Wednesday, December 28, 2011

Conan the Barbarian - 3/10

Conan the terrible, aag ek bedoel Conan the Barbarian is maar 'n floumakou. Die storie is helemal te langdradig en vervelig. Kyk maar op eie risiko. Saam met Bella op die bank, ook nog in 2011. Jaja, ek weet.

Tuesday, November 29, 2011

Horrible Bosses - 6/10

Wel, as jy oopkop voel, kyk gerus Horrible Bosses. Dit het 'n hele paar skerp kante, so wees gewaarsku. Daar is egter 'n toneel met 'n tandeborsel en kokaine wat mens op die grond laat kruip van die lag. Wees gewaarsku, die taal sal 'n geharde matroos laat les op se^. Maar soms wil mens seker die baas vermoor.... En natuurlik is Me Aniston baie oulik. Sal lekker vir 'n Vrydagaand werk. Saam met Bella op die bank.

Monday, November 28, 2011

Water for Elephants - 6/10

Water for Elephants is 'n aks bo die gewone tipe tjiekflkieks. Dit speel meesal in die depressiejare af, natuurlik met die gepaardgaande kostuumwerk ens so, net voor die romantiese laat Dertigs. Die lyn is maar so ietwat voorspelbaar, maar darem redelik vertolk. Kyk gerus saam met die liefling in jou lewe, jy sal beslis punte wen. Alleen op SA264 van JNB na MUC (Greding).

Saturday, November 26, 2011

Something Borrowed - 5/10

In essensie is Something Borrowed dieselfde tipe fliek as Love, Wedding, Marriage, maar darem baie meer gemiddeld. Dit is 'n tjiekfliek, maar heel kykbaar met redelike karakterontwikkeling. Saam met Bella op die bank.

Barney's Version - 5/10

Barney's Version is beslis nie 'n komedie nie. Dit het dalk 'n ligte element of twee, maar is eerder 'n medium drama. Dit delf nie baie diep nie, maar raak tog 'n paar goeie eksistensiele probleme aan, veral gemik op die manlike geslag. Die einde kom so half onverwags, nie die einde van die fliek nie, maar eerder die einde van die verhaal. Dalk nie 'n Vrydagaand fliekie nie, probeer Sondagaand. Sou dit ook nie as 'n tjiekfliek kategoriseer nie, maar beslis 'n love story. Saam met Bella op die bank.

Zookeeper - 4/10

Zookeeper is redelike middel-laerskool vermaak. Kyk gerus saam met die jongklomp. Dit is daai aks onder die gemiddeld, bloot oorlat dit so voorspelbaar is. Saam met die familie op die bank. 

Sunday, November 13, 2011

Love Wedding Marriage - 0/10

Wel, ek moes seker geweet het, maar Love, Wedding, Marriage is 'n totale gemors. Die spel is uiters geforseerd, die storie floumakou en die hele kaboel maar papperig. Vermy gerus, streng op eie risiko. Saam met Bella op die bank.

Monday, November 7, 2011

True Grit - 8/10

Nou ja, lanklaas het ek 'n Western so geniet soos True Grit (Rango was die mees onlangste een, alhoewel die onverwagte soort Western). Hierdie een het ook dan 'n onverwagte held(in)!? Maar wat 'n glad-nie-op-jou-bek-geval tipe heldin nie.... Die storie en spanningslyn is interessant, die einde perfek en die milieu puik. Kyk beslis as jy van Westerns hou, en hou daai gepopte mielies reg. Saam met Bella op die bank.

Friday, November 4, 2011

Paper Man - 6/10

Paper Man is dalk so bietjie swaar vir 'n Vrydag of Saterdagaand, maar heel kykbaar. Humor, dalk so ietwat tragies, is darem daar, maar maak dit beslis nie ligter nie. Die rolle word getrou vertolk. Daar is 'n lekker onverwagste kinkel in die kabel, en vang mens nogals baie onkant. Aanvanklik voel dit of daar 'n ondertoon opbou, en dra seker dan by tot die uitvang. Kyk gerus, maar eerder op 'n Sondagaand. Saam met Bella op die bank. 

Thursday, November 3, 2011

Source Code - 7/10

Source Code is ietwat meer intelligente skop-skiet-en-spring vermaak. Die fliekie kyk baie lekker en is 'n baie goeie opsie vir 'n Vrydag of Saterdagaand. Dit herinner sterk aan Groundhog Day, net nie komedies nie. Kyk gerus as jy lus is vir meer stimulerende springmielievermaak. Saam met Bella op die bank.

