Wednesday, March 14, 2018

Ferdinand - 5/10

Ferdinand is 'n soete kinderfliekie met 'n paar mooi lessies ter ondersteuning. Regtig net vir die kortvolk bedoel, maar tog kykbaar met heerlike ligte komedie. Die grafika kan beter maar is goed genoeg. Saam met Bella en Anrich (gedeeltelik) op die bank.


Monday, March 12, 2018

Downsizing - 3/10

Aag nee wat, Downsizing is erg teleurstellend. Die rolverdeling is glad nie gepas nie, die storielyn is vol gate, en dit is waarskynlik die mees aweregse vroulike romantiese hoofkarakter ooit. En dan vir 'n omgewingsbewuste fliek, met 'n sterk dokumente^re gevoel, is daar absoluut geen element wat mens darem dit wil laat klaar kyk nie, nie humor nie, nie seks nie, en nie spanning nie. Die sosiale kommentaar faal ook. [Bar taal waarskuwing] Die een groot blaps is dat die naels by stopsels, kak en hare vergeet word! [Bar taal eindig]. Vermy gerus sonder enige twyfel, spyt of skuldgevoelens. Saam met Bella op die bank.

Sunday, March 4, 2018

Hard Sun, Seisoen 1 - 4/10

Nee wat, hierdie lyk nie die moeite werd nie, net te donker. Nie eers die eerste episode langer as 10 minute gekyk nie. Stan Lee's A Lucky Man baie beter.

The Shape of Water - 7/10

The Shape of Water is 'n kuns tjiekfliek. Alhoewel dit ligte Fantasiefiksie is, word die fantasie element so as deel van die normaal hanteer, dit voel soos alledaagse belewenis. Heeltemal iets anders as die gewone hoofstroom, maar steeds 'n bittersoet fliekie en die moeite werd om te kyk. Saam met Bella op die bank.


Wednesday, February 28, 2018

Daddy's Home 2 - 4/10

Daddy's Home 2 is tipiese Hollywoodstapel. Oordrewe, onekonomies, raserig, stereotiperend, oorsentimenteel en 'n paar snaakse grappe. wat mens nie kan help om voor te lag nie. Lekker springmielie komedie op 'n Saterdagaand as dit koeler buite is. Saam met Bella en Anrich op die bank.


   

The Mountain Between Us - 6/10

The Mountain Between Us maak beslis van rolverdelingekonomie gebruik. Maar dit ten spyt, werk die fliek verbasend goed. Die Hollywoodoordrewenheid voel minder, maar daar is tog 'n beperkte element daarvan. Dit neig ook so ietwat na sentiment teen die einde se kant, maar maak dan dit vir 'n bepaalde tjiekfliek. Saam met Bella op die bank.     

Sunday, February 25, 2018

Wonder - 6/10

Wonder speel met mens se emosies en neig na sentiment, tipies Hollywoodstyl. Dit kyk egter maklik, met 'n goeie rolverdeling en glad nie oordrewe vertolkings nie. Minder komiese elemente wat die drama kwaliteit meer ernstig laat voel, maar steeds nie swaar nie. Kyk gerus, maar wees gewaarsku, die knop in die keel gaan 'n hele paar keer sy verskyning maak. Saam met Bella en Anrich op die bank. 


Sunday, February 18, 2018

Altered Carbon, Seisoen 1 - 6/10

Altered Carbon lyk goed, maar gebruik die verwagte skokmateriaal in die eerste episode. Dit is nie 'n lang reeks nie, so sal dit waarskynlik klaar kyk. Standaard futuristiese tegnologie, samelewing en gedrag - alles grotendeels deur Blade Runner bei"nvloed. Ten minste is dit die reeks met die koelste naam. Saam met Bella op die bank.



Sunday, February 11, 2018

Jessica Jones, Seisoen 1 - 7/10

Jessica Jones het 'n noir gevoel, met min fokus op haar superkragte. Dit voel eintlik eerder soos 'n tipiese privaat speurder reeksie, maar kyk tog heel aangenaam. Sal dit beslis verder volg. Saam met Bella op die bank. 


