The Martian is 'n besondere ruimtefliek. Dit het verby die gewone wetenskapfiksie trend beweeg om 'n perspektief vir verskillende tipe kykers te gee. Dit is die eerste fliek in hierdie genre wat Bella ten volle kon geniet en kyk het. Selfs Anrich en Franko het dit geniet. Ek moet se^ dit is dalk Matt se beste nog. Hoogs aan te beveel vir lyn, humor, en vele ander aspekte. Saam met die familie op die bank.Tuesday, January 19, 2016
The Martian - 9/10
The Martian is 'n besondere ruimtefliek. Dit het verby die gewone wetenskapfiksie trend beweeg om 'n perspektief vir verskillende tipe kykers te gee. Dit is die eerste fliek in hierdie genre wat Bella ten volle kon geniet en kyk het. Selfs Anrich en Franko het dit geniet. Ek moet se^ dit is dalk Matt se beste nog. Hoogs aan te beveel vir lyn, humor, en vele ander aspekte. Saam met die familie op die bank.Limitless, Seisoen 1 - 5/10
Colony, Seisoen 1 - 6/10
Colony lyk redelik, soortgelyk aan eerste seisoen van Under the Dome, sal dit nog 'n kans of wat gee. Saam met Bella op die bank.The Outcast - 6/10
The Outcast is net twee episodes, maar twee episodes van swaar innerlike drama. Hierdie is nie ligte materiaal nie, wees gewaarsku. Die vertolkings, milieu, periode is gepas, die verhaal is swaar en moeilik. Kyk as jy baie sterk voel, saam met Bella op die bank, tydends Natal Midlands en Ballito vakansie. Saturday, January 16, 2016
Star Wars: The Force Awakens - 8/10
Star Wars: The Force Awakens is waarskynlik die beste nog in hierdie reeks. As groot Trekkie moet ek ook erken dat die stukke beter as die laaste paar Star Trek flieks was. Die humor werk baie goed, veral omdat die fliek homself nie ernstig opneem nie. Baie toeganklike ruimte fiksie. Interessant wou ons twee manne dit nie sien nie, so ek en Bella het dit gaan kyk Capitol Cinema, Zambezi Mall! Everest - 8/10
Everest hou mens nogals op die punt van jou stiplek, mens voel hoe die klimmers tot in hulle bene koudkry, uitgeput is, en snak na asem by tye. Die fliek is glad nie melodramaties nie, het ook nie die siekte wat baie films-gebaseer-op-ware-gebeure het nie. Dit is 'n fliek in eie reg. Saam met die familie op die bank, en ten spyte van die hitte golf in Pretoria, het ons almal dit in bibber van simpatieke koue. Hotel Transylvania 2 - 5/10
Hotel Transylvania 2 is ligte kortvolk materiaal wat heel kykbaar is, maar sonder daardie dubbellaag vir kortvolk en hulle ouers. Die komedie is dus meesal op kortvolkvlak. Saam met Bella en Anrich op die bank. Paper Towns - 4/10
Paper Towns is nie 'n te slegte tienerfliek nie, dit voel dalk net so bietjie lank en stadig. 'n Paar snaakse tonele red dit ietwat. Groot pluspunt is die einde, glad nie die gewone cliche nie. Saam met Bella op die bank.Thursday, December 24, 2015
Pawn Sacrifice - 5/10
Pawn Sacrifice is sekerlik beide korrek en uitstekend in alle opsigte, milieu, kostuums, vertolkings, feite en styl, maar voel op die ou einde soos 'n lee" dokumenter. Dit is interessant, maar faal om mens vasgenael te hou, om die groot opgewondenheid tydens die laaste wereld toernooi te herskep en mens deel daarvan te maak. Een ding is seker, daar is 'n baie fyn lyn tussen genialiteit en kranksinnigheid. Saam met Bella op die bank.Tuesday, December 22, 2015
Focus - 5/10
Testament of Youth - 7/10
