Monday, November 30, 2009

Transformers: Revenge of the Fallen - 4/10



Nee wat, hulle sal iets beters en nuuter moet uitdink om te verbeter op die eerste Transformers. Daar is meer en groter masjiene, maar dit help nie. Selfs die lieflike Megan Fox red nie die fliek nie. My twee laaitjies het dit heel geniet. Ek dink wat ook kort is dalk die gebruik van goed berekende humor. Die eerste een het dit beter reggekry. Saam met die Familie op die bank. Bella het nie eers die fliek klaar gekyk nie.

Sunday, November 29, 2009

Chaos Theory - 7/10



Chaos Theory was sover ek weet nie eers op die kringloop gewees nie. Dit is 'n heel kykbare tjiekfliek met 'n ietwat anderse reseppie en verfrissende benadering. Dit lyk soos 'n komedie aanvanklik, maar is dalk so bietjie meer ernstig. Met taamlik onbekende akteurs maak dit nie staat op hoostroom geldtrekkers nie. Was aangenaam verras met hierdie een. Soortgelyk aan The Hangover, laat dit mens hier en daar nogals meevoel met die kwaai misverstande wat ontstaan. En vrek, die man het 'n baie sterk wil om die honeytrap blondine te systap... Saam met Bella op die bank.

Thursday, November 26, 2009

Terminator Salvation - 4/10



Die nuutste weergawe van die Terminator reeks, Terminator Salvation, is nou nie die beste fliek nie, en draai maar baie om die skiet van goeters, sonder te veel van 'n storie. Dis ook moeilik om te se of hierdie beter of slegter as die voriges is. Van die spesiale effekte is nogals lekker om te kyk, maar dis ook waar dit stop. Ten minste het die vorige weergawe, Terminator 3: Rise of the Machines, Kristanna Loken in gehad. Saam met Bella op die bank.

Earth - 9/10


Ek is iemand wat nogals baie van natuur dokumentere hou, en het al heelwat gesien. Een van my gunsteling reekse, is The Trials of Life, wat deur David Attenborough aangebied word. Hierdie een, Earth, is nou wel nie so tegnies en vol inligting soos Trials nie, maar het van die mooiste tonele wat ek nog ooit gesien het oor ons ou planeetjie in. Die samestelling is puik en mens raak verdiep in die pragtige tonele, maar ook soms hartseer tonele. Beslis aan te beveel vir natuurliefhebbers. Saam met die familie op die bank.

Tuesday, November 24, 2009

John Doe (Episodes 1-21) 6/10


John Doe (Sien ook Wikipedia: John Doe) is nie 'n te slegte reeks nie, maar eindig maar redelik stomp en dalk selfs teleurstellend. Die reeks is gekanselleer, en daar is dus geen opvolg nie. Die einde is tipies so gekryf dat 'n opvolg reeks half noodsaaklik is.  Die episodes is almal redelik interessant, en kyk heel gemaklik. Ek het nogals gesoek vir die reeks op DVD, maar kon dit nerens kry nie, seker maar omdat dit net na Noag uit die ark gekom het (2002). Ons het dit dus op rekenaar gekyk - nie op die groot skerm of die gemaklike bank nie (ek het nog nie een van daai fensie boksies vir AVIs nie). Daar is ook 'n verkyning of twee van Gabrielle Anwar, sy is nog uit die dae van Scent of a Woman. Wie kan nou die pick-up line van blinde Al Pacino vergeet?

Monday, November 23, 2009

The Great Buck Howard - 5/10



The Great Buck Howard is skynbaar losweg gebaseer op 'n ware verhaal. Ek is net so seker of die wille handskud van ou Buck op feite rus nie. In elk geval, 'n redelike interessante film, maar daar is nie juis 'n spanningslyn of veel ander opwinding nie. Emily Blunt sorg darem vir so bietjie romanse, maar selfs dit is maar min in terme van aksie. Moet nie hierdie uitneem as jy baie verwag van 'n film aand nie. Dit kyk amper soos 'n dokumenter, maar is beslis nie een nie. John Malkovich speel soos verwag redelik goed, maar hierdie is dalk te veel dieselfde as van sy ander rolle. Die fliek neem dus eerder 'n John Malkovich baadjie aan, as wat John die hoofkarakter aanneem.... Saam met Bella op die bank.

