Monday, March 20, 2017

Finding Altamira - 6/10

Finding Altamira is 'n heel kykbare fliekie, rustig en mens leer darem seker so iets. Die milieu sal mense baie oud laat word... Passievolle vertolkings, wat anders verwag mens van Spanje? Saam met Bella op die bank. Anrich het begin kyk maar moed opgegee. 

Iron Fist, Seisoen 1 - 2/10

Iron Fist, nee wat, flou makou, hou verby. Die loodsepisode is so vervelig mens hoop op 'n afspraak by die tandarts. Heeltemal te veel onderspeeld, swak vertolkings en 'n powere hoofrol verdeling. Saam met Bella en Anrich op die bank, alhoewel Anrich na 10 minute geloop het, en ons met die vorentoe-rol knoppie gekyk het. 


Saturday, March 18, 2017

War & Peace, Minireeks - 6/10

War & Peace is sappige periode drama materiaal. Goed vervaardig, nie sepierig nie, en 'n lekker kort reeks, nie uitgerek nie. Saam met Bella op die bank.

Why Him - 4/10

Why Him is vol cliches, maar daar is 'n paar regtig snaakse tonele. Wees gewaarsku, onder die belt, binne die belt, bo die belt, buite die belt en in die belt grappe. En dan baie vloek, moet nie saam met ouma kyk nie. Saam met Bella op die bank.
  

Assassin's Creed - 5/10

Assassin's Creed is nie die beste fliek ooit nie, maar beslis vermaak. Dit is een van die beter rekenaarspeletjie-word-'n-fliek genre voorbeelde. Dit het 'n redelike tempo en haak nie te lank vas op die gewone cliche's nie. Daar sal op 'n opvolg wees, want alhoewel dit 'n bevredigende einde het, is dit oop gelaat vir verdere werk. Saam met Bella, Franko en Anrich op die bank. 
  

Saturday, March 11, 2017

Equals - 6/10

Equals is amper 'n moderne Romeo en Juliette. Die film skep 'n emosionele - eerder as fisiese - post apokaliptiese toekoms waar die gevoelslewe van die mensdom totaal verwoes is. Die fliek is stadig, maar die sterk kliniese milieu met robot mense is op 'n sekere vlak tog vermaaklik. Nie swaar of ligte materiaal nie, so tussen-in. Gepaste vertolkings en goed vervaardig. Saam met Bella op die bank.  

Maigret's Dead Man - 5/10

Maigret's Dead Man is redelike stapel wiet-dit-gedoen materiaal. Mens kan nie anders as om te verwag Bean gaan enige oomblik iets swaapagtigs aanvang nie.... In elk geval is hy nie instaat tot 'n erntige gesig, of eintlik enige ernstige vertolkings nie. Nie dat hy sleg doen nie, mens wil net die heeltyd begin lag vir hom, veral as hy ernstig en gewyd probeer voorkom.... Hierdie is deel van 'n reeks - maar van net twee episodes - wat te lank vir 'n episode en te kort vir 'n fliek is, so dan is dit seker 'n fleeks? Saam met Bella op die bank.


Sunday, March 5, 2017

Fantastic Beasts and Where to Find Them - 7/10

Fantastic Beasts and Where to Find Them is baie ligter en meer kykbaar as die Potter reeks. Dit is prettig, en vol grappies. "Natuurlike" grafika werk, met so klein bietjie te veel rondom die swart wolk ding. Ek was bietjie moeg en wil eintlik weer die fliek kyk, dit sal die moeite werd wees. Eddie Redmayne is seker een van die beste akteurs op die kring tans. Sy bereik is verstommend. Saam met Bella en Anrich en Franko op die bank. 

Saturday, March 4, 2017

Planet Earth II, Seisoen 1 - 12/10

Planet Earth II is die beste natuurprogram ooit. Die beeldmateriaal is eenvoudig verstommend. Ek wonder net wie gaan Sir David se skoene enigsins kan volstaan? Saam met Anrich op die bank.


The Day After Tomorrow - 5/10

The Day After Tomorrow is tipiese Hollywood sentiment. Net die Amerikaners kan 'n natuur gebeurtenis en mense-ramp so dramaties laat lyk. 'n Tweede kyk, maar die slag saam met Anrich en Bella, het dit al reeds jare terug gesien. Almal lyk so jonk in die fliek...

