Tuesday, September 25, 2012

To Rome with Love - 6/10

To Rome with Love is 'n lawwe komedie, dalk met net te veel oordrywing. Wat ek oor wonder is wie gaan hierdie tipe flieks so lekker maak as wat Mnr Allen dit kan doen? Iets wat in al sy films uitstaan, is dat die milieu 'n properse karakter word, en veral die groot stede. Net hy kan met hierdie tipe lawwigheid wegkom... ai. Saam met Bella in die teater terwyl die bloedjies swoeg aan die St Paulus 50ste konsert. En dan vir nagereg, 'n ietwat teleurstellende ete by Ciao's in Brooklyn

The Romantics - 3/10

The Romantics is een van die verveligste tjiekflieks wat ek al in 'n lank ruk gesien het. Dit kom net nie aan die gang nie. Miskien mis ek die nuwe generasie van akteurs. Wetie, maar vermy dalk eerder. Gaap. Saam met Bella op die bank. 

Battleship - 4/10

Battleship is nie die beste wetenskapfiksie nie, maar steeds heel kykbaar. Moet nie baie komplekse redes verwag vir hoekom die buitenruimse wesens verslaan word nie... Regte Hollywood sentiment. Saam met die manne op die bank (Bella reken hierdie is net te erg ;-). 

Monday, September 10, 2012

How to Seduce Difficult Women - 3/10

Interessante konsep, maar How to Seduce Difficult Women maak nie gebruik van al die moontlike potensiaal nie. Dit is ietwat kykbaar, met 'n oomblik of wat. Saam met Bella op die bank. 

Die Wonderwerker - 10/10

Die Afrikaanse filmbedryf het met Die Wonderwerker bewys dat dit net sulke uithaler flieks kan maak soos die res van die wereld. Die film het nou wel nie 'n IMDB inskrywing nie, maar is darem op YouTube en Wikipedia. Die vertolkings is uit die boonste rakke, met die jong meisie se rol dalk so ietwat geforseerd. Dit ten spyt, met die pragtige fotografie, en die feit dat dit 'n se^d-se^d lovestory/periode drama is, maak hierdie fliek toeganklik. Die komiese elemente van ons ou boerenasie tussendeur maak dit nog meer so. Ek sou hierdie as moderne Afrikana beskou, en moet beslis nie misgeloop word nie, selfs nie deur stoere boere omies nie. Marais was beslis sy tyd vooruit. Hoogs aan te beveel, selfs vir die rooinekke onder ons, want daar is baie interessante vertalings vir moer, gat, en so aan... Saam met Bella in die Brooklyn teater. 

O koud is die windjie
en skraal,
en blink in die doflig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.
O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
Soos die lied van ’n meisie
In haar liefde verlaat.
In elk’ grashalm se vou
blink ’n druppel van dou,
en spoedig verbleek dit
tot ryp in die kou!

Sunday, September 2, 2012

The Hunger Games - 8/10

The Hunger Games skep 'n ongemak met die samelewing se skynbare demokratiese benaderings. Alhoewel die film in toekoms afspeel, maak dit heelwat kommentaar op hedendaagse tendense. Die fliek beeld dan ook realiteits televisie op steroides uit. Die vertolkings is puik en in die eerste helfte bou daar 'n senuagtige spanningslyn op wat vir niks skrik nie. Mens voel amper dieselfde as die verkose deelnemers, bewerig van bangeit. Die verfilming neig hier en daar na die kamera-skud tegniek, maar is nie te erg nie. Saam met Bella op die bank. 

Wuthering Heights - 8/10

Kyk, as jy van wroeg hou is die nuutste weergawe van Wuthering Heights beslis jou kos. Die eerste helfte van die fliek is dalk bietjie stadig (in 'n reeds stadige fliek), met die tweede helfte heel beter. Die fotografie is gepas en goed, maar die in-jou-gesig-ruk-beweging-kamera-tegniek raak net te veel. Dit is dan 'n baie sterk metafoor vir diepe grond, onder draai die duiwel rond emosies in die film. Die naby skote is so erg dat mens amper verlore in die fliek voel, wat dan die tweede metafoor inlei. Die derde metafoor is in die vorm van die weer, en die vierde in die vorm van die milieu. Daar is verskeie meer om die pyn, smart en leiding van arme Heathcliff uit te beeld. Die vertolkings is almal puik, en die keuse van akteurs perfek. Kyk gerus, maar wees gewaarsku, net vir die met dubbel-sterk konstitusies onder ons, en wat volbloed kunsfilms kan waardeer. Ek is bly ek het hierdie nie in 'n groot teater gesien nie, dit sal mens amper seesiek van emosies laat. Saam met Bella op die bank, en nogals op 'n Vrydagaand.

The Avengers - 6/10

The Avengers is heel kykbaar, met die laaste vegtonele bietjie uitgerek. Van die goed het net te fantastiese vermoeens, maar nou ja, dit is seker gepas vir die tipe fliek. Baie goeie waarde vir geld want amper al die superhelde is daarin, behalwe Superman en kie. Saam met die familie op die bank.

Dollhouse - 5/10

Dollhouse is nie komiese vermaak nie, maar ook nie te sleg nie. Die eerste eposide of wat lyk belowend. Reeks was heel goed om te kyk, maar die laaste episode van seisoen 1 maak glad nie sin nie... Saam met Bella op die bank.