Monday, July 30, 2018

Off the Menu - 4/10

Gits, al wat Off the Menu red is die kleurvolle Meksikaanse kombuis en restaurantjie. Erg voorspelbaar met rostvaste cliche's regdeur, selfs aan die einde met die driekamp reddingspoging... Maar dit is heel ontspanne vermaak met geen gekruide taal of tonele nie, kyk maklik en laat mens glimlag en goed voel oor die lewe en die kos en wat mens nog alles wil gaan doen. Ai. Saam met Nie die mees oortuigende vertolkings nie, behalwe dalk vir die klein meisietjie. Bella op die bank.

Castle Rock, Seisoen 1 - 7/10

Castle Rock is genoegsaam onheilspellend met 'n komplekse milieu, karakterontwikkeling en gepaste rolverdeling. Die eerste episode maak dubbelseker mens wil graag die res sien, net om te verstaan wat gaan hier aan.... Dit is heeltemal iets anders as wat ek verwag het, maar dit maak nie meer saak nie. Saam met Bella op die bank.


Saturday, July 28, 2018

Snowden - 6/10

Snowden voel so ietwat soos 'n dokumenter, maar volg dan werklike gebeure meer akkuraat. Mens weet nie regtig wie of wat jy kan glo nie, selfs al kan mens in retrospek terugkyk op Wikipedia na die hele petalje. Beslis die kyk werd, moet net nie te veel vermaak verwag nie, behalwe dalk vir 'n sekstoneel of so. Sterk rolverdeling en vertolkings. Saam met Bella op die bank.


Monday, July 23, 2018

Room in Rome - 5/10

Het Room in Rome in Nanjing gekyk (maar 'n jaar vroeer datum opsetlik verkeerd gestel). Nie helemal erotiek nie, en so bietjie puntloos (woordspelling bedoeld). Dit voel net te onskuldig en naief. Die dames mag egter wel sonder klere vertog, wat hulle amper in elk geval die hele fliek lank doen. Die (dialoog) vertolkings is nie oortuigend nie, dalk die fisiese vertolkings meer. 


Saturday, July 21, 2018

Billionaire Boys Club - 5/10

The Billionaire Boys Club is een van daai flieks wat net-net goed genoeg is sodat mens nie ophou kyk nie, en dan as jy dit klaar gekyk het, tot die besef kom dat mens nou wel nie trane sou huil as mens dit nie gesien het nie. Dit versterk egter weereens die feit dat gierigheid wel 'n doodsonde is, en waarskynlik die oorsprong van alles onhuil is. Wat dit nog meer so maak is dat die fliek op ware gebeure gebaseer is, maar met die verstaan dat die ware gebuere nooit regtig na bowe sal kom nie. Saam met Bella op die bank.


Isle of Dogs - 8/10

Ek het lanklaas so iets kreatiefs as Isle of Dogs gesien. Dit vertel 'n eenvoudige lyn met kurkdroe" humor en aanskoulike animasie. Die stemwerk is uitstekend met 'n sterbelaaide rolverdeling. Die grafika, milieu, onderspeelde humor met baie verteekte kwinkslae, kyke en nimlike karakters maak hierdie absoluut die moeite werd om te kyk. Dit is 'n veelvlakkige film, maar sonder om dit weg te steek. Kyk gerus as jy vir iets alternatief lus is. Saam met Anrich en Bella op die bank. 

Thursday, July 19, 2018

Mamma Mia! Here We Go Again - 8/10

Mamma Mia! Here We Go Again is beslis die moeite werd, veral as mens ABBA fe^ns is. Die lyn is lig, die musiek wikkelend, en die milieu droom-romanties. Die rolverdeling werk, al kan mens al die poly-filla sien op die ouer garde. Hierdie slag het ek en Bella dit as premiere gesien by Zambezi Mall



Monday, July 16, 2018

Strange Angel, Seisoen 1 - 6/10

Strange Angel skep 'n vreemde situasie wat seker in lyn met die geskiedenis is. Sal nog so episode of wat kyk. Saam met Bella op die bank.



Sunday, July 15, 2018

The Female Brain - 7/10

Ek het The Female Brain se formaat baie geniet - die ondersteunde grafika en uittreksels dra sterk hiertoe by. Daar is verskeie snaakse tonele, met 'n hele paar wat uitstaan. Die fliek kom klinies voor, maar in hierdie geval werk dit effektief. En dit voel of mens so iets oor die mees komplekste enigma in die heelal leer. Saam met Bella op die bank.



All the Money in the World - 7/10

All the Money in the World is eintlik maar onstellend oor verskeie redes, baie geld, swak verhoudings, slegte ouers, slegte mense, gierigheid en al die res van die sewe doodsondes. Puik periode drama, uitstaande rolverdeling en vertolkings, en dan, soos verwag, ware gebeure. Mens kan net wonder wat is interpretasie en wat is feit. Saam met Bella op die bank.


