Sunday, December 7, 2014

Scorpion, Seisoen 1 - 4/10


Ek weet nie, maar siende dat die slimste ou in die wereld, of ten minste die een met die hoogste IK, hierdie self vervaardig het, het hy gedink dat hy beter as almal weet as dit by TV reekse kom? Maar 'n verflouing van Leverage en verskeie ander reekse. Nee wat, vermy dalk eerder. En wat my verder laat wonder is dat O'Brien eerder in die regte lewe soos die uber-nerd in die rolverdeling lyk, as die hoofkarakter... Saam met Bella op die bank. 


Saturday, December 6, 2014

The Other Woman - 4/10

Het The Other Woman op SA 7241 (Eintlik Swiss Air) oppad na Zurich gekyk. Baie clicherig, onder-die-belt by tye, maar tog met stukke wat my laat stik het van die lag op die beknopte vliegtuig. 



Boyhood - 6/10

Wel, as een van die elemente van 'n kunsfliek die vermoee" is om alledaagse lewe op 'n aangrypende, interessante of alternatiewe wyse uit te beeld, kry Boyhood redelik baie daarvan reg, deur 12 werklike jare van verloop in 3 ure te verpak. Die progressie van ouderdom, en alles wat daarmee saamgaan, maak hierdie fliek redelik uniek. Die natuurlike gevoel van  karakterontwikkeling skep heeltemal 'n ander dimensie, iets wat dalk nie voorheen moontlik was nie. Baie geduld, dissipline en vasberadenheid het hier betaal. Kyk gerus, maar wees gewaarsku, gewone lewens en probleme, op gewone tydskale en intensie uitgedruk. Die fliek was so lank, moes dit in twee paaiemente kyk! Saam met Bella op die bank, maal twee. 


Predestination - 6/10

In Predestination moet mens beter kophou as 'n dronk weeluis. Die film het baie stylvolle periode voorstellings as gevolg van die tydreise, met 'n taamlike verstrengelde tydlyn. Op die ou einde kom alles neer tot jy is jou Oupa, ook beter bekend as die hoender en eier geval. Vir laasgenoemde is die maklike antwoord, die hoender was 'n hen, en nie 'n haan nie... Nie seker of dit help nie. Kyk gerus, lekker Saterdagaand materiaal. Wees vars om alles te volg, dus te kompleks vir 'n pap Vrydagaand. Saam met Bella op die bank.

Manhattan, Seisoen 1 - 7/10

Manhattan het met 'n slag begin. Kyk net na die titelprent, Baie stylvolle periode drama, met een vreemde floute. Die klankbaan van die eerste episode was so raserig en onsamehangend ek het amper besluit om nie die res te kyk nie uit protes... Geen warmbloedige ingenieur of wetenskaplike kan bekostig om hierdie te mis nie. Saam met Bella op die bank. 

Lucy - 4/10

Aag nee wat! Lucy is nogals 'n groot teleurstelling. Dit staan duidelik uit, hierdie is pretensieuse, gekunstelde, kuns wetenskap fiksie, Die slottoneel is so 'n abrupte einde ek wou sommer. Die gebruik van beelde wat skynbaar alleswetenheid moet uitbeeld, wat nie regtig tot fliek bydrae nie, tesame met 'n baie vreemde tempo, amper staccato rukke-en-stote - amper meer 'n visuele gestotter sou mens kon se^, maak hierdie maar min lekker om te kyk. 'n Mors van geld, energie en tyd. Vermorste potensiaal. Ai. Saam met Bella op die bank.


Dawn of the Planet of the Apes - 7/10

Dit gebeur nie baie dat 'n opvolg beter as die eerste uitgawe is nie, maar Dawn of the Planet of the Apes het my nogals laat kyk, Goeie grafika, redelike geloofwaardige lyn, en gepaste vertolkings. Franko wou nie kyk nie, so met Bella en Anrich op die bank. 

