Sunday, July 28, 2013

One Flew Over the Cuckoo's Nest - 8/10

One Flew Over the Cuckoo's Nest is 'n 1975 model wat verskeie moderne flieks op hul neus sal laat kyk. Dit is beslis nie ligte vermaak nie, maar die fliek het tog 'n ligte aura.... oor verskeie redes. Dit eindig hartseer, tragies, maar laat mens nie met 'n bitter smaak in die mond nie. Kyk gerus, veral as jy dink jou probleme is groter as ander s'n. Hierdie is 'n krag vertoning vir ou Jack, sekerlik een van die films wat hom op die kaart gesit het. Saam met Bella op die bank. 

Sunday, July 21, 2013

Hawking - 6/10

Hawking is 'n tipiese TV fliek, maar tog kykbaar. Dit is net jammer hulle stop so vroeg in sy lewe, en vat dit nie verder nie. Die onderhoud met die ontdekkers van die groot knal ruis is ietwat irriterend en word nie behoorlik gebruik nie. Kyk gerus as jy in toegepaste Wiskunde, kosmologie of Fisika belangstel. Saam met Bella op die bank, en op die nuwe 55" Samsung TV.

Saturday, July 20, 2013

Chloe - 5/10

Chloe is 'n oormatig gestilleerde verhoudings drama, amper soos 'n sestigs byekorf haarstyl. Dit is kykbaar, maar ietwat vervelig. Dit lyk ook of dit ietwat eroties gemik is, wat nie werk nie, ten spyte van die rolverdeling. Kyk as daar nie iets anders op die rak is nie. Saam met Bella op die bank.

Friday, July 19, 2013

Stoker - 7/10

Stoker is 'n puik drama, riller, sou ek amper se^. Dit is uitstekend vervaardig met puik vertolkings. Op 'n stadium besef mens die plot, wat dit soveel meer spannend en geloofwaardig maak. Mooi klavier musiek, en 'n droomhuis. Saam met Bella op die bank. 

Jack the Giant Slayer - 4/10

Jack the Giant Slayer is te lig vir volwasse kykers, en ietwat te donker vir die jonger span. Dit het heeltemal te veel geveg sekwense vir 'n fantasie fliek. Puik effekte, maar dan is dit ook waar dit bly, veral met 'n redelike vaal prinses en held. Ek het egter gehoop die reus, of in hierdie geval, reuse, is so ietwat minder lelik. Saam met die familie op die bank. 

Escape from Planet Earth - 6/10

Escape from Planet Earth het nogals lekker ligte humor, en is perfek vir die jongspan. Dit herinner sterk aan Paul, die volwasse weergawe... Saam met die familie op die bank. 



Oz the Great and Powerful - 6/10

Oz the Great and Powerful het 'n baie skerp openings sekwens. Lekker ligte weergawe van die immer bekende verhaal. Saam met die familie op die bank. 

Star Trek Into Darkness - 5/10

Star Trek into Darkness is nie regtig meer Star Trek nie. Dit is nou skop-skiet-en-donder soos al die ander cliches. Toegegee, daar is nog 'n paar Trekkie dinge, maar nie genoeg om aan die oorspronklike getrou te wees nie. As 'n gewone aksie fliek is dit sekerlik vermaak, veral met goeie grafieka effekte. Wat wel die fliek so aks lig bo ander is die absoluut geloofwaardige protagonis, Khan, meesterlik vertolk deur 'n gunsteling akteur, Cumberbatch. Saam met Franko en Bella in die teater, Menlyn

Saturday, July 6, 2013

Adoration - 4/10

Adoration probeer, en is seker, 'n baie intelligente kyk na die verwerking van 'n tragiese gebeurtenis in 'n seun se lewe. Die fliek praat heeltemal te veel, en het heeltemal te veel komplekse emosies vir my fliek gestelletjie. Dit sal regtig vir 'n uitgelese groepie van waarde wees. Saam met Bella op die bank. 

Despicable Me 2 3D - 5/10

Despicable Me 2 3D is tegnies (en grafies) puik, maar ongelukkig nie so goed storielyn-gewys as die eerste nie. Dit is nog steeds vol lekker kinder humor, en tot 'n mate kykbaar vir die grootmense. Saam met die familie in die 3D Il Grande Teater van Monte Cassino. En ongelukkig ook op die dag wat my ou skoolmaat, Jose, begrawe is. Hierdie een is aan jou opgedra, Jose. 

The Chameleon - 6/10

The Chameleon is 'n redelike drama wat tog aangrypend is omdat dit op ware gebeure gebaseer is. Dat iemand so gemeen en gewetenloos kan wees, veral in sulke omstandighede is verassend. Daar is tog 'n soete weerwraak van die heelal, omdat die verkleurmannetjie regtig die gatkant van Amerika en 'n baie gebroke familie gekies het vir sy streke. Daar is nog 'n rede maar dan gee ek als weg. In elk geval swaar drama, nie ligte familie vermaak nie. Saam met Bella op die bank.