Friday, December 25, 2020

April 9th - 7/10

April 9th bevestig sterk hoe sinloos oorlog kan wees. Nog 'n film waar mens geskiedenis leer. Geproduseer met 'n omsigtige maar sagte hand, met deernis vir die verslaenheid van die poppe in hierdie spel wat hulle nie gekies het nie. Saam met Bella by Moonshine on Whiskey Creek, Tree Frog eenheid


Thursday, December 24, 2020

Radium Girls - 6/10

Ek hou daarvan as mens iets in 'n reeks of fliek leer - Radium Girls het beslis so 'n element. Dit is 'n redelike periode drama met 'n gepaste rolverdeling en standaard vertolkings. Saam met Bella by Moonshine on Whiskey Creek, Tree Frog eenheid.




Wednesday, December 23, 2020

Breach - 1/10

Gits, na die eerste 5 minute van Breach moes ons die aftog geblaas het - swak storie, swak vertolkings, lagwekkend eintlik en tydmors. Saam met Bella by Moonshine on Whiskey Creek, Tree Frog eenheid. 



Saturday, December 12, 2020

The Undoing, Minireeks - 4/10

The Undoing is plastiek en pleisterryk, maar miskien kan mens dit nog 'n episode kans gee. Die minireeksie wss nie te sleg nie, maar dit het wel 'n swak laaste episode - sekerste die goorste ooit naas Alphas.... Saam met Bella op die Bank.



Greenland - 2/10

Hollywood bewys weereens met Greenland dit bly die onoorwonne koning van gemorskosfilms. Hierdie is so oormatig sentimenteel dit raak belaglik. Ek en Bella het dit gespoedkyk op die Bank.



  

 

Wild Mountain Thyme - 4/10

Wild Mountain Thyme beweeg net te stadig, met dialoog wat net te dik vir 'n daalder is. Wat dit wel red is die asemrowende Ierse landskap en tonele. Dit is egter nie genoeg om hierdie tjiekfliek toeganklik te maak vir non-tjieks nie....dit is net te vervelig. Gedeeltelik saam met Bella op die Bank, geprei oor twee dae. 




 

Wednesday, December 9, 2020

The Flight Attendant, Minireeks - 3/10

Gits, nee, The Flight Attendant misluk klaaglik. Die genre is aanvanlik onseker, en verander skynbaar halfpad in die minireeksie weer. Die hoofrol is uitputtend irriterend, ongeag dat dit tegnies wel korrek vertolk word. Het nie kans gesien vir meer as die eerste episode nie. Saam met Bella op die Bank.

 

Tuesday, December 8, 2020

Sex Education, Reeks - 5/10

Sex Education is nogals snaaks maar ver onder die belt. Sal dit nog 'n episode of wat kans gee, veral omdat die eerste episode die konfigurasie bevestig het. Saam met Bella op die Bank.



Sunday, December 6, 2020

The Queen's Gambit, minireeks - 8/10

The Queen's Gambit begin stadig maar met 'n konstante spannningslyn. Dit word dan gou een van daardie minireekse wat mens eintlik in een sitting wil klaar maak. Die eenvoud van die storie, die periode drama, die raak vertolkings en die hoofrol se gesigsuitdrukkings en veral oe" is betowered en hou mens vasgenael. Saam met Bella op die Bank.




Saturday, December 5, 2020

De Gaulle - 6/10

De Gaulle beweeg ietwat stadig, maar dra tog 'n sterk boodskap oor, veral oor die groot Generaal se persoonlike omstandighede. Die hele film handel oor 'n week in Junie 1940, en mens leer tog iets van die geskiedenis. Dalk nie vir wyer gehore toeganklik nie. Saam met Bella op die Bank.



 

Friday, December 4, 2020

La délicatesse (Delicacy) - 6/10

La délicatesse is 'n minder swaar drama, met komiese elemente. Soos mens kan verwag van 'n Franse film is dit nie maanskyn en rose nie, eerder morsige, gewone lewe. Die film het egter 'n aantrekkingskrag met sy eenvoud en eerlikheid. Dalk meer 'n tjiekfliek, maar toeganklik. Saam met Bella op die Bank.