The Hundred-Foot Journey - 7/10

The Hundred-Foot Journey is verfilm in 'n utopiese klein Franse dorpie. Dit is dalk so ietwat pretensieus, maar ek sal Lasse Hallström dit vergewe. Die kos proe hemels in mens se verbeelding, jou vimgers jeuk om te gaan kook as jy hierdie kyk. Hongerpyne slaan toe. Geure speel deur jou gedagtes, teksture proe werklik. Goeie vertolking - in eg Frans - van Madame Mirren. Kyk gerus, maar moet nie kyk as jy honger is nie. Saam met Bella op die bank.


And So It Goes - 5/10

Wat 'n reseppie volg And So It Goes nie! 'n Gerehabiliteerde seun wat 9 maande in die tronk moet gaan sit (vir iets waarvoor hy nie regtig skuldig is nie), wat 'n dogtertjie het, waarvan die ma nog erg aan Heroiene verslaaf is, 'n klein kompleksie van gesinne, waarvan een 'n polisieman is, en dan die buurvrou wat op 65 nog baie hups is, en 'n sangloopbaan begin het. Waar kan ek stop. O, en die groot herehuis op 'n Landgoed wat Zuma sal laat jaloers voel, en dan verkoop moet word, aan 'n jong gesin met 4 kinders en 'n pa wat vir $150m gekoop is deur een of ander sokkerklub. Ten spyte van dit alles kyk die fliek redelik maklik, is nie te swaar nie, boonop nog met clicherige vertolkings. Mooi musiek en 'n vintage cabriolet Mercedes verlei my dan om hierdie tjiekfliekie klaar te kyk. Saam met Bella op die bank.

Herculus - 4/10

Herculus se nuwe uitgawe kon soveel beter gewees het met die toegang tot tegnologie. Dit is maar verwater tot gewone Hollywood pulp. Dit is seker nie te sleg vir 'n Vrydagaand nie, en gepas vir 'n twee-ton gorilla sonder breins... Saam met die familie op die bank.


Planes 2: Fire & Rescue - 5/10

Planes 2: Fire & Rescue is maar net nog van dieselfde. Die storielyn kort so bietjie, dit het nie regtig 'n dubbelvlak humor lyn of so nie. Die jonger volk sal dit egter baie geniet. Saam met die familie op die bank..

Sunday, October 26, 2014

The Homesman - 6/10

Dit is baie moeilik om The Homesman te klassifiseer:
* Western
* Drama
* Komedie
* Spanningsriller
* Komedie!?
* Tragedie
* Blacklist?!
* Offbeat
* Kunsfliek

My beste opsomming sou 'n kunsfliek-Western-Tragedie wees. Jy sal hierdie moet kyk, enigeste manier om te weet of jy dit sal kan deursit en tog voel dit was die moeite werd om te kyk. Wees gewaarsku, so een of twee ontstellende sekwensies. Puik, Oscar-materiaal vertolkings van die twee hoofrolle. Stadige, dieper karakterontwikkeling. Beslis nie ligte vermaak nie. Saam met Bella op die bank.

The Longest Week - 6/10

The Longest Week is 'n moderne Woody Allen fliek. Maar wees gewaarsku, as jy van die styl hou wat hulle voorstel, ek praat nou van die milieu en die verleidelike New York en die woonstelle en die meubels en die karre en die horlosies en die wekkers en die kroegies en die mense en hulle motorfietsie, moet nie kyk nie, jy gaan net suur van jaloesie word. Alles drup van ougeld en styl. Ek sou ook dink New York kan gerus die Oscar vir beste ondersteunende rol hier losslaan. Kyk gerus, maar vermy as jy nie van ou Woody se styl gehou het nie. Die rolverdeling en vertolkings is perfek. Saam met Bella op die bank.