Monday, October 17, 2011

Get Low - 8/10

Wel, dis nou jammer, maar die punt is Bella s'n nie myne nie, ek het meer as die helfte van die fliek geslaap, nie omdat Get Low so swak is nie, net omdat ek so moeg was en dit 'n redelike lae aksie fliek is. Kyk gerus as jy van iets soos Fried Green Tomatoes gehou het. Saam met Bella op die bank. 

Paul - 6/10


Paul is 'n Amerikaanse komedie met Britse inslag, of is dit andersom? Wel, vir 'n ietwat skurwe alternatief tot X-files en 'n reeks ander flieks, bv Close Encounters of the Third kind en ET, kyk gerus na Paul. Maar wees gewaarsku, geloof word nie hier gespaar nie, en beslis nie vloek nie. Alhoewel die konsep goed sou werk vir die jonger geslag moet hulle liefs nie hierdie weergawe kyk nie. Daar is heelwat snaakse tonele, maar met twee wat hoog bo die ander uitstaan, veral die lyn "YO! ! It's Probing time"... Saam met Bella op die bank. 

Sunday, October 9, 2011

Hanna - 8/10

Hmmm, lekkerrrr, intelligente skop-skiet-en-klim. Hanna is baie goed aanmekaar gesit, met lekker elektroniese Duitse ondertone vir klank. Kyk gerus as jy lus het vir iets meer energieks. Moet nie Hollywood styl aksie verwag nie, eerder onderspeeld. Met twee van my gunsteling akteurs, Bana en Cate. Laasgenoemde is soos 'n fliekverkleurvroutjie, sy is maar net een van die beste. Saam met Bella op die bank.

Spooky Buddies - 5/10

Jawel, hierdie is regte kortvolk materiaal, vir tot so middel laerskool.... Geniet gerus saam met hulle. Saam met die familie op die bank, maar sonder Anrich en met Tyron.

Sunday, October 2, 2011

Thor - 7/10


Ek is nogals 'n aanhanger van Marvel flieks en al die superhelde van my kinderdae. Thor was beslis een van my gunsteling strokiesprentkarakters, en die fliek doen my verwagtings heel gestand. Moet se^ ek hou van die luukse gevoel van die stad, of sal mens se^, ryk (realm), Asgard. Die hammer van Thor is egter so ietwat teleurstellend, ek het dalk iets meer industrieel verwag... Die lyn is interessant genoeg, en die gevegstonele nie vervelend nie. As jy van Thor hou, kyk gerus. Saam met Bella op die bank.


Arthur - 4/10

Ek het dalk bietjie iets anders verwag van Arthur. Dit het 'n paar oomblikke, maar Mnr Brand raak so ietwat irriterend met sy stemmetjie. Dit is darem kykbaar as mens nie te veel verwag nie. Daar is heelwat snaakse tonele wat opmaak. Selfs nie drie ander swaargewig akteurs lig hierdie een bo die gemiddelde Hollywood vlak nie. Saam met Bella op die bank.

Hop - 10/10

Hop is 'n lekker kinderfliekie, en die punt is deur Anrich toegeken. Geniet gerus saam met die jongspan. Daar is 'n paar snaakse tonele, en dit is interessant dat al die werkers Mexikaans is.... Saam met die familie op die bank.

Letters to God - 6/10

Letters to God is 'n ware verhaal, heel professioneel gedoen, en nie oormatig sentimenteel nie. Dit is 'n geloof georienteerde fliek. Saam met ons selgroep.

Limitless - 7/10

Lekker naweekaand vermaak, met 'n ietwat voorspelbare lyn, maar tog lekker kykvermaak. Limitless is goed gemaak en verveel beslis nie. Moet se, ek sou graag 'n paar van daai pilletjies wou kry.... Saam met Bella op die bank.

Monday, September 12, 2011

Ondine - 7/10

Ondine is 'n lekker Ierse love story met 'n onverwagte draai. Wel, ten minste aan die begin van die fliek verwag mens nie die kinkel nie, en dan so ietwat later besef mens dit moet seker maar gebeur. Nogtans en ten spyte van is dit 'n goeie opsie vir 'n rustige aandjie tuis. Wens net hulle het onderskrifte gehad want ek sukkel maar hier en daar met die Ierse aksent. Ek het aanvanklik gedink dit gaan 'n swaar neerdrukkende verhaal wees, maar dis darem nie so erg nie. Dit is egter nie 'n ligte, lawwe fliekie nie. Lekker karakter ontwikkeling en goeie vertolkings. Saam met Bella op die bank. 