Saturday, February 10, 2018

Counterpart, Seisoen 1 - 8/10

Counterpart gebruik parallel we^reld teorie op so manier dat mens nie eers agterkom dit is wetenskapfiksie nie. Die hoofrol, eintlik twee rolle deur een akteur, is 'n kragtoer van vermoe" en ervaring. Mens moet mooi oplet, kophou en luister, die intriges is nogals vervlegd. Uitnemende reeks, beslis die moeite werd. Saam met Bella op die bank.

McMafia, Seisoen 1 - 3/10

McMafia voel sommer met die eerste episode soos 'n sepie. Aag nee wat, gaan nie tyd hierin bele^ nie. Saam met Bella op die bank.

Don Quixote - 6/10

Don Quixote is 'n soet ou fliekie, baie rustig, en glad nie met Hollywood se glinster en glimmer nie. Dit is kort, en vertel die bekende, maar eenvoudige verhaaltjie. Nogals snaakse dialoog hier-en-daar, maar moet nie aksie, angs of eskapism verwag nie. Saam met Bella op die bank.

Saturday, February 3, 2018

Bright - 6/10

Bright is ietwat vreemd, amper soos 'n kombinasie van kuns, aksie, sprokie en wetenskapfiksie, maar met 'n donker en growwe benadering. Nogals baie vloek, veral die f-bom, aanhoudend. Seker gepaste vertolkings, en dan 'n baie sterk sinspeel op spesisme (as analoog vir rasisme, maar eerder tussen spesies as tussen rasse van 'n spesie). Maar mens kry die gevoel hulle verwys eerder na rasisme. Heel kykbaar, gepas vir 'n Vrydag of Saterdagaand. Saam met Bella op die bank.



Friday, February 2, 2018

Great News, Seisoen 1 - 4/10

Great News begin baie snaaks, maar dan besef mens na die derde episode dit gaan dieselfde bly en dalk nie snaaks bly nie. Wat wel snaaks is, is die oop en bloot gespot met korporatiewe lewe, self-help verbeteringskursusse, gurus, en tipiese pseudo-sielkunde wat om elke hoek en draai ingewurg word in arme redelose, niksvermoedende werkerbye. Die eerste drie episodes saam met Bella op QR126 gekyk van Venisie af terug.

Lethal Weapon, Seisoen 1 - 4/10

Lethal Weapon lyk glad nie sleg nie, maar daar is net te veel ander reekse wat meer opwindend lyk. Dalk later as daar niks anders is om te kyk nie. Begin kyk op QR126 oppad van Venisie af terug



The Hitman's Bodyguard - 6/10

The Hitman's Bodyguard het blykbaar BAIE vloek in, maar een voordeel om dit op Qatar te kyk is dat hulle al die vloek en ongewenste dele sny. Seker nie altyd tot voordeel van die kyker nie, maar ten minste het die film baie lekker Saterdagaand vermaak uitgemaak. Dit het genoeg komiese elemente en dan baie van Amsterdam. As mens eers daar vakansie gehou het, is al die tonele, veral op die kanale heimwee-snellers. Saam met Bella op QR126 van Venisie af terug.


Murder on the orient express (2017) - 7/10

Murder on the Orient Express is 'n aangename opdatering van die redelik bekende Inspekteur Hercule Poirot verhale. Natruurlik nou met grafika effekte om alles net soveel meer dramaties te draai. Die einde is ietwat voorspelbaar, maar mens waardeer tog die finale ontknoping. Dit het my 'n hele rukkie geneem om agter te kom dit is wel Kenneth Branagh wat die rol vertolk. Die res van die rolverdeling is heel modern en vermaaklik. Saam met Bella op QR126 van Venisie af terug



Saturday, January 27, 2018

Crooked House - 710

Crooked House het nogals 'n aantrekking, veral met die periode en milieu. Verfrissende rolverdeling, vol hoekies, draatjies en donker geheime, intriges en agendas. Maar dan is daar die einde, sommige vind dit onstellend, maar dit is onverwags. Mens het eintlik vir iets anders gehoop as jy besef wat gaan gebeur. Saam met Bella op QR1368 oppad na Venisie, maar sy het dit eers later by die huis gekyk.  


