Tuesday, January 21, 2020

2050 (2018) - 5/10

Ten spyte van die tema is 2050 heelwat makker as wat dit aanvanklik lyk. Dit is egter amateur connoisseur materiaal met 'n totaal onvanpaste, maar sterk klassieke stukke, klankbaan. Die tema is ook nie so vergesog nie, en waarskynlik nader as wat mens verwag. Daar is heelwat onbereikte potensiaal, en sal graag dit met 'n meer ervare vervaardiger, rolverdeling en regisseur wou sien. Het dit by Marakele alleen moes kyk op 'n werksreis.

Sunday, January 19, 2020

The Informer - 5/10

The Informer lyk beter as die punt wat ek gee, maar is net nie lus vir die tipe genre nie. Het dit begin kyk, maar opgegee, voel nie soos Sondagaand materiaal nie. Nie seker of ek dit wel gaan klaar kyk nie, ten spyte van die bogemiddelde rolverdeling. Saam met Bella op die Bank.


Saturday, January 18, 2020

Float Like a Butterfly - 6/10

Float Like a Butterfly is 'n ligter filmpie, met die mooiste milieu. Dit het nie juis 'n noemenswaardige storielyn nie, maar het wel 'n laer spanningslyn. Dit is maar 'n paar weke van iemand se lewens wat nie soos almal konformeer nie. Vroegmiddag saam met Bella op die Bank terwyl dit saggies buite ree"n, 'n luiste Saterdagmiddag verdryf.

Friday, January 17, 2020

Terminator: Dark Fate - 7/10

Terminator: Dark Fate is waarskynlik, naas die oorspronklike, die beste in die reeks. Dit is perfekte Vrydagaand materiaal, met welkome komedie elemente, soos die suurlemoen toneel. Verwag verder die gewone, maar kyk gerus as jy afskeid wil neem van ou Arnie se rol. Saam met Bella en Franko op die Bank.
  

Tuesday, January 14, 2020

Hustlers - 5/10

Die film Hustlers self is soos Amerikaanse eksotiese dansery, dit is oppervlakkig, raserig, oordrewe, en glad nie eroties nie. Dit kyk darem redelik, maar dit het 'n paar keer gevoel of ek eerder nou iets anders gaan kyk. Wat die aandag hou is die gierigheid van mense. sekerlik die wortel van die dood sondes. Saam met Bella op die Bank.

Monday, January 13, 2020

The Witcher, Seisoen 1 - 6/10

The Witcher begin met 'n redelike onoortuigende openingstoneel en karakters wat mens dalk nie nog nie tyd in wil bele^ nie. Die reeksie geniet dan ook 'n gewldige advertensieveldtog (vir Suid Afrika), en dit lyk regtig of hulle wil he^ mens moet dink dit is goed. Sal nog een episode kyk. Saam met Bella en Anrich op die Bank. 

Sunday, January 12, 2020

Ford v Ferrari - 7/10

Kan jy dit glo! Daar gaan Ford v Ferrari en gebruik 'n Amerikaner om 'n Britse aksent na te boots! Is dit 'n mode neiging in Hollywood wat hoofstroom akteurs probeer oortuig dit is die nuwe Nirvana van vertolkings? Dit irriteer en doen afbreek aan die film. Vir die res, beslis 'n kykfliekie vir 'n Vrydag of Saterdagaand. Ek sal graag 'n Italiaanse weergawe ook wil sien, die Amerikaanse sentiment loop net te dik hier. Saam met Bella en Anrich op die Bank.

Friday, January 10, 2020

Knives Out - 7/10

Knives Out is 'n boeiende wie't-dit-gedoen (whodunit), met 'n paar kinkels in die kabel. Die milieu, vertolkings en rolverdeling is oortuigend met 'n kleinere mate van oordrywing. Wat wel erg teleurstel is die gedwonge, onoortuigende, kunsmatige, dik-in-die-tong aksent van Blanc. Toevallig met Dolittle wat ons op dieselfde dag gesien het, is dit presies dieselfde geval, net andersom! Die moedertong aksente sou in beide gevalle gepas gewees het. Ai. Saam met Bella en Anrich en Franko op die Bank (dit gebeur min, die fliek het almal oortuig om te bly sit).


Dolittle - 6/10

Dolittle is meesal bedoel vir kortvolk en as heilsame familie vermaak. Dit het baie skoon grappies, uitstekende grafika, en 'n oortuigende lyn. Die enigste aspek wat pla is Robert wat probeer Brits of so iets klink. Dit kom meer as 'n dronk Ier van Australie af oor. Saam met Bella en Anrich by die tjiep fliek.
  

