Monday, April 24, 2017

Ben-Hur - 6/10

Ben-Hur is nogals baie kykbaar en ten spyte van die tema, darem nie te geweldadig nie. Blykbaar bekend as een van 2016 se grootste teleurstellings, maar ek sou beslis nie so dink nie, daar was baie ander, swakker stapel op die kringloop. Lyk ook of dit die boek meer getrou volg as die vorige een wat ek as klein tjokker in die Pietersburg draaif-in gesien het, dink destyds met Charlton Heston (met 'n tweede probeerslag in my latere jare het net 'n gegaap en geslaap afgegee). Die nuwer uitgawe het ook meer 'n Bybelse inslag, wat dit baie gepas maak oor paastyd. Het dit nie besef nie, alles het net toevallig so uitgewerk. Saam met Bella en Anrich op die bank.

Saturday, April 22, 2017

The Matchbreaker - 5/10

The Matchbreaker is 'n baie, baie ligte tjiekfliek, maar verbasend kykbaar. Ek dink van die dialoog red hierdie oukie. Redelik voorspelbare lyn. Niks vloek of iets wat die kleineres nie mag sien nie, maar seker dan vervelig vir jonger kykers. Saam met Bella op die bank. 

Harlots, Seisoen 1 - 3/10

Harlots het heel belowend gelyk met die eerste oogopslag, maar binne minute van die eerste episode tot 'n stoute The Bold and the Beautiful vervlak. Ag nee wat, regte sepie materiaal. Saam met Bella op die bank.

Hidden Figures - 7/10

Hidden Figures is baie meer kykbaar as wat mens verwag van die tema. Maar ek dink daar word tog na beide kante so bietjie oordryf om die punt tuis te bring. Desnieteenstaande, waarskynlik Kevin Costner se beste vertolking ooit. Saam met Bella en Anrich op die bank, alhoewel hy na so rukkie geloop het. 

Beauty and the Beast - 9/10

Beauty and the Beast is asemrowend. Ek is nie mal oor heruitgawes nie, maar hierdie een is beslis die moeite werd, al is dit 'n musikaal (operette?) (Engels: Musical). Die rolverdeling is indrukwekkend en perfek, die kostuums gepas, en die ondier sjarmant. Selle probleem as met die vorige uitgawe, sodra die ondier weer prins word, verloor die verhaal sy sjarme. Dit is wel interessant om die mens agter die huisware se stemme te sien... Kyk gerus, dit sal 'n glimlag op jou gesig sit. Saam met Bella en Anrich by Zambezi Mall Capitol Teater. Franko het nie kans gesien nie, en The Fate of the Furious gekyk.



Friday, April 21, 2017

Monster Trucks - 5/10

Monster Trucks is perfekte middel en laat laerskool materiaal. Dit het 'n lessie of twee te leer, en 'n redelike kykbare lyn. Die monstertjies is nie nagmerrie skrik nie, en eintlik soos klein hondjies. Saam met Bella en Anrich op die bank.


Sunday, April 9, 2017

Collateral Beauty - 7/10

Collateral Beauty is beslis nie een vir die manne nie. Dit is 'n sterk tranetrekker, met bittersoet lovestory ingemeng. Dit is dan ook wel dink ek een van die beter genre voorbeelde. Saam met Bella op die bank. Sy het beslis baie van die fliek gehou.