Pirates of the Caribbean: On Stranger Tides - 7/10

Aag lekker, ek hou darem van 'n ontspanne seerower fliek. Die vierde weergawe van Pirates is dalk die beste van die vier sover. En Penelope is 'n veel beter rower as Keira.... Saam met die gesin op die bank. Garrrr

Sunday, September 4, 2011

Unknown - 5/10

Unknown is gebaseer op 'n Franse boek, en begin heel goed. Teen die einde raak dit egter net te Hollywoods, en verloor dan so ietwat stoom. As hulle gehou het by die onderspeelde spanning tema, eerder as om aan skop en donder toe te gee, sou dit baie goed gewerk het. Kyk uit vir die uitnemende spel van Frank Langella in die laaste tonele van die Stasi amptenaar. Heel goed vir 'n Vrydagaand. Saam met Bella op die bank. 

Mrs Doubtfire - 6/10

Het Mrs Doubtfire laaaank terug (1993) reeds gesien, maar gisteraand eers weer saam met die kinders. Hulle was nie te beindruk nie, maar daar is darem 'n paar goeie, snaakse tonele in. Saam met die hele familie op die bank.

Sunday, August 28, 2011

Country Strong - 6/10

Country Strong is seker nog 'n redelike tjiekfliek, maar darem nie so dat die manne dit nie saam kan kyk nie. Dit is nie te lig nie, maar seker so ietwat stroperig hier en daar. Saam met Bella op die bank.

Roepman - 8/10

Roepman is, dink ek naas Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom, die beste  Afrikaanse fliek in 'n laaang tyd. Die aandag aan detail van die periode is ook verbysterend vir 'n Suid Afrikaanse produksie. Dit wys die ouens kan as hulle moet. Die rolle word baie goed vertolk, en alhoewel die lyn so bietjie swaar is, is dit baie kykbaar. Saam met Bella op die bank.

No Strings Attached - 4/10

No Strings Attached laat my so ietwat oud voel... wetie, maar die fliekie werk nie so lekker vir my nie. Ek hou ook nie van die rigting wat Me Portman inslaan nie. Seker meer 'n tjiekfliek as iets anders. Saam met Bella op die bank.

Tuesday, August 9, 2011

Middle Men - 5/10

Middle Men is 'n redelik interessante kykie na hoe internet betalings op die internet ontstaan het. Dit is egter jammer dat hulle die fliek dieselfde gemaak het as wat die bedryf is waarin dit ontstaan het. Dus, eerder as 'n meer dokumentere gevoel, is die fliek maar kru wat betref vloek, ens. Beslis nie vir sensitiewe kykers bedoel nie. As mens verby al die geraas kyk, is daar 'n onderliggende storie wat tog betekenisvol is. Saam met Bella op die bank.

Monday, August 8, 2011

Soul Surfer - 5/10

Soul Surfer is een van daardie lekker-gevoel ware verhale wat nie te sleg vir die laat-laerskool bondel is nie. Dit raak so ietwat meganisties, maar het tog die belangrike lewenslessies in. Saam met die familie en die Standers in die teater

Hall Pass - 6/10

Normaalweg sal ek nie vir 'n onder-die-belt-humor fliekie meer as 4 uit 10 gee nie, maar Hall Pass het interpretasies van ou onder-die-belt cliches wat my laat krul het van die lag. Dit is seker American Pie, maar net vir middeljarige, getroude mans.... Daar is maar baie oordrewenheid, en ek beveel dit glad nie aan om te kyk nie, maar as jy lus is vir 'n lekker lag of wat.... 'n Lekker nies sal vir 'n hele rukkie 'n glimlag op my bakkies laat.... Saam met Bella op die bank.

Sucker Punch - 3/10

Sucker Punch kort net daai iets, dalk 'n meer oortuigende hoofrol, want dit het meer as genoeg potensiaal. Dit sou baie goed met 300 en Sin City kon meeding, dalk selfs met Chigago. Dit raak heelwat verevelig, ek het selfs 'n uiltjie kon knip sonder om te veel te mis. Saam met Bella op die bank.

Your Highness - 2/10

Neewat, Your Highness werk nie regtig nie. Ek is verbaas dat dit soveel goeie akteurs kon trek... Die humor is maar flouerig, hier en daar darem snaaks, maar die nar-hoofrol kan ek net nie hanteer nie. Beslis nie een van my gunsteling akteurs nie.... Saam met Bella op die bank.

