Sunday, May 30, 2010

Whip It - 6/10

Whip It is 'n lekker ligte tienerfliek. Ellen Page is besig om 'n goeie aktrise in eie reg te word, en stel nie in hierdie rol teleur nie, alhoewel dit nou nie so 'n kragvertoning as in van haar ander films is nie. Die fliek beweeg lekker vinnig en is heel kykbaar, selfs vir grootmense. Saam met Bella op die bank.

Monday, May 24, 2010

Whatever Works - 6/10

Whatever Works is nie Woody se beste tot dusver nie, maar beslis 'n lekker ligte komedie, alhoewel donker, vir 'n DVD. Rachel Evan Woods speel 'n baie oortuigende rol. Wees egter gewaarsku, hierdie fliek het nie ou koeie oor geloof en die oorsprong daarvan nie. Die fliek mag dalk heel vervelig wees vir die non-Woody fliekganger. Saam met Bella op die bank. 

Saturday, May 22, 2010

An Education - 7/10

An Education is nie 'n swaar of ligte fliek nie - mens kan dit seker as 'n ligte drama klassifiseer. Wat dit baie laat uitstaan is die puik vertolkings van al die karakters. Die rolle is geloofwaardig en ontwikkeling word goed gebruik. Dit is ou Alfred Molina wat besonders goed speel in sy rol as 'n baie beskermende vader. Alhoewel ek die fliek dalk nie vir 'n Vrydagaand sal aanbeveel nie, het ek en Bella dit steeds baie geniet op DVD, op 'n Vrydagaaand. Kyk gerus, maar moet nie baie aksie verwag nie. 

Robin Hood (2010) - 6/10

Ek het dalk te veel verwag van Ridley Scott se poging to Robin Hood. Alhoewel die storie redelik interessant is - dit vertel die verhaal tot net voor die begin van die bekende storie - is daar vir my te veel en te lang gevegstonele. Vir iemand wat daarvan hou, sal dit waarskynlik 'n baie goeie film dan wees. Mens kan egter net soveel keer kyk hoe 'n ou met 'n swaard iemand oorwin, en nie self omkom nie. Wat egter nogals goed was, ook in die gevegstonele, was die pyl-en-boog werk. Daar is klein bietjie humor in die fliek, wat oorwegend probeer om 'n drama te wees. Die visuele aspekte van die fliek staan baie uit - dit skep 'n baie geloofwaardige prentjie van die era en milieu. Die toneelspel is goed, en al is Cate nie die mooiste Marian nie, bly sy een van die beter aktrises. Saam met Francois in die teater.  

Sunday, May 16, 2010

Old Dogs - 7/10

Old Dogs is beslis een van die beter flieks in die genre. Alhoewel dit steeds die gewone resep volg, is die fisiese humor daarin skreeusnaaks. Veral die eerste toneel met die pille verwarring het my op die grond laat kruip van die lag. Ons hele familie het dit geniet, en selfs die volgende oggend nog gelag oor van die tonele. Robin en John pas baie goed in hierdie familie komedie. Saam met die hele familie op die bank. 

Where the Wild Things Are - 6/10

Where the Wild Things Are is beslis nie 'n familie of kinderfliek soos wat die DVD kassie voorgee nie. Dit is 'n ietwat ontstellende fliek, met baie ondertone. Die grootkop karakters dra 'n baie melankoliese toon tot die fliek by. Die stadige, rustige dialoog is in skerp teenstelling met die sterk emosies wat die jong seunskarakter beleef. Die film is baie goed gemaak, en weerspieel die fantasiewereld van die hoofkarakter. Saam met Franko en Anrich op die bank. Bella het eers die volgende oggend kon kyk. 

All About Steve - 5/10

All About Steve is nie die beste fliek wat Sandra Bullock al gemaak het nie, maar is darem heel kykbaar. Dit volg die gewone ou reseppie, maar het darem 'n snaakse toneel of wat. Saam met Bella op die bank.

Wednesday, May 12, 2010

Love Happens - 5/10

Love Happens is 'n redelike gemiddelde fliekie, wat so tussen tjiekfliek en ligte drama val. Dit is heel kykbaar, en Jen maak dit die moeite werd.... Saam met Francois in die teater.

Sunday, May 2, 2010

The Good Girl - 6/10

The Good Girl is 'n ietwat stadige, taamlik offbeat (aweregse?) komedie. Jennifer doen nogals goed in die hoofrol, en anders as Uma in Motherhood, het sy nie dieselfde probleem as 'n te seksie aktrise wat 'n afgesloofde rol speel nie. Die rolle in die film is ietwat ekstreem, veral die rol wat Reilly vertolk, en Jen toon darem vir jou staalsterk selfbeheersing. Bella het nogals van die fliek gehou. Ek sou reken dit is die denkende tjiek se fliek hierdie. Daar is heelwat tonele wat mens na die tyd weer byval, en ook 'n paar heel snaakses. Saam met Bella op die bank. Ons het hierdie, toe eerder as Zombieland gekyk. 

Saturday, May 1, 2010

Iron Man 2 - 6/10

Iron Man 2 is 'n gemiddelde opvolg fliek, maar wat tog in 'n sekere mate vir my dalk selfs beter as die eerste een is. Dit het korter skiet-slaan-en-d*nder tonele, en so bietjie meer dialoog. Ek het nogals gehou van Dr Fury, en die kick-ass rol wat Scarlett speel is darem net te lekker. Dit was baie jammer dat Hulk nie verskyn het, soos aan die einde van die eerste fliek gewus is nie... Saam met Franko en Anrich in die teater op 'n Vrydagaand! En, flip, toe is die dem airkon weer stukkend....ai.