Friday, September 24, 2021

Free Guy - 7/10

Ek het Free Guy geniet, maar Pixels was beter. Die grafika is verbysterend, veral die vloei tussen realiteit en skynwerklikheid. Bella het dit baie geniet. Die milieu, periode, kostuumwerk en rolverdeling werk goed. Daar is dan ook heelwat versteekte humor en kameerolle. Saam met Bella op die Bank.



 

Thursday, September 23, 2021

Vigil, Minireeks - 8/10

Ek wonder of die Koninklike Vloot die vervaardigers reeds hof toe gesleep het? Vigil bewys minder bekende akteurs kan uitstekende vertolkings lewer sodat mens na die storie kyk, en nie die akteurs nie. Hierdie is een van die min reekse wat ons in 'n ry aande klaar gekyk het - aan die einde van elke episode wil mens net gou kyk wat volgende gebeur. Saam met Bella op die Bank.


Monday, September 20, 2021

Resident Alien, Reeks - 6/10

Resident Alien is volwasse komedie met ligte drama elemente daarby. Dit is regtig snaaks. Van die episodes is ietwat saai, maar daar gebeur genoeg om belangstelling te behou. Die gesigtoertjies van die manlike hoofrol is werklikwaar merkwaardig. Die rolverdeling is raak en die mileu is perfek (wens ek kon daar woon). Saam met Bella op die Bank.







  

Sunday, September 19, 2021

12 Mighty Orphans - 7/10

Ek is nie gek na sport flieks nie, maar 12 Mighty Orphans vind nogals sy pad in na 'n mens se hart. Dit het waarskynlik te doen met die milieu, periode, rolverdeling en verhaal. Dit is dan ook gebaseer op ware gebeure, wat mens se tone laat krul van genot, veral met sekere inhegtenisnames. 'n Goeie keuse saam met die familie op 'n Sondagaand. Saam met Bella op die Bank.



Saturday, September 18, 2021

The Power of the Dog - 3/10

The Power of the Dog is doodvervelig. Veral die dialoog. Kyk, ek kan 'n stadige kunsfilm met lang kameraskote wat met aandag en detail gerangskik is waardeer. Maar hier is net te min asemrowende landskappe om hierdie pappie te red. Beslis 'n film van akteurs vir akteurs sonder om die kyker in ag te neem. Kragtoer vertolkings sonder sin. Kon sowat 30 minute verduur. Saam met Bella op die Bank.



Friday, September 17, 2021

Le Bal des Folles (The Mad Women's Ball) - 8/10

Le Bal des Folles is gebaseer op ware gebeure en as mens so daar aan dink, nogals ontstellend. Dit herinner ook sterk aan Hysteria, maar laasgenoemde het 'n ligter en meer komiese aanslag, alhoewel met dieselfde onderliggende tema - kwakke en algemene mening wat sekere gedrag in die naam van wetenskap of geloof onderdruk, vervolg en verwyder. Die milieu, kostuumwerk, periode, rolverdeling en vertolkings is onverbeterlik. Mens voel die magteloosheid aan van die slagoffers en sit self in daardie koue donker gat. Vir ervare kunsfliekgangers bedoel. En dankie tog! gelukkig is hierdie 'n Franse produksie en nie Hollywood nie - ek sidder om te dink wat hulle met die draaiboek sou doen. Saam met Bella op die Bank.



Sunday, September 12, 2021

On Wings of Eagles - 6/10

Ten spyte van die milieu, periode, rolverdeling en storie het ek On Wings of Eagles bietjie langdradig en vervelig gevind. Wat ook gebeur het, veral na die eerste helfte, is dat daar heelwat Japannees gepraat word sonder onderskrifte. Ons kon glad nie gepaste onderskrifte opspoor nie. Dus die aftog geblaas omdat te veel van die lyn verlore raak. Saam met Bella op die Bank.



Lady of the Manor - 2/10

Lady of the Manor is maar erg amateuragtig. Bella het net die einde klaar gekyk. Ek kon dit nie uithou nie. Saam met Bella op die Bank.




Saturday, September 11, 2021

Nine Perfect Strangers, Reeks - 6/10

Nine Perfect Strangers begin heel onheilspellend, met die tipiese Hollywood benadering. Dit is 'n korter reeks, so sal dit waarskynlik klaar kyk tensy dit heeltemal skeef uitdraai. Soos met The White Lotus lyk dit nie of mens van enige van die karakters kan hou nie. Saam met Bella op die Bank.



L'enfer (Torment ook bekend as Hell) - 3/10

L'enfer begin redelike amateuragtig en bewys dat nie alle Franse films kuns materiaal is nie. Sowat 15 minute kon uithou. Saam met Bella op die Bank.




Friday, September 10, 2021

Stillwater - 6/10

Ek is nie aldag seker wat mens dryf tot die skryf van 'n draaiboek en maak van 'n fliek soos Stillwater nie. Dit is nie asof hulle baie geld gaan maak of groot gehore met hierdie oukie trek nie. Dit val seker meer in die kunsfliek kring. Maar ten spyte steeds heel kykbare materiaal. Ten minste nie met 'n Hollywood einde nie en met 'n sinvolle rolverdeling. Saam met Bella op die Bank.


Saturday, September 4, 2021

Worth - 7/10

Worth is eintlik 'n doku-drama maar skep genoeg afwagting om 'n baie eenvoudige reeks van gebeure genoegsaam voor te le^ aan die fliekganger. Hier vaar die manlike hoofrol heelwat beter as met The Protégé. Die film is dan nie oor-sentimenteel of sensioneel nie, die saak word met genoegsame style aangeraak. Saam met Bella op die Bank. 


Cinderella (2021, Musical) - 0/10

Kon die eerste paar minute deursit van Cinderella, maar niks meer as 180 sekondes van die hoofrol se stem nie - toe sy begin sing toe breek alle hel los. Net honde en vle^rmuise sal op daardie stem reageer. Daar gaan 'n geliefde sprokie in skril stemme op. Saam met Bella op die Bank.





 

Friday, September 3, 2021

The Protégé - 6/10

The Protégé maak dit ook net-net bo die gemiddeld. Voorspelbaar en met 'n vervloee" manlike hoofrol. Hulle kon beter gekies het. Steeds darem redelike kyk materiaal vir 'n Vrydag of Saterdagaand. O, en Mnr Jackson red ongelukkig nie die film op sy eie nie. Saam met Bella op die Bank.