 

Saturday, November 28, 2020

Fatman - 4/10

Fatman is 'n aksiefilm ekwivalent van die normale Kersfliek genre. Dit is kykbaar, maar die ongeloofwaardigheid daarvan maak dit so bietjie saai. Die vertolkings is gepas oorspeeld, maar die rolverdeling minder akkuraat. Saam met Bella op die Bank.




 

Friday, November 20, 2020

The Girl from Monaco - 5/10

The Girl from Monaco is 'n redelike komedie, met die manlike hoofkarakter wat nie te verbaal is. Die tonele in Monaco en omgewing maak die kyk werd, en daar is tog genoeg komiese oomblikke. Saam met Bella op die Bank.



 

Friday, November 13, 2020

Next, Minireeks - 2/10

Gits, nee, dalk het Next meer potensiaal, maar iets werk net nie. Dalk die swak hoofrol vertolking, die powere poging om 'n onderliggende onheil te skep of onoortuigende milieu - ek weet nie, maar gaan nie tyd hierin bele^ nie. Saam met Bella op die Bank.




Sunday, November 8, 2020

The Letters - 7/10

The Letters se hoofrol vertolking staan net to ver bokant die res van die rolle uit - hulle is meesal amateuragtig. Mens leer egter heelwat in die film van Moeder Teresa en al die struikelblokke wat sy beleef het - ekstern sowel as intern. Die fliek is ook glad nie sentimenteel nie. Dit tref 'n aanvaarbare balans tussen die geloofsaspekte en dokumentering van 'n deel van haar lewe. Saam met Bella op die Bank.


Friday, November 6, 2020

Special Correspondents - 4/10

Special Correspondents is nie die geloofwaardigste film ooit nie, met redelike vertolkings. Die konsep is nie verregaande nie, die uitvoering daarvan is dalk ietwat so. Dit bly egter baie ligte ontspanning en waarskynlik die enigste film met Ricky Gervais in wat ek sal kyk. Saam met Bella op die Bank,




Sunday, November 1, 2020

Krotoa - 6/10

Krotoa is 'n redelike uitbeelding van die periode, maar met vertolkings wat hier en daar dalk net nie werk nie - miskien sou dit in Hollands beter gevaar het. Die verhaal is tot 'n mate hartseer, en hoeveel daarvan onder en bokant die waarheid is, is 'n ope vraag. Ek dink dit was heelwat erger as wat uitgebeeld word, veral die tronk dele. Mens moet hierdie maar kyk, maar ek is nie so seker oor die versoeningswaarde daarvan nie. Vir die sondes van jou voorvaders betaal mens maar duur. Dit voel ook meer luuks as 'n plaaaslike produksie. Saam met Bella op die Bank.


   

Saturday, October 31, 2020

Cry-Baby - 5/10

Cry-Baby is 'n totale oordrewe laat Negentigs fliek, waarvan dit dan seker ook die doelwit is. Net vir geharde Johnny Depp aanhangers bedoel. Saam met Bella op die Bank.


 


Friday, October 30, 2020

An American Pickle - 6/10

An American Pickle is 'n raak uitbeelding van Amerika se absolute liggelowigheid. Dit is kykbaar, komies en eintlik tragies op die ou einde. Ek is nie gek na dubbel vertolkings nie, maar hierdie geval met sy vals Poolse aksent werk tog. Die mees kykbaarste film van Seth Rogen tot hede. Dalk nie vir almal bedoel nie, dalk amper Amerikaanse kunsfliek - as so iets ooit bestaan - dit het 'n ten minste vars benadering wat die hele belaglike en komplekse moderne tyd uitbeeld. Saam met Bella op die Bank. En soos sy se^, ons soek meer as wat ons nodig het. 

  

Sunday, October 25, 2020

The Witches - 3/10

The Witches is 'n puik voorbeeld van hoe Hollywood 'n perfekte boek kan opneuk. Ai. Doodvervelig. Kon net halfpad uithou met die' gegillery. Saam met Bella op die Bank. 




