Saturday, February 25, 2017

Max Steel - 4/10

Max Steel is nog 'n superheld fliekie, maar een waar die held eers sy (tiener) voete moet vind ('n sogenaamde origins storie). Ietwat stroperig, stadig en nie veel aksie nie. Seker redelike familie materiaal, want beide Anrich en Franko het bly sit en klaar gekyk saam met my en Bella op die bank. 

My Bakery in Brooklyn - 4/10

My Bakery in Brooklyn is net te soetsappig, en sentimenteel. Dit is soos goedkoop vuurwerke, vlieg, klap en maak geraas, maar nie baie hoog of mooi nie. 'n Paar regtig simpel tonele, maar darem Brooklyn, en lekker gebak. Saam met Bella op die bank.

Sunday, February 12, 2017

Passengers - 7/10

Passengers is nie die gewone skop-skiet-en-vlieg ruimtefliek nie, dit is stadig, mooi en sinvol. Die vertolkings is gepas, nie sleg nie, maar die twee hoofrolle kon beter toegeken gewees het. Uitstaande vertolking is die kroegman. Ek sou reken ondersteunende rol Oscar materiaal. Kyk gerus, maar moet nie baie aksie verwag nie. Daar is so klein bietjie, maar dis nie waaroor hierdie fliek gaan nie. Saam met Bella op die bank.

Roald Dahl's Esio Trot - 7/10

Roald Dahl's Esio Trot is 'n heerlike, genotvolle (wat anders werk beter as delightful?) fliekie. Dit volg die boek redelik getrou met so paar sinvolle kreatiewe kinkels. Dit is 'n eerlike, onpretensieuse kykie na meer gevorderde ouderdom romanse, wat eintlik nie baie van kalwerliefde verskil nie. Uitstekende vertolkings, hoe dan anders? Saam met Bella op die bank. 

Sunday, February 5, 2017

Lion - 7/10

Lion raak nogals die hartsnare, en omdat dit rondom ware gebeure afspeel, soveel te meer. So klein bietjie aangedik in terme van feite, maar steeds erg as mens dink wat met vyfjariges kan gebeur in 'n groot stelsel. Ek dink ook daar is baie erger gevalle wat nie so mooi uitdraai nie. Saam met Bella op die bank.


Saturday, February 4, 2017

Arrival - 8/10

Arrival is 'n kuns wetenskapfiksie fliek. Dit beweeg stadig met min aksie, realistiese gebeure rondom die hooftema, en met heelwat emosionele uitbeelding. Nogals 'n vars, nuwe benadering, alhoewel daar tog ooreenkomste is met ouer films soos Contact. Kyk beslis as jy rustig voel, en nie pure vermaak nodig het nie. Die rolverdeling werk goed en die vertolkings is nie oordrewe nie, genoegsaam onderspeeld. Saam met Bella op die bank.

Saturday, January 28, 2017

Jack Reacher: Never Go Back - 4/10

Jack Reacher: Never Go Back is eintlik maar baie flou. Dit voel onderspeeld, vol cliches en pap. Saam met Bella op die bank.

Thursday, January 19, 2017

The Girl on the Train - 7/10

The Girl on the Train hou mens nogals vasgenael soos die waarheid stukkie vir stukkie onthul word. Verwag 'n kinkel aan die einde. Stadige, emosionele, sielkundige riller materiaal, maar met 'n ongemaklike realistiese gevoel. Saam met Bella op die bank.


Monday, January 16, 2017

Keeping Up with the Joneses - 0/10

Keeping Up with the Joneses is pleinweg net swak en heel onkykbaar. Die vertolkings werk net glad nie. Selfs nie Gal Gadot nie, want eintlik nie baie goed kan toneelspeel nie. Kon nie verder as die eerste 20 minute kom nie. Vermy beslis. Saam met Bella op die bank.


Medici: Masters of Florence, Seisoen 1 - 8/10

Medici: Masters of Florence lyk baie belowend. Nie die absolute beste periode drama ooit nie, maar ek is mal oor hierdie geskiedenis en milieu. Ten minste gebruik hulle ook regte Italiaanse aktrises. Mev Medici se kostuums is regtig uitstaande, klassieke drag. Sjoe. En dan is die finale episode getrou aan die geskiedenis met 'n behoorlike einde. Saam met Bella op die bank.


