Monday, December 26, 2016

The Grand Tour, Seisoen 1, Realiteit Televisie - 7/10

The Grand Tour is beslis nie Top Gear nie, maar het darem die drie petrolkop-malles wat baie
vermaaklik, maar ook regtig simpel, kan wees. Meeste van die Top Gear elemente is behoue, maar daar is 'n paar probleme met die nuwe skepping:

  1. Daar is nie The Stig nie - Die Amerikaner ("The American") werk net nie.
  2. Die standaard renbaan ("Our Race Track") is maar net nie dieselfde nie.
  3. Ek mis die "Our reasonably priced car" insetsel, alhoewel nie soveel die "bekendes" wat genooi word nie. Die nuwe truuk om almal af te maai voor hulle kan praat is eintlik 'n goeie oplossing vir die sinlose gedrommel van van die gaste. 
  4. Die "opgradering" van die grafika pas nie by die tipe gekskeer gevoel van die reeks nie.
Maar sal dit aanhou kyk, hulle laat mens steeds lag, en op hulle vyfjarige, ligsinnige manier ingelig hou oor motors en motor sake. Saam met die familie op die bank.

The Accountant - 6/10

The Accountant is verassend anders as wat mens verwag vanaf die lokprent. Dit is nie ligte vermaak nie, maar ook nie te swaar drama nie. 'n Vermenging van elemente, wat in die geval redelik goed werk.  Lekker vakansie of Saterdagaand vermaak. Saam met Bella en Franko op die bank.


Sunday, December 25, 2016

Mars, Seisoen 1 - 8/10

Mars is 'n gedramatiseerde dokumenter wat nogals heel spannend is. Die vermenging van drama en feit is soms nogals moeilik om te onderskei, behalwe as hulle darem uithelp deur die datums te flits, 2016 en 2033. Kyk beslis as jy sterre in die oe" het. Saam met Anrich op die bank.
 

The OA, Seisoen 1 - 7/10

The OA begin nogals met 'n sterk swanger afwagting, soveel so, mens wil die hele reeks in een slag kyk. Puik vertolkings, en 'n kwaliteit vervaardiging. Beslis nie ligte materiaal nie, selfde gevoel as The Killing met 'n donker onheilspellende spanningslyn wat voortdurend opbou. Saam met Bella op die bank.

Saturday, December 24, 2016

The Boss - 3/10

The Boss is maar erg flou, maar kry dit reg om mens te flous, al die pad totdat die fliek klaar is. Mens wag hoopvol dit gaan beter raak, en dalk heel kykbaar uitdraai, maar heelaas nie. Eintlik maar tydmors. Het hierdie een probeer na 'n ander poging, Don't Think Twice. En dan maak so simpel fliek soos hierdie heelwat geld!? Mev Melissa McCarthy het ook nou haar plekkie op my lys van akteurs om te vermy verdien. Die punt kon nog laer wees, maar daar was darem 'n snaakse toneel of twee wat my laat grim het. Saam met Bella op die bank. 

Don't Think Twice - 0/10


Don't Think Twice lyk soos 'n eksperimentele kunsfliek. Dit kry baie hoe" aanprysings van kritici, maar is beslis onkykbaar. Het so 10, 15 minute kon uithou en na iets anders oorgeskakel. Saam met Bella op die bank.

Friday, December 23, 2016

Rogue One: A Star Wars Story - 6/10

Rogue One: A Star Wars Story is pure Star Wars, wat dit op die ou einde minder vermaak maak. Ek het dus meer van Star Wars: The Force Awakens gehou, veral oor die meer, beter humor en skerp verwysings en insluit van oorspronklike akteurs. Rogue One se grafika is uitstaande, en daar is 'n paar snaakse en baie koel tonele. Die rolverdeling is beslis nie optimaal nie, en die protoganis is maar 'n flou skurkie. Moet se^ die taalgebruik is suiwer en van gehalte in hierdie fliekie, maar dan is dit seker maar so in al die ander Star Wars flieks. Saam met Bella, Franko en Anrich by Brooklyn teater, met 'n vinnige pizza by Cappucinos.

Wednesday, December 21, 2016

Only Lovers Left Alive - 4/10

Only Lovers Left Alive is verskriklik stadig, gestilleerd maar met 'n interessante konsep en heelwat verlore potensiaal. Die klankbaan is vreemd aantreklik en die milieu en ondertone perfek. Selfs die rolverdeling en vertolkings is puik. Alles is puik, behalwe die tempo en die dun storielyn. 'n Kunskring vampierfliek eksperiment. Beslis op eie risiko. Saam met Bella op die bank.