Born to Be Blue - 7/10

Kyk, die man het probleme gehad... Born to be Blue is nogals baie goed vir 'n ware verhaal verwerking. Die musiek is sensueel mooi, die vertolkings briljant. Swaarder materiaal, maar tog baie kykbaar. Mens voel nie jy het jou tyd gemors aan die einde van die fliek nie. Saam met Bella op die bank.

Doctor Strange - 6/10

Doctor Strange is, wel, vreemd. Ek het iets heeltemals anders verwag, dalk oor die verwarring tussen DC Comics en Marvel het ek eers later besef. Die fliek kyk nogals heel lekker, maar is nie die beste materiaal nie. Lekker Vrydagaand materiaal. Saam met Bella en Franko en Anrich op die bank.

Our Kind of Traitor - 6/10

Our Kind of Traitor het die perfekte rolverdeling, maar iets het net nie vir my gewerk nie. Dalk was ek te moeg, maar het op die ou einde meer geslaap en nie die einde gekyk nie. Die milieu is goed, die storielyn redelik, maar dit het my nie aangegryp en vasgenael gehou nie. Bella het deurgedruk. 

Santa Clarita Diet, Seisoen 1 - 4/10

Santa Clarita Diet het seker baie komiese potensiaal, maar ek is net nie lus vir 'n zombie storie nie. Saam met Bella op die bank. Sy het nog so bietjie meer van die eerste episode gekyk, maar ook opgegee. 

Legion, Seisoen 1 - 6/10

Legion is so deurmekaar soos katkots in 'n tuimeldroe"r. Die eerste seisoen het net 8 episodes en na die eerste 3 voel mens die ding het nog nie aan die gang gekom nie. Binnekort sal iets moet gebeur, want ons posisioneer nog hier die hele tyd. Foeitog, die man kry baie swaar. Dit is wel baie indrukwekkend vervaardig, baie gepaste stelinkleding, rolverdeling en karakter vertolkings. Saam met Bella en Anrich op die bank, Franko kry nie byt nie. 

Monday, February 27, 2017

The Night Manager, Minireeks - 8/10

The Night Manager begin baie stylvol, onderspeeld, en omdat dit 'n kort mini-reeks is, lyk dit baie belowend na die eerste twee episodes. Mens hou nogals van die manlike hoofrol, en die hotelle is, nou ja, iets waar mens 'n paar aande graag sal wil vertoef. Saam met Bella op die bank.

Sunday, February 26, 2017

Middle School: The Worst Years of My Life - 7/10

Middle School: The Worst Years of My Life is 'n sterk genre voorbeeld. Dit kyk maklik, is nie te stroperig nie, en is goeie Vrydagaand materiaal saam met die familie. Eerder gemik op laat laerskool vlak, maar werk nog vir 'n bietjie ouer gehoor. Saam met Bella en Anrich op die bank.

Night Moves - 6/10

Night Moves is maar neerdrukkend, en dit is nie regtig duidelik watter kant van die groendraad die film vervaardig het nie... Wil pro-groen wys dit is 'n moeilike saak of wil die anti-groen beweging wys dit is nie so romantiese, rooskleurige en edele saak nie? Wat my wel na die een kant laat leen is dat 'n ware pro-groene nie plastiek in 'n vullisgat sou gaan gooi het nie...En dan is daar die taamlik onbevredigende einde om ook mee saam te leef. As jy sterk en groen of anti-groen voel. Wel realistiese en gepaste vertolkings tesame met 'n sterk rolverdeling. Saam met Bella op die bank.


Saturday, February 25, 2017

Max Steel - 4/10

Max Steel is nog 'n superheld fliekie, maar een waar die held eers sy (tiener) voete moet vind ('n sogenaamde origins storie). Ietwat stroperig, stadig en nie veel aksie nie. Seker redelike familie materiaal, want beide Anrich en Franko het bly sit en klaar gekyk saam met my en Bella op die bank. 

My Bakery in Brooklyn - 4/10

My Bakery in Brooklyn is net te soetsappig, en sentimenteel. Dit is soos goedkoop vuurwerke, vlieg, klap en maak geraas, maar nie baie hoog of mooi nie. 'n Paar regtig simpel tonele, maar darem Brooklyn, en lekker gebak. Saam met Bella op die bank.

Sunday, February 12, 2017

Passengers - 7/10

Passengers is nie die gewone skop-skiet-en-vlieg ruimtefliek nie, dit is stadig, mooi en sinvol. Die vertolkings is gepas, nie sleg nie, maar die twee hoofrolle kon beter toegeken gewees het. Uitstaande vertolking is die kroegman. Ek sou reken ondersteunende rol Oscar materiaal. Kyk gerus, maar moet nie baie aksie verwag nie. Daar is so klein bietjie, maar dis nie waaroor hierdie fliek gaan nie. Saam met Bella op die bank.