Rebecca - 4/10

Rebecca het al die elemente en voordele tot sy beskikking, maar misluk klaaglik. Die film neem homself heeltemal te ernstig op, daar is geen speelse element nie. Die genre is ook uitgedien en hierdie poging beslis nie 'n uitstaande voorbeeld nie. Miskien kon hulle dit 'n komedie gemaak het, met alles dieselfde, dit sou baie beter gedoen het as om so geld te mors. Ai. Het sowat halfpad uitgehou, die mense en die milieu is darem mooi. Saam met Bella op die bank.




Sunday, October 18, 2020

Bobby - 5/10

Bobby handel eintlik meer oor kleinlike intriges in 'n hotel, as oor die moord op Robert Kennedy. Dit is meer 'n bysaak. Die gevolg is vervelige oninteressante akademiese vertolkings. Het die eerste deel gekyk, gespring tot die skietvoorval en die res maar gelos. Saam met Bella op die Bank.



 

Saturday, October 17, 2020

Marionette - 4/10

Marionette begin heel stylvol en met belofte, maar dan besef mens die genre. Dalk het ek hierdie genre verleer, maar dit staan my nie meer aan nie, dit voel net te sinloos. So 15 minute later ophou kyk - Saam met Bella op die Bank.




Friday, October 16, 2020

The Wall of Mexico - 6/10

The Wall of Mexico is 'n ware Amerikaanse kunsfliek, 'n moderne fabel. Dit is vreemd vermaaklik, maar skep ook 'n ongemak met 'n paar van die sewe doodsondes wat skreeuend uitgebeeld word. Dit is dan ook duidelik na wie die film verwys. Kyk op eie risiko. Saam met Bella op die Bank.



  

Monday, October 12, 2020

Brave New World, minireeks - 6/10

Brave New World lyk nie te sleg nie - dit is wel vervsardig, met 'n baie luukse aura. Sal dit nog 'n episode of wat kans gee. Die minireeks is gebaseer op die boek van soortgelyke naam deur Aldus Huxley. Het dit begin kyk in Tsitsikamma Nasionala Park, terwyl daar vir werk was. 




Sunday, October 11, 2020

Raised by Wolves, Reeks - 5/10

Ek is nog nie seker of ek Raised by Wolves verder wil kyk nie. Die loodsepisode skep konteks en posisie, sonder dat regtig veel gebeur. Sal nog dink. Saam met Bella op die Bank. Het wel die twee episode in Wilderness Nasionale Park tydens 'n werksreis daar gekyk, sal dit nou wel verder kyk, maar is nie Bella se koppie tee nie. 

 

Saturday, October 10, 2020

Save Yourselves! - 4/10

Save Yourselves! is 'n lae begroting, dalk eksperimentele, fliekie, maar wel met 'n vars benadering tot 'n apokoliptiese scenario. Dit is rolverdeling, milieu en kostuum gewys hiper ekonomies. Mens lag eintlik vir die film met 'n ongemak oor die realisme daarvan. Spookasem marsmanne. Saam met Bella op die bank.




Heartbreaker - 4/10

Heartbreaker is weliswaar Franse slapstick. Dit is ook wel kykbaar, redelik snaaks en baie lig. Saam met Bella op die Bank.





Wednesday, October 7, 2020

Emily in Paris, Reeks - 5/10

Emily in Paris is baie lig, speels en heel kykbaar. Van vooraf verlief op die Romantiese Stad, Sal dit kyk, al is die net vir al die mooi. Saam met Bella op die Bank.





Sunday, October 4, 2020

Becoming Astrid - 6/10

Moet nie Pippie Langkous in Becoming Astrid verwag nie. Hierdie is 'n geswoeg en gesukkel nog voordat die boeke geskryf is. Dit is wel duidelik dat alles wat gebeur daartoe bydra. Beslis 'n fliek vir meer geoefende fliekgangers. Saam met Bella op die Bank.




