Saturday, November 24, 2012

Footloose - 4/10

Hulle kon beter met hierdie oormaak van Footloose gedoen het. Dit is 'n ou storie, konserwatief soos oorspronklik bedoel, maar kort zest, oemf en ritme. Die fliek is net te dood vir 'n dansfliek. Saam met Bella op die bank. 

Brave - 6/10

Brave is 'n redelike kinderfliekie, nie heeltemal multivlak nie, maar tog so hier en daar. Lekker aksie vir die kortvolk. Saam met die familie en Ouma Lenie op die bank. 

The Borgias, Seisoen 1, 2, 3 - 8/10

The Borgias is Game of Thrones, behalwe dat dit oor die pous handel. Lekker periode drama. Goeie akteurs en die mooiste milieu, kleure en stel. Een van die beter reekse wat ek al gesien het. Saam met Bella op die bank. 

Puss in Boots - 6/10

Puss in Boots is 'n redelike multivlak fliekie vir klein en groot. Die storie is oulik en daar is lekker humor. Die hoof karakters word baie goed vertolk. Ek het egter groot stukke geslaap, in afwagting van die 94.7 die volgende oggend. Wat 'n jammerte. My punt is dus glad nie betroubaar nie. Ai. Saam met die familie op die bank.

Shame - 3/10

Shame het potensiaal maar dit sneuwel sleg. Van die tonele werk net nie. Dit is 'n redelile oopkop tema, so wees gewaarsku. Wat wel goed werk is die arme suster, en veral haar Marilyn Monroe liedjie. Beslis op eie risiko. Saam met Bella op die bank.

Saturday, November 10, 2012

Salmon Fishing in the Yemen - 7/10

Salmon Fishing in the Yemen is 'n lekker tjiekfliekie vir 'n Vrydagaand. Dit is nie pretensieus nie, nie te komplekse lyn nie, en heel prettig. Saam met Bella op die bank.

Saturday, November 3, 2012

Dawn Rider - 4/10

Dawn Rider het waarskynlik direk op die video rak geland. Heel vervelig met baie min om die lyf. Ek hou nogals van 'n goeie Western, maar hierdie een is beslis nie die moeite werd nie. Saam met Bella op die bank. 

Thursday, November 1, 2012

The Three Stooges: The Movie - 8/10

The Three Stooges is klassieke slapstick op sy beste, en dan boonop as 'n moderne interpretasie. Die humor is nie onder die belt nie, vars en met die regte aanslag. Die hele familie het dit saam geniet, en die fisiese humor is pas vir twee laerskool latte. Saam met die hele familie op die bank. Lag. Rol. Lag. 

What to Expect When You're Expecting - 4/10

What to Expect When You're Expecting is op die ou einde 'n volbloed tjiekfliek, dus nie eens vir die manne bedoel nie... Dit raak ietwat vervelig, met spiertier en al wat met een arm optrekke doen (!)  Bella reken dis 'n oulike fliekie... Nou ja, saam met Bella op die bank. Gaap. 

Sunday, October 21, 2012

Prometheus - 5/10

Prometheus is redelik teleurstellend. Die grafika is baie goed, die donker milieu gepas, maar die storie net te dun. Van die vertolkings is ook baie goed, veral die androide. Nogals jammer, ek dink die tema het baie meer potensiaal as wat hulle ontgin het. Saam met Bella op die bank. 

Semi-Soet - 6/10

Semi-Soet is 'n lekker ligte, lawwe Afrikaanse fliekie. Dit het 'n gepaste romantiese situasie komedie lyn. Daar is iets aan't gebeur in die Suid Arikaanse, en veral Afrikaanse, filmbedryf. Eweskielik is daar 'n paar nuwe beter kwailiteit films in die mark. Baie lekker om vir 'n slag in my eie taal te kyk. Saam met die familie op die bank. 

Sunday, October 14, 2012

First Night - 5/10

Al kyk mens First Night net vir die langoed waarop dit afspeel is dit al goed. Die fliek voel bietjie lank, grotendeels oor die langer sang tonele, maar as dit jou kos is, sal die fliek nie teleurstel nie. Ek het dalk so bietjie meer humor verwag, maar daar is tog 'n paar goeie, snaakse stukke. Kyk slegs as jy opera kan inhou. Saam met Bella op die bank. 