Blockers - 4/10

Blockers is totaal oordrewe, laf, oppervlakkig, ligsinnig en vol toilethumor. Maar dit bly snaaks, en mens kan nie anders as om die gemors klaar te verorber soos 'n goedkoop wegneem pizza nie. Saam met Bella op die bank.


Mary Shelley - 8/10

Gits, Mary Shelley het vir altyd Frankenstein vir my verander. Dit is beslis 'n veelvlakkige stuk, maar in hierdie gedaante, toegepas op verhoudings het die rilfaktor so paar akse opgeskuif... Beslis gepaste materiaal vir huweliksberaders. Mary Shelley handel nie per se oor Frankenstein nie, maar oor hoe dit geskep is en onder watter omstandighede, en wat eintlik die bronmateriaal daarvoor was. Percy Bysshe Shelley se Ozymandias het hom op 'n voetstuk gesit vir my as jong student, maar hier leer mens dat hy werklik voete van klei gehad het. Shelley, en Lord Byron het mens byna laat dink aan gode, maar dan die koue realiteit, Frankenstein handel eintlik oor gefaalde verhoudings - die skep van 'n monster wat jy dan nie liefhet nie - en dat hulle die bronmateriaal was! Sal beslis anders kyk na enige Frankenstein fliek! Saam met Bella op die bank.

Captain Phillips - 8/10

Captain Phillips hou mens op die punt van jou sitplek al weet mens wat die uiteinde is. Dit besvestig ook dat mense byna enige iets sal doen ter wille van geld. Dit is uitstekend vervaardig met krag vertolkings. 'n Groot verassing is die amper totale afwesigheid van gekruide taal. Saam met Bella op die bank.
    

Finding Your Feet - 8/10

Finding Your Feet is 'n weggesteekte juweeltjie. Dit handel oor 'n onafwendbare tema, ouderdom, en hoe mens kies om dit te aanvaar. Die film hanteer dit sag genoeg, maar bevestig die onontsnapbaarheid van al die skete en pyne. Kyk gerus, maar weet dat dit nie 'n en-hulle-lewe-vir-ewig-daarna-gelukkig einde het nie... Saam met Bella op die bank.


Ready Player One - 8/10

Ready Player One handhaaf 'n vinnige pas, met heelwat kreatiwiteit en kwinkslae ingemeng. Mens moet nogal kophou en mooi luister om al die skerp verwysgngs te besef. Die tema is nie iets nuuts nie, maar die interpretasie maak hierdie fliek meer as die moeite werd, selfs al is mens nie 'n ernstige rekenaarspeletjie speler nie. Saam met die familie op die bank.

Atomic Blonde - 7/10

Atomic Blonde is 'n gestyleerde spioen-spioen fliekie. Koue, donker tonele, met 'n baie grou kleur. Perfekte Saterdagaand materiaal. Saam met Bella op die bank.

Wednesday, July 11, 2018

Incredibles 2 - 8/10

Dit gebeur min, maar Incredibles 2 is heelwat beter as die eerste uitgawe. Die konstante humor maak hierdie absoluut die moeite werd. Jonk en oud sal dit geniet. Saam met die familie by Capitol Cinemas


Monday, July 9, 2018

Rampage - 5/10

Rampage is tipiese Hollywood stapel, gewone reseppie, maar steeds redelike, breinlose vermaak vir 'n lam Vrydagaand. Dit kon nog snaakser gewees het, sou nie afbreek doen aan die skyn erns nie.... Saam met die familie op die bank.


Sunday, July 8, 2018

Mary Magdalene - 6/10

Mary Magdalene is meer 'n kunsfliek as wat dit 'n Bybelfliek is - lang skote sonder dialoog, stadige pas, maar tog met die Boodskap. Die rolverdeling kon waarskynlik beter gewees het. Saam met Bella op die bank.

Thursday, July 5, 2018

Set It Up - 0/10

Set It Up begin net te flou, geforseerd en oppervlakkig. Dit is nie die tyd werd nie. Na sowat 10 minute moes dit net stop.... Saam met Bella op die bank.


The Miniaturist, Minireeks - 7/10

The Miniaturist is 'n twee episode reeks wat mens as 'n fliek kan kyk. Die styl, stel, stelinkleding, kostuumwerk en kamera-perspektief laat mens voel asof jy in een van die indrukwekkende poppehuise is. Die lyn is boeiend, die karakters meer as gepas vertolk en die rolverdeling perfek. Hierdie is nie 'n gewone reeksie nie, en het so aks fantasie ingement. Saam met Bella op die bank.


Sunday, July 1, 2018

The Catcher Was a Spy - 6/10

The Catcher Was a Spy is 'n filmpie wat mens so geskiedenisles of wat leer. Voldoende vertolkings, redelike periode drama, nie sentimenteel nie, en 'n gepaste rolverdeling. Die akteurs doen heel goed om die verskillende kulture en aksente te vermag. Nie 'n angswekkende pas of spanningslyn nie, net gemaklik om nie te verveel nie. Kyk gerus op 'n Sondagaand, dit voel amper soos 'n dokumenter.... Saam met Bella op die bank.