Sunday, September 29, 2019

Astronaut - 5/10

Astronaut is 'n gemiddelde ligte drama met 'n aks sentiment bygemeng. Dit is Sondagaand materiaal met 'n dosis goed-voel daarby, veral oor oudword. Saam met Bella op die Bank.

Friday, September 27, 2019

Fast & Furious Presents: Hobbs & Shaw - 5/10

Fast & Furious Presents: Hobbs & Shaw is nie Fast & Furious nie, eerder 'n splinterfilm wat eintlik niks met die oorspronklike franchise te doen het nie. Dit is regte Vrydagaand Hollywood stapel, breinlose springmielies. Kyk as jy wil ontspan. Saam met Bella en Anrich op die Bank.



Thursday, September 26, 2019

Downton Abbey (Die fliek) - 10/10

Kyk, as jy Downton Abbey die reeks enigsins gevolg en geniet het, is die fliek, Downton Abbey, 'n absolute noodsaaklikheid, met die bonus dat dit waarskynlik die beste episode ooit is. Dit is miskien dalk 'n skare trooster, maar kyk liplekker. Die ou moeilike tante is op haar stukke, met die beste se^ding ooit: I do not argue, I only explain! Kyk beslis ook op die groot doek, die klere en kleure bly asemrowend. Saam met Bella by die tjeepfliek premie^re waarvoor ons beide in kostuum was.



Tuesday, September 24, 2019

Ophelia - 8/10

Ek is seker ou Willem Wikkelspies sou Ophelia se storie dieselfde vertel het as hierdie splinter film van Hamlet. Die rolverdeling is sterk en gepas, die milieu en periode voel so eg soos 'n Engelse roos met ryke kleure, klere en stelinkleding. Die verhaal is net kompleks genoeg om oortuigend te wees, met die verwagte tragedie elemente. Besliste conniosseur materiaal uit die boonste rakke. Saam met Bella op die Bank.
 

Monday, September 23, 2019

Louis & Luca - Mission to the Moon - 6/10

Alhoewel Louis & Luca - Mission to the Moon vriesraam animasie (stop motion) is, is dit alles behalwe kindermateriaal. Ongelukkig bewys dit ook dat humor en komedie nie kultuur agnosties is nie. Wat waarskynlik skreeusnaaks vir 'n Noorwee"r is, voel ietwat ongemaklik vir 'n Suid Afrikaner en vice versa. Daar is egter 'n oormaat van sosialse, ekonomiese, internasionale politiek, burokrasie en wetenskaplike (veral pseudo wetenskap) kommentaar sonder blik of bloos. Die draak (of heilige koetjies) word amper dood gesteek hierso. Die fliekie kyk nie baie maklik nie, moet dus nog die tweede helfte klaarmaak. Saam met Bella op die Bank, Franko en Anrich het redelike gou die aftog geblaas. 

Saturday, September 21, 2019

The Keeper (2018) - 7/10

The Keeper bly oortuigend as film al is dit biografies. Dit bevestig die onregverdigheid van bevooroordeelheid, en mense se onvermoe" om te vergewe en vergeet. Maar daar is tog hoop, veral as jy een van die beste doelvangers is wat jou span help wen. Dit vertel ook die verhaal van iemand wat vasbyt ten spyte van omtrent alles wat daarteen is, ekstern en intern. Die film is nie stroperig of seentimenteel nie, beslis die kyk werd. Ek sou reken kunsfliekmateriaal wat die hoofstroom met gemak kan aandurf. Saam met Bella op die Bank.

Friday, September 20, 2019

Spider-Man: Far from Home - 7/10

Spider-Man: Far from Home is vir 'n slag 'n vars benadering op die bekeende superheld en sy genre. Dit is meer tong in die kies, gepas vir die ouderdom wat hy moet wees volgens die strokiesprente. Dit het glad nie daardie donker gevoel nie, met die antagonis(te) die keer interessant in uitsoek Europese stede as milieu. Selfs die titel steek die draak met die vorige uitgawe. Maak seker om die ekstra tonele mid en einde krediete te kyk. Ideale Vrydagaand materiaal. Saam met Bella en Anrich op die Bank. 

Sunday, September 15, 2019

Carnival Row, Seisoen 1 - 6/10

Carnival Row lyk belowend, met 'n donker ondertoon, maar sterk rolverdeling. Die grafika is realisties-oortuigend. Dit is 'n fantiese milieu maar met die gewone politiek en rampokkery. Saam met Bella op die Bank.


Saturday, September 14, 2019

Vita & Virginia - 5/10

Vita & Virginia is 'n fliek van vele woorde, in tipiese verhoogstyl. Dit eindig vir my te stomp gegewe die hoeveelheid detail geborduur rondom die opspraakwekkende verhouding. Meer bedoel vir die geharde kunsfliekganger. Saam met Bella op die Bank.


Friday, September 13, 2019

Dark Phoenix - 5/10

Dark Phoenix is redelike Vrydagaand materiaal. Dit tref 'n balans tussen storie, vegtonele en dialoog. Die grafika is hier en daar dalk so bietjie oordoen. Saam met Bella op die Bank, die manne wou nie kyk nie. 

Friday, September 6, 2019

Yves Saint Laurent - 6/10

Yves Saint Laurent is pure kunskring materiaal met puik vertolkings, uistaande kostuumwerk en verleidelike milieu. Kyk met 'n oopkop en sonder vooroordeel. Dit voel lank en beweeg maar stadig soos te verwagte. Ons moes dit ook in twee paaimente kyk, ek het met die eerste een aan die slaap geraak... Saam met Bella op die Bank.
  

Godzilla: King of the Monsters - 4/10

Godzilla: King of the Monsters het indrukwekkende grafika en skale, maar hierdie uitgawe stel nie heeltemal te vrede nie. Dit voel pap en met te veel vals hart. Die karakters neem hulsef net te ernstig op - kies humor of gril of skrik, nie skyn emosie nie. Saam met Bella en Anrich op die bank.