Monday, January 31, 2011

Tangled (3D) - 7/10

Wel, vir 'n slag weer 'n lekker Disneysprokie wat die hele familie kan geniet. Seker maar vol cliches, maar steeds snaaks, en met baie goeie grafika. Hulle probeer nie mense lewensgetrou uitbeeld nie, eerder animasiekarikature tot uiterste detail. Saam met die hele familie in die teater.

The Joneses - 7/10

Nog een van daardie onverwagse flieks. Ek het gedink dit gaan die gewone Hollywood cliche wees, en op die ou einde lewer The Joneses so baie kommentaar op die sosiale, samelewings, besittings, skyn en geluk vlakke dat mens amper oorlaai voel. Dit het ongelukkig 'n Hollywood-rige einde. Dit maak dit seker bietjie meer van 'n tjiekfliek. Maar desnieteenstaande, is dit steeds baie kykbaar, veral vir 'n Sondagaand. As jy beplan vir daardie sekuriteitskomplekspaleis, of nuwe viertrekvoertuig, of sportmotor, of nuwe grootskermtelevisie, kyk eers hierdie! Saam met Bella op die bank.

Despicable Me - 5/10

Despicable Me het 'n paar goeie oomblikke, maar is meerendeels op die jonger mark gerig. Het die fliek in sulke stukke en trekke gesien, soos wat my twee dit oor en oor geniet het. Nie regtig op die bank nie...

Green Zone - 6/10

Ek het aanvanklik verwag dat Green Zone Bourne Identity op steroides gaan wees, of dalk selfs so vervelig as Hurt Locker is. Alhoewel ook op 'n dokumenter gebaseer, het dit darem 'n storielyn en is op die ou einde heel kykbaar. Daar is baie skietery, maar gelukkig nie grafiese, bloederige tonele nie. Saam met Bella op die bank. 

Saturday, January 15, 2011

Going the Distance - 5/10

Redelike tjiekfliekie, maar met so bietjie vloek en lelikpraat by...Die storie ontwikkel nogals nie te sleg nie, maar raak so bietjie dooierig na die einde se kant toe. Dit het nie 'n tipiese Hollywood-einde nie, wat dit dalk minder toeganklik gaan maak vir sekere tjieks ;-) Nie te min, gemiddelde kyk vermaak vir 'n rustige Vrydagaand alternatief. Daar is een toneel met melk en koekies wat nogals baie snaaks is. Saam met Bella op die bank.

Monday, January 10, 2011

Bakgat II - 3/10

Wel, Bakgat II, net soos die eerste, is Afrikaanse, onder-die-belt op sy kommonste. Ons het dit verwag, maar daar was tog 'n paar snaakse dele. Net sommer om die industrie te ondersteun....moet beslis nie jou ma die bonus materiaal kyk nie, veral nie die popspeel een nie....redelik interessant... As jy prim-en-proper is, vermy maar eerdie die filmpie. Saam met Bella op die bank. 

Sunday, January 9, 2011

Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom - 8/10

Sjoe, die Suid Afrikaanse fliekbedryf is besig om terug te kom! En Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom is selfs ook op IMDB! Nie aldag dat dit gebeur met 'n Afrikaanse fliek nie. Dalk was ek net reg vir hierdie fliek, maar het dit vreeslik geniet. Die akteurs is almal puik, die milieu perfek, en die video grafika tegnieke uitstekend. Die grafika krulletjies wat groei uit Hanna se pen is baie verfrissend, ook die verbeeldingsvlugte. Die storielyn is gepas. Vrek, dit is 'n kompeterende fliek! Jammer, Jan, weer nie of jy dit daar in NZ gaan kan sien nie, sal dalk die DVD moet bestel. Saam met Bella op die bank. 

The Girl in the Park - 7/10

The Girl in the Park is beslis nie ligte materiaal nie, maar dit word ook op so manier aangebied, veral die tema wat uitgebeeld word, dat dit nie te swaar voel nie. Wat baie daarmee help is die puik rolverdeling, en knap vertolkings, beslis uit die boonste rakke. Dit is op die ou einde 'n traumaverwerking/verhouding studie. Dit het gelukkig nie die gewone Hollywoodeinde nie, en as die einde aanbreek kry mens die gevoel dit was die moeite werd. 'n Goeie Sondagaand opsie. Saam met Bella op die bank. 