Saturday, October 3, 2020

Tulipani: Liefde, eer en een fiets - 7/10

Tulipani: Liefde, eer en een fiets is 'n ligte fliekie maar met so draaitjie drama en tragedie by. Die einde is nie een honderd persent maanskyn en rose nie, maar mens voel tog dit eindig wel met 'n skurk of twee wat skouspelagtig sneuwel. Die fliek kom eerlik en opreg voor, nie pretensieus nie. Saam met Bella op die Bank.




 

Friday, October 2, 2020

Non-Fiction - 6/10

Non-Fiction handel erg non-galant met affairs, net soos die Franse kan doen. As dit nie vir die stel & milieu was nie, en dat Frans, maak nie saak wat hulle se^ nie, soos poe"sie klink te alle tye, sou hierdie praat fliekie dalk nie so goed gewerk het nie. Dit is amper die Franse weergawe van 'n Woody Allen. En na die tyd, dat ek die film plakaat gesien het, maak alles eintlik sin. Saam met Bella op die Bank.



Thursday, October 1, 2020

Devils, Reeks - 6/10

In Devils moet mens mooi na die vinnige en soms tegniese dialoog luister. Dit begin skaflik, met 'n taamlike pas. Ons hou nogals van die Europese gevoel daarvan. Saam met Bella op die Bank.




Wednesday, September 30, 2020

Messiah, Reeks - 6/10

Messiah is anders as verwag, maar lyk of mens dit kan volg. Dit is wel na die eerste seisoen gekanselleer, so die hoop is dit eindig sinvol... Saam met Bella op die Bank.




Sunday, September 27, 2020

Mrs. Lowry and Son - 7/10

Mrs. Lowry and Son se titel is beslis vir 'n rede as sulks gekies. Die rolverdeling kon nie beter nie, en die vertolkings uit die boonste rakke. Die film is baie ekonomies vervaardig met 'n klein stel. Moet nie enige aksie verwag nie, eerder pynlike stadige dialoog. Die hele situasie is merkwaardig en dan nog meer so as mens na hedendaagse pryse kyk wat van die werke haal. Saam met Bella op die Bank.




Friday, September 25, 2020

Vuil Wasgoed - 6/10

Vuil Wasgoed is beslis snaaks, en laat die meeste wit Afrikaanse mans erg onbehep lyk. Dit is redelik vervaardig vir die - ek vermoed baie klein - begroting. Nie almal sal hierdie snaaks of vermaaklik vind nie, maar ek en Bella het - op die Bank - by tye gesrkeeu-lag. 



   

Thursday, September 24, 2020

Everything Is Illuminated - 6/10

Ek het die meeste van Everything Is Illuminated gemis, was net te vaak om hierdie te volg. Bella het dit wel geniet, veral die andersoort humor. Die punt is dus hare. Sy reken ook die rolverdeling is gepas. Saam met Bella op die Bank. 



 

Wednesday, September 23, 2020

Enola Holmes - 6/10

Enola Holmes is baie lig en dalk meer gepas vir ma's en hul tienerdogetrs. Dit is heel kykbaar, met 'n redelike rolverdeling en milieu, en ietwat voorspelbare verloop. Saam met Bella op die Bank.





Sunday, September 20, 2020

A Rainy Day in New York - 6/10

A Rainy Day in New York is 'n tipiese Woody Allen fliekie, waar die milieu ook dan 'n sterk karakter of rolverdeling is. Hierdie is lig, steeds praterig, maar heel vermaaklik met skerp dialoog en observasies. As jy nie reeds op New York verlief is nie, sal hierdie een beslis die vuur aansteel. Saam met Bella op die Bank. En soos sy tereg hardop wonder - wie gaan Woody Allen flieks maak as hy nie meer nie?


   



Saturday, September 19, 2020

Hollywood, Minireeks - 3/10

Hollywood se eerste episode is so vervelig mens sien kans vir die res nie. Mens gee nie regtig om wat met die karakters gebeur nie. Die reeks is dalk wel van waarde vir iemand in die bedryf. Het so halfpad moed opgegee met die eerste episode. Saam met Bella op die Bank.