Need for Speed (2014) - 5/10

As mens aanvaar dit het foute en is ligte vermaak is Need for Speed (2014) nogals heel kykbare ontspanning. Verwag die gewone, maar wat hierdie oukie anders maak is dat daar blykbaar geen rekenaargrafika gebruik is nie. Eweskielik bewonder mens die kar truuks... Saam met Bella, Franko en Anrich in Ballito



Bridget Jones's Baby - 6/10

Bridget Jones's Baby is ligte tjiekfliek vermaak, met redelik humoristiese dialoog en situasies. Dit is dalk meer vir die tjieks as die manne, maar is tog kykbaar. Saam met Bella op die bank.

Saturday, January 14, 2017

Suicide Squad - 5/10

Suicide Squad was ietwat teleurstellend, ten spyte van die sterbelaaide rolverdeling. Dit kom net nie lekker aan die gang nie. Die begin skep groot afwagting en dan kom mens op 'n punt waar jy besef die begin was die beste deel. Die fliekie het baie onvervulde potensiaal. Ai. Saam met die familie op die bank by Ballito.

Friday, January 13, 2017

Deepwater Horizon - 6/10

Deepwater Horizon is glad nie te sleg vir 'n ware verhaal gebaseerde fliek nie. Daar is dalk so bietjie aangedik, maar dit bly een van die groter en slegter olierampe in die geskiedenis. Dit is heel kykbaar as Vrydagaand materiaal met tipiese Hollywood sentiment darem laag genoeg. Saam met Bella en Franko op die bank.

Monday, December 26, 2016

The Grand Tour, Seisoen 1, Realiteit Televisie - 7/10

The Grand Tour is beslis nie Top Gear nie, maar het darem die drie petrolkop-malles wat baie
vermaaklik, maar ook regtig simpel, kan wees. Meeste van die Top Gear elemente is behoue, maar daar is 'n paar probleme met die nuwe skepping:

  1. Daar is nie The Stig nie - Die Amerikaner ("The American") werk net nie.
  2. Die standaard renbaan ("Our Race Track") is maar net nie dieselfde nie.
  3. Ek mis die "Our reasonably priced car" insetsel, alhoewel nie soveel die "bekendes" wat genooi word nie. Die nuwe truuk om almal af te maai voor hulle kan praat is eintlik 'n goeie oplossing vir die sinlose gedrommel van van die gaste. 
  4. Die "opgradering" van die grafika pas nie by die tipe gekskeer gevoel van die reeks nie.
Maar sal dit aanhou kyk, hulle laat mens steeds lag, en op hulle vyfjarige, ligsinnige manier ingelig hou oor motors en motor sake. Saam met die familie op die bank.

The Accountant - 6/10

The Accountant is verassend anders as wat mens verwag vanaf die lokprent. Dit is nie ligte vermaak nie, maar ook nie te swaar drama nie. 'n Vermenging van elemente, wat in die geval redelik goed werk.  Lekker vakansie of Saterdagaand vermaak. Saam met Bella en Franko op die bank.


Sunday, December 25, 2016

Mars, Seisoen 1 - 8/10

Mars is 'n gedramatiseerde dokumenter wat nogals heel spannend is. Die vermenging van drama en feit is soms nogals moeilik om te onderskei, behalwe as hulle darem uithelp deur die datums te flits, 2016 en 2033. Kyk beslis as jy sterre in die oe" het. Saam met Anrich op die bank.
 

The OA, Seisoen 1 - 7/10

The OA begin nogals met 'n sterk swanger afwagting, soveel so, mens wil die hele reeks in een slag kyk. Puik vertolkings, en 'n kwaliteit vervaardiging. Beslis nie ligte materiaal nie, selfde gevoel as The Killing met 'n donker onheilspellende spanningslyn wat voortdurend opbou. Saam met Bella op die bank.

Saturday, December 24, 2016

The Boss - 3/10

The Boss is maar erg flou, maar kry dit reg om mens te flous, al die pad totdat die fliek klaar is. Mens wag hoopvol dit gaan beter raak, en dalk heel kykbaar uitdraai, maar heelaas nie. Eintlik maar tydmors. Het hierdie een probeer na 'n ander poging, Don't Think Twice. En dan maak so simpel fliek soos hierdie heelwat geld!? Mev Melissa McCarthy het ook nou haar plekkie op my lys van akteurs om te vermy verdien. Die punt kon nog laer wees, maar daar was darem 'n snaakse toneel of twee wat my laat grim het. Saam met Bella op die bank. 

