Monday, August 30, 2010

Nanny McPhee and the Big Bang - 6/10

Wel, Nanny McPhee, met die klein C en die groot P is regte kortvolk, fantasie materiaal. Dit is baie goed uitgevoer, heel kykbaar vir grootmense ook, en tog snaaks. Saam met die hele familie op die bank. Dit is dan ook die eerste Blu-ray DVD wat ons op die nuwe Sony BDP-S370 gekyk het.

The A-Team (2010) - 7/10

Wel, as mens die TV reeks gevolg het gedurende die vroee" tagtigs, is hierdie 'n moet. Met 'n onmiskenbare tema klankbaan, en min-of-meer dieselfde karakters is dit 'n lekker fliekie om te kyk. Net jammer ou Mr T is nie so bad-ass as in die TV reeks nie....en dan ook sonder sy hele reeks nekbehangsels. Maar ten spyte daarvan is die res piekfyn. Lekker aksie, met 'n paar baie goeie en snaakse dele. Me Biel voeg ook goeie waarde toe tot die algemene poging.  Saam met Bella op die bank.


Sunday, August 22, 2010

Taking Woodstock - 5/10

Taking Woodstock begin vir my goed, maar rafel dan tog so bietjie uit. Wel, mens kan dan seker maar se^ die film trek 'n parallel met die hippie-era, goeie begin....In elk geval, daar is twee rolle wat baie goed vertolk word, die deur die geld-behepte ma en kruis-kleder cum sekuriteitswag. Die grafiese uitbeelding van 'n hoograak in die ou VW kombitjie was ook verfrissend. Die fliek is heel kykbaar, en lekker rustig vir enige aand van die week. Dit voel tog so bietjie meganisties. Onthou net, daar is hippies in, so verwag iets wat jy dalk nie saam met skoonma wil kyk nie... Saam met Bella op die bank.

Step Up 3D - 6/10

Step Up 3D gaan kyk mens beslis nie vir die storielyn nie, uitsluitlik vir die danstonele. Daar is 'n paar ongelooflike sekwensies, waar die limiete van die menslike liggaam goed getoets word. Die musiek is goed, maar kon beter gewees het. Die 3D effekte pas goed by die dans, mens moet net nogals mooi kyk om al die nuanses van beweging raak te sien. Saam met die familie by  Zambezi Mall.

Saturday, August 21, 2010

Cheri - 6/10

Cheri is glad nie so sleg as wat sommige kritici dit afmaak nie. Mooi tonele, mooi tydperk kostuums, en, ja, Michelle raak ook oud. Dalk nie die regte fliek vir 'n Vrydagaand nie, maar die meisies sal daarvan hou, dis maar 'n lekker ou liefdesverhaaltjie. Die spel is goed, en gepas vir die tipe film. Saam met Bella op die bank. 

Monday, August 16, 2010

Clash of the Titans - 5/10

Nee wat, Clash of the Titans is ietwat sielloos. Selfs Percy en sy makkers doen beter as hierdie fliek. Dit was 'n meganistiese uitvoering van die bekende tema, met seker een van die swakste Ralph Fiennes vertolkings ooit. Aag nee wat, vermy dalk eerder, selfs nie eers die grafika is iets om oor huis toe te skryf nie.... Saam met Bella op die bank. Het weer die film saam met Franko en Bella gekyk (Aug 2014, eerste keer was Aug 2010), die slag dit nogals anders ervaar... 

Nine - 7/10

Sjoe, Nine is 'n absolute viering van die vroulike vorm, en op die koop toe, ook Italie. Baie ryk beelde, met skote wat bloot net daar is vir die skoonheid daarvan. Ek het meer van Chicago gehou, maar hierdie een het 'n hele paar goeie tonele. Net aan te beveel as jy van musiekflieke hou. Ek is glad nie 'n musiekfliekaanhanger nie, maar daar is 'n paar wat uitstaan. Hierdie een is heelkykbaar, maar my gunstelinge bly Chicago en Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat. Saam met Bella op die bank.

