember 2012 vakansie. Almal op die bank met makkers wat langs die pad verdwyn het.
Wednesday, January 23, 2013
The Odd Life of Timothy Green - 7/10
The Odd Life of Timothy Green is 'n bittersoet sprokiesverhaal in die hedendaagse lewe. Dit is gevoelvol en toeganklik vir 'n wye gehoor, insluitend laat laerskool. Dit is die moeite werd, veral wanneer jy dalk bietjie blou voel, en is perfek vir 'n Sondagaand. Op die vlug SA 236 oppad na Londen vir Desember vakansie saam met die familie. Ek het ongelukkig die laaste stukkie gemis omdat ons beginland het, maar Bella het vir my die res vertel. Kyk gerus.
The Bourne Legacy - 4/10
Wat is teleurstelling is Bourne Legacy! Dit is 'n generiese fliekie met 'n aks potensiaal en verwysings na Jason Bourne. Ai. Op vlug SA 236 oppad na London vir Desember 2012 vakansie.
Skyfall - 8/10
Ek is 'n baie groot Bond fe^n, en het Skyfall dus baie geniet. Ek is seker dit is een van die beste Bond prente die afeglope dekade of twee. Hou baie van die storielyn, en ook die fokus op storie eerder as ander goeters. Party puriste kan dalk kla oor die afwesigheid van toestelle, dames en motors, maar dan maak hulle baie op met die verskyning van 'n vorige Bond mobiel... Saam met Franko in die Kolonade teater terwyl Bella en Anrich iets anders gekyk het.
Haywire - 5/10
Laaste fliek voor vertrek vir die groot London vakansie! Haywire is redelike aksie, met 'n tawwe girl. Sal nou nie ver ry om hierdie een uit te neem nie. Saam met Bella op die bank.
Friends with Kids - 6/10
Friends with Kids is ietwat bokant gemiddeld, maar dit is eers in die tweede helfte van die film wat dit beter raak. Hele paar waarhede wat hulle aanraak, maar dalk tog ietwat oordrewe hier en daar. Saam met Bella op die bank. Sonder die kinders.
Total Recall - 6/10
Ek is glad nie 'n Farrell fe^n nie, maar hierdie poging is tog beter as die oue. Ek sou net eerder Kate nie as die skurk wou sien nie... maar dan maak sy 'n oulike skurk. Selfs die dame met die drie borste kom voor, maar minder modern as verwag. Lekker aksie vir 'n Vrydagaand. Saam met Bella op die bank.
The Dark Knight Rises - 8/10
Hierdie uitgawe van Batman is beslis in dieselfde liga as die vorige een, en dalk so ietwat minder donker met die afwesigheid van Joker. Het dit geniet, en 'n moet as jy van die vlermuisman hou. Saam met Bella op die bank.
Arthur Christmas - 7/10
Arthur Christmas is 'n lekker familie fliekie. Dit het 'n gepaste boodskap wat pas by Kersfees, 'n oulike inleidingsekwens, en humor wat die oueres ook kan verdra. Saam met die familie op die bank.
Wednesday, January 9, 2013
The Help - 7/10
The Help is dalk te lank gerek, wat ongelukkig die waarde van die film ondermyn. Anders is die rolspel uitstekend en die era baie getrou nageboots. Sensitiewe tema veral vir SA. As mens verby die eerste helfte kom, kry die fliek ook meer siel. Saam met Bella op die bank.
Saturday, November 24, 2012
Footloose - 4/10
Hulle kon beter met hierdie oormaak van Footloose gedoen het. Dit is 'n ou storie, konserwatief soos oorspronklik bedoel, maar kort zest, oemf en ritme. Die fliek is net te dood vir 'n dansfliek. Saam met Bella op die bank.
Brave - 6/10
Brave is 'n redelike kinderfliekie, nie heeltemal multivlak nie, maar tog so hier en daar. Lekker aksie vir die kortvolk. Saam met die familie en Ouma Lenie op die bank.
The Borgias, Seisoen 1, 2, 3 - 8/10
The Borgias is Game of Thrones, behalwe dat dit oor die pous handel. Lekker periode drama. Goeie akteurs en die mooiste milieu, kleure en stel. Een van die beter reekse wat ek al gesien het. Saam met Bella op die bank.
Puss in Boots - 6/10
Puss in Boots is 'n redelike multivlak fliekie vir klein en groot. Die storie is oulik en daar is lekker humor. Die hoof karakters word baie goed vertolk. Ek het egter groot stukke geslaap, in afwagting van die 94.7 die volgende oggend. Wat 'n jammerte. My punt is dus glad nie betroubaar nie. Ai. Saam met die familie op die bank.
Shame - 3/10
Shame het potensiaal maar dit sneuwel sleg. Van die tonele werk net nie. Dit is 'n redelile oopkop tema, so wees gewaarsku. Wat wel goed werk is die arme suster, en veral haar Marilyn Monroe liedjie. Beslis op eie risiko. Saam met Bella op die bank.
