Monday, February 27, 2017

The Night Manager, Minireeks - 8/10

The Night Manager begin baie stylvol, onderspeeld, en omdat dit 'n kort mini-reeks is, lyk dit baie belowend na die eerste twee episodes. Mens hou nogals van die manlike hoofrol, en die hotelle is, nou ja, iets waar mens 'n paar aande graag sal wil vertoef. Saam met Bella op die bank.

Sunday, February 26, 2017

Middle School: The Worst Years of My Life - 7/10

Middle School: The Worst Years of My Life is 'n sterk genre voorbeeld. Dit kyk maklik, is nie te stroperig nie, en is goeie Vrydagaand materiaal saam met die familie. Eerder gemik op laat laerskool vlak, maar werk nog vir 'n bietjie ouer gehoor. Saam met Bella en Anrich op die bank.

Night Moves - 6/10

Night Moves is maar neerdrukkend, en dit is nie regtig duidelik watter kant van die groendraad die film vervaardig het nie... Wil pro-groen wys dit is 'n moeilike saak of wil die anti-groen beweging wys dit is nie so romantiese, rooskleurige en edele saak nie? Wat my wel na die een kant laat leen is dat 'n ware pro-groene nie plastiek in 'n vullisgat sou gaan gooi het nie...En dan is daar die taamlik onbevredigende einde om ook mee saam te leef. As jy sterk en groen of anti-groen voel. Wel realistiese en gepaste vertolkings tesame met 'n sterk rolverdeling. Saam met Bella op die bank.


Saturday, February 25, 2017

Max Steel - 4/10

Max Steel is nog 'n superheld fliekie, maar een waar die held eers sy (tiener) voete moet vind ('n sogenaamde origins storie). Ietwat stroperig, stadig en nie veel aksie nie. Seker redelike familie materiaal, want beide Anrich en Franko het bly sit en klaar gekyk saam met my en Bella op die bank. 

My Bakery in Brooklyn - 4/10

My Bakery in Brooklyn is net te soetsappig, en sentimenteel. Dit is soos goedkoop vuurwerke, vlieg, klap en maak geraas, maar nie baie hoog of mooi nie. 'n Paar regtig simpel tonele, maar darem Brooklyn, en lekker gebak. Saam met Bella op die bank.

Sunday, February 12, 2017

Passengers - 7/10

Passengers is nie die gewone skop-skiet-en-vlieg ruimtefliek nie, dit is stadig, mooi en sinvol. Die vertolkings is gepas, nie sleg nie, maar die twee hoofrolle kon beter toegeken gewees het. Uitstaande vertolking is die kroegman. Ek sou reken ondersteunende rol Oscar materiaal. Kyk gerus, maar moet nie baie aksie verwag nie. Daar is so klein bietjie, maar dis nie waaroor hierdie fliek gaan nie. Saam met Bella op die bank.

Roald Dahl's Esio Trot - 7/10

Roald Dahl's Esio Trot is 'n heerlike, genotvolle (wat anders werk beter as delightful?) fliekie. Dit volg die boek redelik getrou met so paar sinvolle kreatiewe kinkels. Dit is 'n eerlike, onpretensieuse kykie na meer gevorderde ouderdom romanse, wat eintlik nie baie van kalwerliefde verskil nie. Uitstekende vertolkings, hoe dan anders? Saam met Bella op die bank. 

Sunday, February 5, 2017

Lion - 7/10

Lion raak nogals die hartsnare, en omdat dit rondom ware gebeure afspeel, soveel te meer. So klein bietjie aangedik in terme van feite, maar steeds erg as mens dink wat met vyfjariges kan gebeur in 'n groot stelsel. Ek dink ook daar is baie erger gevalle wat nie so mooi uitdraai nie. Saam met Bella op die bank.


Saturday, February 4, 2017

Arrival - 8/10

Arrival is 'n kuns wetenskapfiksie fliek. Dit beweeg stadig met min aksie, realistiese gebeure rondom die hooftema, en met heelwat emosionele uitbeelding. Nogals 'n vars, nuwe benadering, alhoewel daar tog ooreenkomste is met ouer films soos Contact. Kyk beslis as jy rustig voel, en nie pure vermaak nodig het nie. Die rolverdeling werk goed en die vertolkings is nie oordrewe nie, genoegsaam onderspeeld. Saam met Bella op die bank.