Saturday, October 13, 2012

Snow White and the Huntsman - 6/10

In Snow White and the Huntsman skep hulle 'n baie realistiese milieu, maar ongelukkig laat die spel van die twee vroulike hoofrolle die film in die steek. Beide is nie geloofwaardig in hulle rolle nie, en lyk of hulle te min of te veel daarvoor in die spieel geoefen het. Die dwergies daarenteen steel kalklig grootmaat. Die manlike hoofrolle is darem ietwat beter. Die storielyn is egter goed aangepas, en die grafika uitstekend. Kyk gerus, dit is die moeite werd om ten minste hier weergawe van die bekende verhaal te sien. Saam met Bella op die bank.

Thursday, October 11, 2012

Person of Interest (S1, S2) - 6/10

Person of Interest lyk heel belowend. Dit is nie komedies van aard nie, maar kan dalk werk. Amper soos Alcatraz net sonder die tronk en tydtoeriste. Saam met Bella op die bank. 

Scents and Sensibility - 3/10

Hmm, hierdie is 'n baie ligte, *baie* lae begroting tjiekfliekie met swakkerige vertolkings. Geen wonder dit is direk ma die video rak nie. Dit het darem seker 'n goeie lewenslessie in. Saam met Bella en Anrich op die bank, terwyl Franko op skooltoer is. 

Tuesday, October 2, 2012

Mr Bean: The Animated Series, Seisoen 1 - 6/10

Mr Bean: The Animated Series is net so goed as die regte weergawe. Het hierdie al lank terug saam met die laaities gekyk. Wonderbaarlik hoe Mr Bean animasie en Mr Bean rerig ooreenstem in alle opsigte... 

Monday, October 1, 2012

Dark Shadows - 7/10

Baie mense kla Mnr Depp kan net een tipe rol speel, maar, vrek, dan doen hy dit so goed. Die tyd-verlore vampier rol pas hom perfek in Dark Shadows. En dan is daar verskeie fyn en baie minder fyn uiters skerp verwysings na omtrent enige iets in ander flieks, McDonalds en ander. Mens moet mooi luister om al die humor op te vang, en dit sal dalk goed wees om die film weer 'n slag te kyk net om alles te vang. Baie snaaks en lekker om te kyk. Saam met Bella op die bank. 

Men in Black III - 6/10

Men in Black III is beslis beter as II, maar dalk net so lekker om te kyk as I. Dit is vol pittige verwysings en kwinkslae en die jonger weergawes van die ouer manne meer pret. Beslis ligte wetenskapfiksie vir 'n Vrydagaand. Die groot kroek is ook nogals heel sleg en snaaks. Saam met Bella op die bank en weer saam met die laaities die volgende oggend. 

Suits, Seisoene 1-2 - 6/10

Suits is vir 'n slag 'n alternatiewe regsreeks. Dit het 'n ietwat varser benadering en lyk heel belowend. Die Game of Thrones aanhaling deur Lewis in S2E10 , "A lannister always pays his debts" is Baie koel. Saam met Bella op die bank. Reeks 2 eindig met 'n redelike boem! kan nie wag vir S3 nie....dem

Mad Buddies - 4/10

Nou ja, Mad Buddies is die American Pie van Suid Afrika. Dit fokus veral op fisiese, toilet-humor, en lyk sommer lae-begroting. Maar die laaities het lekker gelag, selfs die rooinek maat wat hier gekuier het. Mens moet toegee, van die tonele is vrek snaaks. Saam met die familie op die bank. 

Alphas S1, S2 - 5/10

Alphas lyk heel kykbaar, maar kort dalk so bietjie oemf. Ons is nou eers net klaar met die eerste episode, en dit lyk belowend. Sal seisoen 1 kans gee. Saam met Bella op die bank. S2 is ietwat beter as S1 en eindig met 'n tipiese slot vir 'n derde seisoen wat ongelukkig gekanselleer is.... ai

Tuesday, September 25, 2012

To Rome with Love - 6/10

To Rome with Love is 'n lawwe komedie, dalk met net te veel oordrywing. Wat ek oor wonder is wie gaan hierdie tipe flieks so lekker maak as wat Mnr Allen dit kan doen? Iets wat in al sy films uitstaan, is dat die milieu 'n properse karakter word, en veral die groot stede. Net hy kan met hierdie tipe lawwigheid wegkom... ai. Saam met Bella in die teater terwyl die bloedjies swoeg aan die St Paulus 50ste konsert. En dan vir nagereg, 'n ietwat teleurstellende ete by Ciao's in Brooklyn

The Romantics - 3/10

The Romantics is een van die verveligste tjiekflieks wat ek al in 'n lank ruk gesien het. Dit kom net nie aan die gang nie. Miskien mis ek die nuwe generasie van akteurs. Wetie, maar vermy dalk eerder. Gaap. Saam met Bella op die bank. 

