Wednesday, February 25, 2015

Quantum Love - 7/10

Quantum Love is 'n tonekrul-lekker Franse fliekie oor hulle spesialiteit, skelmpies. Ja, die ou jakkalse... Boonop is die fliek met onderskrifte. Die einde is tot 'n mate clicherig, amper cheesy (wat is 'n lekker Afrikaanse woord daarvoor?), maar die premis bly steeds 'n goeie idee. Dat Sophie Marceau so kan lyk op 48+ is 'n absolute wonder. Miskien het sy hulp gehad? In elk geval hoogs aan te beveel as jy van ligter Franse flieks hou. Op die vliegtuig van Singapoer na Johannesburg (vanaf Bangkok).


Fury - 9/10

As jy graag wil gaan dien in 'n aktiewe weermag, gaan kyk Fury ter voorbereiding. Die tegnologie en metodes mag argaies wees, maar die grim en pyn van oorlog sal jou bybly. Die film is puik, so hiper-realisties, mens voel die oorlog om jou. Jy is saam met daai manne in die tenk. Jy proe en ruik wat hulle doen. Beslis nie vir ligte gestelle of swakkeres van konstitusie nie. Op die vliegtuig van Johannesburg na Thailand via Singapoer. 

Dumb and Dumber To - 5/10

Wees streng gewaarsku, bo, onder en agter die belt humor van die ergste graad, maar desnieteenstaande is daar 'n paar grappe wat my laat rol het in Dumb and Dumber To. Kyk gerus as jy wil lag... Saam met die familie op die bank. Van die makkers het verdwyn, maar weer herverskyn by tye. 

The Maze Runner - 6/10

The Maze Runner laat mens aan die begin 'n taamlike fatalistiese gevoel kry, en, dan, o wee, dan speel dit erger uit as wat mens sou hoop. Ongelukkig eindig die fliek met 'n sterk opvolgreukie, dus eindig het elende niet. Ai. Ek was nogals verras deur die karakterontwikkeling, alhoewel my huisspan reken daar is te min aksie vir hierdie fliek, en te veel praat. Op die vliegtuig terug van Singapoer na Johannesburg (Vanaf Bangkok, Thailand)

Monday, February 23, 2015

Dracula Untold - 5/10

Ek het Dracula Untold vermy gebaseer op die beskrywing, en nadat ek, sekerlik in 'n staat van oormoegheid, van Johannesburg na Singapoer, die kans gewaag het, redelik seker gewees ek het 'n fout gemaak, Maar.... na die eerste 5 minute verby is, het die fliek nie te onaardig uitgedraai nie, dit is amper kykbaar. Moet beslis nie klassieke Dracula verwag nie. Op die vlug van Johannesburg, oppad na Bangkok vir werk. 

A Merry Friggin' Christmas - 5/10

Hierdie is 'n ietwat oordoende Hollywood style fliekie, maar tog met 'n paar snaakse grappe wat mens steeds lekker laat lag. Saam met die familie op die bank. 

John Wick - 6/10


Redelik stylvolle skop en skiet fliek, met 'n baie hoe" aantal verpligte slagoffers soos die storie volg. Die fliek bevat dan ook een van die beste "Oh!" stellings ooit, die van die hooframpokker. Lekker Vrydagaand materiaal as jy pap voel van die week se soutmyn sloeg. Gepaste rolverdeling, maar ou Keanu begin sy ouderdom wys... Saam met Bella op die bank.


Sunday, February 22, 2015

The Imitation Game - 8/10

The Imitation Game is 'n puik periode drama, wat drup van die Oscars. Mens voel sommer hoe jy wens die masjien werk, die tydsdruk waar teen die span sloeg, en die tempo waarteen soldate val in die oorlog. Die fliek voel hier en daar bietjie lank, maar dit pla nie te veel nie. Miskien was dit omdat ek so versadig was na 'n ete by Tasha's... Saam met Bella in die Brooklyn Cinema Nouveau, steeds die enigste film tetarer in Pretoria wat enigsins die moeite werd is. 

Big Hero 6 - 5/10 & 9/10

Jip, jy sien reg, Big Hero 6 kry 9/10 vir die eerste helfte en dan 5/10 vir die laaste deel. Anrich reken dit moet 10 uit 10 kry. Die eerste deel is baie snaaks, veral waar die plomp robot dronk raak omdat sy battery pap is... Die tweede deel is tipiese animasie superheld fliek, nie naastenby so kreatief en snaaks as die eerste helfte nie. Kyk gerus, selfs Franko het dit geniet. Saam met die hele familie op die bank.