Friday, August 13, 2010

A Single Man - 7/10

Colin het dit reggekry om sy stamelende self in 'n A Single Man af te skud. Mens kan ook sien dat 'n mode bewuste die fliek gemaak het, stilisties is dit puik, maar tog ietwat sielloos. Die karakterontwikkeling kon beter gewees het. Dit is Me Moore egter wat uitstaan in haar ondersteunende rol. Wees gewaarsku, geniet hierdie op 'n rustige Sondagaand. Ek het egter amper 'n slag of wat aan die slaap geraak, maar ek was darem baie moeg... Saam met Bella op die bank.

Inception - 10/10

Daar is nie baie flieks soos Inception nie. Net soos Gamer, en The Matrix, speel dit meesal in 'n alternatiewe realiteit af. Wat Inception nogals anders maak is dat nie werklik op tegnologie staatmaak om die alternatiewe realiteit te skep nie. Wel, mens sou seker kon se^ die stoffies wat hulle so mildelik binneaars toedien is nuwe tegnologie... In elk geval, die spesiale effekte is goed verweef met die storie, en dit het lanklaas met my gebeur dat 'n film my so in intrek in 'n ander realiteit in, dat ek my eie vir eers vergeet. Dit is ook 'n redelike lang trek, die fliek is goed oor 2 ure. Ek het dit baie geniet, en dit bevestig ook ou Leo as 'n akteur uitgeknip vir hierdie tipe van rolle. Wat baie uitstaan in die film, is die ryk beelde, veral die hotel, met fantastiese vegtonele, en die Chinese fort. Die bussie wat van die brug af val, skep 'n lyn van gebeure wat vereis dat mens kophou soos 'n dronk weeluis.... Saam met Bella in die teater. Hierna het ons 'n lekker etetjie gehad by La Madeleine, perfek vir 'n goeie aand uit. 

Monday, August 9, 2010

Serious Moonlight - 1/10

Vrek, dit was nie 'n goeie fliekaand met Serious Moonlight nie... Toegegee, ek was baie moeg, maar so 10 minute se kyk en daar is ek lekker in droomland. So derde in die fliek in was die vreemde geskreeu van Mnr Hutton so erg dat ek die aftog geblaas het, en behoorlik verder gaan slaap het. Bella het darem klaar gekyk, maar ook gereken dit was een van die swakstes nog. Beslis op eie risiko. O, ja, dit was op die bank, maar gelukkig slaap hy baie lekker.

Gamer - 6/10

Gamer is 'n interessante, alternatiewe weergawe van The Matrix. Die is 'n hoe energie kykie na 'n grimmige toekoms, maar wel nie ontmoontlik nie. Ek dink net die manne sal hierdie een kan kyk. Dit is baie goed gemaak met nuwe kamera tegnologie en truuks. Gelukkig is die film kort, want dit oorlaai nogals visueel en met klank. Alleen op die bank.

The Wolfman - 6/10

Ek sou The Wolfman 7 gegee het as die nie vir die bakleirige einde, en te veel nabyskote van mensvleis was nie. As hulle so bietjie meer aan die verbeelding oorgelaat het by die arme slagoffers sou ek dit waarskynlik 'n 8 gegee het. Verder is die tonele baie goed visueel uitgevoer, en hulle slaag daarin om 'n goeie spanningslyn te onderhou. Die akteurs is almal knap. Nie aan te beveel as jy alleen by die huis is nie....Alleen op die bank.

Shrek Forever After 3D - 10/10

Sjoe, dis min dat die vierde opvolg 'n reeks die beste van almal is. Shrek Forever After is uitstekend. Die storie werk op al die ouderdomsvlakke, die grafika is ongelooflik, dis snaaks, leer 'n lewensles of twee, en net eenvoudig lekker om te kyk. Die 3D effekte is die beste nog, wat kan mens se, ek het die fliek baie geniet. Saam met die hele familie in die nuwe inkopsiesentrum, Zambezi Mall. Teen R25 per 3D kaartjie is dit 'n goeie kyk, klank egter nie so goed as Kolonnade s'n nie, maar die skerm is wel beter.

Hachiko (Hachi: A Dog's Tale) - 5/10

Hachiko is 'n ware verhaal wat ietwat meganisties raak, so hier in die helfte rond. Hondeliefhebbers sal beslis daarby aanklank vind. Goed uitgevoer, maar ietwat vervelig. Saam met Bella op die bank.