Don't Think Twice - 0/10


Don't Think Twice lyk soos 'n eksperimentele kunsfliek. Dit kry baie hoe" aanprysings van kritici, maar is beslis onkykbaar. Het so 10, 15 minute kon uithou en na iets anders oorgeskakel. Saam met Bella op die bank.

Friday, December 23, 2016

Rogue One: A Star Wars Story - 6/10

Rogue One: A Star Wars Story is pure Star Wars, wat dit op die ou einde minder vermaak maak. Ek het dus meer van Star Wars: The Force Awakens gehou, veral oor die meer, beter humor en skerp verwysings en insluit van oorspronklike akteurs. Rogue One se grafika is uitstaande, en daar is 'n paar snaakse en baie koel tonele. Die rolverdeling is beslis nie optimaal nie, en die protoganis is maar 'n flou skurkie. Moet se^ die taalgebruik is suiwer en van gehalte in hierdie fliekie, maar dan is dit seker maar so in al die ander Star Wars flieks. Saam met Bella, Franko en Anrich by Brooklyn teater, met 'n vinnige pizza by Cappucinos.

Wednesday, December 21, 2016

Only Lovers Left Alive - 4/10

Only Lovers Left Alive is verskriklik stadig, gestilleerd maar met 'n interessante konsep en heelwat verlore potensiaal. Die klankbaan is vreemd aantreklik en die milieu en ondertone perfek. Selfs die rolverdeling en vertolkings is puik. Alles is puik, behalwe die tempo en die dun storielyn. 'n Kunskring vampierfliek eksperiment. Beslis op eie risiko. Saam met Bella op die bank.

Miss Peregrine's Home for Peculiar Children - 5/10

Ek het aanvanklik nie Miss Peregrine's Home for Peculiar Children wou kyk nie, het dit baie vinnig gespoedkyk en daarteen besluit. Het heelwat later dit egter weer probeer en deurgekyk. Dit is redelik, steeds nie ten volle oortuig ek wou dit wel kyk nie. Ten minste 'n redelike storielyn en gepaste grafika kwaliteit. Saam met Bella op die bank.


Let's Kill Ward's Wife - 2/10

Let's Kill Ward's Wife is swart humor, maar ongelukkig nie op sy beste nie. Het so 20 minute kon volhou, gestop, en eers na 'n ander fliek, hierdie klaar gespoedkyk. Dit het 'n element wat mens laat wonder wat gaan gebeur, maar vir een of ander rede hou die karakterts, akteurs, vertolkings, storielyn, humor of milieu mens nie geboei nie. Nie aan te beveel nie. Saam met Bella op die bank.

The Hollars - 5/10

The Hollars is nie 'n te swaar drama nie, met so ietwat komedie daarby. Die fliek fokus meer op ryk emosionele interaksies as enige iets anders. Dit is meer tjiekfliek materiaal hierdie. So bietjie cliche-erig. Saam met Bella op die bank.

Monday, December 19, 2016

Anthropoid - 7/10

Net toe ek begin dink Anthropoid is darem nie so grim Tweede Wereld oorlog fliek nie, draai die lyn en is dit in volle glorie in jou gesig, martel, dood en sinloosheid. Wat ek wel van 'n fliek waardeer, veral soos hierdie een, is wanneer mens iets leer. Uitstekende vertolkings, puik periode stuk. As jy sterk voel. Saam met Bella op die bank.

Absolutely Fabulous: The Movie - 3/10

Absolutely Fabulous: The Movie is eintlik net 'n klomp gemors, maar dit het tog 'n paar baie snaakse tonele. Vreemde ding is ek vermoed daar is meer mense wat wel so lewe as wat mens verwag. Dit het seker 'n element van 'n lewensles of twee na die einde se kant. En dit bly indrukwekkend dat Joanna Lumley al oor die Sewentig is, ten spyte van die werkies wat sy laat doen het. Ten minste is sy nog fiks en sien kans vir baie. Beslis op eie risiko. Saam met Bella op die bank.