Interlude in Prague - 6/10

Interlude in Prague wys dat selfs superheld musikante dit nie maklik gehad het nie. En dan dat geld en mag en politiek (en die pous in hierdie geval) ook maar alles bepaal het. Niks anders as hedendaags nie. Mooi musiek, stelinkleding, kostuums, en gepaste vertolkings. Nie die beste kunsfliek nie, maar dalk meer toeganklik. Op QR1368 saam met Bella na Venisie



Home Again - 5/10

Home Again is 'n redelike tjiekfliekie met 'n paar nogals snaakse tonele. Van die tonele kan mens net waardeer as jy al so entjie af in die pad met voorstedelike familielewe is....Dit kyk maklik, so perfek vir 'n Vrydag of Saterdagaand. Saam met Bella op QR1368 oppad na Venisie


Friday, January 26, 2018

Professor Marston and the Wonder Women - 6/10

Professor Marston and the Wonder Women voel so bietjie oordrewe, meganisties, amper dokumente^r. maar tog met 'n erotiese sy. Saam met Bella op die bank. Anrich is weg op bosskool en Franko kuier by Michelle tot more en dan by Luca-hulle. Ons is oppad Venisie" toe mo^re. 


Corporate, Seisoen 1 - 6/10

Corporate het sekerlik sy oomblikke, maar dit is nie snaaks genoeg om mens se aandag te behou nie. Dit is 'n lekker gespot met groot korporasies en hulle werkmagte. Kon so drie episodes uithou, maar gaan nie verder volg nie. Saam met Bella op die bank.


Sunday, January 21, 2018

Brittania, Seisoen 1 - 7/10

Britannia het nogals 'n oortuigende openings episode. Sal beslis verder kyk, hoop net die bonatuurlike aspek oorheers nie. Tipies vir die periode, milieu en geskiedkundige interpretasies, is daar die verwagte tipe karakters en rolverdeling. Voel soos 'n mengsel van Vikings en Game of Thrones met 'n raps Rome (moet laasgenoemde nog kyk) by. Van die vertolings het so ietwat van 'n tong-in-die-kies gevoel, met 'n onderliggende ondeundheid, ook in die dialoog. Sal dit nog volg. Saam met Bella op die bank.
  

Geostorm - 4/10

Geostorm is voorbeeld Hollywood stapel, met baie vlak karakters, erge Amerikaanse sentiment, ontmoontlike ruimte fisika en onwaarskynlike natuur response. O, en so terloops het die Aarde eweskielik 'n Kardashev Tipe I Beskawing geword.... Ten minste is hierdie breinlose springmielie ontspanning. Saam met Bella en Anrich op die bank. Die aand voor Anrich vertrek het op Graad 9 Bosskool.


The Girlfriend Experience, Seisoen 1 - 6 / 10

The Girlfriend Experience lyk kykbaar, maar soos Bella se^, dit is nie 'n opbouende tema nie. Dit het nogals 'n donker gevoel, en 'n baie spesifieke kamera tegniek, stadiger skote, stilisties gekomponeer. O, en oppervlakkige karakters, met redelik min emosie.... Saam met Bella op die bank.

Sunday, January 14, 2018

Goodbye Christopher Robin - 8/10

Goodbye Christopher Robin is 'n bittersoet, maar roerende periode drama oor die skepper(s) van die geliefde en alombekende beertjie en sy maters. Puik vertolkings, raak rolverdeling en uitstaande fotografie. Die hele film het 'n storieboek gevoel, en met dele lyk dit amper geteken (daar is wel een kort getekende toneel). Aan die einde van die fliek voel mens om jou kinders 'n druk te gaan gee en tyd met hulle te spandeer.... Perfekte Sondagaand materiaal. Saam met Bella op die bank.

    Isn’t it funny 
    How a bear likes honey? 
    Buzz! Buzz! Buzz! 
    I wonder why he does? 
                           - A.A. Milne

Saturday, January 13, 2018

Verskietende Ster - 7/10

Verskietende Ster wys dat ten spyte van al die prikkels van die lewe, talent soms wel seevier. Ten spyte van alles wat daarteen druk. Die fliekie voel wel so bietjie oordrewe in sekere opsigte, maar dan probeer dit seker die punt juis duidelik en omonwonde stel. Uitstekende vertolking van die hoofrol. Die vaderfiguur rol kon beter vertolk gewees het. Saam met Bella op die bank in Ballito.  