Roald Dahl's Esio Trot - 7/10

Roald Dahl's Esio Trot is 'n heerlike, genotvolle (wat anders werk beter as delightful?) fliekie. Dit volg die boek redelik getrou met so paar sinvolle kreatiewe kinkels. Dit is 'n eerlike, onpretensieuse kykie na meer gevorderde ouderdom romanse, wat eintlik nie baie van kalwerliefde verskil nie. Uitstekende vertolkings, hoe dan anders? Saam met Bella op die bank. 

Sunday, February 5, 2017

Lion - 7/10

Lion raak nogals die hartsnare, en omdat dit rondom ware gebeure afspeel, soveel te meer. So klein bietjie aangedik in terme van feite, maar steeds erg as mens dink wat met vyfjariges kan gebeur in 'n groot stelsel. Ek dink ook daar is baie erger gevalle wat nie so mooi uitdraai nie. Saam met Bella op die bank.


Saturday, February 4, 2017

Arrival - 8/10

Arrival is 'n kuns wetenskapfiksie fliek. Dit beweeg stadig met min aksie, realistiese gebeure rondom die hooftema, en met heelwat emosionele uitbeelding. Nogals 'n vars, nuwe benadering, alhoewel daar tog ooreenkomste is met ouer films soos Contact. Kyk beslis as jy rustig voel, en nie pure vermaak nodig het nie. Die rolverdeling werk goed en die vertolkings is nie oordrewe nie, genoegsaam onderspeeld. Saam met Bella op die bank.

Saturday, January 28, 2017

Jack Reacher: Never Go Back - 4/10

Jack Reacher: Never Go Back is eintlik maar baie flou. Dit voel onderspeeld, vol cliches en pap. Saam met Bella op die bank.

Thursday, January 19, 2017

The Girl on the Train - 7/10

The Girl on the Train hou mens nogals vasgenael soos die waarheid stukkie vir stukkie onthul word. Verwag 'n kinkel aan die einde. Stadige, emosionele, sielkundige riller materiaal, maar met 'n ongemaklike realistiese gevoel. Saam met Bella op die bank.


Monday, January 16, 2017

Keeping Up with the Joneses - 0/10

Keeping Up with the Joneses is pleinweg net swak en heel onkykbaar. Die vertolkings werk net glad nie. Selfs nie Gal Gadot nie, want eintlik nie baie goed kan toneelspeel nie. Kon nie verder as die eerste 20 minute kom nie. Vermy beslis. Saam met Bella op die bank.


Medici: Masters of Florence, Seisoen 1 - 8/10

Medici: Masters of Florence lyk baie belowend. Nie die absolute beste periode drama ooit nie, maar ek is mal oor hierdie geskiedenis en milieu. Ten minste gebruik hulle ook regte Italiaanse aktrises. Mev Medici se kostuums is regtig uitstaande, klassieke drag. Sjoe. En dan is die finale episode getrou aan die geskiedenis met 'n behoorlike einde. Saam met Bella op die bank.


Need for Speed (2014) - 5/10

As mens aanvaar dit het foute en is ligte vermaak is Need for Speed (2014) nogals heel kykbare ontspanning. Verwag die gewone, maar wat hierdie oukie anders maak is dat daar blykbaar geen rekenaargrafika gebruik is nie. Eweskielik bewonder mens die kar truuks... Saam met Bella, Franko en Anrich in Ballito



Bridget Jones's Baby - 6/10

Bridget Jones's Baby is ligte tjiekfliek vermaak, met redelik humoristiese dialoog en situasies. Dit is dalk meer vir die tjieks as die manne, maar is tog kykbaar. Saam met Bella op die bank.

Saturday, January 14, 2017

Suicide Squad - 5/10

Suicide Squad was ietwat teleurstellend, ten spyte van die sterbelaaide rolverdeling. Dit kom net nie lekker aan die gang nie. Die begin skep groot afwagting en dan kom mens op 'n punt waar jy besef die begin was die beste deel. Die fliekie het baie onvervulde potensiaal. Ai. Saam met die familie op die bank by Ballito.