Tuesday, January 7, 2020

Jexi - 6/10

Jexi is snaaks, bar, onder die belt maar raak. Dit is 'n oordrewe uitbeelding van 'n hedendaagse wettige verslawing. 'n Paar tonele staan uit en sal mens langer bybly en steeds laat giggel. Die rolverdeling, veral Jexi se stem, dra by tot die komedie element. Perfekte Vrydagaand materiaal, dalk nie saam met Ouma nie. Saam met Bella op die Bank.

Monday, January 6, 2020

Dracula, Minireeks - 7/10

Gits, dit is min dat ons 'n reeks so vinnig opkyk, maar Dracula was een wat met elke episode slottoneel oortuig het. Net 3, maar lang episodes, met die derde 'n interessante kinkel op die bekende verhaal. Die rolverdeling is perfek, en die hoofrol glibberig vertolk, soos dit moet wees. Saam met Bella en Anrich op die Bank. Franko het stukkies gesien maar nie alles saamgekyk nie. 

Sunday, January 5, 2020

Free Solo - 5/10

Free Solo fokus heeltemal te veel op die nie-tegniese oploop na die groot klim. Wanneer die groot klim wel gebeur, is mens verbysterd deur die skaal van Die Muur, die klimmer, en die aanpak van so iets. Daar is verskeie oomblikke wat jy self voel hoe jy aftuimel en amper dronk in die kop voel. Het dit alleen in Muizenberg, Surfer's Corner, Nr 122,  op die skootrekenaar gekyk, en met die snel knoppie (behalwe vir die klim).



Stumptown, Seisoen 1 - 6/10

Stumptown begin met 'n sterk eerste episode, soveel so dat mens hoop (en wens) die res van die episodes hou kersvas. Die rolverdeling is gepas en die sake is boeiend genoeg. 'n Saak word dan ook nie noodwendig per episode opgelos nie, en daar is 'n ook 'n paar onderliggende lyne wat waarskynlik oor die seisoen of reeks vloei. In Muizenberg, Surfer's Corner, Nr 122, begin kyk saam met Bella op die Bank.



Mindhumter, Seisoen 1 - 4-10

Mindhunter begin baie vreemd vir 'n reeks, veral as mens die tema in ag neem. Dalk moet ons 'n tweede of derde episode kyk, maar voel nie lus om so te doen nie. In Muizenberg, Surfer's Corner, 122, op die Bank.





Wednesday, January 1, 2020

The Time Machine - 6/10

The Time Machine is glad nie sleg vir 'n ouer fliekie nie. Die uitbeelding van die verloop van tyd (teen 'n hoe" tempo), voel raak en oortuigend. Die vertolkings is redelik, en die lyn boeiend. Alleen voor die televisie in Muizenberg, Surfer's Corner, 122, terwyl die res herlaai het. 

Tuesday, December 31, 2019

Maleficent: Mistress of Evil - 6/10

Maleficent: Mistress of Evil is dalk so klein bietjie beter as die vorige een maar voel tog soos meer van dieselfde. Dit is egter nie 'n slegte fliek vir almal saam nie, en ons het dit geniet om die oujaar by 'n redelike besige en raserige Muizenberg af te sluit. Saam met Bella en Anrich en Franko en Michelle op die (baie groot, gemaklike) bank. 


Sunday, December 29, 2019

Spider in the Web - 4/10

Ten spyte van Spider in the Web se rolverdeling, potensiaal en tema, stel die film teleur. Dit maak nie alles sin of saak nie. Mens assosieer nie met die karakters nie, en gee nie regtig vir hulle noodlot om nie. Hou eerder verby. Saam met Bella by Muizenberg Surfer's Corner, Nr 122


Wednesday, December 25, 2019

The Goldfinch - 7/10

The Goldfinch is 'n baie stadige, lang kunsfliekie, meesal oor rou (of die afwesigheid daarvan), verdedigingsmeganismes, kuns, antieke meubels en suurlemoene (wat mens kry as jy dit die minste verwag). Hierdie is beslis bedoel vir die geharde connoisseur met deursettingsvermoe". Die vertolkings is raak, vanpas, nie oordrewe nie, met 'n indrukwekkende rolverdeling - nie die bekendheid of status van die akteurs nie, maar eerder die akkurate pas van verskillende ouderdomme (daar is meer as een tydlyn). Saam met Bella op die Bank.