*batteries not included - 6/10

*batteries not included is 'n soete fliekie, van so paar dekades terug, toe grafika en al sulke goeters nog nie die industrie oorheers het nie. 'n Gewone verhaaltjie van veg teen verandering en Dawid teen Goliat. Saam met Anrich op die bank een oggend vroegerig in Ballito.   

The Foreigner - 7/10

The Foreigner is 'n aks beter as standaard stapel aksie. Mens kry nogals 'n nuwe perspektief op gebeure in die Engelse en Ierse konflikte, veral omdat ek as skoollaaitie al die nuusberigte op televisie onthou van bommeldings. Ek vermoed daar was heelwat soortgelyke - en waarskynlik meer - gekonkel tussen partye en polotici. Tussendeur hierdie geskiedenis, gebeur daar dan goeie ou Jackie Chan sekwense. Die fliekie, alhoewel nie ligte materiaal nie, kyk nogals heel lekker. Anders as ander Chan en aksie flieks, het hierdie een nogals 'n ander tempo en gevoel, dit het meer hart en siel. Saam met Bella op die bed, Ballito, Les Palmiers Nr 6

Philip K. Dick's Electric Dreams, Season 1 - 7/10

Philip K. Dick's Electric Dreams begin goed, met soos mens kan verwag, episodes wat redelik oop vir interpretasie eindig. Dit voel so bietjie minder onheilspellend en donker as Black Mirror (veral die tweede seisoen). Wat wel indrukwekkend is, is dat hierdie stories meesal in die Vyftigs, Sestigs en Sewentigs geskryf is. Dit is wel verwerkings van die oorspronklike kort verhale. Saam met Bella op die bank (Het die eerste twee episodes in Ballito gekyk, Les Palmiers Nr 6).

Tuesday, January 2, 2018

Blade Runner 2049 - 8/10

Blade Runner 2049 werk. Net jammer die klankbaan - indrukwekkend soos dit is - het nie dieselfde aangrypende note nie as die oorspronklike fliek nie. Die milieu, periode, tegnologie en atmosfeer, alles is in pas met die voorganger en bou sinvol voort. Die verhaal voel logies en korrek. Dit is 'n lang fliek, en daar is lang stadiger tonele. Maar die pakkie is die kyk werd. Wetenskapfiksie uit die boonste rakke. Dalk nie heeltemal hoofstroom materiaal nie. Saam met Bella op die bank, nuwejaarsdag. 

Rememory - 5/10

Rememory bevat al die korrekte bestandele. Teoreties moet hierdie 'n goeie fliek wees. Maar iewers faal dit, dit het nie hart nie. Dit voel meganisties. Dit is 'n meer tragiese drama, maar dan voel  dit beslis nie so nie. Saam met Bella op die bank.


Monday, January 1, 2018

Justice League - 5/10

Justice League stel nogals heel teleur. As dit nie vir die verspreide tong-in-die-kies dialoog krummels was nie, sou ek hierdie nie eers klaar gekyk het nie. Dit is maar die hele premis en storielyn van die fliek wat faal. Ag nee wat, die antagonis is fantasties magtig, met verskriklike omvattende magte, en fantastiese vegtonele, alles baie nikseggend en sinneloos. Nie eers goeie Vrydagaand kyk materiaal nie. Saam met Bella en Anrich op die bank. Anrich het dit al voorheen in die teater gesien, en nie kans gesien om dit 'n tweede keer deur te kyk nie...

The Counsellor - 7/10

The Counsellor is soos Filosofie 101 vir aspirant misdaadsindikaatlede. Daar word nogals heelwat tyd aan diep monoloe", en selfs sinvolle dialoe" afgestaan. Die hele lyn handel maar rondom een berekende, maar erg beroude misstap van 'n man van die reg - daar word telkemale deur ander karakters herinner dat hulle nie in staat - of in posisie - is om advies te kan gee nie. So ironiese, tong-in-die-kies stekie na die titel en hoofkarakter wat naamloos bly, regdeur die hele film. Die openingstoneel, en selfs die Ferari-windskerm toneel is nogals pynlik-ongemaklik, en mens wonder oor beide se bydrae tot die lyn. In elk geval, swart humor in 'n pakkie wat mens laat wonder tot op die einde. O, en 'n sterbelaaide rolverdeling, nogals goed gedoen en vertolk. Saam met Bella op die bank.