Friends with Money - 6/10

Friends with Money is maart net 'n kort studie van vermoeens om iets te doen. Die fliek het 'n baie rustige trant, en daar is nogals min (drama) aksie. Dit beeld redelik gewone lewens en konflikte uit, so beslis kunsfliek materiaal. Aniston se vertolking is net te een-dimensioneel om hierdie fliek die impak te kan gee wat dit kort en behoort te he^. Saam met Bella in Bloemfontein, tydens 'n kort kuier daar by Ouma Lenie en Franko se deelname aan die Clover Atletiekbyeenkoms.



Sex Tape - 3/10

Hmmm, die konsep het potensiaal, maar dit kort 'n spesiale behandeling om hierdie tema suksesvol te uit te beeld. Dalk sou dit beter gewerk het as 'n drama? Vermy dalk eerder, maar dan aan die ander kant, teen haar ouderdom, en seker baie plastiese sjirurgie, lyk Cameron nie te sleg nie. Daar is net te veel saai tonele en flouerige, clicherige humor. Saam met Bella op die bank. 

Chef - 7/10

Sjoe, mens will sommer opstaan en gaan kos maak en eet en lekker eet as jy Chef kyk. Sommer vroeg al in die fliek. Dit is 'n puik familie fliek, maar wat 'n teleurstelling, hulle vloek so daarin, dat ek regtig nie kans sien om dit saam as 'n familie te kyk nie. Dis baie jammer, want beide ons manne maak kos, en vir die res van die fliek is daar geen ander familie onvriendelike gedrag nie, inteendeel! Dalk dink die Amerikaners almal praat so!? Maar vir die kos, en die kosmaak, kyk beslis. Dit verhaal eindig dan ook bittersoet, en in die mees begeerlikste restaurantjie ooit! Saam met Bella op die bank. 

Saturday, October 11, 2014

Die Windpomp - 7/10

Die Windpomp is 'n baie onverwagse wetenskapfiksie fliekie, en boonop 'n bittersoet liefdesverhaal met komiese elemente. Laasgenoemde voel egter so ietwat geforseerd. Dit is dan ook 'n tragedie met ouderdom as tema, spesifiek rondom ewig-verlore jeug. Ai. Redelik ligte materiaal, maar sal beslis 'n vroulike traan of twee spontaan veroorsaak. Wat die film indrukwekkend maak is dat dit 'n finale jaar filmstudent projek is (kort film) wat in 'n vollengte weergawe ontwikkel is. Saam met Bella op die bank.  


Friday, October 10, 2014

The Middle, Seisoen 1 - 5/10

The Middle is nie juis breinmateriaal nie, maar lekker ligte breinlose vermaak, veral vir 'n moee" Vrydagaand na die week se kap in die soutmyn. Familiegedrag word redelik akkuraat oordryf, met geloofwaardige, komiese situasies tot gevolg. Saam met die familie op die bank.

Grace of Monaco - 6/10

Al kyk mens net Grace of Monaco vir die milieu, bly haar verhaal 'n sprokie wat kortgeknip is. Baie goeie hoofrol vertolking. Die natuur en prag en praal is verleidend mooi in 'n baie stylvolle manier en rolverdeling aangebied. Saam met Bella op die bank. 

Gotham, Seisoen 1 - 6/10

Gotham lyk belowend, maar donker. Sal nog besluit... Saam met Bella en Franko op die bank. 


Edge of Tomorrow - 6/10

Kan jy glo, nog 'n weergawe van die ikoniese Groundhog Day! Die slag met wetenskapfiksie en darem tot 'n mate, 'n redelike verfrissende benadering. Daar is net een flater in Edge of Tomorrow. Die monsters is onmoontlik almagtig, net om deur 'n powere stringetjie handgranate uitgewis te word! Steeds redelike vermaak. Saam met die familie op die bank.