The Secret of Moonacre - 4/10

The Secret of Moonacre is 'n regte Narnia na-apie, maar die slag uit die Britse stal, kompleet met 'n swart ma'se leeu. Dit is selfs met VK Lotery geld befonds... Ek was ietwat moeg, en kan dus nie regtig 'n opinie oor die fliek uitspreek nie, want ek het seker goed 70% daarvan geslaap... Kom ons se^ net dit was nie so goed dat dit my wakker gehou het nie. Ek dink dit was pleinweg ietwat vervelig. Saam met Bella op die bank.

Tell Tale - 1/10

Aaarg, waar het jy nou al gesien 'n ou wat 'n hartoorplanting 6 maande terug gehad het, lyk soos 'n songebrande surfer-dude? Net in Tell Tale... Die hoofakteur druk emosie soos 'n alkantpanklip uit, en al is Lena Headey (sien 300) in die fliek, maak dit geen verskil nie. Ai, nee wat, vermy maar eerder. Baie bloederig op die koop toe ook nog. (Die 1 instede 0 is vir Lena ) Saam met Bella op die bank.

Tommy and the Cool Mule - 4/10

Tommy and the Cool Mule is een van daardie inspirasie of nuwe "feel-good" flieks. 'n Gewone storietjie met 'n pragtige lessie. Dit is veral geskik vir laerskool kinders. Saam met die hele familie op die bank.

Tron: Legacy (3D) - 6/10

Ek het die eerste Tron nog in Port Elizabeth in 1983 of so iets gesien. Was baie beindruk, veral omdat ek toe net klaar met Standerd 3 was. Die opvolg, Tron: Legacy (3D), moet mens op verskillende vlakke kyk. Eerstens moet jy nie 'n vet storielyn verwag nie, maar dit was tog nie te sleg vir die tipe fliek nie. Tweedens is daar die grafika, waarskynlik nie so gevorders soos Avatar of ander moderne flieks nie. Derdens, wat baie veras, is die klankbaan en die klank self. Die laaste het 'n lewe op sy eie, donker, sterk bas en lekker, veral saam met die light cycles en ander light vervoermiddels. As mens die eerste Tron gesien het, en dit jou enigsins beindruk het, is hierdie 'n moet. Saam met Franko in die 3D Teater by Kolonnade

Friday, January 7, 2011

Dorian Gray - 6/10

Dorian Gray is 'n periode drama, maar nie in die genre van periode dramas nie. Dit kon net sowel in enige ander milieu en tydperk afgespeel het. Die uitbeelding neig ietwat na die gril-faktor kant toe. Die akteurs is goed, maar Dorian kon beter vertolk gewees het. Nie my guinsteling tipe fliek nie, maar tog ietwat bo-gemiddeld. Saam met Bella op die bank.

Wednesday, January 5, 2011

Ghost Writer - 7/10

Ghost Writer is nog 'n fliek wat oor iets anders handel, as wat ek verwag het. Hierdie slag is dit egter 'n aangename verassing. Die fliek is goeie vermaak, baie goed gemaak, met goeie vertolkings, en sonder die gewone Hollywood einde - verwag egter 'n Polanski einde... Dit is spannend, maar nie sodat mens voel jy wil die bank knaag of iets nie. Saam met Bella op die bank.

Crouching Tiger, Hidden Dragon - 6/10

Wou Crouching Tiger, Hidden Dragon al lankal sien, en toe sommer op Ouma se DSTV in Bloem gekyk. Chinese gevegskuns kuns op sy beste, met sagte vloeinde bewegings, onderdrukte emosie, etiket en pragtige tonele. Die storie maak ook heel sin. Kyk gerus, maar weet waarvoor jy jou inlaat. Saam met Bella op die bank. 

The Family Stone - 4/10

The Family Stone het ons sommer op e-tv by Winklespruit gekyk. Nie te sleg nie, maar beslis so aks onder gemiddeld. Weereens Hollywood op sy stukke met die verwagte tipe van verhoudingstudie van 'n disfunksionele familie met 'n buitestander of twee wat les op se^ met die vreemde familie gewoontes. Hier en daar oordrewe vertolkings, veral van Parker. Dalk meer van 'n tjiekfliek. Saam met Bella op die vakansiebank.