Tuesday, December 24, 2019

The Two Popes - 8/10

The Two Popes is onverwags 'n uitstaande film. En gepraat van karakter ekonomie, die twee veterane, beide volkome akteurs, lewer steeds kragtoer vertolkings. Die humor element maak dan ook beide menslik en binne bereikbare identifisering. Die milieu is getrou (en 'n stel!), en die feit dat dit 'n verhoogstuk is/was, skaad glad nie enige deel nie. Die perfekte Ou Kersaand film, Saam met Bella op die Bank.
   

Monday, December 23, 2019

Code 8 - 4/10

Code 8 is maar 'n papperige fliekie ten spyte van sy potensiaal. Dit eindig taamlik stomp en onbevredigend, en dit voel ook of daar net te veel gate in die lyn is. Saam met Bella en Anrich op die Bank.


Sunday, December 22, 2019

The Last Princess - 7/10

The Last Princess is 'n hartroerende, sensitiewe, tragiese vertel van wat magsug vermag. 'n Kunsfliek-stadige tempo, met uitgerekte, kleurryke kameraskote en tonele. Beslis net vir die kieskeurige fliekganger bedoel. O, en wees gereed vir onderskifte, selfs ook tussen Japanees en Koreaans. Saam met Bella op die Bank.


Saturday, December 21, 2019

The Aeronauts - 6/10

The Aeronauts hommel stadig - wel, seker  soos 'n lugballon - en het my by tye laat dink die twee bemanningslede het dae en weke daar bo spandeer nie 90 minute nie. Dit is wel 'n belangrike gebeurtenis, maar die lyn is maar dun vir 'n hele fliek. Wel oortuigende grafika, met die vroulike hoofrol dalk ietwat buite die geskiedkundige era se aanvaarde gedrag, Saam met Bella op die Bank.


Star Wars: Episode IX - The Rise of Skywalker - 7/10

Star Wars: Episode IX - The Rise of Skywalker is standaard vermaak met genoeg tong-in-die-kies dialoog en oomblikke om dit perfekte vakansie ontspannings materiaal te maak. Kyk net as jy 'n Star Wars aanhanger is. Saam met Bella en Franko by die tjiepfliek


Thursday, December 19, 2019

Joker - 7/10

Joker pas nie regtig in enige genre nie maar voel die meeste soos 'n kunsfliek. Dit is donker, swaar en by tye pynlik om te kyk, veral die uitgerekte lagbuie. Dit is egter wel hiper-realisties, met uitstaande vertolkings, beslis Oscar-materiaal. Dit is ook dan nie vermaaklik nie, en eerder 'n kragtoer van filmteater vermoe". Moet nie superheld manewales hier verwag nie. Saam met Bella op die Bank.
  

Monday, December 16, 2019

Jumanji: The Next Level - 6/10

Jumanji: The Next Level is meer van die selfde maar steeds aangename ontspanning. Dit is regte Saterdagmiddag (of vakansiedag) springmielie materiaal. Saam met Bella en Anrich en Franko by die tjiepfliek. Dit bly egter hartseer om te sien hoe die sentrum gelydelik agteruitgaan.  

Sunday, December 15, 2019

Judy - 8/10

Judy bly mens by oor die tragiese lewe van 'n ikoon. Mens maak altyd die aanname roem kom maklik en is altyd 'n keuse. En nooit ten konste van al die ander keuses wat ons gewones as vanselfsprekend aanvaar nie. Hierdie is dan ook 'n kragvertoning vir die hoofrol en as sy nie die Oscar kry nie, ja wel. Dit gese^, die film het 'n sterk rolverdeling met uitstaande vertolkings regdeur. Ek dink hierdie is meer Judy as Judy self. Maar beslis nie vir die wye mark bedoel nie. Hollywood eet mense op en spoeg nie eers bene uit nie. Saam met Bella op die bank.     

Saturday, December 14, 2019

6 Underground - 5/10

6 Underground is 'n redelike, maar oordadige in vele opsigte, aksie fliekie. Soos te verwagte met Ryan Reynolds is daar 'n ongehoorde aantal f-bomme. Wees dus gewaarsku. 'n Alternatiewe verteltrantstyl vir die soort film. Vinige tempo, asemrowende plekke, mooi mense, vinnige karre. Saam met Bella en Franko en Anrich op die Bank.