Office Space - 5/10

Office Space was seker in 1999 redelik op datum in terme van die kantoor gevoel. Dit het nogals 'n sterk industrie"le teater gevoel, maar desnieteenstaande, beslis verpligte materiaal vir alle kantoor-gebonde werkers. Daar is 'n paar regtig snaakse tonele, maar op die ou einde raak die film meganisties, die doodskoot vir enige humor en komedie. Kyk egter steeds, ek dink amper almal kan identifiseer met TPS reports... Saam met Bella op die bank. 


Transformers: Age of Extinction - 5/10

Transformers: Age of Extinction is eintlik maar net te uitgerek. Die grafika is sekerlik goed, maar die plot maar flou. Saam met die familie op die bank.


Thursday, September 18, 2014

Invictus - 6/10

Nogals interessant, maar ou Clint se flieks het gewoonlik baie dieper karakterontwikkeling. Ek dink hy het egter met Invictus 'n redelike akkurate periode drama gemaak, en 'n baie goeie buite staander estimasie gemaak van wat seker kon gebeur het. Ek dink hy het heelwat emosionele onderstrominge te veel onderskat, en 'n te veel Hollywoodse uitkomste voorgestel. Te veel emosies is afgewater om 'n romantiese beeld te skep, wat maar baie krakerig, dun en oppervlakkig is. Op SA 264 van Johannesburg na Munich vir werk.

Sunday, September 14, 2014

The Love Punch - 5/10

The Love Punch het 'n redelike rolverdeling, maar is baie lig. Dit het 'n paar skerp komiese tonele, maar daar is geen karakterontwikkeling om van te praat nie. Saam met Bella op die bank.


Suurlemoen! - 5/10

Suurlemoen! is 'n baie ligte Afrikaanse fliekie, sekerlik op die jonger mark gerig. Dit is steeds kykbaar. Het dit saam met die families Le Roux en Stander by Kolonnade gekyk, as deel van Francois se verjaardag. Het daarna 'n draai by die nuwe Toni's in Magalieskruin ook gemaak. 


Saturday, September 6, 2014

A Million Ways to Die in the West - 5/10

A Million Ways to Die in the West is 'n redelike onder-die-belt komedie. Nogals jammer dat hulle so baie vloek daarin, anders sou dit dalk meer toeganklik gewees het vir 'n groter gehoor. Daar is 'n paar regtig snaakse tonele. Moet nie saam met Tannie San van Pofadder of Boeta kyk nie, tensy Boeta al bietjie ouer is. Saam met Bella op die bank. 

Tuesday, September 2, 2014

Divergent - 8/10

Daar is miskien heel party gate in Divergent se storielyn, maar dit ten spyt, is dit steeds 'n baie lekker wetenskapfiksie fliekie om te kyk. Alhoewel daar seker volwasse temas aangespreek word, is dit tog kykbaar vir die familie. Die milieu is uitstekend, die vertolkings gepas, en die einde oop genoeg vir nog 'n weergawe of wat. Kyk gerus, maar moet nie hoe" tempo aksie verwag nie. Saam met Bella op die bank. 

Sunday, August 31, 2014

Draft Day - 6/10

Draft Day is nogals nie sleg nie, veral omdat ou Kevin nog nie sedert Dances with Wolves weer iets skaflik kon maak nie. Eenvoudige lyn, maar  tog met 'n lekker spanninglyn. Baie kykbaar, vir die hele familie, maar daar is tog 'n paar woorde wat pla. Saam met die familie op die bank.

Sunday, August 24, 2014

Belle - 7/10

Belle het aanvanklik na 'n redelik swaar tema geklink, maar dit word op 'n heelwat ligter trant aangebied, amper in die lyn van Downton Abbey. Baie kykbaar, ek verstaan nou hoekom dit so lank op die kunskring gedraai het. 'n Soete liefdes intrige, in 'n benydenswaardige milieu, en sekerlik met die mees stylvolste vervoermidelle denkbaar. Kan enige aand werk, selfs op 'n Sondagaand. Saam met Bella op die bank.