The Theory of Everything - 8/10

The Theory of Everything is beslis Oscar materiaal. Die hoofrol is tegnies uitstekend, sekerlik een van die mees akkuraatste wat ek nog gesien het. Ten spyte van die swaarder tema is die fliek nie oormatig neerdrukkend nie, gepaste humor en kwinkslae verhelp dit. Beslis die kyk werd. Saam met Bella op die bank.

Saturday, February 21, 2015

Creation - 6/10

Creation is uitstekend vervaardig, maar dalk was my verwagting minder van 'n emosionele stryd en meer wetenskap. Die vertolkings is almal uitstaande, en die periode geloofwaardig. Mens wonder ook nogals watter kant van die debat word deur die vervaardigers ondersteun, siende dat arme Darwin taamlik kranksinnig uitegebeeld word. Saam met Bella op die bank.

Wednesday, February 18, 2015

The Bletchley Circle, Seisoen 1 - 7/10

The Bletchley Circle handel die slag nie oor die fasiliteit (park) nie, maar oor 'n paar ondernemende meisies wat wel daar gewerk het. Ek hou nogals van die idee, asook die milieu en periode. Vorige era sjarme verpak in boeiende kykmateriaal. Kyk gerus as jy van whodunits hou. Hierdie is nog 'n reeksie wat ons begin kyk het terwyl ons ADSL vir twee weke en een dag af was, komplimente Telkom. Britse televisie op sy beste. Saam met Bella op die bank. 

Black Beauty (1994) - 5/10

Redelike weergawe van die perd se verhaal, maar nou nie War Horse materiaal nie. Kyk gerus saam met die familie. Die film se ouderdom wys so bietjie, maar die verhaal bly seker klassiek. So dan ook, almal van ons tesaam op die bank, met Franko wat net dele monitor. 


Tuesday, February 17, 2015

Black Mirror, Seisoen 1 - 7/10

Sjoe, as jy lus is vir kommentaar op sosiale, gewete, gemeenskap, politieke, tegnologie, sowel as verskeie ander vlakke, kyk gerus Black Mirror. Elke episode is sorgvuldig geskep, vervaardig en puik vertolk. Die een episode wat mens bybly, is die politiese vark... nou ja, oink. Hierdie Britse reeks is nie ligte vermaak nie, maar op die manier wat dit voorgesit word, is dit amper komentaar-komedie. Kyk gerus as jy sterker voel, dalk nie op 'n Vrydagaand nie. Die denkende reekskyker se reeks. Gelukkig is die seisoen net 3 intense episodes lank. Moes hierdie ook noodgedwonge kyk agv ons ADSL wat vir twee weke en een dag af was, komplimente Telkom. Saam met Bella op die bank.

Bad Johnson - 4/10

Kyk, die fliek het beslis 'n baie interessante premis...maar die amateuragtige vertolkings, stel, inkleding en milieu kelder ongelukkig die poging. Daar is 'n paar skreeusnaakse, maar uit die aard van die saak, erg onder die belt, woorspeling opsetlik, tonele. Kyk gerus, maar sonder jong tienerseuns en ouma, as jy lus is vir iets anders... Saam met Bella op die bank.

Friday, February 13, 2015

Alexander and the Terrible, Horrible, No Good, Very Bad Day - 6/10

Alexander and the Terrible, Horrible, No Good, Very Bad Day is 'n lekker ligte familie fliekie met humor wat almal sal laat lag. Tipiese Hollywood cliches hier en daar, maar steeds die moeite werd as jy wil ontspan saam met die familie op die bank. Soos wat ons gedoen het.

St. Vincent - 8/10

St. Vincent is 'n kragtoer in terme van rolverdeling. Dit maak gebruik van komiese elemente, hartseer en die lewe om 'n paar lesse te leer. Mens kan so maklik waardevolle oomblikke mis omdat jy nie verby die uiterlike maskers kan kyk nie. Nie 'n familie fliekie nie, maar beslis een wat jy saam met jou maat moet kyk. Geskik vir enige aand van die week. Een van Bill se bestes. Die fliekie drup van Oscar materiaal... Saam met Bella op die bank.