Sunday, May 31, 2015

Time Lapse - 7/10

Sjoe, gepraat van film ekonomie, Time Lapse stel die voorbeeld. Die plot, karakters, milieu, lyn, dialoog, alles spreek van ekonomiese gebruik. Maar ten spyte van 'n film holruggeryde tema, boei hierdie fliekie mens regdeur. Ek vermoed die onderspeelde vroulike hoofrol en die redelik gewone mansrolle het baie daarmee te maak. Die interpretasie is baie geloofwaardig met 'n kinkel aan die einde wat mens nogals verras. Daar is redelik min aksie, so mens moet nie moeg wees as jy hierdie een kyk nie. Saam met Bella op die bank. 


Kingsman: The Secret Service - 5/10

Kingsman: The Secret Service lyk baie goed, veral die advertensie, maar dan verval dit ongelukkig in 'n patroon, alles is perfek, behalwe die moewie!? Die rolverdeling kon sekerlik nie beter nie, die milieu is London, die storie perfek, die vertolkings gepas, selfs humor, maar dit werk net nie. Veral die tweede helfte voel uitgerek, stadig en oormatig. Dis baie jammer, soveel potensiaal. Ai. O, en dit is beslis nie gepas vir die kortvolk nie, die taal is deurlopend net te gekrui. Saam met Bella op die bank.

Mozart in the Jungle, Seisoen 1 - 8/10

Mozart in the Jungle is ongelukkig halfuur episodes, maar dan is dit ook seker hoekom die tempo redelik knap voel. Die musiek is pragtig, New York verleidelik, en die vertolkings gepas, Die rolverdeling is perfek. Vir 'n slag iets helemal anders as die gewone reekse, maar dan is dit net rondom musiek, en nie kastele nie... Gelukkig is dit reeds verleng, want 10 episodes is net te min. Saam met Bella op die bank.

Wayward Pines, Seisoen 1 - 5/10

Wayward Pines lyk redelik, en kan seker sepierig raak... Sal dit nog so episode of wat kans gee. Saam met Bella op die bank.

Thursday, May 28, 2015

Peaky Blinders, Seisoen 1 - 9/10

Man, die Britte kan darem vir jou reeks maak! Peaky Blinders is sekerlik een van die beste periode dramas wat ek gesien het, en ons is nou eers by episode 4 van seisoen 1. Dit is stylvol, kreatief, veral rondom die klankbaan. Die lyn is baie geloofwaardig, en selfs die redelike geweldadige vignettes is so verfilm dat dit hanteerbaar is. Wat hulle wel baie goed regrky is om die mees donker, onromantiese beeld van Birmingham te skep. Die vertolkings is uitstaande en die rolverdeling nog beter. Mens is spyt aan die einde van elke episode dit is nou oor. Dan is daar die stadig bouende spanningslyn tesame met alles wat gebeur... Saam met Bella op die bank.

Vrou Soek Boer - 3/10

Vrou Soek Boer is maar baie flou. Die dialoog, vertolkings, alles is flou. Al wat bietjie opmaak is die mooi kamerawerk aan die begin (lugskote) en die uiteindelike kleindorpie milieu. Vermy dalk eerder, hierdie is pynlik op stadiums. Saam met Bella op die bank.


Saturday, May 23, 2015

The SpongeBob Movie: Sponge Out of Water - 6/10

The SpongeBob Movie: Sponge Out of Water is Anrich se stapel. Die eerste helfte is animasie, en die tweede helfte realiteit/fantasie. Ek het nogals die tweede helfte geniet. Goeie komedie, skerp se^goed, lekker lig, en 'n geloofwaardige storielyn. Ons het almal lekker gelag, saam met Anrich, Bella en Franko op die bank, alhoewel lg. nie alles gekyk het nie, van die tonele was net te erg vir 'n middeltiener... 


The Two Faces of January - 5/10

The Two Faces of January is 'n gemiddelde fliekie met 'n stadige spanningslyn. Dit het egter 'n stylvolle gevoel met 'n milieu wat daartoe bydrae. Kyk gerus, dit is nie bloederig, vloekerig of onvanpas nie. Ek hou nogals van die rolverdeling. Saam met Bella op die bank.