Battleship - 4/10

Battleship is nie die beste wetenskapfiksie nie, maar steeds heel kykbaar. Moet nie baie komplekse redes verwag vir hoekom die buitenruimse wesens verslaan word nie... Regte Hollywood sentiment. Saam met die manne op die bank (Bella reken hierdie is net te erg ;-). 

Monday, September 10, 2012

How to Seduce Difficult Women - 3/10

Interessante konsep, maar How to Seduce Difficult Women maak nie gebruik van al die moontlike potensiaal nie. Dit is ietwat kykbaar, met 'n oomblik of wat. Saam met Bella op die bank. 

Die Wonderwerker - 10/10

Die Afrikaanse filmbedryf het met Die Wonderwerker bewys dat dit net sulke uithaler flieks kan maak soos die res van die wereld. Die film het nou wel nie 'n IMDB inskrywing nie, maar is darem op YouTube en Wikipedia. Die vertolkings is uit die boonste rakke, met die jong meisie se rol dalk so ietwat geforseerd. Dit ten spyt, met die pragtige fotografie, en die feit dat dit 'n se^d-se^d lovestory/periode drama is, maak hierdie fliek toeganklik. Die komiese elemente van ons ou boerenasie tussendeur maak dit nog meer so. Ek sou hierdie as moderne Afrikana beskou, en moet beslis nie misgeloop word nie, selfs nie deur stoere boere omies nie. Marais was beslis sy tyd vooruit. Hoogs aan te beveel, selfs vir die rooinekke onder ons, want daar is baie interessante vertalings vir moer, gat, en so aan... Saam met Bella in die Brooklyn teater. 

O koud is die windjie
en skraal,
en blink in die doflig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.
O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
Soos die lied van ’n meisie
In haar liefde verlaat.
In elk’ grashalm se vou
blink ’n druppel van dou,
en spoedig verbleek dit
tot ryp in die kou!

Sunday, September 2, 2012

The Hunger Games - 8/10

The Hunger Games skep 'n ongemak met die samelewing se skynbare demokratiese benaderings. Alhoewel die film in toekoms afspeel, maak dit heelwat kommentaar op hedendaagse tendense. Die fliek beeld dan ook realiteits televisie op steroides uit. Die vertolkings is puik en in die eerste helfte bou daar 'n senuagtige spanningslyn op wat vir niks skrik nie. Mens voel amper dieselfde as die verkose deelnemers, bewerig van bangeit. Die verfilming neig hier en daar na die kamera-skud tegniek, maar is nie te erg nie. Saam met Bella op die bank. 

Wuthering Heights - 8/10

Kyk, as jy van wroeg hou is die nuutste weergawe van Wuthering Heights beslis jou kos. Die eerste helfte van die fliek is dalk bietjie stadig (in 'n reeds stadige fliek), met die tweede helfte heel beter. Die fotografie is gepas en goed, maar die in-jou-gesig-ruk-beweging-kamera-tegniek raak net te veel. Dit is dan 'n baie sterk metafoor vir diepe grond, onder draai die duiwel rond emosies in die film. Die naby skote is so erg dat mens amper verlore in die fliek voel, wat dan die tweede metafoor inlei. Die derde metafoor is in die vorm van die weer, en die vierde in die vorm van die milieu. Daar is verskeie meer om die pyn, smart en leiding van arme Heathcliff uit te beeld. Die vertolkings is almal puik, en die keuse van akteurs perfek. Kyk gerus, maar wees gewaarsku, net vir die met dubbel-sterk konstitusies onder ons, en wat volbloed kunsfilms kan waardeer. Ek is bly ek het hierdie nie in 'n groot teater gesien nie, dit sal mens amper seesiek van emosies laat. Saam met Bella op die bank, en nogals op 'n Vrydagaand.