Godzilla (2014) - 6/10

Godzilla is nogals nie te sleg nie, heel bo verwagting. Die ongedierte gevegstonele heel kort en aanvaarbaar. Die fliek is dalk so ietwat aan die lang kant, maar dit pla ook nie te veel nie. Die karakters en vertolkings is baansyfer. Kyk gerus met 'n lekker groot bak gepopte mieliepitte op 'n Vrydag of Saterdagaand. Saam met die familie op die bank.


Saturday, August 23, 2014

X-Men: Days of Future Past - 7/10

X-Men: Days of Future Past is onverwags lekker om te kyk. Die gevegstonele is nie langdradig nie, die lyn gepas. Daar is ook humor, veral met die man wat teen die spoed van witlig goeters kan doen. Kyk gerus, lekker naweek materiaal. Saam met Bella en Franko op die bank. Anrich het stukke saam gekyk. 

Saturday, August 16, 2014

Blended - 5/10

Blended is tipiese Sandler materiaal, baie lig, en die gewone raak-aan-die-belt grappe. Tog snaaks en lekker Saterdagaand materiaal as mens net wil ontspan. Saam met die familie op die bank.

Thursday, August 14, 2014

Wrath of the Titans - 4/10

Wrath of the Titans is dalk swakker as die voorganger, maar seker darem tot 'n mate kykbaar. Nou nie my eerste keuse vir 'nb Vrydagaand nie. Van die tonele raak bietjie lank. Saam met die familie op die bank.

Mr. Peabody & Sherman - 7/10

Mr. Peabody & Sherman is 'n lekker familie fliekie om te kyk, lig, vol slinkse kwinkslae en 'n goeie les of twee. Kyk gerus saam met die hele familie, die verwysings na geskiedkundige figure is baie skerp. Dit is veral die Spartane wat vermaak lewer... Saam met die familie op die bank.

Saturday, August 9, 2014

Outlander, Seisoen 1 - 6/10

Outlander het 'n redelik stadige eerste episode, sal dit nog 'n kans gee. Iets anders as die gewone. Saam met Bella op die bank.

Sunday, August 3, 2014

The Amazing Spider-Man 2 - 7/10

The Amazing Spider-Man 2 is dalk die beter weergawe tot nou. Dit het relatief kort aksie tonele en bietjie meer tong-in-die-kies tonele as gewoonlik. Baie meer toeganklik vir die vroulike mark, so kyk gerus saam met jou beterhelf. Saam met die familie op die bank.

The Zero Theorem - 5/10

The Zero Theorem begin met 'n redelik chaotiese toekomsvisie, en is vol onderliggende verwysings na geloof, werk, die sosiale bestel en gemeenskap in die algemeen. Dit is veral die donker skets van die soeke na doel wat opvallend is. Die fliek rafel so ietwat uit, maar is tog kykbaar. Dalk vir die meer oopkop fliekganger bedoel. Beslis een van die meer vreemde films die afgelope ruk. Saam met Bella op die bank.

Tuesday, July 29, 2014

Step Up All In 3D - 5/10

Step Up All In moet mens in 3D kyk. Dit laat die tone klap, krul en wikkel. Ek het meer van die vorige een gehou, maar hierdie is steeds goed om te kyk. Saam met Bella en Franko in die Kolonnade 3D teater.

The Catherine Tate Show, Seisoen 1 - 5/10

Kyk, die vrou is goed. Van die vignettes is skreeusnaaks. Ek hou nogals daarvan dat die selfde karakters gebruik word in opeenvolgende tonele. Lekker komiese verligting tussen al die ernstige reekse... Saam met Bella op die bank. 

The Legend of Sarila - 4/10

Soos ek vermoed het, is The Legend of Sarila Kanadees vervaardig. Beslis kortvolk materiaal, Anrich het dit baie geniet. Sagte eskimo storietjie. Mens kan dit darem deurkyk. Baie swak grafika. Saam met die familie op die bank. 