Saturday, May 16, 2015

Mooirivier - 5/10

Mooirivier is heel kykbaar, maar is beslis 'n tjiekfliekie. Dit is baie lig, en het so paar elemente wat mens nie seker hoekom dit daar is nie, soos byvoorbeeld die vete tussen die twee studente. Heel snaaks maar mens is nie seker hoe dit in die storielyn inpas nie. Wat mens nogals opval is die pragtige Potchefstroom, word baie mooi uitegbeeld deur die flunke kamerawerk. Saam met Bella op die bank.

Vikings, Seisoen 1 - 6/10

Vikings lyk baie belowend, en ek verstaan dat Seisoen 2 en 3 baie goed is. Saam met Bella op die bank.

Sunday, May 10, 2015

Spud 3: Learning to Fly - 5/10

Spud 3: Learning to Fly is beter as Nommer 2, heel snaaks, tipies, en flou, alles op die selle tyd. Mens moet maar kyk, al is dit net vir die Michaelhouse omgewing. Saam met Bella en Anrich op die bank.


The Voices - 1/10

Wel, het The Voices begin kyk, seker so 25% ver gekom, besluit om die aftog te blaas. Net te ongemaklik om te kyk. Selfs die volgende dag net om te kyk wat nou wel op die einde gebeur het (afstandbeheer-skiep-kyk) het nie gewerk nie. Nog 'n Sundance filmpie wat dit nie maak nie. Saam met Bella op die bank.

The Cobbler - 7/10

The Cobbler is nog 'n kom-ons-leer-'n-lessie-fliek-van-Adam-Sandler. Maar ek hou nogals van hierdie flieks van hom, waarvan een van my gunstelinge sekerlik Click is. Die fliek het 'n taamlik onverwagte kinkel aan die einde, iets wat gewoonlik in hierdie Sandler genre gebeur. Die flieks kyk lekker, veral op 'n naweekaand. Saam met Bella op die bank.

Hello I Must Be Going - 4/10

Hello I Must Be Going is sekerlik nie 'n te slegte fliek nie, ek het net nogals 'n lang stuk daarin geslaap. Instede van sterre in die rolverdeling maak dit van gewone mense gebruik. Dit werk, maar ook nie. Die lyn is redelik, die verhaal geloofwaardig maar in geheel nael dit mens net nie vas voor die skerm nie. Ek het darem die tweede helfte volledig gesien. Hierdie is nog 'n Sundance film, dalk kan die Amerikaners net nie kunsfliek maak nie? Saam met Bella op die bank.

Saturday, May 2, 2015

The Hunger Games: Catching Fire - 5/10

The Hunger Games: Catching Fire is 'n tussen-in fliek...die einde is baie stomp en die verloop net te voorspelbaar... Saam met Bella op die bank.

Friday, May 1, 2015

Leading Lady - 5/10

Leading Lady het so hier en daar 'n gat in die storielyn, maar is darem kykbaar. Verwag redelike sentiment maar mooi landskap en 'n paar Suid Afrika cliches, soos bv die taxi se bobbejaanspanner stuurwiel... Die oorseese, Ierse aktrise is glad nie te versmaai nie, maar die Amerikaanse een is maar, wel, Amerikaans. Saam met Bella op die bank.

Mortdecai - 8/10

Ek het Mortdecai baie geniet, dit het 'n baie ligte aanslag, baie skerp kwinkslae, goeie humor en perfekte milieu. Die rolverdeling kon regtig nie beter nie, van die skelms, kroeks, dames en butler tot die hoofrolle. Jy moet egter nie anti-Depp wees om hierdie te kyk nie, want dan gaan jy maar verveeld wees. Ek wag nog vir 'n Allen-Depp kombinasie... Saam met Bella op die bank, giggel & grinnik. 

Wild - 7/10

Wild is nogals glad nie te sleg nie. Dit is nie helemal familie vermaak nie, wat tot 'n mate jammer is. Mens leef nogals in Me Witherspoon se vertolking in, sy kry dit reg om 'n 1000 myl stappie kykbaar te maak. Saam met Bella op die bank, pootuit.

Comet - 4/10

Wraggies, Comet het so min indruk gelaat dat ek nou nie eers meer kan onthou wat ek daarvan gedink het nie. Bella onthou ook min en dat dit maar 'n baie flou tjiekfliekie was. Saam met Bella op die bank, as ek nou reg onthou....