Testament of Youth is 'n redelike swaar tjiekfliek drama gedurende die Eerste Wereld Oorlog, Dit herinner sterk aan Bright Star, maar met 'n baie ander milieu. Mens kan dit dan ook as 'n kunsfilm tjiekfliek beskou. Dit beweeg stadig, gepas vir die tyd en styl. Vertolkings, kostuums en kamerawerk is uitstekend. Dit is maar 'n hartseer verhaal, gegrond op werklike gebeure, en bevestig dat oorlog op alles fronte iets is om te vermy. Saam met Bella op die bank.Trevor Noah, Pay back the Funny - 6/10
Pay back the Funny is nie op die grond-rond-rol-en-lag-materiaal nie, maar is skerp, snaaks en aktueel. Trevor kan 'n gehoor 80 minute besig hou, wat opsigself al 'n moeilike taak is. Sy politiek grappies is snaaks, maar tot 'n mate onrusbarend, veral omdat dit so akkuraat is, en eintlik maar elke dag se pyne uitwys. Dalk help dit nie dat ons hierdie net na die finansies minister komedie-sage gekyk het nie.... Saam met die familie op die bankFriday, December 18, 2015
Schuks! Pay Back the Money! - 1/10
As dit nie vir die een enkele ordentlike grap in die fliek was nie, sou dit 'n 0 gewees het. Ek is 'n redelike Schuster aanhanger, maar hierdie is sy swakste ooit. Dis baie jammer. Saam met Bella en Anrich op die bank.Mr. Holmes - 7/10
Anders as die ander Sherlock reekse en flieks, is hierdie 'n baie stadige film oor die einde van sy lewe. Dit is uitstekend vervaardig met uitstaande vertolkings en 'n gepaste (droomverlore mooi) milieu. Hierdie is nie vermaak nie, eerder 'n diep drama wat maar die pyne van oudword baie realisties, maar tog sag, stel. Kyk gerus as jy 'n properse kunsfliek interpretasie van die bekende Mnr Holmes wil sien. Saam met Bella op die bank.Agent X, Seisoen 1 - 4/10
Aag net wat, met nogals heelwat bekende gesigte in die bedryf faal hierdie oukie baie sleg met die openings episode. Dalk moet hulle by The Man from U.N.C.L.E gaan kers opsteek. Ek verstaan die reeks is reeds gekanselleer, maar salk dalk nog een episode kyk. As die reeks net so stylvol was as die reeks se omslag grafika... Het net nog 'n episode of wat kon uithou, die laaste een deur geblits met met die afstandbeheer. Saam met Bella op die bank.Tuesday, December 15, 2015
The Wrong Mans, Seisoen 1 - 5/10
The Wrong Mans begin eintlik te stadig vir 'n 30 minute komedie...maar tel spoed op aan die einde van die loods episode. Sal dit nog 'n kans of wat gee. Dit kom op sterk aanbeveling van die Minnies. Saam met Bella op die bank.The Man in the High Castle, Seisoen 1 - 8/10
Ek kan nie glo dat hierdie nie al lankal gemaak is nie, dalk het ek dit net gemis?! Hoe sou dinge gelyk het as Hitler wel die tweede wereld oorlog gewen het? Die boek is al laaaankal geskryf. Dit lyk baie belowend, alhoewel so ietwat aan die donker kant. Ek moet ook se^ dat die kwaliteit van die periode styl uitstaande is. Sal beslis verder kyk. Saam met Bella op die bank.Pan - 6/10
Pan het 'n vars nuwe lyn aan een van die gewildste kinder fantasie verhale verleen. Dit neig nogals na eskapism, maar is beslis kykbaar en laat mens uitsien na die opvolg...veral om te weet wat dan nou fout gaan tussen Pan en Hook. Hierdie film het dit dan ook reggekry om beide en Anrich en Franko voor die kassie te hou. Kyk gerus as jy lus het vir heilsame aksie vermaak. En ek wens ek kon sulke indiaan tente kry! Saam met die familie op die bank.Sunday, December 13, 2015
The Transporter Refueled - 5/10
Saturday, December 12, 2015
5 to 7 - 5/10