Monday, August 1, 2011

Rango - 9/10

Wel, daar is min sulke flieks wat verbykom. Die lyn, die aandag aan detail, en dan 'n briljante stem vertolking deur Mnr Depp.... Dit is sekerlik die beste Western wat ek in 'n lang ruk gesien het, al is dit animasie. Die grafika is uitstekend. Skerp humor, dieper lyne (heelwat, nie net een nie), wat meer kan ek se^. Dit is 'n eenvoudige verhaaltjie, maar met soveel nuanses en subtekste. Ek sal dit oor en oor kan kyk, net om alles te vang. Kyk gerus as jy van iets meer alternatief hou. O, en dan kan kinders ook nog saam kyk, maar nie jonger as 8 nie. Saam met die familie op die bank.

X-Men: First Class - 7/10

Ek moet se^ hierdie weergawe van X-Men is glad nie sleg nie. Mens voel nie dat van die tonele te uitgerek raak nie, wat soms in die voriges wel die geval was. Dit is goed gemaak, en die storielyn heel interessant. Ek het dit geniet. Saam met Bella op die bank. 

Psych (S1-S6) - 7/10

Na Mentalist se interessante finale vir seisoen kan ons nie wag vir seisoen 4 nie.... Intussen moet ons maar tevrede wees met Psych, nou nie helemal op Mentalist se vlak nie, maar darem ietwat vermaaklik. Dalk net daardie aks te lig in die broek. Saam met Bella op die bank.

Net klaar met Seisoen 5 van Psych, en besig met Seisoen 6. Laasgenoemde is regtig die beste van almal so ver, veral die superheld episode (S6E04)...

Legend of the Guardians: The Owls of Ga'Hoole - 5/10

Legend of the Guardians begin dalk so bietjie donker, veral as mens dit vir 'n kinderfliekie aansien. Dit raak beter, maar is steeds nie geskik vir die kleineres nie. Ek sou reken so 9, 10 en op is goed. Die grafika is uitstaande. Die storie maar gemiddeld vir die tipe van fliek. Saam met die familie op die bank.

It's a kind of a funny story - 6/10

It's a kind of a funny story het dalk so bietjie meer potensiaal as wat ontgin is. Dit is beslis nie lig nie, maar ook nie swaar nie. Een van my minder gunsteling akteurs speel daarin, Galifianakis. Die het tog so bietjie hart maar kort net daardie spesiale rol vertolking om dit regtig te lig bo die gemiddelde geraas. Saam met Bella op die bank.

Monday, July 18, 2011

Mr. Popper's Penguins - 6/10

Mr. Popper's Penguins is die ideale familie fliekie. Kinders van redelik jonk af tot selfs 11/12 jariges sal dit baie geniet. Die pikkewyne is baie snaaks en oulik in die fliek. Gewone Hollywood-styl lessies word regdeur gegee. Saam met die familie by Menlyn Driaafin saam met Green Lantern

Green Lantern - 4/10

Green Lantern is dalk so bietjie te donker vir die 10 ouderdomsbeperking. Die storie is redelik, die effekte redelik, maar seker tog kykbaar. Ek sou nie uit my pad gaan om dit te kyk nie. Saam met die familie by Menlyn Driaafin saam met Mr Popper's Pengiuns.

Saturday, July 16, 2011

The Way Back - 6/10

The Way Back is gebaseer op 'n ware verhaal maar daar is skynbaar kommentaar dat nie alles gebeur het soos die outeur van die boek onthou het nie... Ten spyte hiervan word die rolle baie goed vertolk en wys die menslike oorlewingsin en gees dat alles amper moontlik is as mens net fokus en vasbyt. Baie soortgelyk aan 127 Hours. Kyk gerus as die wunderlust jou beetpak. Moet se daar is 'n paar dele wat ek ook baie graag sal wil stap. Rustige kykie vir 'n rustige aandjie tuis. Saam met Bella op die bank.

Thursday, July 14, 2011

Karate Kid (2010) - 5/10

In hierdie nuwe poging, waar die heiningafskuur met 'n baadjie optel/ophang vervang word, is die verhaal seker bietjie meer verteerbaar vir 'n nuwe generasie van jonges. Dit is heel aanvaarbare familie materiaal, en maar heel lig, dalk net met mooier tonele as die oorspronklike en dalk ook bietjie meer humor. Saam met die hele familie op Fanie se plaas naby Aliwal. 

Papparazi - 5/10

As Papparazi dalk net so ietwat minder geweldadige lyn gehad het, sou dit waarkynlik baie beter gedoen het. Ek verstaan dat die manne met die kameras lastig kan wees, en dat hulle selfs baie ontstellende dinge aan arme sterre doen, maar om die moordlyn in te bring, maak dit die fliek iets anders as om die slegte kant van skindernuus uit te wys. Saam met Bella op ouma se DSTV in Bloemfontein. 