Albatross - 7/10

Albatross is 'n regte verhoudingsfliekie, baie Brits, eerder as Hollywoods. Die omgewing is altyd pragtig, en dra tot die gevoel en lyn by. Kyk gerus vir 'n meer eerlike fliekie. Saam Bella op die bank.


The Son of God - 6/10

The Son of God vertel maar 'n storie wat steeds moeilik is om te kyk, ten minste die kruisiging en voorafgaande gebeure. Dit is redelik goed vervaardig, maar die rolle is op grond van mooi mense gekies, eerder as goeie akteurs. Saam met Bella en Anrich (nie alles gekyk nie, kon nie) op die bank.

Unstoppable - 6/10

Ek het 'n stuk van Unstoppable op die Veerboot tussen Dar Es Salaam en Zanzibar gesien. Wou dit aanvanklik nie kyk nie, maar die stukkie op die boot het gemaak dat ek dit wel ten volle gekyk het. Redelike spanningslyn, beter interpretasie van 'n ware verhaal, maak hierdie tog die moeite werd vir 'n Vrydagaand. Saam met Bella, Franko en Anrich op die bank.

Transcendence - 6/10

Transcendence gee 'n oormatig emosionele kykie na logiese items. Kunsmatige intelligensie is goed en so aan, maar die fliek oor-veremosionaliseer dit, veral omdat Depp die verkeerde rol vertolk. Dit moes eerder Bettany gewees het as die mal Frankensteinagtige navorser. Iemand anders kon Bettany se rol vertolk. Die vroulike hoofrol is goed gekies. Kyk egter steeds gerus, nog steeds interessant. Moet se^ die zombie tema wat gebruik word is seker 'n oordrewe weerspieeling van Facebook verslaafdes, maar ek was nie mal daaroor nie. Saam met Bella op die bank. 

Heaven is for Real - 5/10

Ek is nie heeltemal seker wat om van Heaven is for Real te dink nie. Dit voel vir my of die film dalk bietjie meer kon doen. Dit is dalk eerder 'n oulike fliek, as een wat mens laat dink oor die vanselfsprekende vraag. Saam met Bella op die bank.

Captain America: The Winter Soldier - 6/10

Captain America: The Winter Soldier is redelik goed, maar ek het steeds meer van die vorige uitgawe gehou. Lekker aksie, maar dit raak maar baie fantasties op plekke. Redelike koel Black Widow...pleks maak hulle maar van haar 'n fliek. Saam met die familie op die bank.

The Americans, Seisoen 1 - 7/10

Lekker, nog 'n spioenasie reeks! The Americans is baie getrou aan die era vervaardig, nie oormatig gekompliseerd of opgeblase nie, net gewone interpretasie van hoe dit moontlik kon wees. Die sluipersel tema werk baie goed en skep 'n gesonde spanningslyn. Sal hierdie beslis verder kyk. Saam met Bella op die bank.

Maleficent - 7/10

Maleficent is 'n oorspronklike kykie na 'n ou verhaal, met uitsonderlike grafika, goeie spel deur die vroulike hoofrol, en net lekker pret. Dis boonop familie vriendelik, en kan jy glo, ook tienerseun vriendelik! Saam met die hele familie in die Kolonnade teater, nie in 3D nie, 2D.



Sunday, July 20, 2014

Noah - 7/10

Noah is eerder 'n kunsfliek wat na aanleiding van 'n manuskrip vervaardig is, as wat dit histories of op die Bybel gebaseer is. Die vertolkings, veral die van Noag se vrou, is uitstaande. Die film het 'n minimalistiese gevoel, glad nie 'n oormatige Hollywood cliche nie. Kyk gerus, maar wees gewaarsku, hierdie is nie noodwendig bedoel vir wat baie dalk dit misverstaan het nie... Saam met Bella op die bank.