Friday, January 13, 2017

Deepwater Horizon - 6/10

Deepwater Horizon is glad nie te sleg vir 'n ware verhaal gebaseerde fliek nie. Daar is dalk so bietjie aangedik, maar dit bly een van die groter en slegter olierampe in die geskiedenis. Dit is heel kykbaar as Vrydagaand materiaal met tipiese Hollywood sentiment darem laag genoeg. Saam met Bella en Franko op die bank.

Monday, December 26, 2016

The Grand Tour, Seisoen 1, Realiteit Televisie - 7/10

The Grand Tour is beslis nie Top Gear nie, maar het darem die drie petrolkop-malles wat baie
vermaaklik, maar ook regtig simpel, kan wees. Meeste van die Top Gear elemente is behoue, maar daar is 'n paar probleme met die nuwe skepping:

  1. Daar is nie The Stig nie - Die Amerikaner ("The American") werk net nie.
  2. Die standaard renbaan ("Our Race Track") is maar net nie dieselfde nie.
  3. Ek mis die "Our reasonably priced car" insetsel, alhoewel nie soveel die "bekendes" wat genooi word nie. Die nuwe truuk om almal af te maai voor hulle kan praat is eintlik 'n goeie oplossing vir die sinlose gedrommel van van die gaste. 
  4. Die "opgradering" van die grafika pas nie by die tipe gekskeer gevoel van die reeks nie.
Maar sal dit aanhou kyk, hulle laat mens steeds lag, en op hulle vyfjarige, ligsinnige manier ingelig hou oor motors en motor sake. Saam met die familie op die bank.

The Accountant - 6/10

The Accountant is verassend anders as wat mens verwag vanaf die lokprent. Dit is nie ligte vermaak nie, maar ook nie te swaar drama nie. 'n Vermenging van elemente, wat in die geval redelik goed werk.  Lekker vakansie of Saterdagaand vermaak. Saam met Bella en Franko op die bank.


Sunday, December 25, 2016

Mars, Seisoen 1 - 8/10

Mars is 'n gedramatiseerde dokumenter wat nogals heel spannend is. Die vermenging van drama en feit is soms nogals moeilik om te onderskei, behalwe as hulle darem uithelp deur die datums te flits, 2016 en 2033. Kyk beslis as jy sterre in die oe" het. Saam met Anrich op die bank.
 

The OA, Seisoen 1 - 7/10

The OA begin nogals met 'n sterk swanger afwagting, soveel so, mens wil die hele reeks in een slag kyk. Puik vertolkings, en 'n kwaliteit vervaardiging. Beslis nie ligte materiaal nie, selfde gevoel as The Killing met 'n donker onheilspellende spanningslyn wat voortdurend opbou. Saam met Bella op die bank.

Saturday, December 24, 2016

The Boss - 3/10

The Boss is maar erg flou, maar kry dit reg om mens te flous, al die pad totdat die fliek klaar is. Mens wag hoopvol dit gaan beter raak, en dalk heel kykbaar uitdraai, maar heelaas nie. Eintlik maar tydmors. Het hierdie een probeer na 'n ander poging, Don't Think Twice. En dan maak so simpel fliek soos hierdie heelwat geld!? Mev Melissa McCarthy het ook nou haar plekkie op my lys van akteurs om te vermy verdien. Die punt kon nog laer wees, maar daar was darem 'n snaakse toneel of twee wat my laat grim het. Saam met Bella op die bank. 

Don't Think Twice - 0/10


Don't Think Twice lyk soos 'n eksperimentele kunsfliek. Dit kry baie hoe" aanprysings van kritici, maar is beslis onkykbaar. Het so 10, 15 minute kon uithou en na iets anders oorgeskakel. Saam met Bella op die bank.

Friday, December 23, 2016

Rogue One: A Star Wars Story - 6/10

Rogue One: A Star Wars Story is pure Star Wars, wat dit op die ou einde minder vermaak maak. Ek het dus meer van Star Wars: The Force Awakens gehou, veral oor die meer, beter humor en skerp verwysings en insluit van oorspronklike akteurs. Rogue One se grafika is uitstaande, en daar is 'n paar snaakse en baie koel tonele. Die rolverdeling is beslis nie optimaal nie, en die protoganis is maar 'n flou skurkie. Moet se^ die taalgebruik is suiwer en van gehalte in hierdie fliekie, maar dan is dit seker maar so in al die ander Star Wars flieks. Saam met Bella, Franko en Anrich by Brooklyn teater, met 'n vinnige pizza by Cappucinos.