5 to 7 is 'n rustige, redelik stadige tempo tjiekfliekie met 'n taamlik onverwagse einde. Ten minste gebruik hulle 'n regte Franse aktrise vir die vroulike hoofrol. Dit het 'n baie sterk Allen gevoel, maar eintlik net in die eerste helfte of so, veral wanneer die ouers op die toneel verskyn. Kyk gerus, maar moet nie aksie (!) verwag nie, eerder baie meer dialoog. Saam met Bella op die bank.Fantastic Four 2015 - 5/10
Ek moet se^, vir 'n fliek wat verduidelik hoe die ouens hulle superkragte gekry het, is hierdie 'n baie goeie poging. Dit laat my sterk dink aan Eric Bana se eerste Hulk. Ek kan presies verstaan waarom dit op Hollywoodskaal nie suksesvol was nie, want daar is te min oordrewe en opgeblase tonele. Ek sal dit aanbeveel vir die strokiesprentslaaf wat iets meer as net skop-skiet-en-vlieg soek. Saam met die familie op die bank. Absolutely Anything - 6/10
Absolutely Anything is nogals 'n baie snaakse fliek, maar wees gewaarsku 'n toneel of wat onder die belt... Mnr Pegg bly maar 'n gunsteling vir komedie. Kyk hierdie gerus as jy bietjie lag nodig het. Mens kan dit dan ook as wetenskapfiksie komedie beskou. Herinner ook sterk aan Bruce Almighty. Die brak en ruimtewese-tonele is nogals goed gedoen... Biscuits!...veral omdat dit die stemwerk van Robin Williams en John Cleese gebruik. Dis ook baie jammer om te se^ dat Kate nie blyk om soos rooiwyn goed te verouder nie. Ai. Saam met Bella op die bank.Blindspot, Seisoen 1 - 6/10
Tuesday, December 1, 2015
Vacation - 4/10
Kyk, hierdie is beslis nie familie materiaal nie, oftewel, nie vir laerskool of vroeg hoe"rskool nie. Dit is erg onder die belt, met tipiese toilet humor. Maar, vrek, is daar 'n klompie tonele wat my laat snak het na my asem van die lag, soveel dat ek nie deur die lagtrane kon sien nie. As jy braaf en sterk voel. Saam met Bella op die bank.The Hitman: Agent 47 - 6/10
Sjoe, Hitman is een aaneenlopende sekwens van aksie, toertjies, karre, ontmoontlike situasies en komkommerkoel karakters. Dit is het 'n sterk rekenaar speletjie gevoel, maar die fliek werk tog. Saam met Bella en Franko op die bank. Probeer dalk op 'n Vrydag of Saterdagaand. James Bond Spectre - 6/10
Aag, mens moet James Bond kyk, al bly die reseppie dieselfde vir die 24ste maal. Hierdie een het asemrowende milieu's, van Mexiko, tot Rome en Tunisie. Nie te sleg nie, heel kykbaar met 'n fokus op spanning en nie soseer fisiese toertjies nie. Die karre, meisies en plekke is die moeite werd. Saam met Bella en Franko by Zambezi Mall, Capitol Cinemas. Magic Mike XXL - 0/10
Dit is min dat ek en Bella 'n fliek stop na die eerste 10 minute, en dan 'n paar weke later weer probeer verder kyk en dan weer na 10 minute stop. Kan ek meer se^.Sunday, November 29, 2015
The Little Prince - 10/10
The Little Prince is een van daardie rare juwele, daar is nie baie sulke films nie. Hierdie is uitstaande animasie kuns, van tema, verhaal en grafika tot karaketers, stemwerk en vertolkings en musiek. Dit sal aanklank vind tot 'n wye ouderdomsgroep, maar wees gewaarsku, baie diep temas oor die samelewing, betekenis en die lewe. Die animasie sal kleiner kinders vermaak, maar ek vermoed daar is 'n middelmark wat die animasie nie gaan geniet nie, en nog nie die lewenslesse en filosofie gaan waardeer nie. Wat egter opvol is die tempo, sagte vertolkings en gemoedsvolle grafika. Eintlik is dit nie grafika nie, maar kuns, veral die verbeeldingsvlugte met die nimlike jakkalsie. Kyk gerus, baie sterk aanbeveel. O, en luister die musiek aan die einde van die film, tydens krediete, baie gepas. Saam met Bella en Anrich op die bank. Monday, November 23, 2015