The Avengers - 6/10

The Avengers is heel kykbaar, met die laaste vegtonele bietjie uitgerek. Van die goed het net te fantastiese vermoeens, maar nou ja, dit is seker gepas vir die tipe fliek. Baie goeie waarde vir geld want amper al die superhelde is daarin, behalwe Superman en kie. Saam met die familie op die bank.

Dollhouse - 5/10

Dollhouse is nie komiese vermaak nie, maar ook nie te sleg nie. Die eerste eposide of wat lyk belowend. Reeks was heel goed om te kyk, maar die laaste episode van seisoen 1 maak glad nie sin nie... Saam met Bella op die bank.

Sunday, August 26, 2012

The Best Exotic Marigold Hotel - 7/10

The Best Exotic Marigold Hotel is 'n ligte komedie-drama met 'n sterk boodskap. Dit is 'n moet vir die oueres onder ons. Dalk so ietwat oordrewe spel hier en daar, maar beslis gepas, gegee die tema en milieu. Saam met Bella op die bank. 

The Pirates! Band of Misfits - 7/10

The Pirates! Band of Misfits is Wallace en Gromit, net op die see. Baie skerp humor, met lekkerkry grappies. Baie lekker familie kyk fliekie. Saam met die familie op die bank.

Saturday, August 25, 2012

War Horse - 7/10

War Horse is dalk net te sentimenteel vir my, maar dan pas dit ook by die era waarin dit afspeel. Beslis die moeite werd om te kyk, met pragtige kamera werk regdeur. Die oorlog dele is nie te erg vir laat laerskool nie, so die hele familie kan dit saam geniet. Saam met Bella op die bank. 

Saturday, August 18, 2012

Ceremony - 3/10

Ceremony is 'n flouerige tjiekfliekie met te veel praat en te min intrige. Die lyn is net te eenvoudig vir hierdie tipe fliek. Op eie risiko. Saam met Bella op die bank.

Friday, August 17, 2012

Pretty Bird - 5/10

Vreemde titel vir 'n fliek oor entrepeneurs en ingenieurs... In elk geval 'n gewone kykie na 'n goeie plan wat skeef loop met 'n kinkel of wat in die kabel. Vreemde fliek, maar tog met 'n aantrekking. Gekyk op TV terwyl ek in Ladybrand vir werk was. 

The Lincoln Lawyer - 4/10

Aarg, nee wat, hierdie moes 'n TV fliek gewees het. Dit is maar baie flou en vervelig. Gekyk op TV terwyl ek in Ladybrand vir werk was. 

Bird on a Wire - 4/10

Hierdie is 'n baie ou fliek wat ek in Ladybrand gekyk het terwyl ek daar vir werk was. Op goeie SABC as ek reg onthou. Vir die 1990's was dit seker baie goed, maar ai, al die melodrama staan my nie aan nie. 

The Best and the Brightest - 2/10

Hmmm, The Best and the Brightest het dalk 'n oomblik of wat, maar vir een of ander rede werk die film nie vir my nie. Dis amper asof hulle kyk hoe aweregs mens 'n fliek oor voorskoolse onderrig kan maak. Dit mag dalk 'n parodie van New York snobisme wees, maar dit faal. Op eie risiko. Saam met Bella op die bank.

Cat Run - 6/10

Wel, dalk nie vir sensitiewe kykers nie, maar glad nie te sleg nie. Van die tonele, veral die sigaar een, kan dalk te raak vir party. Beslis vir 'n Vrydag of Saterdagaand. Saam met Bella op die bank.

Contagion - 8/10

Van al die erge virusuitbarstingsflieks wat ek nou al gesien het, is Contagion die beste by verre. Nugter lyn, met waarskynlik korrekte populasie reaksies, goeie vertolkings en die besef dat daar maar min tussen ons en barbarisme is... Kyk gerus enige aand van die week. Saam met Bella op die bank.

Step Up Revolution 3D - 7/10

Wel, wat kan ek se^, 'n uber-fest van dans, mooi lywe en ritme. As jy van die vorige Step Up flieks gehou het, is hierdie beslis die beste sover. Nie te sentimenteel nie, nie te lank uitgerekte storietjie nie, net lekker dans en musiek. Dit is veral die karre aan die begin, die kantoorwerkerpassies en kunslokaal wat beindruk. Tap-tap-tap. Saam met die familie en Tyron by Zambezi Mall

Sunday, August 5, 2012

Margaret - 6/10

Soos te verwagte volgens die kassie is Margaret wel 'n drama. Die vertolkings is baie goed, maar daar is nie 'n spanningslyn nie, dus net 'n kykie na 'n reeks gebeure. Kyk net as jy lus voel vir 'n kunsfliek. Saam met Bella op die bank. 