Miss Peregrine's Home for Peculiar Children - 5/10

Ek het aanvanklik nie Miss Peregrine's Home for Peculiar Children wou kyk nie, het dit baie vinnig gespoedkyk en daarteen besluit. Het heelwat later dit egter weer probeer en deurgekyk. Dit is redelik, steeds nie ten volle oortuig ek wou dit wel kyk nie. Ten minste 'n redelike storielyn en gepaste grafika kwaliteit. Saam met Bella op die bank.


Let's Kill Ward's Wife - 2/10

Let's Kill Ward's Wife is swart humor, maar ongelukkig nie op sy beste nie. Het so 20 minute kon volhou, gestop, en eers na 'n ander fliek, hierdie klaar gespoedkyk. Dit het 'n element wat mens laat wonder wat gaan gebeur, maar vir een of ander rede hou die karakterts, akteurs, vertolkings, storielyn, humor of milieu mens nie geboei nie. Nie aan te beveel nie. Saam met Bella op die bank.

The Hollars - 5/10

The Hollars is nie 'n te swaar drama nie, met so ietwat komedie daarby. Die fliek fokus meer op ryk emosionele interaksies as enige iets anders. Dit is meer tjiekfliek materiaal hierdie. So bietjie cliche-erig. Saam met Bella op die bank.

Monday, December 19, 2016

Anthropoid - 7/10

Net toe ek begin dink Anthropoid is darem nie so grim Tweede Wereld oorlog fliek nie, draai die lyn en is dit in volle glorie in jou gesig, martel, dood en sinloosheid. Wat ek wel van 'n fliek waardeer, veral soos hierdie een, is wanneer mens iets leer. Uitstekende vertolkings, puik periode stuk. As jy sterk voel. Saam met Bella op die bank.

Absolutely Fabulous: The Movie - 3/10

Absolutely Fabulous: The Movie is eintlik net 'n klomp gemors, maar dit het tog 'n paar baie snaakse tonele. Vreemde ding is ek vermoed daar is meer mense wat wel so lewe as wat mens verwag. Dit het seker 'n element van 'n lewensles of twee na die einde se kant. En dit bly indrukwekkend dat Joanna Lumley al oor die Sewentig is, ten spyte van die werkies wat sy laat doen het. Ten minste is sy nog fiks en sien kans vir baie. Beslis op eie risiko. Saam met Bella op die bank.


High Strung - 6/10

High Strung is 'n makker dansfliek as die Step Up reeks, met mooi musiek en goeie kunstenaars. 'n Baie eenvoudige lyn, met 'n indrukwekkende finale dans sekwens. Geskik vir die familie. Saam met Bella op die bank. Anrich het dit voorheen gesien, ons daarvan vertel. 

  

Doctor Thorne, Seisoen 1 - 5/10

Gelukkig is Doctor Thorne net 3 episodes lank, bietjie te soet na my smaak. Selfde skepper as Downton Abbey, maar nie met dieselfde sterk rolverdeling nie, en minder intererssante intriges. Wel 'n mooi periode milieu, stelinkleding en kostuumwerk.
 

Sunday, December 18, 2016

Already Tomorrow in Hong Kong - 5/10

Already Tomorrow in Hong Kong is 'n praat fliekie met die altyd-wakker wereldstad as hoofkarakter. Die stad lyk verleidelik in al sy fasette, meer ideaal as deurmekaar liefdeslewens. Meer georden as emosies. Die fliekie stel 'n danspassie tussen twee willekuerige emosionele behoeftiges voor. Foeitog, hoekom moet hulle so swaarkry met sulke moeilike keuses. Saam met Bella op die bank.

Monday, December 5, 2016

Storks - 4/10

Storks is uitsluitlik kortvolk materiaal, ek het so halfpad die aftog geblaas. Saam met Bella en Anrich op die bank (hulle het klaar gekyk). 

Inferno - 4/10

Inferno is redelike ontsnappings materiaal met 'n baie dun storielyn. Baie eenvoudige spanningslyn, so verwag breinlose vermaak vir 'n moee" Vrydagaand. Saam met Bella op die bank.