Saturday, December 30, 2017

Jumanji: Welcome to the Jungle - 8/10

Jumanji: Welcome to the Jungle is een van die beste voorbeelde van die genre. Dit kyk lekkerlag lekker, met gesoute akteurs wat absoluut die fliek maak. Genoeg snaakse tonele, baie snaakse dialoog, net die regte mengsel fisiese humor. Waarskynlik Jack Black se beste vertoning ooit, al hou ek nie van hom nie. Die balans van hierdie fliekie is net reg. Saam met Anrich en Bella by Zambezi Mall. O, en dan was daar 'n redelike haelstorm, soveel so, hulle het die fliek gestop want mens kon niks hoor nie. Franko is in Mosselbaai, kuier by Michelle. 
  

The Deep Blue Sea - 5/10

The Deep Blue Sea is pynlik stadig, met pynliker stadige kamera skote, stadige dialoog, inteendeel niks vir die eerste tien minute nie. Sou dalk in 'n kunsfliekteater werk, maar nie op die bank nie. Die film poog om emosionele innnerlikes bloot te stel, maar dalk faal die akteurs om dit suksesvol voort te bring. Dit is wel 'n goeie rolverdeling. Het na so derde van die fliek moed opgegee. Saam met Bella op die bank.
  

The Man with the Iron Heart - 6/10

The Man with the Iron Heart is rondom dieselfde gebeurtenis as Anthropoid, behalwe dat dit eerder aan die begin van die fliek meer van Reinhard Heydrich vertel as die tweeman span wat uiteindelik suksesvol was in hul sluipmoord aanval op hom. Net soos Anthropoid, is hierdie weergawe ontstellend grim, veral om Hitler se vergeldings aksies - die slagting van  Lidice word telkemale in flitse herhaal. Dit bly 'n goeie fliek, mens leer tog iets van die Geskiedenis. Saam met Bella op die bank.


Brad's Status - 6/10

Brad's Status is 'n onverwagse Hollywood fliekie. Dit is stadig, met komiese elemente, en meesal 'n innerlike drama rondom 'n gewone middeljare krisis. En glad nie soos die Hollywood cliche voorskryf nie, is daar nie uitspattige vergrypings of bostuklose motors - of meisies - nie. Nee, selfs die einde breek met getroue Hollywood tradisie, tot groot verbasing, veral met die slottoneel. Die vertolkings is beter as gewoon, met 'n raak rolverdeling. Waarskynlik Mnr Stiller se beste vertolking vir 'n drama nog. Saam met Bella op die bank. Anrich het so kwartpad opgegee. 

Wednesday, December 27, 2017

Whisky Galore - 7/10

Daar is min fliekies soos Whisky Galore, 'n ligte, prettige kykie na 'n klein gemeenskappie wat eintlik maar onbewus is van al die groot gebeure rondom hulle. Die eilandjie lyk soos 'n stukkie hemel op aarde. Ek moet hier gaan bly. Die storie is eenvoudig, die karakters - en akteurs - onpretensieus. Beslis die kyk werd. Saam met Ma Elsa en Anrich en Bella op die bank. O, en wanneer is dit Whiskey of Whisky? Die Skotte drink whisky en die Iere whiskey, sowel as die Amerikaners. 


Bull, Seisoen 1 - 7/10

Bull se eerste episode is nie erg indrukwekkend nie, maar omdat elke episode 'n saak is, en die intriges minder lyk, veral die wat oor verskillende episodes strek, sal ons hierdie nog 'n paar kyke kans gee. Herinner sterk aan 'n kombinasie van The Mentalist en Lie to Me. Saam met Bella op die bank. 