High Strung - 6/10

High Strung is 'n makker dansfliek as die Step Up reeks, met mooi musiek en goeie kunstenaars. 'n Baie eenvoudige lyn, met 'n indrukwekkende finale dans sekwens. Geskik vir die familie. Saam met Bella op die bank. Anrich het dit voorheen gesien, ons daarvan vertel. 

  

Doctor Thorne, Seisoen 1 - 5/10

Gelukkig is Doctor Thorne net 3 episodes lank, bietjie te soet na my smaak. Selfde skepper as Downton Abbey, maar nie met dieselfde sterk rolverdeling nie, en minder intererssante intriges. Wel 'n mooi periode milieu, stelinkleding en kostuumwerk.
 

Sunday, December 18, 2016

Already Tomorrow in Hong Kong - 5/10

Already Tomorrow in Hong Kong is 'n praat fliekie met die altyd-wakker wereldstad as hoofkarakter. Die stad lyk verleidelik in al sy fasette, meer ideaal as deurmekaar liefdeslewens. Meer georden as emosies. Die fliekie stel 'n danspassie tussen twee willekuerige emosionele behoeftiges voor. Foeitog, hoekom moet hulle so swaarkry met sulke moeilike keuses. Saam met Bella op die bank.

Monday, December 5, 2016

Storks - 4/10

Storks is uitsluitlik kortvolk materiaal, ek het so halfpad die aftog geblaas. Saam met Bella en Anrich op die bank (hulle het klaar gekyk). 

Inferno - 4/10

Inferno is redelike ontsnappings materiaal met 'n baie dun storielyn. Baie eenvoudige spanningslyn, so verwag breinlose vermaak vir 'n moee" Vrydagaand. Saam met Bella op die bank.

Monday, November 28, 2016

The Young Pope, Seisoen 1 - 5/10

The Young Pope is modern-vreemd. Beslis nie 'n geskiedenis les nie, eerder 'n kykie na - waarskynlik - die pous se vyande se hoop van wat in sy kop aangaan en dan ook, alles wat onheilig is, in die binnekamers van die Vatikaan. Sal dit nog 'n kans of wat gee, hierdie is nie ligte vermaak nie, eerder diep emosionele ondertone met flitse van Sodom en Gemorra variasies. Nee wat, net 'n stilistiese reeks, niks anders nie. Los eerder. Saam met Bella op die bank.

Pete's Dragon - 3/10

Pete's Dragon begin stadig, is dan ook van meet af net op die vroee" laerskoolmark gerig en kry dit nie reg om mens langer as die eerste 15 minute vas te vang nie. Het maar opgegee. Saam met Bella en Anrich op die bank probeer.


Sunday, November 27, 2016

Jason Bourne - 6/10

Dankie tog, vir 'n slag weer 'n ordentlike Jason Bourne fliek. Van die tonele voel bietjie lank en uitgerek. Die lyn is glad nie kompleks nie, waarskynlik hoekom hulle met langer veg en jaag tonele probeer opmaak het. Saam met Bella en Franko op die bank.

Roald Dahl's The BFG - 9/10

Roald Dahl's The BFG is 'n gevoelvolle fantasie fliekie. Dit het 'n redelike eenvoudige lyn, maar die kombinasie van Spielberg se visuele skepping en Dahl se ryk karakters en detail maak hierdie 'n juweel. Dit is sag en snaaks en warm van hart. Meer gemik op die laerskool kyker, maar sal grootmense ook bekoor. Saam met Bella en Anrich op die bank.



Sunday, November 13, 2016

Nerve - 6/10

Nerve is nie die beste fliek van die jaar nie, maar dit het 'n spanningslyn wat mens nuuskierig en betrokke hou, al is van die vertolkings dalk net te oordrewe. Daar moet 'n mate van oordrewendheid wees, ons werk tog hier met Amerikaanse tieners. Die lyn is ook nie verregaande vreemd nie, heel realisties. Saam met Bella op die bank.
   

Among Ravens - 0/10

As mens in die eerste 15 minute van 'n fliek glad nie met die karakters of gebeure identifiseer nie, en ook nie 'n verband met die akteurs se vertolkings ontwikkel nie is dit net pyn en lyding vorentoe. Gelukkig het ons besluit om oor te skakel na iets beters as om deur Among Ravens te swoeg. Saam met Bella op die bank.