Wednesday, December 21, 2016

Only Lovers Left Alive - 4/10

Only Lovers Left Alive is verskriklik stadig, gestilleerd maar met 'n interessante konsep en heelwat verlore potensiaal. Die klankbaan is vreemd aantreklik en die milieu en ondertone perfek. Selfs die rolverdeling en vertolkings is puik. Alles is puik, behalwe die tempo en die dun storielyn. 'n Kunskring vampierfliek eksperiment. Beslis op eie risiko. Saam met Bella op die bank.

Miss Peregrine's Home for Peculiar Children - 5/10

Ek het aanvanklik nie Miss Peregrine's Home for Peculiar Children wou kyk nie, het dit baie vinnig gespoedkyk en daarteen besluit. Het heelwat later dit egter weer probeer en deurgekyk. Dit is redelik, steeds nie ten volle oortuig ek wou dit wel kyk nie. Ten minste 'n redelike storielyn en gepaste grafika kwaliteit. Saam met Bella op die bank.


Let's Kill Ward's Wife - 2/10

Let's Kill Ward's Wife is swart humor, maar ongelukkig nie op sy beste nie. Het so 20 minute kon volhou, gestop, en eers na 'n ander fliek, hierdie klaar gespoedkyk. Dit het 'n element wat mens laat wonder wat gaan gebeur, maar vir een of ander rede hou die karakterts, akteurs, vertolkings, storielyn, humor of milieu mens nie geboei nie. Nie aan te beveel nie. Saam met Bella op die bank.

The Hollars - 5/10

The Hollars is nie 'n te swaar drama nie, met so ietwat komedie daarby. Die fliek fokus meer op ryk emosionele interaksies as enige iets anders. Dit is meer tjiekfliek materiaal hierdie. So bietjie cliche-erig. Saam met Bella op die bank.

Monday, December 19, 2016

Anthropoid - 7/10

Net toe ek begin dink Anthropoid is darem nie so grim Tweede Wereld oorlog fliek nie, draai die lyn en is dit in volle glorie in jou gesig, martel, dood en sinloosheid. Wat ek wel van 'n fliek waardeer, veral soos hierdie een, is wanneer mens iets leer. Uitstekende vertolkings, puik periode stuk. As jy sterk voel. Saam met Bella op die bank.

Absolutely Fabulous: The Movie - 3/10

Absolutely Fabulous: The Movie is eintlik net 'n klomp gemors, maar dit het tog 'n paar baie snaakse tonele. Vreemde ding is ek vermoed daar is meer mense wat wel so lewe as wat mens verwag. Dit het seker 'n element van 'n lewensles of twee na die einde se kant. En dit bly indrukwekkend dat Joanna Lumley al oor die Sewentig is, ten spyte van die werkies wat sy laat doen het. Ten minste is sy nog fiks en sien kans vir baie. Beslis op eie risiko. Saam met Bella op die bank.


High Strung - 6/10

High Strung is 'n makker dansfliek as die Step Up reeks, met mooi musiek en goeie kunstenaars. 'n Baie eenvoudige lyn, met 'n indrukwekkende finale dans sekwens. Geskik vir die familie. Saam met Bella op die bank. Anrich het dit voorheen gesien, ons daarvan vertel. 

  

Doctor Thorne, Seisoen 1 - 5/10

Gelukkig is Doctor Thorne net 3 episodes lank, bietjie te soet na my smaak. Selfde skepper as Downton Abbey, maar nie met dieselfde sterk rolverdeling nie, en minder intererssante intriges. Wel 'n mooi periode milieu, stelinkleding en kostuumwerk.
 

Sunday, December 18, 2016

Already Tomorrow in Hong Kong - 5/10

Already Tomorrow in Hong Kong is 'n praat fliekie met die altyd-wakker wereldstad as hoofkarakter. Die stad lyk verleidelik in al sy fasette, meer ideaal as deurmekaar liefdeslewens. Meer georden as emosies. Die fliekie stel 'n danspassie tussen twee willekuerige emosionele behoeftiges voor. Foeitog, hoekom moet hulle so swaarkry met sulke moeilike keuses. Saam met Bella op die bank.

Monday, December 5, 2016

Storks - 4/10

Storks is uitsluitlik kortvolk materiaal, ek het so halfpad die aftog geblaas. Saam met Bella en Anrich op die bank (hulle het klaar gekyk). 

Inferno - 4/10

Inferno is redelike ontsnappings materiaal met 'n baie dun storielyn. Baie eenvoudige spanningslyn, so verwag breinlose vermaak vir 'n moee" Vrydagaand. Saam met Bella op die bank.