Monday, March 21, 2016

Robot Overlords - 3/10

Robot Overlords is so swak dit is eintlik heel vermaaklik. Dit bevat 'n bietjie van Hunger Games, 'n bietjie van Transformers en 'n bietje van Colony, alles in een. Wat die fliekie meer as die moeite werd maak, is die regtig powere vertolking van Sculley. Daar is veral een toneel waar haar poging tot 'n beste Engelse aksent, skreeusnaaks is, en sekerlik nie so bedoel is deur die regiseur nie... Kyk gerus as jy lus is vir komedie, omdat die konsep so swak uitgebeeld word, tesame met 'n oplossing, wat mens regtig nie kan glo eers na 3 jaar van verdrukking gekry is nie.... Saam met Bella en Anrich op die bank.


Sunday, March 20, 2016

The Walk - 7/10

The Walk is uitstekend as mens in ag neem alles gaan oor 'n redelike kort gebeurtenis. Die komiese aanslag is geslaagd en die spanningslyn nogals indrukwekkend. Dit is in beide gevalle bedoel. Hierdie kon baie maklik in 'n dodelike dokumenter ontaard het, weereens dubbelsinnig bedoel. Kyk gerus as jy dink jy het 'n moeilike dag by die kantoor, hierdie ou het 'n tawwe werk. Saam met Bella en Anrich op die bank, met Franko so tussendeur teenswoordig. 


Saturday, March 19, 2016

The Angels' Share - 4/10

The Angels' Share het, soos Bella se^, 'n identiteitskrisis, Menige films wat beide drama en komedie probeer saamsmelt faal. Hierdie fliekie het verskeie komiese tonele, met een ernstige, moeilike toneel wat net glad nie inpas nie. Wees ook gewaarsku, hierdie is 'n tipiese kultuur uitbeeldende fliek, wat ook nogals erg vuilbek is. Ten minste is Edinburgh mooi, ens so ook die res van Skotland. Op eie risiko. Saam met Bella op die bank.

Sunday, March 13, 2016

Brooklyn - 8/10

Brooklyn is sekerlik die soetste van soet love stories ooit. Dit het 'n stadige pas, prag kamerawerk en uitstaande vertolkings. Hierdie sal enige meisie se kniee lam laat. Beste voorbeeld in die genre. Saam met Bella op die bank.


Saturday, March 12, 2016

The Hunger Games: Mockingjay - Part 2 - 6/10

The Hunger Games: Mockingjay - Part 2 is ietwat vervelig, veral die eerste derde of so. Dit beweeg stadig met baie gesprek en niks veel anders nie. Dit het egter 'n redelik afgeronde slot vir die reeks, alhoewel steeds Hollywoodrigs. Kyk maar en besluit self, nie 'n slegte opsie vir 'n Vrydagaand nie. Saam met Bella op die bank. 

Sunday, March 6, 2016

Queen of the Desert - 5/10

Queen of the Desert is baie stadig, te stadig, met laaang woestyn kamera skote, lang Bedouin gesange, en baie sand. Dit is nogals moeilik om te glo die fliek is gebaseer op werklike gebeure, Die vroulike hoofrol vertolking is nie oortuigend nie. Die woestyn is wel verleidelik mooi, maar sekerlik nie maklik om in te oorleef nie. Saam met Bella op die bank.


Saturday, March 5, 2016

MythBusters, Seisoen 1 tot 14 - 10/10

Kyk 'n ode aan die manne van MythBusters is nodig. My twee manne se kennis van eksperimente beplan en uitvoer, fisika, chemie en sommer alles en hoe dit werk het dramaties toegeneem omdat hulle nogals slaafs na hierdie programme gekyk het. Ons kan amper niks meer noem nie, dan het hulle dit reeds reg of verkeerd bewys op MythBusters. Van of dit maklik is om swiets van 'n baba af te vat, en of dit erger is om dronk of moeg te bestuur, tot of mens kan oorleef as jy op 'n matras uit 'n hoe" gebou spring, of dalk eerder die stortgordyn as 'n valskerm gebruik, tot die spoed van koee"ls deur verskeie media, hierdie ouens het dit gedoen. Ons is in afwagting van die finale seisoen... Saam met Franko en Anrich op verskeie banke en plekke. 

In the Heart of the Sea - 6/10

In the Heart of the Sea laat mens nogals daardie gevoel van magteloosheid ervaar as alles teen jou oorlewing druk. Die fliek is nogals grim in sekere dele, maar die agtergrond van die alombekende walvis is nogals interessant. Saam met Bella op die bank. Anrich het begin kyk, maar nie verder nie, en Franko het dele gekyk.
  

The Dressmaker - 8/10

The Dressmaker is nog 'n kunsfilm, maar die slag met 'n ril-komedie aanslag. Die fliekie is hoogs vermaaklik, met Winslet, een van my gunstelinge, se vertolking uit die boonste rakke. Daar is heelwat snaakse tonele, eienaardige karakters en 'n milieu wat mens laat dink aan die waterskaarste in Afrika en Rango. Kyk gerus, dit is nie te kunserig nie, is snaaks, maar met 'n onverwagse einde. Agent Smith se rol as 'n polisieman is heel vermaaklik.... Saam met Bella op die bank.

Ex Machina - 7/10

Ek het nogals van Ex Machina gehou, dit is 'n kuns-wetenskapfiskie film, met milieu ekonomie, maar steeds met mooi natuur rondom hiper-moderne verblyf. Nie geskik vir jongeres nie. Eintlik is hierdie maar nog 'n weergawe van Mary Shelley se Frankestein, maar die slag eerder as met fisiese krag, uitoorle^ die monster sy skepper met kunsmatige intelligensie. Lyk my almal maak gereed vir die "Singularity" (op Afrikaans singulariteit?). Wel, as die slim robotte soos die in die fliek lyk kan mens seker nie kla nie... Saam met Bella op die bank.

Youth - 6/10

Youth is beslis 'n kunsfliekie, met stil, lang kamera skote. Die prag van jonger naaktheid word skerp met ouderdom gekontrasteer, in 'n asemrowende natuurskoon van Switserland en sy berge. Die geboue, binnenshuise tonele is erg klinies, dalk om die afwesigheid van al mens se aardse besittings in die hiernamaals te beklemtoon. Die kamers waar die oues bly, eet en oefen is steriel, om enige moontlikheid van nuwe lewe te algeheel te beperk. En dan prakties, dit keer dat hulle maklik siek word... Daar is heelwat onverwagse, verassende en onvanpaste tonele en karakters, tipies van 'n sekere soort kunsfilm. Gebeure en mense wat willekeurig in en uit tonele beweeg, selfs willekeurige aksies - dalk kom ou menss so voor vir jonges, en andersom? Die einde is egter bittersoet, en maak die moeilike kyk dan seker so ietwat die moeite werd. Saam met Bella op die bank. 




Dead Pool - 6/10

Dead Pool is nie die gewone superheld film nie, eerder die anti-held. Dit volg ook nie die gewone reseppie nie, en is nie geskik vir die jongeres nie. Baie skerp humor, vele verwysings na ander superhelde, films en nog wat. Egter baie vloekrige fliek, moet beslis nie kyk as dit jou afsit nie. Saam met Franko by Zambezi mall, Bella en Anrich het eerder Vir Altyd gekyk.