Tuesday, December 10, 2019

Anna - 6/10

Anna is heel kykbaar en 'n aks meer stylvol as die gewone spioenasie materiaal. Verskeie knope en draaie in die lyn, so mens moet redelik kophou. Saam met Bella op die Bank.


Monday, December 9, 2019

Ad Astra - 6/10

Ad Astra kon ten minste 30 minute korter gewees het sonder enige impak op die lyn. Lang, stadige tonele wat bye tye uitmergelend is. Die terugdraai tydlyn pas dan ook nie by die soontoe-gaan tydlyn nie, en die film eindig dan ook net te abrupt. Redelike vetolkings, uitstekende grafika en 'n dwingende interpretasie van nabye toekoms tegnologie. Saam met Bella en Anrich op die Bank.


Sunday, December 8, 2019

The Report - 7/10

The Report bevestig weereens die mensdom se vindingrykheid agv van hebsug en magsug. Die fliek is waarskynlik akkuraat en ek vermoed die bereik van al die korrupsie en wandade is in werklikheid nog erger. 'n Onverwagte kliniese kyk na Amerikaanse politiek en Homeland Security met sterk vertolkings. Saam met Bella op die Bank.

Yesterday - 5/10

Het Yesterday tweedehans gesien terwyl Franko en Michelle dit op die Bank gekyk het. Nie sleg nie, maar sal dit nie 'n tweede keer kyk nie. 


Catherine the Great, Minireeks - 5/10

Catherine the Great lyk belowend, maar dalk kon hulle dit meer getrou aan die kultuur en taal gemaak het. Saam met Bella op die Bank. Het net die eerste 15 minute gekyk, sal dalk die res later kyk. Hmm, nee wat.  


Saturday, December 7, 2019

Sometimes Always Never - ?/10

Wel, Bella sal die punt moet toeken, en die beskrywing moet gee, ek het alles gemis in 'n diepe sluimer. Nie oor die fliek se kwaliteite nie, ek was net flou. 




Thursday, December 5, 2019

For All Mankind, Seisoen 1 - 5/10

For All Mankind is soortgelyk aan The Man in the High Castle, net met 'n verslae Amerikaanse nasie. Dit lyk interessant sal nog so episode of wat kyk. Saam met Bella en Anrich op die Bank. Het besluit om nie die tyd te spandeer nie, veral nie na The Astronaut Wives Club nie. Dit voel ook net te neerdrukkend. 



Sunday, December 1, 2019

His Dark Materials, Seisoen 1 - 5 /10

Die loodsepisode van His Dark Materials laat mens nie voel om tyd en energie aan die karakters se noodlot te bestee nie. Laat maar eerder oorstaan. Saam met Bella en Anrich op die Bank. 


Saturday, November 30, 2019

Once Upon a Time ... in Hollywood - 6/10

Once Upon a Time ... in Hollywood het, soos te verwagte, 'n sterbelaaide rolverdeling, met dienooreenkomstige gehalte vertolkings. Dit is 'n fliek binne 'n fliek binne die Westerse Mekka. Aweregse humor op 'n vreemde tema met 'n nog meer vreemde draai op die eintlike gebeure. Mens kan se^ die ware gebeure is as milieu vir die film gebruik met 'n alternatiewe uitkoms. Verwag stadige tonele met heelwat visuele en droe humor fokus. Beslis vir Tarantino slawe. Saam Bella op die Bank.


Friday, November 29, 2019

Father of Invention - 4/10

Die grootste probleem met Father of Invention is waarskynlik die misleidende titel. Die fliek is nie te sleg nie, maar handel eerder oor 'n pa wat met sy verlede en hede stoei as oor uitvindings en kie.  Saam met Bella op die bank.
 


Saturday, November 23, 2019

Official Secrets - 6/10

Official Secrets bevestig net weereens dat selfs met Eerste Wereld lande, en dalk nog meer so, goewermente die gepeupel paai met leuns en onwaarhede om enige iets te bereik wat binne of buite landsbelang mag val. En waarskynlik meer waar persoonlike belange beskerm word eerder as die belange van die meerderheid. Die film is beslis nie sensasioneel nie met 'n wies-wie rolverdeling. En dan boonop met 'n Suid Afrikaanse regiseur aan die helm. 'n Sterk politieke drama in tipiese Britse onderspeelde styl. Saam met Bella op die bank.