The Good Doctor, Seisoen 1 - 6/10

The Good Doctor lyk nie te sleg nie, maar dit voel net te sentimenteel, en ruik na te veel poersoonlike intriges. Die eerste episode is redelik, maar mens voel nie om die tyd belegging te maak nie. Sal eerder los, saam met Bella op die bank.

Tuesday, December 26, 2017

The Marvelous Mrs. Maisel, Seisoen 1 - 7/10

The Marvelous Mrs. Maisel is 'n kort reeksie, periode getrou, en nogals pretterig. Dit bevat baie praat, baie vinnig...wees gewaarsku...mens moet mooi oplet om al die humor te onderskep. Die hoofkarakter is beslis nie op haar bek geval nie. Saam met Bella op die bank.


Dunkirk - 8/10

Sjoe, Dunkirk is een van daai flieks wat mens nogals bybly. Sterk karakter en dialoog ekonomie, maar met baie wat uitgebeeld word... Die grimmigheid van oorlog word hier baie sterk vertoon, maar nie met die gewone bloed-en-maag tonele nie, eerder met onderspeelde onderstrominge en stemmings. Buitengewone vertolkings, buitengewone kamerawerk, eentonige, grim kleurskakerings, 'n film voorbeeld. Saam met Bella op die bank, Franko het dit saamgekyk en verstaan, Anrich kon nie die depressiewiteit, sinloosheid en redeloosheid verdra nie. Hy het so kwartpad gekyk,   

Godless, Minireeks - 8/10

Nou hier het mens 'n periode drama met 'n oortuigende premis en beslis karakters, en akteurs, wat hulle werk goed doen. Godless is 'n droe" Western met skop en skiet en rowwe manne (en vrouens). Iets anders vir 'n slag. Saam met Bella op die bank.

Knightfall, Seisoen 1 - 4/10

Ek en Bella is groot bokke vir 'n sappige periode drama, maar soos APB, voldoen Knightfall nie aan die basiese vereistes nie. Die premis is daar, maar die karakters lyk oppervlakkig en aansitterig. Die vertolkings is nie oortuigend nie... Kon nie eers deur die eerste episode kom nie..... Saam met Bella op die bank.


APB, Seisoen 1 - 5/10

Die kuns met reekse soos APB is nie 'n sterbelaaide of bekende rolverdeling nie, maar ten minste 'n oortuigende premis, en dan 'n paar karakters waarvan mens hou of mee identifiseer. APB het ongelukkig nie karakters of akteurs waarin mens tyd wil bele nie. Kon beswaarlik die eerste episode deurkyk. Saam met Bella op die bank.

Victoria and Abdul - 6/10

Victoria and Abdul laat mens wonder hoeveel kreatiewe interpretasie op die ware gebeure geneem is. Die gebeure is redelik geloofwaardig, en daar is sekerlik 'n mate van oordrywing, maar mens kan jouself net indink hoe die stywe bo-lip Britte hierdie petalje probeer hanteer het. Uitstekende vertolkings, soos te verwagte met die rolverdeling. Redelik ligte materiaal, maar beslis nie vir 'n Vrydagaand gepas nie. Saam met Bella op die bank.

Sunday, December 10, 2017

Marvel's RunAways, Seisoen 1 - 4/10

Marvel's RunAways voel heeltemal te veel soos 'n sepie. Mens vind nie aanklank by enige van die karakters of akteurs nie. Dit begin ook maar bietjie flouerig. Kon net 2 episodes maak. Saam met Bella op die bank.

The Dark Tower - 6/10

The Dark Tower speel goed teen sleg af, maar as 'n innerlike oorlog, as 'n alternatiewe werklikheid metafoor. Dit kyk nie sleg nie, maar die fliekie is gou vergete. Redelike rolverdeling en vertolkings. Saam met die familie op die bank.


Kingsman: The Golden Circle - 7/10

Kingsman: The Golden Circle is nogals verasend beter as die eerste een. Dit bly net vreemd dat hulle so erg fokus op 'n spesifieke vloekwoord. O, en wees voorbereid op die baie kort, maar impakvolle biologielessie... 'n Paar baie koel toele, meer humor en netjiese strepiespakke. Saam met die familie op die bank. Beide Franko en Anrich het dit reeds in die teater ook gesien.