Sunday, September 27, 2009

Chicken Run - 6/10


Chicken Run is puik, veral as mens dink dit is grotendeels met klei gedoen. Dit is seker nou die derde keer wat ek dit sien, maar het nog net nooit 'n resensensie daaroor geskryf nie. Dit is goeie familie vermaak. Saam met die hele familie, insluitend Pa Harm en Ma Lenie, in Bloemfontein op hulle DSTV.

X-Men Origins: Wolverine - 8/10


X-Men Origins: Wolverine is baie goed vir die genre - dit het 'n kompleks genoeg storielyn, die karakters is baie geloofwaardig, en die aksie is nie te bloederig nie. Die spesiale effekte is ook nie steurend nie. Ek is nie 'n vreeslike Hugh Jackman aanhanger nie, veral nie na Australia nie, maar in hierdie fliek pas hy baie goed. Dit is die meer denkende superheld fliek, soos byvoorbeel die Hulk met Eric Bana. Dit is ook heelwat beter as die eerste twee uitgawes. Dit werk op DVD. Saam met Bella op die bank.

Monday, September 21, 2009

The Day the Earth Stood Still - 3/10


Aag nee wat, dit is seker die slegste fliek wat een van my gunsteling aktrises nog gemaak het... Die storie is flou, die effekte is flou, alles is flou. Vermy maar eerder. Ek het boonop gedink die fliek handel oor die titel en nie verbeeldinglose, vervelige buitenruimse wesens nie.... Saam met Bella op die bank.

Wednesday, September 16, 2009

Phoebe in Wonderland - 7/10


Phoebe in Wonderland is nogals 'n moeilike een om iets oor te skryf. Aanvanklik lyk die familie so bietjie disfunksioneel, maar dan besef mens tog later dit is nie so nie. Die fliek is uiters goed gemaak, met briljante vertolkings van omtrent al die akteurs, insluitend al die kinders. Dit is egter Phoebe en die Koningin van Harte wat uitstaan bo die res. Ek sou reken die Oscar beoordeelaars gaan 'n moeilike tyd he^ om beste ondersteunende rol te bepaal...Ek moet se^ dat die kinderakteurs uiters moeilike rolle met skynbare gemak vertolk. Die fliek is dalk ietwat bokant my emosionele intelligensie, maar dit bly egter 'n goeie fliek om te kyk. Dit is beslis die moeite werd om te kyk, veral vir iemand wat van so bietjie meer om die lyf hou. Verskeie temas word ook aangespreek, waarvan eksistensialisme, kinders-grootmaak en Touret se Sindroom beslis drie is. Saam met Bella op die bank.

Sunday, September 13, 2009

Zack and Miri Make a Porno - 4/10


Hmmm, ja, ek dink Seth Rogen begin te veel soos Jack Black word - hy is soms snaaks, maar net te irriterend in sy poging om die Hollywood-idee van 'n held te probeer omverwerp. Zack and Miri Make a Porno probeer 'n alternatiewe tjiekfkliek te wees, maar slaag nie regtig nie - die liefdesverhaaltjie is daar, alhoewel dunnerig, en met soveel kru taal dat dit maar nie lekker is om te kyk nie. Die seks en naaktonele is te min en onopvallend dat dit sal pla. Selfs die titel se blaf is baie erger as sy byt. Dit is net die baie vloek wat naderhand nie meer snaaks is nie. Mens kan so fliek baie meer stylvol maak, en steeds anders wees. Saam met Bella op die bank. Vermy maar eerder.

Shark Tale - 5/10


Redelike kykbare fliekie met baie gewilde akteurs se stemme. Shark Tale is darem 'n kinderfliek met 'n boonste lagie vir die grootmense...Saam met die familie op die bank. Dit is ook 'n DVD wat die kinders besit. Moet se^ dat De Niro nogals goed is, en dat die hy so wraggies nes hy lyk!

Monday, September 7, 2009

Flash of Genius - 5/10


'n Heel aanvaarbare film oor Dr Kearns, die uitvinder van die "intermittent wiper" aksie. Hy het hom vrek gesukkel om erken te word. Greg Kinnear is nie te sleg as 'n regte ingenieur nie, en speel heel geloofwaardig. Hierdie is 'n redelike Sondagaand fliekie, wat maar redelik gou vergete sal wees. Saam met Bella op die bank.

Saturday, September 5, 2009

Watchmen - 8/10

Watchmen is visueel een van die bestes wat ek nog gesien het - die tonele spring as't ware uit die skerm uit. Die storielyn is kompleks genoeg, en die karakters geloofwaardig in hul rolle. Hierdie is egter nie jou standaard superheld film nie, en moet ook nie verwag dat hulle sonder foute is nie. Dit volg ook nie die gewone humor pad nie, alhoewel daar genoeg dialoog is wat mens seker as humor kan beskou. Daar word ook seker 'n paar eksistensiele temas aangespreek, veral na die einde waar die blouman, oftewel Dr Manhatten, 'n opoffering maak ten einde die mensdom teen homself te red. Hy het dit egter nie vrywillig gedoen van die begin af nie, maar is eerder daarin in-getruuk. Aan te beveel vir die ou wat so bietjie meer as spiere van sy superhelde verwag, en wat soos Hancock maar 'n paar slegte geraamtes in die kas het. Die fliek sal die meer onderskeidende teaterganger beloon met sterk visuele vertoon, 'n goeie storielyn en 'n paar taai temas om aan te herkou. So terloops, hierdie gaan nie lekker op 'n klein skermpie werk nie. Saam met Bella op die bank.

Hotel for Dogs - 5/10


Hotel for Dogs is maar 'n doodgewone kinderfliekie, met nie eintlik 'n boodskap vir die ouers nie. Dit het ook nie 'n gelaagde dialoog poging nie. Die kinders geniet dit egter baie.