Saturday, November 21, 2015
Trainwreck - 4/10
Trainwreck is 'n langerige, uitgerekte pynlike anti-tjiekfliek. Te veel vuilpraat en vloek, 'n baie slegte meisie, maar redelike snaaks tonele hier en daar, Dalk is ek net nie 'n Amy Schumer fen nie. Beslis op eie risiko, en moet nie Sondagskool materiaal verwag nie. Saam met Bella op die bank.Thursday, November 19, 2015
The Man from U.N.C.L.E. - 9/10
Kyk, daar is nie 'n koeler spioen as agent Solo nie. Selfs nie 007 kom by sy styl uit nie. Hierdie film drup van styl, kostuumwerk, stel, karre (sug), dames, milieu, en wat nog. Die film gebruik 'n erg geykte tema, maar teen 'n vinnige pas sonder enige deel wat oormatig uitegrek word. Selfs die jaagtog deur Oos-Berlyn is stylvol. Hierdie is een van die bestes in die genre, beslis 'n absolute gunsteling. Redelik onbekende akteurs, behalwe natuurlik vir ou Hugh, maar steeds gepaste vertolkings. Saam met Bella op die bank.Supergirl, Seisoen 1 - 5/10
Supergirl het so bietjie 'n flouerige begin gehad, maar lyk of dit dalk kan verbeter. Sal dit nog 'n episode of wat gee. Het so paar episodes gekyk tot mid seisoen breek. Het hier maar opgehou, dit raak nie beter nie... Saam met Bella op die bank.Tuesday, November 17, 2015
French Toast - 6/10
Baie ligte Afrikaanse tjiekfliekie, maar met 'n lekker stukkie regte Parys daarin (nog voor die slegte aanvalle geskiet en gekyk). Heel kykbaar, beslis beter as van die ander ligte fliekies. Saam met Bella op die bank.Animal Planet - Mutant Planet, Seisoen 1 - 6/10
Ons planeet bly tog 'n wonder met die mees interessante gediertetjies en goggas wat mens moontlik kan verbeel. Hierdie is nou wel nie 'n Sir Attenborough dokumenter nie, maar steeds goed vervaardig en kykbaar. Saam met Anrich op die bank.Terminator Genisys - 6/10
Daar is net een ding beter as liewe ou Arnie as Terminator, en dit is liewe ou Arnie as Terminator met 'n poging tot humor! Lekker kykaksie saam met die manne, het dit baie geniet. Hierdie is dalk die beste uitgawe in die reeks tot dusver. Saam met die familie op die bank.Standby - 5/10
Standby is 'n baie ligte, Europese tjiekfliekie. Dit is heel aangenaam om te kyk, moet net nie te veel verwag nie, en ook nie oordadige Hollywoodstyl nie. Saam met Bella op die bank.The Last Kingdom, Seisoen 1 - 7/10
The Last Kingdom val nou wel nie in die kategorie van Vikings nie, maar is steeds 'n goeie reeks om te kyk. Dit wys die Dene in 'n minder koherente en effektiewe oorlog masjien, dalk so ietwat meer menslik. Kyk gerus, hierdie geskiedenis is tog fasinerend. Saam met Bella op die bank.Sunday, October 11, 2015
Tomorrowland - 6/10
Tomorrowland is 'n ligte wetenskapfiksie fliekie vir die hele familie. Die toekomsvisie materiaal is aangenaam en verfrissend anders. Moet nie te veel aksie of diepte verwag nie, eerder heilsame vermaak. Dit is mos 'n Disney fliekie. Brad Bird se kreatiewe hand is duidelik sigbaar, wie kan dan nou die nimlike Edna Mode se uiters skerp kommentaar ooit vergeet. Saam met die familie op die bank.Sunday, September 27, 2015
I'll See You in My Dreams - 5/10
Moet nie te veel van I'll See You in My Dreams verwag nie, dit is 'n baie rustige tempo filmpie, met onderspeelde, maar tog gepaste, vertolkings, wat oudword in 'n ietwat ander lig stel. Dit laat dit nie so erg lyk nie... Kyk gerus as jy baie rustig voel en nie lus het vir aksie nie. Saam met Bella op die bank.San Andreas - 6/10