 

Friday, September 18, 2020

Evel Knievel (2004) - 5/10

Evel Knievel is ietwat amateuragtig met erg geforseerde dialoog. Mens wonder oor die getrouheid van die uitbeelding, maar dit is tog tot 'n mate vermaaklik. Watookal mens van die perd ding, hy het beslis nie terug gedeins vir enige persoonlike ongemak en erge beserings nie. Die vertolkings is werklikwaar oppervlakkig, maar die milieu voel akkuraat. Saam met Bella op die Bank.


Sunday, September 13, 2020

Resistance - 7/10

Resistance is een van vele Tweede Wereld oorlog dramas. Hierdie weergawe is nogals spannend, met minder gru, maar tog 'n deel daarvan. Getroue milieu en ordentlike vertolkings. Oorlog bly egter ontstellend met sy sinneloosheid en algemena minagting van lewe. Dit is wel die gees van die mens wat veral vir ander omgee wat sulke verhale soos hierdie die moeite werd maak om te kyk. Ten minste leer mens ook iets. Saam met Bella op die Bank.


 


Saturday, September 12, 2020

The Burnt Orange Heresy - 5/10

The Burnt Orange Heresy stel nogals teleur ten spyte van sy potensiaal, rolverdeling en milieu. Die film ondergaan 'n onverwagse metaformose tydens 'n spesifieke gebeurtenis wat dit dan onmiddelik 'n paar vlakke laat val. Aag nee wat, hou dalk eerder verby, die fensie titel help net mooi niks. Saam met Bella op die Bank.



 

Friday, September 11, 2020

Zoom - 5/10

Zoom is amateuragtig, maar met 'n oopkop (oopbors?) tema. Dit is prettig-stout, en laat mens giggel met sy reguit benadering met meer ongemaklike situasies. Op die man af sonder skroom. Moet dit nie saam met ouma kyk nie. Saam met Bella op die Bank. 

  



On Becoming a God in Central Florida, Minireeks - 5/10

On Becoming a God in Central Florida is waarskynlik die moeite werd, met die eerste episode vol onverwagte verlope. Ek voel net nie om tyd daarin te bele^ nie. Dalk is die dialoog net te oppervlakkig-eerlik. Saam met Bella op die Bank (sy wil dit dalk klaar kyk). 






Sunday, September 6, 2020

Zoo - 7/10

Zoo is 'n eenvoudige verhaaltjie maar wat mens intrek en laat goed voel my sy eerlikheid, menslike gees en milieu. Alhoewel ten tyde van oorlog, word mens tot 'n mate daarteen beskerm. Beslis die kyk werd. Saam met Bella op die Bank.  


 


Saturday, September 5, 2020

Cursed, Reeks - 3/10

Cursed ... gits nee, kon dit gelukkig gou genoeg stop. Saam met Bella op die Bank.



Rokjesdag - 5/10

Rokjesdag lyk nie te sleg nie, maar ons kon nie onderskrifte in die hande kry wat werk nie. Hulle praat te vinnig en van die dialoog net te moeilik om die nuanses te volg. Maar opgegee. Ai. Saam met Bella op die Bank.




Friday, September 4, 2020

Okja - 6/10

Okja is iets heeltemal anders as wat ons verwag het. Dit is onstellend en vermaaklik tergelyke tyd. Asook amateuragtig, heeltemal oordrewe en oorspeeld. Dit bly egter baie indringende kommentaar op die samelewing, gierigheid en ander doodsondes. Verwag 'n hartseer einde. Saam met Bella op die Bank.



  

Saturday, August 29, 2020

The War with Grandpa - 4/10

The War with Grandpa is maar flou. Dit kort net meer fut. Daar is wel heelwat ongemynde potensiaal. Die poetse en grappe is oumakou, niks nuut en vermaaklik nie. So ietwat van 'n meganistiese ou reseppie. Beslis op eie risiko. Saam met Bella op die Bank.