Enigma - 6/10

Ek is oortuig daarvan dat ek Enigma destyds (2001 rond) gesien het in die kuns teaters. In elk geval 'n love story/periode drama in die Tweede Wereld oorlog tyd, met 'n heel boeiende lyn. Kyk gerus op 'n rustige aand as jy nie te veel aksie verwag nie. Saam met Bella op ouma se DSTV in Bloemfontein. 

Cars 2 (3D) - 6/10

Cars 2 (3D) is 'n baie suksesvolle opvolg, veral as ek na my kortvolk luister. Dit is goeie ou Bond in animasie, sommer met 'n lekker Britse inslag daarby. Die fliek is so Amerikaans as wat mens hulle kry, maar oud en jonk sal dit geniet. Kyk gerus, maar moenie dubbelvlak dialoog of enige grootmens goeters verwag nie. Die grafika en veral die skaal van die stede is asemrowend. Saam met die familie in die teater by Zambezi Mall. 

Fair Game (2010) - 5/10

Redelik kykbare ware verhaal, of ten minste as mens die storie kan glo, oor die korrupte Amerikaanse politieke stelsel. Fair Game is nie ontspannend nie, maar dan ook nie net dokumenter van aard nie. Dit het darem 'n spanningslyn, en dan aan die einde sien mens die werklike mense. Saam met Bella op die bank.

The Adjustment Bureau - 7/10

The Adjustment Bureau het 'n baie interessante storielyn en kan dalk selfs deur sommige as ietwat aan die verkeerde kant van die geloofgemaksone gesien word. Dit boei mens regdeur, raak dalk so ietwat verregaande op 'n plek of wat, maar eindig dan heel aanvaarbaar. Kyk gerus as 'n fiksie-riller. Op die ou einde is dit wel 'n lekker ou love story. Saam met Bella op die bank. 

The Matrix - 9/10

Teen die tyd dat The Matrix uitgekom het, was dit sekerlik baanbreker ten opsigte van spesiale effekte en selfs storielyn. Ek het dit vir die eerste keer in 'n laaaang tyd weer gekyk, en voel steeds dat dit een van my gunstelinge is, ten spyte van die vreemde dialoog op 'n hele paar plekke, en seker tonele wat nou 'n dekade later, ietwat lagwekkend is. Die punt wat ek ook dan nou gee is hoe ek gevoel het toe ek dit die eerste keer gesien het. As ek reg onthou was dit op 'n publieke vakansiedag omdat ons moes stem of so iets. Saam met die hele familie op die bank.

Sunday, June 26, 2011

The Warrior's Way - 6/10

Mens verwag dalk baie meer van The Warrior's Way, veral omdat Mnr Rush, 'n onlangse Oscar-wenner daarin verskyn. Dit is 'n surrealistiese kruising tussen 'n lekker ou Western (bv 3:10 to Yuma), Japanese Krygskuns, soos bv Crouching Tiger, Hidden Dragon en The Imaginarium of Doctor Parnassus. Die verhaal is redelik eenvoudig en word met allerhande snaakse detail vertel. Dit kyk glad nie te sleg nie, maar ek sou nie reken dit moet jou lys van flieks wat jy moet sien kom nie. Saam met Bella op die bank. 

127 Hours - 6/10

127 Hours is nog 'n ware verhaal wat redelik onlangs plaas gevind het. Dit wys hoe sterk die mens se wil ter oorlewing kan wees. Baie goed gemaak, veral as mens in ag neem dat dit meesal 'n eenpersoonsbedryf is. Ek sou reken dit is die hoogtepunt van Mnr Franco se loopbaan. Nie hoogs aan te bevele nie, maar ek sou reken mens moet dit maar sien. Saam met Bella op die bank.  

Tuesday, June 21, 2011

The Extra Man - 6/10

The Extra Man is meer op die connoisseur mark gerig. Dit bestaan uit drie baie eksentrieke, vreemde rolle, met ietwat aweregse humor. Die verhaal is tog verteerbaar, en mens raak verdiep in die gebeure. Vir 'n stil aand bedoel, waar nie veel aksie verwag word nie. 'n Swaarder rooietjie sal baie help.... Saam met Bella op die bank.

Monday, June 20, 2011

Kung Fu Panda 2 (3D) - 5/10

Kung Fu Panda 2 (3D) werk baie goed in 3D. Die dialoog is nou wel nie dubbelvlakkig nie, maar die storie maak darem op. Dit is tog beter as die eerste uitgawe, en heel vermaaklik. Saam met die hele gesin en Joanice in die teater (Kolonnade)