Saturday, November 10, 2012
Salmon Fishing in the Yemen - 7/10
Salmon Fishing in the Yemen is 'n lekker tjiekfliekie vir 'n Vrydagaand. Dit is nie pretensieus nie, nie te komplekse lyn nie, en heel prettig. Saam met Bella op die bank.
Saturday, November 3, 2012
Dawn Rider - 4/10
Dawn Rider het waarskynlik direk op die video rak geland. Heel vervelig met baie min om die lyf. Ek hou nogals van 'n goeie Western, maar hierdie een is beslis nie die moeite werd nie. Saam met Bella op die bank.
Thursday, November 1, 2012
The Three Stooges: The Movie - 8/10
The Three Stooges is klassieke slapstick op sy beste, en dan boonop as 'n moderne interpretasie. Die humor is nie onder die belt nie, vars en met die regte aanslag. Die hele familie het dit saam geniet, en die fisiese humor is pas vir twee laerskool latte. Saam met die hele familie op die bank. Lag. Rol. Lag.
What to Expect When You're Expecting - 4/10
What to Expect When You're Expecting is op die ou einde 'n volbloed tjiekfliek, dus nie eens vir die manne bedoel nie... Dit raak ietwat vervelig, met spiertier en al wat met een arm optrekke doen (!) Bella reken dis 'n oulike fliekie... Nou ja, saam met Bella op die bank. Gaap.
Sunday, October 21, 2012
Prometheus - 5/10
Prometheus is redelik teleurstellend. Die grafika is baie goed, die donker milieu gepas, maar die storie net te dun. Van die vertolkings is ook baie goed, veral die androide. Nogals jammer, ek dink die tema het baie meer potensiaal as wat hulle ontgin het. Saam met Bella op die bank.
Semi-Soet - 6/10
Semi-Soet is 'n lekker ligte, lawwe Afrikaanse fliekie. Dit het 'n gepaste romantiese situasie komedie lyn. Daar is iets aan't gebeur in die Suid Arikaanse, en veral Afrikaanse, filmbedryf. Eweskielik is daar 'n paar nuwe beter kwailiteit films in die mark. Baie lekker om vir 'n slag in my eie taal te kyk. Saam met die familie op die bank.
Sunday, October 14, 2012
First Night - 5/10
Al kyk mens First Night net vir die langoed waarop dit afspeel is dit al goed. Die fliek voel bietjie lank, grotendeels oor die langer sang tonele, maar as dit jou kos is, sal die fliek nie teleurstel nie. Ek het dalk so bietjie meer humor verwag, maar daar is tog 'n paar goeie, snaakse stukke. Kyk slegs as jy opera kan inhou. Saam met Bella op die bank.
Saturday, October 13, 2012
Snow White and the Huntsman - 6/10
In Snow White and the Huntsman skep hulle 'n baie realistiese milieu, maar ongelukkig laat die spel van die twee vroulike hoofrolle die film in die steek. Beide is nie geloofwaardig in hulle rolle nie, en lyk of hulle te min of te veel daarvoor in die spieel geoefen het. Die dwergies daarenteen steel kalklig grootmaat. Die manlike hoofrolle is darem ietwat beter. Die storielyn is egter goed aangepas, en die grafika uitstekend. Kyk gerus, dit is die moeite werd om ten minste hier weergawe van die bekende verhaal te sien. Saam met Bella op die bank.
Thursday, October 11, 2012
Person of Interest (S1, S2) - 6/10
Person of Interest lyk heel belowend. Dit is nie komedies van aard nie, maar kan dalk werk. Amper soos Alcatraz net sonder die tronk en tydtoeriste. Saam met Bella op die bank.
Scents and Sensibility - 3/10
Hmm, hierdie is 'n baie ligte, *baie* lae begroting tjiekfliekie met swakkerige vertolkings. Geen wonder dit is direk ma die video rak nie. Dit het darem seker 'n goeie lewenslessie in. Saam met Bella en Anrich op die bank, terwyl Franko op skooltoer is.
Tuesday, October 2, 2012
Mr Bean: The Animated Series, Seisoen 1 - 6/10
Mr Bean: The Animated Series is net so goed as die regte weergawe. Het hierdie al lank terug saam met die laaities gekyk. Wonderbaarlik hoe Mr Bean animasie en Mr Bean rerig ooreenstem in alle opsigte...
Monday, October 1, 2012
Dark Shadows - 7/10
Baie mense kla Mnr Depp kan net een tipe rol speel, maar, vrek, dan doen hy dit so goed. Die tyd-verlore vampier rol pas hom perfek in Dark Shadows. En dan is daar verskeie fyn en baie minder fyn uiters skerp verwysings na omtrent enige iets in ander flieks, McDonalds en ander. Mens moet mooi luister om al die humor op te vang, en dit sal dalk goed wees om die film weer 'n slag te kyk net om alles te vang. Baie snaaks en lekker om te kyk. Saam met Bella op die bank.
