Saturday, June 29, 2013

Quartet - 7/10

Ai, dit is Brittanje op sy beste - die landgoed is verby romanties-mooi, die humor Brits, en die fliekie lekker lig met 'n fyn onderliggende tema. Kyk gerus as jy bang voel vir oudword, dit is belis nie vir sissies nie. Saam met Bella op die bank. 

Iron Man Three 2D - 7/10

Hierdie uitgawe van Iron Man is vir my minder gefokus op die Iron Man pak, ja daar is nuwe truuks, en meer op die ou in die pak. Dit het nog steeds lekker gekyk en is een van die beter superhero flieks. Die korteres van die kortvolk mag dit dalk nie so baie geniet nie, dit is minder op hulle vlak gemik. Saam met die familie in die Kolonnade teater.  

Sunday, June 23, 2013

Verraaiers - 7/10

Verraaiers is beslis nie ligte materiaal nie, en wys 'n ander hoek van wat ons op skool geleer het. Dit is goed gemaak, 'n getroue periode drame, met goeie vertolkings. Kyk gerus, maar vat so bietjie versterkdruppels, kasterolie of mampoer vooraf. Saam met Bella en Ma Lenie op die bank. 

Saturday, June 22, 2013

Playing for Keeps - 4/10

Playing for Keeps is beslis 'n tjiekfliek en net daai bietjie te veel so vir die manne om te geniet... Saam met Bella op die bank. 

Sophie and Sheba - 5/10

Sophie and Sheba is 'n aks onder die gemiddeld, maar dalk redelik vir sy genre. Kyk gerus saam met die jonger familie lede. Dalk meer van 'n tjiekfliek as iets anders. Die fliekie het ook die gepaste lessie of twee daarby en is boonop gemaak vir bewustheid rondom die bewaring van olifante. Saam met die familie en Ouma Lenie op die bank.

Wednesday, June 12, 2013

Bel Ami - 4/10

Aagnee, wat 'n teleurstelling is Bel Ami nie. Hollywood kry sekere periode dramas net nie reg nie. Die spel is geforseerd en nie regtig gepas vir die tyd nie. Probeer maar, maar wees gewaarsku. Saam met Bella op die bank. 

Here Comes the Boom - 5/10

Here Comes the Boom is gewone Hollywood stapel met 'n onderliggende, dun boodskappie. My tienerman het dit redelik geniet. Kyk as jy breinloos voel. Saam met die Familie en Luca op die bank. 

Cloud Atlas - 7/10

Voor ek dit geweet het, het ek die heeltyd gewonder dat Cloud Atlas eintlik Matrix Transcendent moes gewees het. G'n wonder, ook gemaak deur die een Wachowski broer. Die film is baie lank, maar beweeg goed genoeg dat dit nie regtig pla nie. Lekker kyk wetenskapfiksie. Probeer gerus, maar moet nie te intellektuele fiksie verwag nie. Saam met Bella op die bank. 

Tuesday, June 11, 2013

Parental Guidance - 5/10

Parental Guidance is 'n tipiese Hollywood fliekie met 'n lessie daarby. Tog heel kykbaar, met 'n paar komiese tonele wat redelik slaag. Moenie te veel verwag nie. Saam met die gesin op die bank. 

Sunday, June 2, 2013

Delicacy - 5/10

Delicacy, oftewel La délicatesse is 'n getroue Franse fliek met Engelse onderskrifte. Wel, daar is onderskrifte maar dit lyk asof 'n Sjinees dalk 'n hand daarin kon gehad het. Engrish-agtig. Ek was dalk so bietjie moeg vir hierdie oukie, so het 'n goeie paar uiltjies in die tweede helfte geknip. Soet storietjie. Saam met Bella op die bank. 

Arrow, Seisoen 1 - 4/10

Arrow lyk heel kykbaar maar ons het nog nie verby episode 1 kon beweeg nie... Daar is 'n ander paar reekse wat nou eers meer interessant lyk. 

Saturday, June 1, 2013

Revenge, Seisoen 1 tot 3 - 5/10

Revenge lyk nie te sleg nie, dalk so skalkse neiging om 'n sepie te probeer wees. Sal dit nog so paar episodes kans gee (Seisoen 1). Hou gerus maar verby vanaf Seisoen 3, raak dan 'n volbloed sepie waar almal saam met almal geslaap het, en mense vanuit die dode weer verskyn...

Operation Dumbo Drop - 5/10

Operation Dumbo Drop is 'n ligte fliekie in die lyn van Down Periscope en Pentagon Wars. Dit het so ietwat minder humor, maar het steeds 'n paar snaakse tonele. Die twee manne het lekker saam gekyk. Saam met die familie op die bank.