Kyk, San Andreas is hiper onrealisties in verskeie opsigte. Dit verskaf egter heelwat pret as 'n gesinsfliek, en is een van die min flieks wat daarin slaag om ons hele familie op die bank te hou... Friday, September 25, 2015
Seun - 7/10
Seun is puik vervaardig en wys dat die Suid Afrikaanse (Afrikaanse) film industrie kwaliteit kan lewer. Wees dubbel gewaarsku, baie swaar tema, met vreeslik baie wroeg en wroeg en wroeg. Uitstekende voorbeeld wanneer kuns prioriteit bo vermaak geniet. Moet ook nie verwag dat dit enigsins die bosoorlog tema aanspreek nie, nee, eerder emosies by die huis. O, en beslis nie Vrydagaand vermaak nie. Saam met Bella op die bank. Hollywood in my Huis - 6/10
Hollywood in my Huis is redelik vir die genre, maar dalk eerder 'n tjiekfliek as familie vermaak. Anrich het dit nie lank gemaak nie. Baie ligte vermaak. Saam met Bella op die bank.Thursday, September 24, 2015
Listen Up Philip - 1/10
Ek het die eerste 10 minute van Listen Up Philip hard probeer om nie te slaap nie, die volgende 10 minute heerlik gesluimer, en toe besluit hierdie is regtig net tydmors. Dit is 'n swak Hollywood kunsfliek poging, met 'n nog swakker keuse vir derdepersoons stemkunstenaar, selfs as dit as parodie bedoel was. Werklik op eie risiko, saam met Bella op die bank.Monday, September 21, 2015
Beautiful Creatures - 4/10
Beautiful Creatures is maar 'n flou poging, ten spyte van die redelike rolverdeling en vertolkings. Wat dit in die steek laat is die swak lyn en na-aap van die Twilight trilogie (nie dat ek hulle gekyk het nie). Vermy dalk eerder, veral omdat dit lyk of die opvolg films nie die rol gaan haal nie. Sunday, September 20, 2015
Entourage - 5/10
Ek is seker dit gaan erger in lala-land as wat Entourage uitbeeld. Die fliek is redelik, met 'n komiese element. Wees gewaarsku, taalgebruik en ander. Daar is heelwat kameerolle en baie skerp film verwysings. Mal oor die karre, veral die een op die film se plakaat. Saam met Bella op die bank. Page Eight - 6/10
Ek en Bella het hierdie trilogie heeltemal in die verkeerde volgorde gesien, eers Turks and Caicos (2), toe Salting the Battlefield (3), en toe Page Eight (1). Ai. Dit sou dalk beter gekyk het in die korrekte volgorde. Desnieteenstaande heel verteerbare Briste spioenasie drama met redelike rolverdeling. Ek het die meeste van die tweede een gehou, wat dan ook die meer komplekse lyn het. Saam met Bella op die bank. Salting the Battlefield - 6/10
Laaste van 'n trilogie Briste spioenasie dramas. Het dit ongelukkig in die verkeerde volgorde gesien. Nie te sleg nie, wel beter as wat 'n Amerikaanse eweknie sou wees. Saam met Bella op die bank.HairBrained - 5/10
HairBrained is 'n Hollywood poging tot nie-hoofstroom kunsflieks. Dit slaag gedeeltelik, want van die vertolkings is te bewus "anders". Dit bevat darem redelike komiese elemente, so die fliek is tog kykbaar. Dit het seker ook 'n lewenslessie of twee. Saam met Bella op die bank.Mad Max: Fury Road - 4/10
Kyk, visueel gewys is Mad Max: Fury Road uitstekend. Dit stel egter teleur in terme van lyn en effek. Hierdie film lyk dan ook soos een of ander verbeeldingsvlug met 'n mengsel van elemente wat nie heeltemal pas nie. Dit is beslis in 'n ander trant as die oorspronklike Mad Max reeks. Ek weet nie, van die elemente is selfs lagwekkend, veral die kitaarman... Op die vliegtuig terug van Munich na Johannesburg.
Subscribe to:
Posts (Atom)