Men in Black III - 6/10
Men in Black III is beslis beter as II, maar dalk net so lekker om te kyk as I. Dit is vol pittige verwysings en kwinkslae en die jonger weergawes van die ouer manne meer pret. Beslis ligte wetenskapfiksie vir 'n Vrydagaand. Die groot kroek is ook nogals heel sleg en snaaks. Saam met Bella op die bank en weer saam met die laaities die volgende oggend.
Suits, Seisoene 1-2 - 6/10
Suits is vir 'n slag 'n alternatiewe regsreeks. Dit het 'n ietwat varser benadering en lyk heel belowend. Die Game of Thrones aanhaling deur Lewis in S2E10 , "A lannister always pays his debts" is Baie koel. Saam met Bella op die bank. Reeks 2 eindig met 'n redelike boem! kan nie wag vir S3 nie....dem
Mad Buddies - 4/10
Nou ja, Mad Buddies is die American Pie van Suid Afrika. Dit fokus veral op fisiese, toilet-humor, en lyk sommer lae-begroting. Maar die laaities het lekker gelag, selfs die rooinek maat wat hier gekuier het. Mens moet toegee, van die tonele is vrek snaaks. Saam met die familie op die bank.
Alphas S1, S2 - 5/10
Alphas lyk heel kykbaar, maar kort dalk so bietjie oemf. Ons is nou eers net klaar met die eerste episode, en dit lyk belowend. Sal seisoen 1 kans gee. Saam met Bella op die bank. S2 is ietwat beter as S1 en eindig met 'n tipiese slot vir 'n derde seisoen wat ongelukkig gekanselleer is.... ai
Tuesday, September 25, 2012
To Rome with Love - 6/10
To Rome with Love is 'n lawwe komedie, dalk met net te veel oordrywing. Wat ek oor wonder is wie gaan hierdie tipe flieks so lekker maak as wat Mnr Allen dit kan doen? Iets wat in al sy films uitstaan, is dat die milieu 'n properse karakter word, en veral die groot stede. Net hy kan met hierdie tipe lawwigheid wegkom... ai. Saam met Bella in die teater terwyl die bloedjies swoeg aan die St Paulus 50ste konsert. En dan vir nagereg, 'n ietwat teleurstellende ete by Ciao's in Brooklyn.
The Romantics - 3/10
The Romantics is een van die verveligste tjiekflieks wat ek al in 'n lank ruk gesien het. Dit kom net nie aan die gang nie. Miskien mis ek die nuwe generasie van akteurs. Wetie, maar vermy dalk eerder. Gaap. Saam met Bella op die bank.
Battleship - 4/10
Battleship is nie die beste wetenskapfiksie nie, maar steeds heel kykbaar. Moet nie baie komplekse redes verwag vir hoekom die buitenruimse wesens verslaan word nie... Regte Hollywood sentiment. Saam met die manne op die bank (Bella reken hierdie is net te erg ;-).
Monday, September 10, 2012
How to Seduce Difficult Women - 3/10
Interessante konsep, maar How to Seduce Difficult Women maak nie gebruik van al die moontlike potensiaal nie. Dit is ietwat kykbaar, met 'n oomblik of wat. Saam met Bella op die bank.
Die Wonderwerker - 10/10
Die Afrikaanse filmbedryf het met Die Wonderwerker bewys dat dit net sulke uithaler flieks kan maak soos die res van die wereld. Die film het nou wel nie 'n IMDB inskrywing nie, maar is darem op YouTube en Wikipedia. Die vertolkings is uit die boonste rakke, met die jong meisie se rol dalk so ietwat geforseerd. Dit ten spyt, met die pragtige fotografie, en die feit dat dit 'n se^d-se^d lovestory/periode drama is, maak hierdie fliek toeganklik. Die komiese elemente van ons ou boerenasie tussendeur maak dit nog meer so. Ek sou hierdie as moderne Afrikana beskou, en moet beslis nie misgeloop word nie, selfs nie deur stoere boere omies nie. Marais was beslis sy tyd vooruit. Hoogs aan te beveel, selfs vir die rooinekke onder ons, want daar is baie interessante vertalings vir moer, gat, en so aan... Saam met Bella in die Brooklyn teater.
- O koud is die windjie
- en skraal,
- en blink in die doflig
- en kaal,
- so wyd as die Heer se genade,
- lê die velde in sterlig en skade.
- En hoog in die rande,
- versprei in die brande,
- is die grassaad aan roere
- soos winkende hande.
- O treurig die wysie
- op die ooswind se maat,
- Soos die lied van ’n meisie
- In haar liefde verlaat.
- In elk’ grashalm se vou
- blink ’n druppel van dou,
- en spoedig verbleek dit
- tot ryp in die kou!
Labels:
Connoisseur materiaal,
Die moeite werd,
Gunsteling,
My taal
Subscribe to:
Posts (Atom)
















