Friday, November 20, 2009

Management - 6/10



Management is nie 'n gewone tjiekfliekie nie, en is ook met een van my gunsteling aktrises, ou Jen. Sy het darem glad nie 'n te slegte lyf vir haar ouderdom (40+) nie... In elk geval, terug tot die amper art-house, alhoewel baie ligte, tjiekfliekie. Soos Bella se^, dit is 'n fliek van onperfekthede, veral as mens dit met gewone Hollywood sou vergelyk soos byvoorbeeld The Proposal. Laasgenoemde het alles perfek, die mense, die gebeure, die plekke. Steve speel baie goed, en mens kry hom half jammer. Moet se^ dat ou Woody ook 'n baie goeie ondersteunende vertolking doen. Daar is 'n paar histeries-snaakse tonele, veral die een met die boude.... Saam met Bella op die bank. Lekker vermaak vir 'n bietjie meer denkende Vrydagaand.

Friday, November 13, 2009

Knowing - 4/10



Knowing is maar gemiddelde Nicolas Cage vermaak, eintlik maar so bietjie onder gemiddeld. Van die spesiale effekte is nie te sleg nie. Die storie is maar dun. Redelike Vrydagaand vermaak. Saam met Bella op die bank.

The Proposal - 5/10

Nou ja, wel, hierdie is maar die gemiddelde common garden variety tjiekfliek. Watshaarnaampie sal seker hierdie tipe fliek tot nog na 'n hele paar gesigontrippelings doen. Dit kyk darem nie te sleg nie, en die twee meer snaakse stukke is nie te sleg nie. Me Bullock lyk ook glad nie te selg vir haar ouderdom (45) nie, al keer sy soos 'n topkolwer vir haar wickets... Saam met Bella op die bank.

Friday, November 6, 2009

Star Trek (2009) - 7/10



Star Trek is maar nog altyd 'n groot gunsteling, vanaf Kaptein Kirk na Picard en nou na die nuwe manne. Moet se^ dat nadat ek die ekstra stukke op die DVD gekyk het, en die regiseur die kommentaar gelewer het dat hulle so bietjie by Star Wars geleen het, besef ek dat die pas van die film dalk heelwat vinniger is, as die gewone Star Trek episode. Dit is egter lekker om hierdie weergawe te kyk, en mens is half teleurgesteld as dit eindig. Ek moet ook se^ dat die modernisering van die moederskip met smaak en sensitiwiteit benader is, en dat genoeg cheesy dialoog oor is, ten spyte van die nuwerwetse slang. Dit is beslis aan te beveel, en die wag vir die DVD was die moeite werd. Saam met Bella op die bank.

Up - 7/10



Up is nou wel animasie, maar dit is meer op groot mense gemik as kinders sou ek reken. Die storielyn is heel kreatief, en baie anders as wat mens verwag as jy begin kyk. Dit het so drie sterk temas wat deurkom, en dan nog 'n paar ander by: oudword, omgee en kinders grootmaak. Dan is daar die amper mitologiese voe"l wat die rondte doen.....anders se^ ek mos as wat mens verwag....Die humor is ook goed, maar speel minder van 'n rol, dit is eerder die erge realisme van oudword wat die fliek oorheers.....Saam met Anrich in die teater vir 'n slag, en toe so wraggies waar is die klank in ons Ster Kinekor weereens bekonkeld - dit is seker nou die sewende keer in 'n ry wat ek gaan fliek dat daar iets fout is. Dit is hoekom ek al minder gaan fliek en eerder wag vir DVDs...En dan is daar die erg duur springmielies en koeldrank ook nog. Nee wat, as Ster Kinekor wil he^ mens moet eerder gaan fliek in die teater as om by die huis gemaklik - sonder probleme - te fliek, sal hulle beslis 'n plan moet maak.

Tuesday, November 3, 2009

Jackpot - 3/10

Nog een van daai feel-good-moewies - mens kry nie eers die titel op IMDB of die internet nie. Dit is erg amateuragtig, maar dan met 'n storie wat veronderstel is om mens 'n baie belangrike lewensles te leer. Dit bereik seker wel die laasgenoemde, maar nou ja, mens kan ook net soveel toelaat. Saam met Bella op die bank.

Monsters vs Aliens - 5/10




Nie te slegte animasie nie - die fliek kyk nogals lekker, veral saam met die jongspan. Niks nuuts in terme van storie of tegnologie nie. Daar is 'n paar regtig snaakse stukke, en die jellieman is tog ook snaaks. Saam met die familie op die bank.

Sunday, November 1, 2009

The Brothers Bloom - 6/10



Aag vrek, ek was net te moeg om hierdie waarlik te kon inneem - dit is kunsfliek komedie op sy beste, maar met 'n goeie skoot traan daarby. Adrien Brody het 'n manier aan hom wat net werk. Ek het al van sy ander flieks gesien, en was nog nie teleurgesteld nie. Rachel speel ook heerlik in die fliekie, en Bang Bang vat die koek! Dit is ligte kunsfliek vermaak, en beslis aan te beveel vir Vrydagaand moegheid..... Wat opval is die hoeveelheid styl wat die twee hoofkroeks aan die dag le^. Saam met Bella op die bank.