Knight and Day - 5/10

En nog 'n Winklespruit fliek, die keer darem regte vakansie materiaal, Knight and Day. Die Hollywood masjien op sy allermintigste, met die regte akteurs, die regte storie, en genoeg skop-skiet-jaag-romanse. Lekker om te kyk, maar regte breindood vermaak, perfek na 'n lang dag op die strand en lekker eet. Ou Cameron werk darem net goed in hierdie tipe van rolle, en selfs ou Tom ook. Saam met die familie op die vakansiebank. 

The Virgin Territory - 1/10

En nog 'n Winklespruit fliek, die keer darem nie 'n verhoudingstudie nie, maar wel 'n kruising tussen B-graad materiaal en Willem Wikkelspies se Romeo & Juliet. The Virgin Territory het baie potensiaal, maar daal tot in die laagtes, ten spyte van redelike akteurs en die lieflike Italiaanse landskap. Op die ou einde is die storie te leeg, en help nie eens die kaaltonele die fliek aan nie... Saam met Bella op die vakansiebank. Vermy maar eerder. 

Small Town Saturday Night - 4/10

En nog 'n Winklespruit fliek, die keer, Small Town Saturday Night. Weereens gedink ons gaan iets anders kyk... ai-jai-jai... gedink dit gaan oor Countrymusiek wees, en toe is dit weer, ja, 'n verhoudingstudie tussen sosiale ondiere.... Die keer darem nie so pynlik soos Expired nie, maar meer bloedig.... Die vroulike hoofrol is darem nie te onaardig om te aanskou nie. Die lyn maak 'n kinkel-konkel of twee, so die fliek is tot 'n mate kykbaar, en ietwat meer vakansie materiaal, maar steeds 'n aks onder die gemiddeld. Saam met Bella op die vakansiebank.

Expired - 6/10

Eish, Expired is nog 'n fliekie wat ons by Winklespruit gekyk het. Vir een of ander rede het ek gedink dit is 'n Sweedse fliek, maar dit het eerder Kanadees gelyk, en is uiteindelik Amerikaans (Los Angeles). Dit is 'n pynlike blik op verhoudings tussen 'n paar sosiale ondiere. Kon net sowel 'n ekonomiese teaterstuk gewees het, en is nie regtig iets wat mens op vakansie wil kyk nie, dalk 'n somber Sondagaand. Die rolle word egter almal foutloos vertolk. Saam met Bella op die vakansiebank.


According to Greta - 5/10

According to Greta is nog 'n fliekie wat ons by Winklespruit gekyk het. Meer 'n laat tienerdogter of tjiekfliek as enige iets anders, maar tog heel kykbaar. Duff is dalk nie die beste aktrise vir die rol nie, miskien sou Ellen Page beter gedoen het... In elk geval het dit 'n redelike Hollywood einde. Saam met Bella op die vakansiebank.

Monday, January 3, 2011

One night at McCools - 4/10

One Night at McCools het ons sommer op e-tv by Winklespruit gekyk. Nie te sleg nie, maar beslis so aks onder gemiddeld. Die fliek eindig ten minste goeterig... daar is so toneel of wat, wat nogals snaaks is op 'n donkerder-komedie manier. Saam met Bella op die vakansiebank.

Sunday, January 2, 2011

The Illusionist - 6/10

The Illusionist was op die PVR by Beaconvlei tydens ons Desember 2010 vakansie. Dit is ietwat bokant die gewone, goed gemaak (periode stuk). Goeie rol vertolkings, en met 'n lekker tone krul einde. Seker maar dan 'n lekker ou love story vir die meisies. Saam met Bella op die vakansiebank. 

Grown-Ups - 5/10

Wel, Grown-Ups is nie die beste van 2010 nie, maar daar is tog 'n paar tonele wat mens bybly. Lekker Standerd Vierseun grappe. Word ook gelys as een van die 10 swakstes van 2010. Saam met Bella op die bank.