Friday, July 31, 2020

Valley of the Gods - 6/10

Valley of the Gods is beslis net vir geharde kunsfliekgangers. Dit is vol simboliek, versteekte simboliek, surrealistiese simboliek, pretensieuse simboliek en oorgestilleerde simboliek. Die het wel asemrowende landskappe, fotografie en ryk beelde met 'n sterk, ondersteunende klankbaan.  Franko het nie saam gekyk nie, maar na die tyd opgelees oor al die simboliek en van dit verduidelik. Nie 'n film wat mens sal mis nie, maar as jy dit gekyk het voel dit nie soos tydmors nie, dalk so bietjie verward. Saam met Bella op die Bank. 



Sunday, July 26, 2020

Surviving Picasso - 7/10

Surviving Picasso wys glad nie sy ouderdom nie, net soos die ou skilder self. Puik vertolkings, getroue milieu en dalk so skeutjie oorspeeld. Steeds interessante materiaal. Saam met Bella op die Bank.

Saturday, July 25, 2020

Hundraettåringen som smet från notan och försvann (The 101-Year-Old Man Who Skipped Out on the Bill and Disappeared) - 7/10

The 101-Year-Old Man Who Skipped Out on the Bill and Disappeared is soos sy voorganger vol grappe en 'n sameflans van toevallighede - veral die soort wat karakters met mindere edele planne sleg benadeel, en die res wat net voortploeter bevoordeel. 'n Aangename Hollywood alternatief. Saam met Bella op die Bank. 

Friday, July 24, 2020

Irresistible - 7/10

Irresistible is sekerlik een van die beter flieks oor Amerikaanse politiek. Dit is vreksnaaks, skerp en steek die draak diep. Die rolverdeling kon nie beter nie, en die hele ontknoping is gepas. Lekker kyk materiaal vir 'n Vrydag of Saterdagaand. Wat hierdie fliek van ander soortgelyke onderskei is omdat die fliek homself (haarself?) nie te ernstig op neem nie. Saam met Bella op die Bank.

Sunday, July 19, 2020

Greyhound - 8/10

Greyhound het dalk nie die beste grafiese effekte of realisme nie, maar teen die einde van die film bloei mens se voete saam met die van Tom Hanks, en voel mens amper meer uitgeput en opgevreet van die senuwees as hy. Die lyn is baie eenvoudig, maar proseduraal is die vertolkings uitstaande, reg deur die, boot? 'n Voorbeeld van wanneer 'n akteur sy sout werd is. Die film was voorgestel deur die Pretoriusse (DDMM). Die enigste steurnis - en ek is nie seker dit het wel so gebeur nie - was die gesiglose vyand se onheilspellende, maar amper lagwekkende stem. Saam met Bella op die punt van die Bank.

Saturday, July 18, 2020

Wasp Network - 6/10

Wasp Network is nie vermaak nie, dalk eerder 'n gedramatiseerde dokumente^r. Dit is wel realisties, waarskynlik redelik akkuraat en met sterk, gepaste, professionele vertolkings. Mens leer ook dan dit dit amper onmoontlik raak om vas te stel wat die waarheid, wie spioeneer op wie, en wie mens kan glo. Ek dink goeters is nou nog nie seker nie. Saam met Bella op die Bank.

 

Friday, July 17, 2020

Nine - 7/10

Nine is verleidelik, speels en oorweldig die sinne met sy ryk visuele beelde en tonekrul melodiee". As Italie" jou veilige plekkie is, is hierdie absolute noodsaaklikheid, veral op die toon van Be Italian. 'n Ode aan die vroulike vorm. Die film sou nog beter gewees het in Italiaans met onderskrifte. Saam met Bella op die Bank.



Sunday, July 12, 2020

The Old Guard - 6/10

The Old Guard is redelike skop-skiet-en-donder materiaal met 'n korrekte verdeling en gepaste vertolkings. Die lyn bly kykbaar ten spyte van voorspelbaarheid en teenstydighede. Saam met Bella op die Bank. 


Friday, July 10, 2020

Die Seemeeu - 6/10

Die Seemeeu is 'n gewroeg en geswoeg en gesukkel en gevloek en beslis net vir fynproewers bedoel. Die rolverdeling en vertolkings is sterk, raak en sonder enige maskers of fieterjasies. 'n Moeilike fliek om te kyk. Ons het ook verskeie mane terug tydens die Negentigs, nog in die Staatsteater se Arena, Anton Pavlovich Tsjekhov se Die Eend gesien, 'n satiriese verwerking van dieselfde materiaal. Saam met Bella op die Bank.

Sunday, July 5, 2020

Dominee Tienie - 9/10

Dominee Tienie is 'n kragvertoning vir Frank Opperman. Hierdie is moet-kyk materiaal as jy in die Tagtigers in 'n klein dorpie se NG kerk was. 'n Volwasse, teer kykie na die moeilike kantoordae van 'n dominee en sy gesin. Wel humoristies by tye, maar beslis met 'n swaar traan daarby. Saam met Bella op die Bank. 

Saturday, July 4, 2020

Mal de pierres (From the Land of the Moon) - 7/10

Mal de Pierres, oftewel, From the Land of the Moon, is besliste geharde fynproewer materiaal. Die vrou is emosioneel ongesteld, om dit uiters lig te stel. Die vertolkings is wel uitstaande, en die milieu net soveel beter omdat nie in een of gre^nd ateljee gedoen is nie. Dit film kyk nie te moeilik nie en is tot 'n mate toeganklik. Saam met Bella op die Bank.

Friday, July 3, 2020

Ander Mens - 8/10

Ander Mens is 'n misdaad-komedie wat met van die bestes in die internasionale bedryf kan meeding. Een ding wat die grendelstaat tye ons geleer het, is die rykdom van films in ander tale wat ons gemis het die afgelope dekade of wat. Die hollywood masjien het ons afgestomp gemaak vir die selfde soort sensasionele pulp, dat mens eintlik die fynproef kuns verloor het. Hierdie is die perfekte Vrydagaand materiaal, snaaks, pittig, skerp, vinnig en kreatief. Die tydsbereking en vertolkings maak hierdie uitstaande materiaal. Dit wys ook mens kan volwasse films in Afrikaans maak wat werk. Saam met Bella op die Bank.