The Crown, Seisoen 1 - 6/10

The Crown is beslis vir die' wat belangstel in die Britse geskiedenis, maar die slag heelwat meer onlangse gebeure. Die hoofrol verdeling kon sterker gewees het. Nog steeds interessant en kykbaar. Die Kenya episode is nogals 'n verleentheid vir die neus-in-die-lug Brite sou ek reken. Saam met Bella op die bank.

The Secret Life of Pets - 5/10

The Secret Life of Pets is beslis kortvolk materiaal, maar tog vermaaklik. Dit het 'n beperkte dubbellyn (een vir blikoortjies en een vir die ouers). Saam met Bella en Anrich op die bank.

The Mechanic 2: Resurrection - 4/10

The Mechanic 2: Resurrection is redelike Vrydag of Saterdagaand vermaak. Die lyn het beslis 'n paar lelike gate (woorspel hier beslis bedoel), maar wie gee nou om as Mev Alba daarin speel, veral op 'n verlate Thaise strand. Saam met Bella en Franko op die bank.

Thursday, November 10, 2016

Aloft - 6/10

Aloft is beslis nie vir die die groter fliek gehoor bedoel nie, kunsfilm materiaal. Ons het eers met Criminal begin, en na 15 minute daarvan na hierdie oorgeswaai. Eintlik dieselfde film behalwe fisiese geweld is hierdie innerlike, emosionele teistering. Sinvolle vertolkings, maar ek moet erken, hierdie een is bietjie bo my beperkte manlike emosionele intelligensie. Saam met Bella op die bank.

Criminal - 3/10

Criminal is seker nie 3/10 sleg nie, maar dit het net flou gelyk, met 'n ietwat sinlose lyn en net te min vermaak. Het so 15 minute lank kon uithou. Op eie risiko. Saam met Bella op die bank.

Saturday, November 5, 2016

Tutankhamun, Seisoen 1 - 6/10

Tutankhamun is nie 'n aksie belaaide reeksie nie, kort en tipies Brits. Dit het net 4 episodes en mens leer darem so bietjie geskiedenis daarby. Dit is heel kykbaar, sal dit waarskynlik klaar kyk. Sover gepas vir familie verbruik. Hou van die era en die milieu en die rolverdeling. Saam met Bella op die bank. 

I.T. - 1/10

Ons het I.T. begin kyk, maar daar is 'n naiwiteit, amateuragtigheid en blote swak vertolkings wat hierdie net te pynigend maak. Na sowat 20 minute opgegee. Saam met Bella op die bank.

Dirk Gently's Holistic Detective Agency, Seisoen 1 - 7/10

Dirk Gently's Holistic Detective Agency is regte ingenieurskos, presies soos ou Douglas dit bedoel het. Ek verstaan die reeks volg nie die boeke nie, maar hierdie kon net sowel Ford Prefect en Arthur Dent gewees het. Gepaste, oordrewe vertolkings, half mallerige mense, vreemde tonele, en 'n erg verdraagsame manier van dinge doen. Saam met Bella en Anrich op die bank, alhoewel ek dink ons Bella vir hierdie een gaan verloor.


People of Earth, Seisoen 1 - 5/10

People of Earth lyk belowend, sal dit nog 'n episode of twee kans gee. Ek hou van die hoofkarakter se droe" vertolking, regte kruidjie-roer-my-nie. Kort episodes. Saam met Bella op die bank.

Tuesday, November 1, 2016

Berlin Station, Seisoen 1 - 6/10

Berlin Station het die potensiaal om seker lank en uitgerek te voel, maar ek is mal oor die Berlyn milieu. Die lyn beweeg redelik, die vertolkings is gepas, en die gevoel net reg. Saam met Bella op die bank, alhoewel hierdie nie heeltemal haar smaak is nie. Hmmm, die tweede episode was net te flou, eerder vir eers ophou volg. 

Speechless, Seisoen 1 - 7/10

Speechless is verfrissend alternatief, en met Minnie wat in haar moeder-aksent praat is hierdie regtig snaaks. Die vertolkings is gepas en mens hou nogals van die karakters. Dit het ook 'n Kanadese gevoel, maar pla nogals nie. Saam met Bella op die bank, maar gepas vir die familie. 


Timeless, Seisoen 1 - 5/10

Timeless begin redelik, sal dit nog 'n kans of wat gee. Hou van die geskiedenis storietjie per episode konsep. Mens hou ook nogals van die karakters. Gepas vir die familie. Saam met Bella op die bank.