Saturday, August 4, 2012

Balls to the walls - 4/10

Balls to the Wall is glad nie so erg as wat die titel voorspel nie....dit is egter heel vervelig met net te min aksie. Redelike idee maar met meer komiese potensiaal. As jy regtig niks anders op die DVD rak kan kry vir 'n Vrydagaand nie. Saam met Bella op die bank.

The Lorax - 7/10

The Lorax is 'n goeie verwerking van die boek wat in die vroee sewentigs verskyn het. Wonder wat sal Dr Seuss se^ as hy sien wat nou aangaan in die wereld se groot woude.... Die fliekie is perfek vir laat laerskool en as 'n gesin saam. Die grafika is pragtig en met heelwat genoeg ligte oomblikke om die swaar tema verteerbaar te maak. As ek nou net een van daai thneeds in die hande kan kry... Saam met die familie op die bank.

Sunday, July 29, 2012

Answer This! - 4/10

Answer This! is nie 'n drama nie, nie 'n komedie nie, en nie regtig 'n tjiekfliek nie, so wat is dit? Die kassie lyk na 'n komedie. Die fliek lyk of dit erens heen gaan, en dan eindig dit maar sonder 'n heenkome, maar dalk darem een besluit. As jy nie baie verwag nie. Beslis nie hoe" energie vermaak nie, veral nie die Lit proffie nie, wat 'n baie aardige manier van doen het... Saam met Bella op die bank. 

Saturday, July 28, 2012

Casino Jack - 6/10

Casino Jack met Spacey is nou nie 'n ligte komedie nie, al noem hulle dit 'n satiriese komedie op die kassie. Dit is wel interessant, en verskil seker nie soveel van ons eie politiek nie, wel net meer gesofistikeerd. Ek verwag ook dat dit veel erger is as wat die film dit uitbeeld. Dalk nie die beste keuse vir 'n Vrydag of Saterdagaand nie... Die rolle word uitstekend vertolk. Saam met Bella op die bank.

Friday, July 27, 2012

Big Miracle - 6/10

Big Miracle is seker tradisionele Hollywood sentiment, maar in 'n lekker familie kyk formaat verpak. 'n Aks bokant gemiddelde Hollywood Sentiment... Saam met die familie en Anton op die bank. 

Sunday, July 22, 2012

Sherlock - 9/10

Sherlock is 'n heel interessante weergawe van die immergewilde karakter en die slag darem meet Brits as Amerikaans. Net jammer daar is so min episodes per reeks, hopelik maak hulle meer. Saam met Bella op die bank. 

Black Butterflies - 6/10

Black Butterflies is 'n heel goeie poging op Jonker se lewe, maar het twee groot tekortkomings. Eerstens moes dit eerder in Nederlands of Afrikaans gewees het, met Engelse onderskrifte. Tweedens is dit 'n ietwat eensydige kykie na haar lewe. Die fokus is te veel op haar malgeit. Ek stem wel saam dat daar 'n baie fyn lyn tussen genialiteit en kranksinnigheid is... Die vertolkings is redelik goed, die periode redelik akkuraat, en die film heel kykbaar. Dit het nie daai tipiese dokumentere gevoel wat met sulke flieks gepaardgaan nie. Ek het net nogals gewonder of sy wel so promisku was... Saam met Bella op die bank.


Bitterbessie dagbreek

Bitterbessie dagbreek
bitterbessie son
'n spieel het gebreek
tussen my en hom

Soek ek na die grootpad
om daarlangs te draf
oral draai die paadjies
van sy woorde af

Dennebos herinnering
dennebos vergeet
het ek ook verdwaal
trap ek in my leed

Pappegaai- bont eggo
kierang kierang my
totdat ek bedroe
weer die koggel kry

Eggo is geen antwoord
antwoord hy alom
bitterbessie dagbreek
bitterbessie son

The Amazing Spider-Man 3D - 6/10

The Amazing Spider-Man is vir my die beter een van die lot sover. Die vegbedrywe is minder en meer ekonomies, maar dan dalk nie so asemrowend soos ander nie. Heel lekker vermaak vir 'n Vrydag of Saterdagaand. Saam met Franko in Kollonade se 3D teater.