Thursday, November 21, 2019

Gemini Man - 3/10

Gemini Man stel baie teleur. Die film neem homself heeltemal te ernstig op, en mens raak ietwat naar van ou Will se erge aanval van narsisme. Dit is wel tot 'n mate vermaaklik en ons het as gesinnetjie dit almal saam op die Bank gekyk. 


Sunday, November 17, 2019

Sanditon, Seisoen 1 - 6/10

Sanditon is heel kykbaar sal dit nog 'n kans gee. Dit is nou wel nie Downton Abbey nie, dalk meer in die stal van The Paradise. Saam met Bella op die Bank.


Saturday, November 16, 2019

The Mandalorian, Seisoen 1 - 9/10

The Mandalorian begin baie goed. Ek geniet veral die droe" humor. Die grafika is uitstaande. Die reeksie raak net beter met Baba Yoda wat waarskynlik die mees oulikste in film geskiedenis ooit is. Ek reken 20% mene wat die reeks kyk is Star Wars aanhangers, die res kyk dit net vir Baba Yoda. Saam met Anrich en Bella op die Bank.


Friday, November 15, 2019

Angel Has Fallen - 5/10

Angel Has Fallen is 'n aks beter as die verwagte Hollywood masjien uitset. Dit is wel gelaai met Amerikaanse sentiment, maar kyk heel gangbaar. Die rolverdeling werk redelik. Saam met Bella en Anrich op die bank.


Saturday, November 9, 2019

Holiday in the Wild - 3/10

Holiday in the Wild is redelike pap tjiekfliek materiaal, en is meer vermaaklik as gevolg van die milieu oe" verblindery. Saam met Bella op die Bank.

Tuesday, November 5, 2019

Watchmen, Seisoen 1 - 4/10

Watchmen is nie ons tipe stapel nie. Net die eerste 15 minute gekyk. Saam met Bella op die Bank.


Saturday, November 2, 2019

Trackers, Minireeks - 9/10

Trackers begin goed en lyk oortuigend. Dele is in Afrikaans, maar dit is grotendeels in Engels. Die tonele skep 'n sterk gevoel van realisme. Die storielyn is interessant en spannend. Beslis 'n ordentelike Suid Afrikaanse produksie wat met intternasionale materiaal met gemak kan meeding. Die rolverdeling kom regstellend voor, maar die akteurs is meesal sterk en gepas, en is volgens die boek korrek. Saam met Bella op die Bank.

Friday, November 1, 2019

The Current War: Director's Cut - 6/10

Ten spyte van die rolverdeling en tema, faal The Current War: Director's Cut ongelukkig. Die formaat van die film werk net nie vir die tipe tema nie. Dit is grotendeels aan die regiseur se bydrae te danke vermoed ek. Verspeelde potensiaal om in die woordspeling te bly. Saam met Bella op die bank.
 

The Hateful Eight - 6/10

The Hateful Eight begin met redelik min pulp geweld, maar eindig dan redelik grusaam en soos te verwagte vir die vervaardiger van die film, baie bloederig. Ten minste is die lyn interessant en geloofwaardig en behou mens se aandag met die kinkels en monoloe". Gepaste rolverdeling en oksimoroon as milieu - wie maak 'n Western op 'n sneeustel? Aweregse humor uit die boonste laaie. Oppad terug van Nanjing op die Hong Kong been.

Sunday, October 27, 2019

The White Crow - 8/10

The White Crow is nogals spannend vir 'n ballet film. Dit is wel duidelik Meneer Nureyef was nie die mees taktvolste kunstenaar nie, seker soos te verwagte. Hy was wel talentvol en geirriteerd en ongeduldig met minder as perfek en arrogant teenoor ander. Die film is wel uitstekend vervaardig en bevestig die minimalistiese bestaan van lewe in Rusland en ballet dansers met 'n ewe minimalistiese atmosfeer of ambiance. Beslis vir kunsfliekaanhangers en balletliefhebbers bedoel. Oppad na Nanjing op die Hong Kong been. Bella het dit reeds op haar eie gekyk. 

Sunshine - 4/10

Sunshine is nie te slegte materiaal as jy 'n vasgevangde gehoor het nie. Dit voel wel na 'n ouer film (2007), en nie oor die grafika tegnologie nie, maar eerder die hantering van die tema en die sielkundige lyn. Verval ietwat in 'n sensasie sessie, en dan neem die film homself te ernstig op. Oppad na Nanjing op die Hong Kong been.